‘n Vlinder word gebore (Silwer)
‘n Haasbek glimlag wat die onsekerheid verbloem terwyl ‘n bewerige handjie al stywer aan myne vasklou.
“Jy was dan gister so opgewonde, skat,” het ek probeer moed inpraat.
Dit is die terugflits wat ek kry wanneer ek aan daardie eerste skooldag dink, jare gelede, toe my oudste die nes moes verlaat.
Vir maande het ons voorberei vir die groot dag. Skoolklere gaan koop, skryfbehoeftes bymekaargemaak, genoeg vir ‘n hele arsenaal, want die keuses was so oorweldigend en die een winkel s’n mooier en beter as die ander een s’n. My “papie” moes die beste kry, het ek onomwonde besluit, en nie geskroom om te oorspandeer nie. Dan praat ek nie eers van al die gespog by familie en vriende oor die groot stap in my botterblom se lewe nie. Mens sou sweer ek is koningin Elizabeth en sy die bekroonde prinses, soos wat ek tekere gegaan het. Dit is mos ‘n groot oomblik as jou eerste kind die skoolbanke betree en jy nou ook as ‘n “skoolmamma” gereken word. ‘n Titel wat ek baie gou agtergekom het eintlik net beteken “glansryke slaaf”.
Met die groetslag het sy braaf haar tassie, waarin ‘n spesiale bederfie ongesiens die oggend geplaas is, opgetel. Sy het my ‘n stywe drukkie gegee en kop omhoog oor die drumpel van grootword getree, nog ‘n laaste soentjie met haar hand vir my geblaas en toe buite sig verdwyn.
En daar staan ek, skielik so eensaam en verlore met ‘n knop wat al groter groei in my keel. Ek sluk, maar die hartseer druk hard op my blaas en voor ek myself kon kry, stroom die water oor my wange.
“Toemaar, mevroutjie, sy sal dit oorleef …” probeer ‘n onsimpatieke juffrou my spotenderwys troos. Ek sluk my trane en haas my na die veiligheid van my motor. Tuis maak ek vir my ‘n sterk koppie tee en gaan sit op die stoep om nabetragting te hou. Skaamte oorval my omdat ék toe die een was wat voor die nuutheid en druk geswig het en nie my prinses nie. Sy het vandag vir my onwetend ‘n waardevolle les geleer: Behou jou waardigheid en moenie toelaat dat jou emosies die oorhand kry nie.
Die res van die dag kon ek nie veel uitgerig kry nie. Het doelloos my dagtakies verrig en kort-kort na die horlosie gestaar, die ure afgetel na twaalfuur sodat ek haar kon gaan haal.
Tussen die wagtende groep mammas het sy my raakgesien en waar sy gister nog uitgelate na my toe sou hardloop sodat ek haar in my arms kan opraap en in die rondte draai, het sy bedaard en statig, met haar tassie swaaiend aan die hand, na my toe aangestap gekom. My oë het oor haar gesiggie gevee vir enige ongewone emosie, maar daar was niks, net ‘n selfversekerde, tevrede glimlag en glinster in haar ogies.
Van daardie dag af het ek aanskou hoe my “papie” stelselmatig ontwikkel en verander in ‘n pragtige vlinder. Skool toe gaan het haar laat ontwaak. Haar vlerkies laat uitstrek en sterk word. Haar laat vlieg in ‘n rigting waar ek skielik nie meer die hoofkarakter in die storie was nie.
Dalk het ek dit al daardie eerste dag besef toe ek haar op die drumpel van ontwaking gelos het, vandaar die hartseer en tranedal.
Mettertyd het my aanvanklike hartseer plek gemaak vir aanvaarding, want die lewe verloop volgens sy eie reëls en wette. Meeste van die skooldramas skep ons self. Die besef dat kinders net aan ons geleen word en die koester- en vashoutydperk eintlik bitter kort is, het my met waardering laat besef watter voorreg dit is om ‘n “skoolmamma” te kan wees. Alles suiwer genade van Bo.
©Driekie Grobler
(605 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek