Nagmerrie
Ons volk het ‘n ryk verbeelding.
Drogbeelde en monsters wat spook.
Daar’s ‘n vlieënde skip uit Holland
en die duiwel en Van Hings wat rook.
‘n Bruid wat staan in ‘n trourok
op die pad na Uniondale.
‘n Man en sy perd op Nooitgedacht
wat oor verlore skatte huil.
Daar’s Daisy met haar koffiegif,
Skadu-mense in ‘n gang.
Hulle rusplek is onseker en
hul stories maak ons bang.
Die dinge lyk onskuldig
in die sonskyn van die dag,
maar dié onbekende dinge
bekruip ons in die nag.
‘n Soldaat, gewond op die slagveld
wat verward sy makkers soek,
maar dan dwaal my verskrikte oë
na die skadu in die hoek.
Lam van vrees en natgesweet
hou ek my asem op.
In die donker gloei twee bloedrooi oë
vermink in ‘n swewende kop.
Help! skree ek hard, maar geen geluid
wat oor my lippe kom.
Absoluut versteen met vrees,
het my einde dan gekom……?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.