Jongste aktiwiteit:

Nagmerrie

Ons volk het ‘n ryk verbeelding.

Drogbeelde en monsters wat spook.

Daar’s ‘n vlieënde skip uit Holland

en die duiwel en Van Hings wat rook.

 

‘n Bruid wat staan in ‘n trourok

op die pad na Uniondale.

‘n Man en sy perd op Nooitgedacht

wat oor verlore skatte huil.

 

Daar’s Daisy met haar koffiegif,

Skadu-mense in ‘n gang.

Hulle rusplek is onseker en

hul stories maak ons bang.

 

Die dinge lyk onskuldig

in die sonskyn van die dag,

maar dié onbekende dinge

bekruip ons in die nag.

 

‘n Soldaat, gewond op die slagveld

wat verward sy makkers soek,

maar dan dwaal my verskrikte oë

na die skadu in die hoek.

 

Lam van vrees en natgesweet

hou ek my asem op.

In die donker gloei twee bloedrooi oë

vermink in ‘n swewende kop.

 

Help! skree ek hard, maar geen geluid

wat oor my lippe kom.

Absoluut versteen met vrees,

het my einde dan gekom……?




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed