~ Nirvana ~
Gedagtes lê soos ‘n oopgeslane boek in hierdie nirvana
waar ek kwingkwang soek na jou silhoeët,
na die wit van jou kneukels wat afwys teen die maan.
Die lelies in my lyf ontplof
en nag word ‘n kleurespel van sterrereën
toe ek jou effe verskuil teen ‘n Kaapse geelhout sien leun.
Miskien moes ek jou jare terug reeds verban het
maar nagte dryf my ewig na buite,
na waar ek nog jou asem
teen die fyn klopping in my keel kan voel.
Hier staan ek nou tussen skouerblaaie van die aandwind
met ‘n hunkering wat soos vagevuur
deur my ingewande woed.
Die lawaglas in jou kyk flits in klein blou kantelings
en opeens krimp die amber van voornag tot ‘n druppende kuip.
Goue paljas syfer deur my porieë
en ek swik voor die ontblote fynskrif
teen die palms van jou hande.
Nag word ‘n diafaan kaatsing
en jy weet, soos ek
dat die verbode labirint in hierdie malse smag
teen dageraad soos ‘n aanklag op ons wag.
Steeds is jy hier, by my,
rondom my
met jou muskus wat my penetreer
wetend dat jy jou verslawing voed
met die wyn in my lyf
met my borste wat soos swanebrood vlok –
en jy wat nog beskonke poog
om jou naam in skaduwees te skans.
Sou ek moes boet vir hierdie skimmel daad ?
Laat dit dan so wees.
Laat die uile van nag
dan nou my stom getuies wees.
© Almarie Truter
2 Kommentare
-
Anze
Staande applous vir hierdie keurige werk!! Briljant vasgepen!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
My kind, my kind! So suiwer van woord en van hart en beeldende emosie is skryfsels wat maar net enkelt lig sien! Nee, die een is nie goed nie, dit is blerrie onoortreflik! Sjoe!!!