
Nog ‘n Waterlose jaar
Klaarstroom lê hygend tussen hete leikliprante
waaroor in onverdraag dor winde waai uit alle kante;
en skeefweg na die Suide vul dwarrels sonverdroog
van vroegdag reeds die eens asuurbloulug tot wasigboog.
Die ooste vlam laag oor die rant in bewend’ hittegloed
wat elke spriet en blaar verdor wat mens en dier moes voed
en bo die son- en windgekraakte loodregkranse
dobber, as eenry-stippels oor dié inferno, wildeganse.
Nog ‘n droë, waterlose jaar lê snikkend vasgeklei
in die modder van vergeefse bid van mens en dier
en die stank van vis en krap uit droë dam en vlei
ry op die trae soele wind wat oor die barre aarde gier.
Op knieë kramp ‘n hand om lammerooi se droë keel
om willoos, maar gedwing daartoe(!) die slagaar af te sny
en voor die venster, waarbuite broos haar kinders speel,
bid saggies snukkende sy vrou wat vo̒él wat hy moet ly…
6 Kommentare
-
Anze
sjoe hierdie is puik...
-
Arnold
Moeder-natuur is in haar barendsnood tot nadeel van die mens en dit te reg hoe die aardbewoners haar behandel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Dit is die vraag wat ons onself hier in Kroonstad afvra. Ons krane het opgedroog, die rivier is leeg en water word van ander plekke af aangery. Voor n mens dit nie self ondervind nie weet mens nie wat is droogte nie