Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal
Vir meer inligting kliek op die skakel asb http://www.avbobpoetry.co.za
Let asb op hierdie:
Mag jy gedigte inskryf wat al iewers anders gepubliseer is?
Nee, dit moet ‘n oorspronklike werk wees wat volgens die SA Kopiereg wet 98 van 1978, dit mag nerens gepubliseer wees nie ook nie op enige publieke platform of sosiale media nie. Gaan kyk na die kompetisie reëls op die bogenoemde skakel asb
Berig volgens maroelamedia (- kliek op skakel)
Die begrafnisversekering- en diensteoplossingsmaatskappy Avbob het Dinsdag ʼn splinternuwe webwerf bekendgestel wat daaraan toegewy is om nuwe digters se digkuns in al elf amptelike landstale ten toon te stel.
Dit is dié maatskappy se bydrae tot Mandela-dag-vieringe wat jaarliks wêreldwyd op 18 Julie op oudpresident Nelson Mandela se verjaardag gehou word.
“Ons wil soveel as moontlike gehaltepoësie in al elf van Suid-Afrika se landstale publiseer en hierdie gedigte sal dan gratis beskikbaar wees vir mense wat dié soort kuns waardeer. Die webwerf is ook ʼn platform waarop Avbob se landwye gedigtekompetisie van stapel gestuur sal word. Ons wil die verskeidenheid van ál die stemme in ons land vier,” het Frik Rademan, die uitvoerende hoof van Avbob, gesê.
Elke gedig sal eers deur een van Avbob se redakteurs gekeur word voordat dit op die webwerf geplaas word. So word dit dan deel van ʼn biblioteek van woorde wat skoonheid en berusting aan die mense van Suid-Afrika kan bring.
“Elke gedig wat goedgekeur word vir publikasie sal ʼn R300-prys ontvang as deel van ons waardering vir die digter se werk. Boonop sal elke gekeurde gedig ook in aanmerking kom vir ʼn verdere kontantprys as dit gekies word as die beste gedig in die onderskeie taal,” het Rademan verduidelik.
Elke gedig staan ook ʼn kans om gepubliseer te word saam met gevestigde en bekende digters se werke in ʼn digbundel wat uit 100 werke sal bestaan met die titel I wish I’d said. Die digbundel sal in Augustus 2018 gepubliseer word en die tema van die digbundel sal handel oor die gerusstelling dat ons almal in ʼn stadium in ons lewens spyt is omdat ons dinge ongesê gelaat het, dinge soos “ek is lief vir jou”, “vergewe my” of “ek sal jou nooit vergeet nie”.
“Ons hoop dat die Avbob-digkunsprojek ʼn voertuig sal word vir mense waar hulle uiteindelik die onuitgesproke fluistering van hul harte kan uitdruk, ongeag wat die frase vir elke individu mag beteken. Wanneer hartseer ʼn mens stom laat, stel dit ons in staat om die nalatenskap van ons geliefdes vir ewig vas te vang en ons verlies op ʼn sinvolle wyse uit te druk.
“Dit is nou belangriker as ooit dat ons as nasie die pen eerder as die swaard moet opneem. Net soos met die stigting van Avbob in 1918 tydens die moeilike jare ná die Eerste Wêreldoorlog, ly mense steeds 99 jaar later. Dit is ontevredenheid en die bedreiging van Suid-Afrikaners se selfbehoud wat mense nou laat ly. Mense is ook oor die algemeen verdeeld en word verder verskeur deur onsekerheid, terwyl werk skaars is en sinvolle werk selfs nóg skaarser.”
Rademan glo sy maatskappy se borgskap van die gedigteplatform sal aan alle digters die geleentheid bied om kalmte en waardigheid aan hul medelandsburgers deur hul woorde te gee.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.