Jongste aktiwiteit:

Oom Jan Mostert kook sop.

Oom Jan Mostert kook sop

Oom Jan Mostert het op Blouputs gebly, net voor jy die kloofpad vat rivier toe. Die hele plaas het aan hom behoort, maar hy het eintlik ryk geërf. Of liewer, sy vrou het ryk geërf en hy ryk getrou. Hy was ‘n padskraper drywer.

Die antie het die huis regeer soos ‘n sammajoor. Sy het ook geen geheim daarvan gemaak dat die plaas eintlik aan die Bruwers behoort nie. Al vir geslagte. Die ou skoonma het ook op die plaas gebly. In die hoof opstal. Sy het met skrefiesoë die klein huisie oorkant die pad dopgehou, want sien, oom Jan was nie die fluksste van boere nie. “Solank as wat die ramme en die windpompe werk, hoekom die bakkie opry agter ramme wat goed gekoop is?”

As daar die slag ‘n boorgat drô raak, het hy vir Petrus Adank laat kom met die skaapwagter. Die donkies moet ook werk. Dan kom Petrus Adank die pomp trek en nog pype insit. Die man moet ook ‘n lewe maak. Terwyl die dam drô is het hy die skaapwagter aangesê om die hek oop te los sodat die skape in die agterste kamp kon gaan suip. Die skape het mos ‘n neus om water uit te ruik. Hulle sal wel die dam kry.

Later kon die skaapwagter weer die skape uitmekaar kry. Die man moet ook iets doen, hy word immers ‘n hele 6 pond in die maand betaal en twak en ‘n slagding.

Soos die Jirre dit wou hê, sterf die ouvrou en haar gekerm hou oornag op. Die skaapwagter het met die dikwiel baaisiekel van die agterste veepos gekom en ‘n hele week gegrawe aan die gat. Die ouvrou het al beginne ruik teen die tyd dat die gat klaar was. Gelukkig was dit Junie en die groot huis was elk geval koud.

Ou Jan het verseg om oor te trek na die groot huis toe. “Die ouvrou het nie vrede in haar hart gehad nie,” het die ou gesê. “Laat haar maar eers haar lê kry, ons sal later sien.”

Nie vier maande later nie is Die Vrou ook die ewigheid in. Oornag. Nog een dag soos ‘n heks tekere gegat en toe net soos ‘n os neergeslat. Beroerte. “Van bedonnerdgeit,” het die ou verklaar. Weer moes die skaapwagter die pik en graaf uithaal. Hy moes ‘n kis ook aamekaar slat. Die Vrou was so van die gewig dat die winkel kiste nie gepas het aan haar lyf nie.

Almal was daar. Gelukkig het die drô veld gemaak dat hy in elk geval een van die ou ooie moes keelaf sny. Dié het die skaapwagter se vrou, ou Siena, vir die gaste opgekook. Flippie Brand het ‘n paar vroe pampoene en ‘n waatlemoen of twee van die rivier af gebring. Ook net reg so, die man ry elke kwartaal hier teen die huis verby om sy trop kinders op die dorp te gat haal. Elke jaar moet die skaapwagter die donkies voor die sleepskraper inspan om die pad grootpad toe reg te maak.

Die dominee het gepreek oor deugde met die vrou se begrawwenis. Hy sal moet uitkyk vir iemand wat darem haar plek kan kom volstaan. ‘n Man kan ook nie heeltemal alleen wees nie. Daar het hoeka ‘n wedevrou ingetrek by die Bloukamp. ‘n Mens moet ook na die weduwees en die wese omsien.

Voor oom Jan die nuwe wedevrou kon gaan kuier kom Flippie Brand weer daar verby. Hy bring ‘n pluksel groenboontjies, ‘n bossie wortels en ‘n bottel mampoer wat hy van Kakamas se perskes gestook het. Ook reg so, die man moet sy plek ken. Die rivierboere waardeer nie die goete wat hy vir hulle doen nie.

Oom Jan roep ou Siena nader en sê haar aan om sop te kook. ‘n Groot pot. “Gooi ‘n stukkie lieslap ook in, nie te veel nie, vleis kos nie niks nie.”

Oom Jan eet vir ‘n week sop. Mirrag en aand. Net mooi teen die tweede week raak die yskas uit paraffien uit. Ou Siena het hom wragtag nie gesê om vir Flippie Brand te vra vir paraffien van die dorp af nie. Die vrou waardeer ook niks wat hy vir hulle doen nie.

‘n Paar dae later begin die sop ’n ruik kry en ‘n skifsel maak. Oom Jan wurg die sop af. ‘n Mens mors niks.

Teen die tyd dat oom Jan op die laaste van die moerse pot sop is, is dit net sy goeie maniere wat hom maak die sop eet. En ‘n bietjie van ‘n skelmstreek. Hy gooi naamlik vir hom ‘n knertsie van Flippie Brand se mampoer in en sit die glasie langs die sop neer. “As jy nou jou sop eet soos ‘n erkentlike mens, kan jy ‘n bietjie mampoer kry om die sop mee af te sluk,” gaan die ou ‘n ooreenkoms met homself aan.

Oom Jan wurg die laaste skepsel sop af en glimlag skelm. Dan vat hy die glasie mampoer en gooi dit terug in die bottel. “Hoe lekker vang ek jou nou uit.”




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed