
Paddadysmoles
Alles is nie pluis
in die Paddadys:
die modderrige vleitjie van
die Paddadigma Koningshuis
Koning Paddadigma
se heerskappy ontspoor
ambisie tot vernuwing
het hy lankal reeds verloor
Prinses Paddadocs
is te groot vir haar skoene
en Koningin Paddanormaal
fokus slegs op visioene
Die volk is ontevrede
oor die prys van paddafien
‘n Platanna-faksie wil van
die monargie afsien
ondergronds ontwrig hulle
die brose ekonomie
boonop waarsku paddamedici
teen nog ‘n paddandemie
Boere is bekommerd
oor voedselsekerheid
herstelde riolering
wis insekgetalle uit
Ontnugter nader Paddadigma
sy kabinet om raad
in die gedaante verskyn
Hoofhofknaap Parraraat
die ervare kwaaksalwer
bly tot die dood lojaal
uit ervaring weet hy ook
net wie om te laat haal
By skeeloog Skinker Parralaks
word perspektief gevind
sy konkoksies maak van jou
weer paddavis se kind
– die bodem van sy glase gee
aan alles ‘n rooskleur tint
Koning Paddadigma
voel nou soos ‘n nuwe munt;
“Basta met die klagtes!”
verklaar hy voortvarend
in sy Paddadys, meen hy,
verloop sake voor die wind
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.