PSALMUS MEUS LUCIS
ʼn psalm van oorgang
gespeel op die snare
van frekwensies van lig …
die lewe is ʼn konstante reperterende lied
van lewe se vreugde én lewensverdriet
psalmverse wat eggo teen grotgrens se wand
binne menslike perke van vlees en verstand
koorsang en solo genoot in liriek
andante, fortissimo, semper-musiek
soos suising in ore waar hartklop tromslag
sal liglinte venster met die aankoms van dag
ʼn tonnel supernova in sterstof se gas
hipnotiese roepstem van verligting van las
ʼn lokkende sielsprong oor die ligbrug se blink
na die strome wat waters van vrede sal skink
sal die tolhek se meester my vlerk-was laat smelt
of my deurlaat in euforie sonder aanbod van geld?
as die ringkring vernou en die poorthek weer sluit
sal die tromslag van tyd nie oor dood kan besluit
maar die visie geëts op die retina se doek
sal getuig van die lewe waarna my siel honger soek
Etna Wepener ©️
Voetnota:
PSALM – lied
PSALMUS MEUS LUCIS – My psalm van lig
ANDANTE – stadig maar seker, stadig, ingedagte
FORTISSIMO – baie hard, donderend
SEMPER – al die tyd, het nie verander nie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2023 – OOP projek