Saphira die Magtige Feëtjie Hond
Saphira en Cian sit langs mekaar op ‘n duin en hou Eolande dop waar sy skulpies op tel. Die Feëtjie Hond het haar towerkragte gebruik om haar beskermling in waterdigte skoene en broek te klee.
<Om haar so naby aan die see te sien maak my onrustig,> sê Saphira.
‘Hoekom? Die Selkies sal nie weer ‘n probleem wees nie. Sy lyk vir my beter na haar onderwater avontuur,’ sê Cian.
<Iets omtrent die see voel net nie reg nie.>
‘Van wanneer af?’
<Omtrent twee dae.> Saphira blaas stadig haar asem uit. <Dis ‘n week sedertdien ons die ding met die Selkies gehad het. Dalk was ek oorhaastig om hulle te help. Dalk moes ek hulle net almal vernietig het en só vir Eolande gered het.>
‘En dalk sou dit meer moeilikheid veroorsaak het.’
<Ek –>
‘n Skielike pers lig op die strand sny haar woorde stomp af. Albei hardloop af na Eolande. Sy kyk verbaas na hulle.
‘My pa verwag my in Feërie. Hy sê dis belangrik.’
<Wel ek kan jou nie vat nie. Nie ná die fiasko met die Halfeeufees nie,> sê Saphira. Faolan MacKeltar kan na die mense-wêreld kom as hy sy dogter so graag wil sien.
‘Ek wil gaan, Saphira.’
<Nie alleen nie.>
‘Ek sal haar vergesel. Ek sal haar mooi oppas,’ sê Cian.
Die Feëtjie Hond sug. <Ek sal hier wees wanneer julle terug kom. Moet net nie vir jare daar bly nie asseblief. Ek weet tyd loop anders daar, maar ek wil nie vir weke hier bly soos ‘n idioot nie.>
Eolande gil skril en gooi haar arms om Saphira.
<Toe, gaan nou,> sê sy ongemaklik.
Eolande gaan staan langs Cian en oomblikke later verdwyn hulle.
Saphira sug en skop die sand.
Dadelik kom trillings van die see af. Saphira kyk skerp op. Sy gluur vir die watermassa. Sý het defnitief nie die bewings veroorsaak nie.
Die see trek terug van die land en Saphira weet dat iets lelik verkeerd is. Sy hardloop die see in en gee haarself webbe om beter te swem en kieue om asem te kan haal.
Dadelik kies sy koers na die seeheks se nes. Die Feëtjie Hond kan die vrees van die seebewoners om haar voel soos hulle tussen seewiere en in koraalriwwe wegkruip.
Sy swem teen die seestrome deur die dynserige water tenspyte daarvan dat haar oë brand en sy nie kan sien waar sy swem nie. Saphira is verbaas om die seewiergroen seeheks bo-op haar grot te sien staan. Haar swart oë tuur ver die see in. ‘n Nare gevoel neem besit van die Feëtjie Hond.
<Jy is nie hiervoor verantwoordelik nie,> sê sy gelate.
Die seeheks kyk af na haar. ‘Nee. Hierdie is die gevolg van jóú inmengery.’
<Wat?>
‘Die see hou alle towerkragte wat mens en Feë in die wêreld gebruik en misbruik. Deur Selkies elke dan en wan op te offer, ruim die oortollige newe-effekte wat te veel is vir die oseaan om te vat weg. Jý het die enigste kuur onbereikbaar gemaak.’
<Ek het nie geweet nie,> sê Saphira sag.
‘Natuurlik nie. Al waaroor jy omgegee het was om jou beskermling terug te kry.’
<Wat nou?>
‘Nou? Mmm… Nou gaan die kraak wat gevorm het vul met soveel van die see as wat dit kan vat. En wanneer daar weer newe-effekte opbou wat te veel is, sal die kraak toe gaan en al die water uit stoot wat moontlik oorland ook sal gaan,’ sê die seeheks verveeld.
<Daar moet iets wees wat gedoen kan word?>
‘Niks binne my vermoë nie.’
<Wat bedoel jy?>
‘As daar ‘n manier was om die towerkragte en dié se newe-effekte na Feërie te stuur waar dit net herabsorbeer kan word…’ Sy lig haar skouers en draai weg.
Saphira maak haar oë toe. Daar ís ‘n manier. Dis iets wat net ‘n Feëtjie Hond kan doen. Sy voel die water om haar en vind wat sy soek. Blitsig swem sy weg.
Ses seenimfe sit verveeld op ‘n groepie rotse. Hul rokke wat vol valletjies en plooitjies is en hul vlinder vlerke sweef liggies in die seestroom. Hulle lyk so perfek soos hulle soort altyd doen.
<Ek het werk vir julle,> sê Saphira toe sy naby genoeg aan hulle is.
‘’n Feëtjie Hond?’
‘Defnitief.’
‘Maar hoekom?’
<Ek het nie tyd vir julle gebabbel nie. Ons gaan saam die see red,> sê Saphira ongeduldig.
‘Klink na pret.’
‘Dit sal ‘n lekker verandering maak.’
<Ek het nodig om ‘n plek op die bodem te kry wat moeilik bereikbaar is.>
Die seenimfe kyk met breë glimlaggies vir mekaar.
‘Volg ons,’ sê een wat verskeie kleure in haar lang hare het. Haar witterige rok lyk amper vaal op sy eie, maar met daardie kleuredos is dit heel smaakvol. Saphira skud haar kop. Die seenimfe moet ook altyd heel voor in alle modes wees.
Sy het dit nie moontlik gedink nie, maar hulle swem nóg dieper af. Deur ‘n donker gang wat twee seeberge maak, vind hulle ‘n kelder wat onmoontlik is vir mense en selfs gewone seebewoners om ooit te vind.
‘Wat wil jy hê moet ons doen?’ vra die seenimf wat akwamaryn dra. Die kleur is treffend met haar donker vel en hare.
‘Wel, vanselfsprekend wil sy hê ons moet ons supervermoë gebruik,’ sê die blonde seenimf wat ‘n spookasempienk rok dra.
Saphira weet nie of hulle uit materiaal gehardloop het toe hulle hul rokke gemaak het nie, want voor kom die rokke net tot by hul kniëe en agter lyk dit of dit op die grond sal sleep sou hulle op land gaan.
‘Nee, sy’t net ons ondersteuning nodig. Sy’s ‘n Feëtjie Hond,’ sê die rooikop seenimf wat koraalpers aan het.
Voordat hulle kan begin stry, praat Saphira. <Ons moet ‘n kring maak daar onder in die middel van die kelder.>
Hulle swem af na die bodem en die seenimfe maak ‘n kring om haar terwyl hulle hande vas hou. Sy hou nogal van die reënboog-effek wat hulle saam maak.
<Konsentreer julle op die goeie aspekte van die mense-wêreld oseaan. Veral die balans en harmonie.>
Hulle knik ernstig en maak hul oë toe.
Saphira konsentreer op die eindelose oseaan van Feërie. Sy wil ‘n poort maak tussen hierdie oseaan en daardie een. Sy kan haar towerkrag deur haar voel vloei. Toe sy haar oë oop maak, staan ‘n enorme skulppienk oester voor haar met ‘n reuse pêrel binne-in. Twee reuse skulpe gevorm soos hekpilare staan weerskante van die oester. Hul skerp punte blink dreigend.
‘Wow!’ sê die seenimfe gelyktydig.
<Julle kan maar mekaar se hande los,> sê Saphira.
Sy kan voel dat sy geslaag het. Van oral om word blink wit borrels gesuig na die oester. Dit verdwyn sonder om werklik aan die reuse skulpe te raak. Die bewing van die see word minder totdat dit – en die borrels – verdwyn.
<Balans en harmonie is herstel,> sê sy vir die seenimfe.
‘Wat nou?’ vra die rooikop.
<Nou moet julle ses hierdie spesiale Feëtjie Kring bewaak. Ander gaan probeer om dit te misbruik. Julle sal van albei kante af moet werk.>
‘Jy vertrou ons om dit te doen?’ vra die blondine verbaas.
<Natuurlik! Almal mag dalk dink dat seenimfe net oor hul voorkoms omgee, maar ek weet van beter. Julle is sterk én mooi; betroubaar én somtyds laf; slim –>
‘Dankie,’ sê een. Hulle almal bloos skaam dat sy hulle werklik sien.
<Ek gaan julle nou verlaat. Bly sterk en fabelagtig,> groet Saphira en swem weg.
Terug op droë land brand Saphira se oë van die baie sout water. Sy skud haarself droog dat haar hare penorent staan.
‘Wat?’ gil Eolande verbaas.
Die Feëtjie Hond kyk om en sien dat sy haar beskermling en Cian nat gemaak het met haar geskud. Nie een vra waar sy was of hoekom nie, maar sy sien hulle deel ‘n kyk van verbasing.
<Dis tyd om terug te keer na die kasteel wat so verberg is in die Loch Ness vallei,> sê Saphira vir hulle.
‘Ek het ook so gedink,’ sê Eolande.
‘Ek kom saam, as julle nie omgee nie?’ sê-vra Cian.
Die Feëtjie Hond wonder of sy ooit van hom ontslae gaan raak, maar knik in elk geval. Met haar towerkragte maak sy haarself heeltemal droog nog voordat hulle die strand verlaat. Sy kan hoor hoe die see dankie sing soos sy daarvan wegloop en voel heel in haar noppies oor haar eie slimheid.
5 Kommentare
-
Anze
Ek is mal oor jou feetjie verhale.. lekker gelees
-
neels
dit is nou waarlik lekker lees verhale hierdie Ronel
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ronel Janse van Vuuren
Ek hoop jy het Saphira se sesde avontuur geniet. Vele meer gaan volg. Ek waardeer altyd terugvoering, so voel vry om kommentaar te lewer.