SEKELMAAN
Die grys albastermaan
lê vanaand in sy sekelwiegie
toegevou in ‘n sterrekombers
in die heelal se kwekery
Die sterre lek spatsels wit
in die klein karoo
soos kerswaks op ‘n tafelblad
terwyl die sekelmaan in sy wiegiebedjie lê
Tyd rol die sandkorrels
oor die sandduine se ribbe-ruffels
tot teen die ankers van die vygies vas
wat wagstaan in die sekelmaan se lig
Die nag se stofsuier
suig vir my ‘n miskombersie uit die dale op
en vou my toe waar ek lê
in die sekelmaan se wiegie in die heelal se kwekery
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Inkmoderator
Na al die vorige verse wil dit vir my blyk of jy begin aandag skenk het aan korter sinne en meer let op woordekonomie. Ek dink hierdie vers is geslaagd en lees heerlik. Kyk net na Klein Karoo wat hoofletters behoort te wees aangesien dit 'n Eienaam is. Geluk hiermee Louie. Groete