Jongste aktiwiteit:

Slegte goed en goeie mense?

(Woordtelling : 934)

 

‘n Wyse vrou het eendag aan my gesê dat ons lewens-vrae vra wat nie beantwoord kan word nie, dat ons eintlik die verkeerde vrae vra. Eers wanneer jy na jou situasie uit ʼn ander hoek kan kyk, en ander vrae kan begin vra, sal jy verstaan waarom sekere dinge oor jou pad kom. Dit is grootliks ʼn oefening om na binne te kyk en nie daar buite iewers jou antwoorde te soek nie.

Om te vra waarom slegte goed met goeie mense gebeur, is in der waarheid ʼn baie egotistiese vraag. Dit impliseer dat jy dink jy is te goed, lewe voorbeeldig, volg die nou paadjie, is ʼn “goeie” christen, en daarom behoort slegte goed nie oor jou pad te kom nie – siektes, dood, finansiële nood, ens.

Die ego hou nie van swaarkry nie. Hy/sy wil ʼn lewe hê gesaai met gemak en voorspoed. Hierdie liewe ego is ook gou om ander te blameer wanneer dinge skeefloop, of om te dink dat jy nie hierdie vreeslike “straf” verdien nie.

Ons kan nogal verbasend arrogant wees wanneer ons dink ons word te na gekom! “Die lewe is onregverdig”, “ek verdien dit nie”, “my eggenoot/kind/sib was ʼn goeie mens en hy verdien nie om (so jonk) dood te gaan nie”, is ʼn paar stellings wat ek maar te dikwels hoor. Die egotistiese mens dink dat sy lewe net een lang partytjie moet wees met ʼn uitgerekte happy ever after. Dit laat sommer gou-gou my wiele afval en moet ek my mond met versterkte kleefband toeplak om nie my ware gedagtes te laat uitglip nie. Enige teëspoed is dan vir so ʼn persoon ‘n reuse verrassing, en meer dikwels ook ʼn baie traumatiese een.

Maar bevraagteken ons dit net so hard wanneer daar werklik goeie goed met oënskynlike slegte mense gebeur? Is alles wat met ons gebeur nie maar net ʼn gebeurtenis nie, sonder om dit te klassifiseer as goed of sleg nie? En wie is ons om te besluit of ʼn ander persoon goed of sleg is? Jy kan nie 100% akkuraat bepaal wat in ʼn persoon se hart omgaan deur na sy klere of gewoontes te kyk nie.

Daar wag egter ʼn slegte verrassing vir diegene wat so ʼn denkpatroon het, want ek kan my voortande daarop wed dat elke persoon wat hierdie aarde bewandel, iewers ʼn uitdaging gaan teëkom wat sy hele bestaan uitmekaar gaan skeur en alles sal bevraagteken wat hy tot op daardie dag geleer het. Dit is egter net diegene wat besef dat die lewe hul niks skuld nie, wat uiteindelik soos die Phoenix uit die vaal asse verrys. Die res maal maar daar onder in hul verdriet rond en vind nooit antwoorde op hul nuttelose vrae nie.

Iets wat my na dekades steeds helder bybly is ʼn familielid se opmerking dat die boer en sy vrou wat met hul tuiskoms na ʼn kerkdiens, en by die plaashek vermoor word, seker slegte mense was, anders sou hierdie ding nie met hulle gebeur het nie.

Ons noem so ‘n arrogante denkwyse spirituele hoogmoed. Wanneer jy links en regs ander se lewe veroordeel omdat iets met daardie persoon gebeur het. Dit is alte maklik om op jou heilige mishoop te sit en vingers na ander te wys en ander se foute uit te lig terwyl jy maak asof jy die sondelose Here self is. Ek wonder wat sy vir haarself te sê gehad het toe kanker by haar gediagnoseer was? En by wie het sy hierdie skeefgetrekte idees geleer, want dit was verseker nie in ons ouerhuis nie.

Jare gelede het ek gesê dat ek dankbaar is dat die mens nie eendag die geleentheid sal hê om oor ander se lewens te oordeel nie, en soms word hierdie gedagte net weer opnuut na vore gestoot.

Iewers in ons lewe kry ons die boodskap dat God alwetend is en wonderwerke laat gebeur, maar wanneer ons swaar kry, wonder mens gou hoekom God nie hierdie ding gekeer het nie. Wanneer ʼn oorlog uitbreek wonder ons waar is God of waarom daar soveel pyn en leiding in die wêreld is. Goeie goed word sonder meer aan God toegeskryf terwyl slegte goed die duiwel se skuld is. Iets wat te dikwels uit die oog verloor word, is dat die mens vrye wil het, en baie dikwels ‘n dom besluit maak wat werklik slegte gevolge het.

Maar nou ja, een ding is seker, en dit is dat God nie hier is om jou lewe namens jou te leef nie. Hý het nie nodig om jóú lewenslesse te kom leer nie – dis die mens se plig om te leer en te groei.

Wanneer ʼn slegte ding jou lewe laat ontspoor, is dit nie die heelal se manier om jou te straf en sodoende op die nou paadjie te hou nie. Die lewe gebeur met almal. Dit maak nie saak hoe voorbeeldig jy is of hoeveel keer jy kerk toe gaan en jou sondes bely nie, dit gaan geen verskil wanneer jy ʼn uitdaging beleef nie. ‘n Voorbeeldige lewe vrywaar niemand van emosionele pyn nie, dit kan jou hoogstens daardeur help.

Wat as die slegte goed gebeur vir dieselfde rede waarom énigiets gebeur? Dat ons moet leer om nie onderskeid te tref nie, maar dit objektief beskou. Dat die groot ding agter ʼn uitdaging is om te leer hoe om daardeur te werk, en te leer hoe om saam met die lewe te vloei, eerder as om die hele tyd daarteen te skop. Dan, en slegs dan, weet jy dat jou vreeslike belangrike lewe maar ʼn spikkeltjie in die heelal is en dat alles nie net om jou draai nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed