Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Spookvoel

Deur Fanus Strydom
Datum gepubliseer: 18 April 2022 Aantal woorde: 1590 154 Kere gelees 15

Spookvoël

Geskryf deur Fanus Strydom
April 2022
Woordetal 1550

Malaconotus blanchoti
Gryskoplaksman

Soms kan mens, vroeg op ‘n koel wintersoggend in die laeveld, die hartseer roep van ‘n Spookvoël hoor. As ‘n mens mooi luister. ‘n Vêr-af weeklaag, iewers diep vanuit die digte ruigtes, en tog terselfdertyd, ook so indringend naby.
Hy word selde gesien. Maar, dis asof hy deur middel van sy onmiskenbare roep, die res van die bos wil aanspoor tot onmiddellike wakkerwording en aksie. Smôrens vroeg sodra die son opkom.
Gryskoplaksmanne lewe hulle lewe lank in monogame pare, of enkel. Maar nooit in troppe soos meeste ander voëls nie. Indien ‘n Spookvoël se maat vroeg in hulle saamwees tot sterwe kom, is dit nie ongewoon dat die agtergeblewe enkelling nooit weer ‘n nuwe maat opsoek nie. Maar, eerder verkies om alleen verder deur die lewe te gaan. Tot hy ook eendag sy maker moet ontmoet…

“Hoooooe……hooooe……hooooe…”

“Oupa…”
“Ja Faan.”
“Wat maak so, oupa?”
“Hoe Faan?”
Hy kyk nie op vanwaar hy ingedagte, ‘n mango vir onstwee sit en afskil met twee songevlekte, oumanshande nie. Die vlymskerp knipmeslem flits behendig tussen sy kromgebuigde, hardwerk-vingers. Eers in díe hand, dán die ander. Al is hulle al bewerig, en deesdae seer so vroeg smôrens, kan hy steeds ‘n mango maklik om en om laat rol in hulle. Kan hy, sonder moeite, gou ‘n nuutgeskape geelskilslang laat afseil grond toe. Onafgebroke, papierdun en in een enkelsliert, met groen kolle hier en daar. Nes die vrug waarvan hy hom sopas verlos het. Díe sal dan, kaal gestroop van alle geheime en totaal ontbloot, skielik stil bly lê in die palm van sy hand. Songeel, ryp en sappig. Perfek gereed vir ons vroegoggend bosontbyt.
”Hoe, hoe, hoe..” probeer ek ewe braaf die geluid namaak, maar dit klink gladnie dieselfde nie.
“Huh?”
Oupa kyk na my met een van sy kamma-kwaad fronse, maar sy oë flous my nie. Ek weet binne lag hy lekker vir my onseker na-aap poging.
“”Hoe, hoe, hoe””, Oupa, nie “”huh”” nie!” probeer ek my waardigheid red. Al bloos ek bloedrooi van pure genot, en ‘n tikkie verleëntheid.
“Wat?!”
Hy maak wragtieswaar nogsteeds of hy my nie kan hoor nie!
Geel sap begin ongestoord teen sy vashouhand se arm afdrup elmboog toe.
“Oupaaa…!” pomp ek hom, ewe voorbarig, speels in die sy met my vinger. Presies daar waar ek weet sy geheime kielieplek is. Gelukkig hou hy vas aan die glibberige goedheid in sy hand. Dan sê hy weer, kamstig kwaad:
“My magtag, Boeta….jy weet mos oupa is doof in hierrie oor…!”
Hy beduie hy met ‘n taai, mango-hand na sy regteroor.
“So, kom sit aan hierie anner kant sodat ek jou ordintlik kan hoor!”
Met sy ander hand vat-vat hy na die getroue houtkierie onder by sy voete, en beduie daarmee na die ideale sitplek aan sy ander kant. Die hoorkant. Ek skuif gretig oor sy bene soontoe. Skaam dat ek alweer vergeet het van sy verdekselse gebrek. Maar, ook opsluit verlig om eers weer veilig uit die donker blindekol van sy stil, regterkanste wêreld te wees. Daardie afgesonderde en aweregse deel van hom.
“Goedso, Boeta….sê nou weer vir oupa. Wie maak wat…en waar…sien jy hom?”
“Ek weet nie, Oupa! Dit is hoekom ek vir Oupa vra!”
Die keer is dit ek wat, half-vies, soek-vat na ‘n kleinerige klip by my voete en dit dan blindelings die bosse voor ons inslinger.

“Hoooooe……hooooe……hooooe…”

“Daar’s hy weer, oupa!”
Oupa draai sy kop. Maak dan sy linkerhand bak om sy oor. Die halfgeskilde mango hang nou vergete in sy ander hand. Vir ‘n oomblik tuur hy onder die rand van sy oeroue, bruin veldhoed uit. Stip die ruigtes in. Hy is dankbaar dat die kind deesdae al amper sy oë en ore geword het in hierdie vinnig-donkerwordende wêreld van hom. ‘n Wêreld waar die regterkant baie jare terug al hoe stiller begin raak het, en die bosse om hom al hoe ruier…

Ek maak dadelik ook altwee my hande bak om my ore. As dit mens beter laat hoor dan wil ek ook. Nes hy. My oë volg syne van donker kol na donker kol in die bosse voor ons, maar ek sien niks.
“Dis ‘n Spookvoël…” sê hy, amper geheimsinnig.
“Oupa?”
“Vanmelewe se mense het geglo hy spook by hulle as hy só roep…”
“Hoekom…?”
“Want hulle wil nie hoor nie.”
“Wat wil hulle nie hoor nie, oupa?”
“Hulle wil nie hoor wat hy vir hulle probeer sê, of sien wat hy vir hulle probeer wys nie.” herlei hy die staaltjie uit sy lank-vergete kinderdae. “Niemand was ooit presies seker wat die oumense bedoel het nie…” onthou hy verder.
“Angelo sê, mens hoef nie bang te wees vir spoke nie?” bring ek hom terug na die hede toe.
“Huh?”frons hy. Díe keer rêrig, nie kamma-kamma nie.
“Angelo. Hy sê spoke is maar net arme, verlore siele wat hulle pad probeer terugvind huistoe.”
“Waarvan praat jy kind?”
“Van spoke, oupa.”
“Wie’s Angelo? Is hy ‘n vriend van jou?”
“My beste vriend , oupa.”
“Daar in Pretoria?”
“Ja, oupa. En hiersô. Hy’s altyd saam my. Oral waar ek gaan, want hy is ‘n engel.”
“ Kind?” Die frons tussen sy wenkbroue verander in ‘n grys vraagteken.
“Sien oupa hom nie?”
Ek wys na hom oor oupa se skouer, waar hy reg voor die opkomende son staan.
“Hy staan reg agter oupa.”
Oupa kyk om. Die helder lig verblind hom in ‘n oogwink. Hy staan vir ‘n lang oomblik so, terwyl hy die sien probeer terugvryf in sy oë.Toe hy terugkyk na my stroom daar trane teen sy wange af.
“Seker van die son.” Dink ek en vroetel in my sakke, maar ek het nie ‘n sakdoek by my nie. “Huil oupa?” vra ek.
“Nee kind!”
Hy antwoord te vinnig. Dan: ”Ja, miskien. Ek weet nie…”
“Ek huil baie.” wys ek vir hom dat ek verstaan. “ Angelo sê dis okey om te huil as mens hartseer is.”
“Praat hy…!?”
Op sy voorkop lê die twee wimper-vraagtekens nou teenmekaar.
“Baie oupa. Die Hele tyd!”
“Praat hy nou…?”
“Uh-huh…” antwoord ek. Baie trots daarop dat oupa iets by my gaan leer vandag. Gewoonlik is dit anders om.
“En wat sê hy…?”
“Hy sê, ons moet probeer hoor wat die spookvoël vir ons sê…”
“En…wat sê hy sê die voël?”
“Ek weet nie oupa. Hy sê ons moet eers self weer luister…self probeer hoor.”

“Hoooooe……hooooe……hooooe.”

“Hoor oupa?”
Hy draai sy kop wind-op. Maak weer ‘n bakhand langs sy oor. Toe die voël te lank wag om weer met hom te praat, waag ek dit om hom te probeer vertel…
“Hy sê: “hoe, hoe, hoe is dit dan, dat niemand op hierdie plaas sien, of hoor, wat aangaan nie…”
Oupa antwoord my nie. Maar sy kyk laat my weet hy verstaan wat ek bedoel.
“Angelo sê, hy dink ook so…” probeer ek wys dat dit nie my verbeelding is nie.
Oupa vat sy kierie vas en kom swaar orent.
“Ai kind….”
Vir ‘n oomblik voel hy duislig, maar vind dan weer sy balans op sy onvas hoepelbene. “Kom, ons moet huistoe. Ouma wag seker al vir ons met ontbyt…”
Dan begin hy aanstap bakkie toe.
Agter ons bly die halfgeskilde mango netso op die grond lê. Elke druppel lewenssap nou vergeefs uitgebloei.

Oppad huistoe volg die volg die voël ons al langs die stowwereige plaaspad. Al bly hy verskuil in die digte bosse, roep hy elke nou en dan. Asof hy wil seker maak ons hoor. Ek sien hoe oupa hom nou duidelik hoor, sonder om eers sy hand bak te moet maak. Daar rol weer ‘n traan teen sy gerimpelde wang af. Die keer weet ek dit is nie van die son in sy oë nie, maar van die weemoed in sy hart. Ek soek weer in my sakke, maar kry steeds nie my sakdoek nie. Hy vee die traan met die agterkant van sy hand af en kyk lank na my. Ek weet ons verstaan mekaar.
Dan begin my skouers saggies ruk van die opgehoude hartseer en die woede binne my. Hy vroetel in sy sak. Gee vir my sy sakdoek aan sonder om iets te sê. Dit ruik na sy weet en Ouma se Vinoliaseep. Ek huil my huil in sy sakdoek in tot ek leeg is. Hou dit dan na hom toe terug, want daar is nuwe trane op sy wang. Hy vat dit by my en frommel dit om en om in sy hand, sonder om sy eie trane af te vee. As hy wegkyk by die venster uit sien ek hoe sy skouers begin ruk. Seker van die huil binne hom, dink ek. Ons ry in stilte die laaste stukkie stamperige pad. Elke nou en dan hoor ons duidelik die voël se hartseer roep.

“Hoooooe……hooooe……hooooe.”

Toe ons by die plaashek indraai het Angelo dit klaar vir ons oopgeswaai en leuen hy ewe self-tevrede teen die skewe houtpaal. Met ons deurry, glimlag hy vir my en knipoog.
Ons verstaan mekaar.
“Faan…!?” vra Oupa verbaas.
“Ja, Oupa?”
“Het ons dan die hek oopgelos vanoggend?”
“Seker maar, oupa…”
Ek kyk terug en waai totsiens vir Angelo. Ek weet dat hy, vir eers, weer sal moet teruggaan na waar hy vandaan kom.

Agter ons hoor ek vir oulaas die voël uit sy bosplek roep.

“Hoe…hoe….hoe is dit moontlik dat niemand sien wat aangaan nie?!”

©Fanus Strydom




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    18 April 2022

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2022 En toe … projek

  2. Elizabeth

    23 April 2022

    Pragtig Fanus!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 1

Komplimentêre Geneesheer, Kweker van Organise Kruie en Medisinale plante, Eksperimentele kok en Aspirant Skrywer. Woon in die Paradys op Modimolle (Nylstroom) saam met Chappies, sy 3-jaaroue skaaphondseun.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 162 gaste aanlyn

Bydraes – Argief