Ontploffing!
Ontploffing!
Ek sit rustig voor my rekenaar en werk soos gewoonlik gedurende die dag. Mens kan voel die somer is op die horison met die swaar drukkende weer wat om jou laer trek. My selfoon is oudergewoonte ingeskakel by die krag van die rekenaar om te herlaai.
Ek kyk by die venster uit en die skerp vroegsomerson laat my wonder oor presies hoe warm dit gaan word as dit so vroeg in die somer al so drukkend warm is. Ek gewaar letterlik een mooi swaar wolk so skuins bokant ons woning en wens dat die wolke meer belowend kon wees.
Ek skarrel om klaar met die projek waarmee ek besig is, toe die foon my denke onderbreek.
“Goeie dag, hoe gaan dit met jou?”
Ek en Christine gesels te lekker oor die planne vir ons beplande naweek by die dam.
“Ek sit nog heel ontspanne op my stoel en gesels toe dit voel asof ʼn missiel my teen die kant van my kop tref! Ek spring instinktief op en tas verward in die donker rond.”
“Wat het nou gebeur? Die rekenaar skerm is af, trouens die hele huis se krag is af en ek hoor my kinders benoud na my roep.”
“Mamma! Sit! Die donderweer het nou baie hard geslaan hier voor die huis.”
My laaste bewuste gewaarwording is die eienaardige skerp kruitreuk wat in die studeerkamer hang, gemeng met die brandreuk van gesmelte kragkabels. Die kinders bly kalm en skakel nooddienste. Na ondersoek besef hulle dat die weerlig die kragpaal voor die huis getref het en dat die stroom deur die elektriese kabels, deur die rekenaar en deur die selfoon my getref het.
Hulle probeer my wakker hou, maar ek reageer nie en kry konvulsies voor ek my bewussyn verloor.
“Waar is ek? Wat maak ek in ʼn ambulans?”, vra ek toe ek in die ambulans my bewussyn herwin.
Na paar toetse skud die dokter sy kop in ongeloof.
“Mevrou, jy is een van die min gelukkige mense wat donderweer oorleef om jou verhaal te kan vertel!”
Die kragpaal voor die huis is swart gebrand waar die weerlig dit getref het. In my studeerkamer lê die stoel onderstebo en die elektriese bedrading van die rekenaar is gesmelt. Die elektriese stroom het die modem agter laat oopbars en ʼn skerp swaelreuk hang nog in die lug.
Die missiel wat my getref het, was toe al die tyd donderweer!
©Marlene Erasmus
21/04/2022
(398 woorde)
2 Kommentare
-

Elizabeth
Mooi geskryf Marlene!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2022 En toe ... projek