sproetgesig se seëning (SILWER)
sproetgesig seëning
stil, alleen staan ek voor my spieël
ek sien twee groot blou oë
en vele sproetjies op my neus
“so ssssooo s-s-s-Sunet, …”
hoekom sukkel die woorde
dan so om uit my mond te kom?
wat is die oorsaak dat woorde
so haak as ek praat?
die spieël glinster voor my
en ek vra weer: “hoekom hakkel?”
geen antwoord kom na my
daar hang net ysige stilte om my
parmantig flits my blou oë
as ek my skouers reguit maak
“dit is nou tot hierna toe, jy het
my lank genoeg laat letterstruikel
ek is uniek, sproetgesig sonder maat
hakkel is nie langer my woordketting nie
ek skryf my eie verhaal en sing
die woorde sonder hakkel”
spieëlbeeld glimlag terug na my
weerspieël my innerlike krag
in die skemer van my kamer
oorwin ek die doring in my vlees …
©MarleneErasmus
02/01/2024
Neologisme:
letterstruikel : as jy struikel oor jou woorde
woordketting: woorde wat vasgeketting is in jou mond
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek