Toemaar, my meisiekind
Kom sê maar vir mamma
as jy snags nie kan slaap nie –
daardie wakkerlê ure ken ek tog goed.
Vir die donker nag is ek lank nie meer bang nie –
daar buite is sterre,
ek weet die maan is aan’t gloed.
Kom sê maar vir mamma
as jy bang is vir spoke –
al die ou spoke ken ek jare al goed.
Hul spierwit geraamtes en duister gedaantes
verlam soms die spiere,
stol soms die bloed.
Kom sê maar vir mamma
as die skadu’s jou teister
skadugedagtes – dit ken ek ook goed.
Hul hou nooit op fluister en sou jy daarna luister,
kom steel dit jou vreugde
en die lewe se soet.
Kom sê maar vir mamma
want ek verstaan alles –
ek ken donker en duister en skadu’s so goed.
Maar vir hierdie dinge is ek lank nie meer bang nie,
want êrens blink sterre –
is die maan aan’t glinstergloed.
© Carma Shaw
18 Mei 2017
4 Kommentare
-

neels
hierdie werk is werklik n staande applous werd
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Inkmoderator
Viooltjie, Daar is werklik geen krit wat ek hierop kan lewer nie. Die herhalende woorde soos 'skadu', 'spoke' het met die eerste lees my oog gevang en het gedink dit sou steurend wees, maar helaas, met die herlees daarvan kan ek die funksionaliteit daarvan sien. Ek dink die vers se konstruksie is mooi, die ritme lieflik en die aanbieding van hoë gehalte. Baie dankie vir jou deelname. Skryfgroete IM