Tuin van die gode
in Namibsland se halfwoestyn
daar naby Keetmanshoop
waar die groenigheid maar skaars is
en riviere selde loop
waar groot klippe opmekaar lê
gestapel deur ‘n hoër hand
en delwers reeds millennia al
soek na die blinkste diamant
staan menig eeu-oud aalwyn steeds
dáár deur gode in ‘n tuin gelos
om skroomloos – tussen reuse rotse –
oor rant en vlaktes heen te dros
en fluister stemme nog in Khoisan drome
” . . . geseënd is hierdie Kokerbome”
© C. Shaw
17 Augustus 2015
4 Kommentare
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig. Ek geniet altyd jou natuur beskrywings.
-
Koekekranka
Ai, die wind waai waar hy wil en niemand kan hom keer! So loop ek maar telkens weer jou spoor van ligvoetdig raak en geniet saam met so vele Inkers jou poeierstrooi van woord en gedagtes! Baie dankie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma jy het maar die gawe om met woorde te toor in jou natuur bskrywings