Vasgehou verlore
Vasgehou verlore
By die wegspringblok het hy die leisels vasgemaak
Hy het vasgehou sodat sy nie wegraak
reeds tóé is die baan uitgelê
so is daar vir haar gesê.
In die suigeling skoene het sy mooi begin loop
haar toekoms vir haar uitgekoop.
Die tiener jare was sy anders en alleen
al was sy goed geseën.
Die spoed het aangedraai
die winde van verandering het gewaai
maar sy het aanhou probeer
om te hou by die Ware leer.
Maar die ongenaakbare stryd met wie en wat sy was
haar links en regs was nie meer in pas
haar voetval was struikelend
haar besluite huiwerend
tog bly sy aanhou vorentoe beur
haar siel in twee geskeur
sy wou tog net gelukkig wees
so het sy geglo diep in haar gees.
Hy is en was altyd daar
in haar donkerste nag het sy by hom geskaar
sy het die woorde op haar lippe geken
tog kon sy nooit wen
sy het verdwaal binne die baan
sy glo hy het haar laat begaan.
Tevergeefs haar soeke na rigting
twyfel het haar van die pad afgedwing
sy stem lankal nie meer gehoor
sy hand in die geroesemoes verloor
haar liggaam het die houe gevat
weg, ver weg van die uitgewerkte pad.
Sal sy ooit weer haar pad kan terugvind
of gaan sy vir altyd bly sweef in die warrelende wind.
Geskryf deur C Diederiks ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.