Veilige hawe
Knus pas die donker se jas
om my psige wat rond tas,
waar deurlating van lig
slegs ‘n mite is.
Selfs die ritseling van blare
is ‘n droom wat net waar word
in die roering van die wind,
waar dit uit my longe rigting vind.
Na buite, na bo verrys dit
sonder stop of terugdraai,
maar dis skemer hier
in die kamers van my menswees.
Verraad, gierigheid en selfsug
vier fees op my vredes stoep
en ek staar uit oor die vlaktes
waar die nuwe dag breek.
‘n Veilige hawe is die donker
weg van die oë wat my volg
en vind ek vir nou, rus
in die alternatiewe kant.
Vertroue lê yl gesaai
in my goudryp land
en ek kies afsondering
se beskermende band.
12 Kommentare
-
-
borrels
So het elkeen van ons 'n plek waar ons "veilige hawe" is. Mooi saamgevat.
-
Koekekranka
Diep beproewend, maar tog ook ontvlugtend. Ja, die mens is aanpasbaar, soms gedwonge en getuig deur selfverwekte donkerdenkendheid... Baie goeie subjektiewe werkie.
-
Palet
Mooi geskryf...die goudryp land se beskermende band
-
Arnold
Jou laaste strofe staan vir my hier uit.
-
Evelyn van der Merwe
Hou van die kontras tussen lig en donker en jou woordgebruik is besonders, welgedaan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Jou 5de strofe staan vir my uit. Baie mooi gepen