veldmusiek (silwer)
veldmusiek
saam met die voëls wat ’n môrelied sing
speel die veldorkes in harmonie
die blare ritsel ritmies saam
en maak die mooiste melodie
riviere neurie ’n vrolike wysie saam
as water kabbelend oor klippe gaan
berge weergalm hulle oeroue lied
bye zoem en die krieke kriek
die wind bring alles bymekaar
vir die suiwerste natuur-musiek
branders wat uitrol op die strand
crescendo die note oor die sand
wiegende bome en kartelende strome
is ’n koor van lewe, wild en vry
maar dit kan jy net waarlik hoor
as jy jou lyf daar buite kry
stap uit en laat jou sorge binne bly
luister na die konsert saam met my
©Hester Steenkamp
neologismes: veldmusiek: geluide van die veld
veldorkes: die klanke in die veld wat saam gehoor word
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek