
Vir die duiwe
Ek kyk hoe lê die wit mis
om Simonsberg se voet;
sien hoe pryk haar kranse
teen die môrestond se gloed.
Oor die dale, teen die hange
is die daeraad aan die vuur;
die Boland rus onskuldig
in die geboorte van die uur.
Elke oggend – wyl my paaie
met die boulevard langs baan –
gewaar ek hoe die duiwe
oor hierdie wye landskap gaan.
En vanaf Durbanville se heuwels
tot by Paarl en Jonkershoek
skilder swerms sonder ophou;
dalk is hul ook net aan’t soek
na ‘n tyd toe alles stil was –
gevul met dagbreek se geluide
en mis wat voor die son verdwyn
oor ‘n wêreld vry van stryde.
*
Is daar nog só ‘n plek op aarde,
so ‘n geliefde land en grond,
só ‘n hemel, só ‘n bloute
met die duiwe immer
– orals rond?
© Carma Shaw
11 Junie 2018
13h00
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.