Vreemde weë
Vreemde weë
Met Kersfees op hande, het die manne gedink,
versterk hul ou bande deur ’n glasie te klink.
Hulle skink elk hul glasie so ’n viervingersvol
vir ‘kommunikasie’ en om lekker te jol!
Koor
Vlug vir die Duiwel en vir Bachus my maat
hul verlei net
hul baklei net
pasop vir te laat
want as die ou drankies jou onderkry pêl
is jy verseker van ‘n plek in die Hel!
Og, die manne suip vrééslik en die vrouens kry skaam
want hul orgie nou beeslik die hele klomp saam.
Die vrouens stres dikbêk, sit die spul en bekyk;
sien hóé leeg kan ’n halfjack in japtrappie lyk!
Koor
Vergeefs dat ons vrouens vir die mansmense preek
want kórt na die troue word beloftes verbreek.
Van vroeg af tot laatnag gooi die manne dan dop
en baklei met die krag van die waters wat skop!
Koor
Met haankraai teen dagbreek het die manne gevou;
’n veer kon hul omtik so dronk was hul nou.
Ou Skeeloog Le Gransie was die ergste oorsuip
en moes hande-viervoet na sy motor toe kruip!
Koor
En vir Horrelpoot-Fasie het die spietkôps gewag
op ’n draai na sy plaas, hom vir spoed aan te klag!
Ou fasie verduid’lik: “…net één sgnersie gedrink
en dish wa’om…’hik!’…ek na brannewyn shtink…”
Koor
Die volgende dag was oom Faas in die hof
mét tannie Siena wat nog in pantoffels rondslof.
Die vonnis was skokkend vir oom Faas (én sy sak!)
En hy het dit wrokkend teen die hof uitgepak.
Koor
“Nee sies vir jou Fasie!” het tant Siena vermaan,
“Jy kan mos gin klaag nie, jy’t dit self mos gedaan.
Van ons honeymoon klaag ek jy moet stop met jou drink,
maar ek praat deur my nek, is wat jý daarvan dink!”
Koor
Vir die jongmanne tuis, daar’s ’n les hier te leer;
bly maar liefs in jou huis -jy’t teen drank géén verweer.
Selfs Noag, die gryse, was deur drank erg bespot
al was hy ’n wyse wat ’n ark kon laat vlot.
Koor
Gedenk ook oom Fasie as versoeking jou ry
en die dop in die glasie jou trag onder te kry
hy wou nog rehab maar was die keer te laat
want ou tannie Siena het hom mos verlaat..
Koor
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Vonnie
Koekekranka! Dankie baie vir jou inskrywing. . .