Waar Liefde Begin – Hoofstuk 2
Hoofstuk 2 — Agendas en Ultimatums
Johan kom alleen twee dae later terug en teen Laurie se beterwete voel sy ʼn teleurstelling in haar. Haar hoop was om Matthew weer te sien, alleen met hom te praat, hom rede te laat sien en tot ʼn vergelyk te kom.
Johan is saaklik: “Laat ek tot die punt kom dokter, Matthew het sekere voorwaardes gestel en indien jy dit aanvaar sal hy vir eers nie voortgaan met die onmiddellike vervolging van jou pa en Louis Olivier nie.”
“Matthew sal besit neem van beide plase. Hy wil hê dat jy alles wat aan jou pa en Louis behoort uit die huise en van die plase sal verwyder, hy wil niks persoonlik van julle op die grond hê nie. Alle vee en implemente, sowel as die volk sal bly. Jou pa moet van die grond af, dit is ʼn gegewe.”
Johan neem Laurie se stilswye as instemming, en gaan gesteurd voort: “ʼn Voorman sal binne twee of drie weke vir beide plase aangestel word. Jy kan die volk in kennis stel, maar Matthew sal sodra julle van die grond af is, self met die volk kom praat. Ek en Matthew sal beide plase in die week besoek.”
Laurie voel die weersin in haar oor sy vermakerige houding, veral oor die neerhalende manier waarop hy verwys na die mense wat oom Louis se gesin was en nog steeds haar gesin is.
Sonder dat sy dit kan keer kom dit bars van haar. “Eerstens soos ek u reeds voorheen gesê het, die mense op ons plase is nie ‘volk’ nie, hulle is familie en jy sal na hulle met respek verwys.”
Sy weet dat sy nie omgee of Matthew Townsend die plase vat of nie, maar tog kan sy haarself nie keer nie en sy is vies vir haarself terwyl sy dit sê, maar sy weet dit moet gesê word.
“Verder glo ek dat ʼn hof eers moet bepaal of die grond wel aan Matthew St. Nicolas behoort. Daar is geen bewys van eienaarskap nie Kolonel. Ek dink julle is albei vreeslik voorbarig… en luister mooi — nie jy of Matthew St. Nicolas sal julle voete op die grond sit voor ʼn hof julle die reg gee nie. So verstaan my nou mooi Kolonel, as julle die grond betree sonder ʼn hofbevel, sal ek julle albei laat arresteer.”
Die klank as hy sy vuis in sy ander hand slaan is verdowend en dan skree hy die woorde uit: “Die aansoek is reeds by die hof ingedien en sal binne enkele weke afgehandel word!”
“Dan wag ons vir die wetlike besluit ‘binne enkele weke’ kolonel. Nie volgens jou of Matthew St. Nicolas se besluit of tyd nie.”
Laurie sien Johan stik in sy woorde, nou weet sy, Johan se dryfveer is toegang tot die plase, vir die moontlikheid om getuienis of dokumente wat op die plase kan wees te vind.
Daarom maak sy dit weer duidelik — “So Kolonel, jy en Matthew St. Nicolas moet van die plase af bly tot die hof julle toegang gee. Ek waarsku u weer Kolonel, indien julle die grond betree voor die aansoek goedgekeur word, sal ek julle sekerlik laat verwyder. Ek sal dit in die openbaar doen Kolonel, sodat almal sal weet, wie en wat julle is — weet dit vir seker.”
Johan stik hierdie keer werklik, sy stemtoon laat Laurie besef dat hy naby breekpunt is — en sy wonder waarom.
“Ongeag van die tydsverloop oor die grondeis, verwag Matthew ʼn sekere teenprestasie van jou en jou familie vir wat jou pa aan hom wou doen.”
Nou kyk hy haar met openlike uitdaging aan.
“Anders sal ons vandag ʼn saak van poging tot moord by die Suid Afrikaanse Polisie aanhangig maak teen jou pa.”
Die verandering van ‘moord’ na ‘poging tot moord’ val Laurie op, maar haar woede neem skielik haar redelikheid weg en wanneer sy praat is die minag wat sy voel duidelik in haar stem.
“Ekskuus, ek dog ons het dit reeds bespreek, en wat ek kan aflei is dat alles aannames is Kolonel. So neem my woord daarvoor ek sal jou en Matthew St. Nicolas teenstaan in enige hof.”
In sy woede ignoreer Johan Laurie en gaan voort asof hy haar nie gehoor het nie en nou is daar ʼn vermakerige genoegdoening in sy stemtoon.
“Indien jy nie na die ultimatum wil luister nie dokter, gaan ons vandag ʼn openbare verklaring in die media maak met die feite wat ons reeds in ons besit het. Dit kan later as waar of onwaar bewys word in die hof, maar ‘ek’ as die gereg gaan dit vandag openbaar maak. So dink baie mooi dokter voor jy finaal besluit.”
Dit ruk Laurie — daar is geen manier dat sy dit kan laat gebeur nie. Al sou die feite later wys dat haar pa en oom Louis onskuldig is, sal dit oneindige skade aan albei se beeld en nagedagtenis doen. Nou vind Johan wat hy soek toe hy twyfel en selfs ʼn tikkie vrees op die mooi gesig lees.
“So dokter noudat jy weet waartoe ek as regsman in staat is, laat ons hierdie gesprek afgehandel kry. Matthew sal die plase eis, nie as betaling nie maar as sy eiendomsreg. Verder soek Matthew betaling vir sy verlore jare wat jou pa en Louis Olivier van hom gesteel het. As terugbetaling vir die onreg wat aan hom gedoen is sal jy vir drie jaar vir Matthew gaan werk.”
Nou ontplof Laurie behoorlik.
“Wie de duiwel dink julle is julle, en waar kom hierdie eis vandaan Kolonel?”
Johan se woede ken geen perke nie, hy ignoreer Laurie en skree die woorde uit.
“Jy sal baie spyt wees as jy hierdie aanbod van die hand wys dokter — glo my!”
Hy vat ʼn oomblik om sy balans te herwin, en sê sag en afgemete — “Ek sal sorg dat teen die einde van vandag, elke koerant, radiostasie en televisiekanaal, weet wat jou pa en Louis Olivier wou doen as jy nie die voorwaardes aanvaar nie, ongeag of ons ooit die binnekant van ʼn hof sien, of nie. Ek sal julle en julle naam vernietig.”
Nou weet Laurie, hierdie man het ʼn haat vir haar pa en oom Louis wat ongeëwenaard is, sy weet sy is vir nou in ʼn hoek gedryf.
“Waar presies is hierdie plek waar ek sal werk?”
“In Lesotho op sy plaas Emafweni.”
Sonder dat Laurie dit kan keer vertaal sy die woord vanuit Zulu — ‘In die wolke’.
Nou neem ʼn karaktertrek oor in Laurie wat sy nie geken het tot hierdie week nie, ʼn arrogante moedswilligheid en sy weet sy ken haarself nie meer nie.
“In watter hoedanigheid nogal kolonel?”
“Maak dit saak?”
“Ja definitief, ek is ʼn geneesheer.”
“Jy sal seker iets moet opoffer. Ek kan nie sien dat Matthew ʼn voltydse geneesheer nodig sal hê nie.”
Laurie is skielik kalm en dit is duidelik in haar houding en haar besliste stemtoon.
“Sover ek weet is slawerny lankal onwettig in hierdie land, so ek dink nie so nie.”
Sy sien hoe Johan rooi word in die gesig.
“Ek glo nie jy verstaan die situasie mooi nie dokter.”
“Nee ek glo nie jy verstaan die situasie mooi nie kolonel. Die situasie soos ek dit sien, is dat jy met ʼn klomp dreigemente kom wat op aannames, ‘jou aannames’, gebaseer is om my te probeer bang maak — of wat is die situasie kolonel?”
“Soos ek jou nou net gewaarsku het dokter, met die getuies wat ek het sal ek jou pa vernietig en vir die res van sy lewe deur die hof sleep — of ek ooit ʼn vonnis kry, of nie. Ek sal sy lewe hel maak.”
Laurie weet skielik dat hy baie ernstig is, en sy weet dat sy nie haar pa deur so iets kan sit nie. Laurie hoor egter ook die veranderde dreigement, dis nou nie meer tronk toe vir moord nie maar net hofsaak na hofsaak, en sy weet hierdie Johan van Graan is ʼn slinkse man en ʼn baie gevaarlike mens.
Laurie besef noudat die ‘moord’ aanklag skielik van sy tafel af is, sal Johan die situasie manipuleer soos dit hom pas om sy sin te kry, maar sy voel tog hier in haar vrees vir haar pa se veiligheid ook dat sy ʼn effense oorwinning behaal het.
“Al wat ek hoor is ‘ek’ — wie is ‘u’ in hierdie saak, en waar pas ‘Matthew St. Nicolas’ nou eintlik in kolonel?”
Johan se gesig vlam donkerder rooi, hy maak sy mond oop om te praat maar bedink homself want skielik is hierdie gesprek besig om in ʼn rigting gestuur te word wat hy beslis nie vandag wil bewandel nie.
Johan korrigeer homself.
“Ons,” begin hy en vervolg met die klem op die ‘ons’: “sal voortgaan met die saak teen jou pa as jy die kans wil waag dokter.”
“O dit is nie ek wat die kans vat nie kolonel, ek glo dit is jy. Buitendien kolonel, indien ek dit sou oorweeg en dit is ʼn baie groot ‘as’, want ek sal definitief regsadvies inwin oor die volgende paar dae. Werk gaan met ʼn werkskontrak gepaard. Het jy ʼn kontrak vir my prokureur om na te kyk?”
Johan weet as dit enige ander omstandighede was, sou hy selfs bewondering vir hierdie vrou se skerpheid en durf kon voel — maar die feit dat die kind van Nathan Kilber hom verhoed om te kry wat hy soek, maak hom blind.
Laurie besef weer ten spyte van haar bravade, sy sal haar pa nooit deur openbare vernedering van hofsaak na hofsaak kan sit nie. Sy self sal nie so ʼn openbare swartsmeer van haar geliefdes kan deurmaak nie. Laurie weet sy mag nie toelaat dat die man haar vrees sien nie.
Sy kyk hom in die oë en gee nie ʼn duim mee nie. “Ek sê nie ek sal die voorwaardes nie oorweeg nie, ek sê ons bly by die wet. So of ek kry ʼn kontrak of jy loop die pad wat jy wil loop.”
Johan besef as hierdie mensie besluit om haar pa op te offer, hy nooit sal kry wat hy soek nie, en hy weet hy moet nou sy gevoelens beheer.
“Hier is ʼn kort kontrak wat Matthew opgestel het sodat jy reg het om alles van die grond af te verwyder sonder inmenging.”
Laurie ignoreer die hand met die dokument.
“Ekskuus ek dink nie ek het Matthew St. Nicolas se toestemming nodig om enige iets te verwyder of te laat verwyder uit enige huis nie. Onthou asseblief, hy is nie die eienaar van enige iets tot en met die hof so sê nie.”
Nou is Laurie se viesheid weer openlik te siene op haar gesig.
“Wat van ons en oom Louis se kontant waardes of wil Matthew St. Nicolas ook die geld hê?”
“Nee, vir nou is net die grond ter sprake, julle geld is bloedgeld, doen daarmee wat jy wil.”
Laurie wil in sy gesig lag oor die ‘bloedgeld’ maar die absolute fokus op die besitsreg van die grond val haar weer op — wat is op die grond wat Johan van Graan bo alles wil hê?
“Wie se bloed kolonel?”
Johan maak sy mond oop om te praat maar voor hy kan antwoord gaan Laurie aan want nou wil sy hierdie gesprek beëindig. Haar enigste doelwit nou is om te verseker dat sy haar pa se naam uit die media hou en om hom ook uit die hof te hou.
“Ek sal hierdie ‘waardelose’ kontrak na my prokureur neem. Dit begin vir my lyk na net nog ʼn grond-eis deur ʼn persoon wat geen regsgronde het nie. Soos met al die vele grond-eise wat die afgelope jare gebring is teen die plase en waarvan niks suksesvol was nie kolonel.”
Sonder om hom ʼn geleentheid te gee om te praat gaan Laurie voort: “Vir nou sal ek dit my laat welgeval — maar jy moet net weet kolonel, en so ook Matthew St. Nicolas, die waarheid sal wel uitkom, hopelik gouer as wat julle dink.”
Johan vertrek geen oog nie, in hom is slegs een gedagte — as hierdie mens gaan begin krap in die verlede, sal hy haar moet stilmaak — en hy skrik nie vir sy gedagtes nie.
“Jou kontrak sal ek laat opstel. Jy het een maand om julle en Louis Olivier se goed te pak en te verwyder. Jy moet begin Augustus aanmeld op Matthew se plaas in Lesotho.”
Laurie laat dit verby gaan. Sy sal eers met Joos Terblanche gaan praat voordat sy instem tot enige iets. Te midde van die situasie waarin sy die oomblik met Johan van Graan gewikkel is, kom daar onwillekeurig een gedagte by Laurie op — Matthew was al die jare net oorkant die berg — Sonder dat sy beheer daaroor het, kom lê die verlies aan haar kleintyd-maatjie weer in haar.
Johan trek nie ʼn spier nie, en sê bitsig: “Waarheen stuur ek die werkskontrak?”
Laurie gee hom Joos Terblanche se besonderhede sonder om enige emosie te wys.
“Ek sal jou kom sien in die laaste week van Julie, sorg dat ek ʼn adres het waar ek jou kan vind om jou die aanwysings te gee.”
Laurie vererg haar opnuut vir Johan se absolute arrogansie — daar is nog geen regseise en tog dink hy werklik sy moet net inval met Matthew St. Nicolas se eise.
Die verergdheid wel verder op in Laurie — Dink hierdie mense werklik dat sy haar loopbaan net so sal opgee omdat hulle dink hulle het ʼn saak? Daar is geen kans dat haar pa of oom Louis ooit so ʼn laakbare ding sou doen nie, dit weet sy verseker, sy moet dit net bewys.
Ongeag die vrees wat die omstandighede in haar wakker maak voel Laurie tog verlig. Hierdie maand gee haar tyd om te beplan hoe sy die verlede sal oopmaak om agter die waarheid te kom. Sy weet as sy nie antwoorde in die maand tussen haar pa en oom Louis se besittings kry nie, sy wel ʼn ander pad sal moet loop. Eerstens moet sy die waarheid oopvlek om aan Matthew St. Nicolas te gee wat syne is volgens die wet. Indien daar wel getuies gevind word dat enige iets wel sy eiendom is sal sy die teruggee, dink sy en die wrewel is weer terug in haar.
Laurie voel die onwilligheid in haar — om drie jaar van haar lewe op ʼn plaas as ʼn huurling te gaan werk, is definitief ʼn te groot prys om te betaal vir iets wat nie eers plaasgevind het nie. Selfs in die braafheid wat sy voel weet Laurie, haar eerste verantwoordelikheid is om te verseker dat haar pa veilig is, nie vir haar om haar sin te kry nie.
“Ek sal hier by die hospitaal wees kolonel, hier is waar jy my sal kry as jy my soek,” sê Laurie en vervolg beslis: “Verwyder asseblief die polisieman onmiddellik uit die hospitaal.”
“Jy het nog nie kontrak geteken nie.”
Laurie voel die woede in haar opstoot en haar houding en stem laat geen twyfel by Johan oor hoe sy voel nie.
“Jy laat my dus geen ander keuse kolonel, behalwe om my prokureur onmiddellik opdrag te gee om eerstens met die plaaslike Polisie Hoof in aanraking te kom en deur daardie kanaal die saak te besleg nie. Ek sal beslis ook aansoek doen vir ʼn onmiddellike interdik teen jou, Matthew St. Nicolas, en die Suid Afrikaanse Polisie. Die Suid Afrikaanse Polisie sal vandag rede moet aanvoer waarom my pa onder ‘arres’ is.”
Johan voel die viesheid in hom maar ook die skok toe hy besef dat die klein mensie definitief gaan doen wat sy sê. Die polisieman is sy eie reëling en het niks met die plaaslike SAPS of enige polisie saak te doen nie. Hy weet as hy die saak en homself, skade wil aandoen, moet hierdie vrou vandag met die plaaslike SAPS gaan praat.
Met gemaakte bravade kom Johan se woorde, maar Laurie hoor die effense kraak in sy stem: “Ek sal dit doen, maar dokter, moenie my goedheid sien as swakheid nie.”
“Kolonel, eerstens glo ek nie dat jy ʼn greintjie ‘goedheid’ in jou het nie, en tweedens moenie u persoonlike agenda onder dié dekmantel bedryf nie.”
Sy sien die rooi op sy wange opvlam en Laurie weet sy is reg. Hierdie man bedryf sy eie agenda, hy is ʼn persoon met ʼn vervolgenswaan, ʼn persoon wat homself meer regte toe-eien as enigiemand anders. Laurie weet as daar een iets is wat sy moet uitvind, is dit wat hierdie man se verbintenis met haar pa, oom Louis en die verlede is.
“Ek skuld jou geen verduideliking nie dokter.”
In sy antwoord hoor Laurie die erkenning en sy weet dat sy definitief alles oor Johan gaan uitvind — alles.
“Dit verbaas my dat u alles tot nou so duidelik kon verduidelik aan my, en nou het u geen verduideliking nie kolonel?” Kan sy nie help om die opmerking te maak nie.
Met die stamp van sy hakke op die grond, draai Johan om en sonder ʼn verdere woord stap hy weg.
In sy gedagtes maal al die dinge wat hy besig is om te beplan en hy vervies homself dat die klein mensie in sy pad staan om te kry wat hy soek, maar nog meer dat sy in staat is om hom so te kan ontstel.
Hy weet hy sal lig moet loop aangesien Matthew geen kennis dra van die polisieman wat hy hier voor Nathan se kamer geplaas het nie. Die die laaste ding wat hy kan bekostig is dat hy en Matthew op verkeerde voet is. Daarvoor het hy hom as skerm vir sy eie saak te nodig.
Hy moet Matthew aan sy kant hou want hy moet dringende toegang tot die twee plase kry. Hy glo vas dat die inligting wat hy soek op een van die twee plase is, en hy moet dit kry. Die afgelope jare kon hy geen rede kry om toegang tot die plase te kry nie, maar nou het die oplossing in sy skoot geval. Om nou eers deur ʼn tydrowende regsproses te gaan om toegang te kry staan hom nie aan nie. Hy weet hy sal nie skroom om selfs die wet te buig, om te kry wat hy soek nie.
Hy het alleenlik met Matthew se plan ingestem om Laurie op sy plaas te kry om na sy seuns te help kyk omdat dit sal verseker dat hy sal weet wat haar bewegings is. Met haar weg uit die omgewing kan hy dalk wel die plase betree sonder dat sy dit weet.
Johan weet hy sou verkies dat sy nie met die twee getuies in aanraking kom nie. Die vrou kan sy hele saak benadeel as sy wel twee en twee bymekaar sit. Veral as sy met Metando en Seshla Musuri gaan praat.
Bewus van die genoegdoening omdat hy haar weer voorgespring het en gesorg het dat Matthew, Metando en Seshla Musuri gaan waarsku het dat sy dalk inligting sal wil hê en dat hulle op hulle hoede moet wees, laat hom ʼn oomblik glimlag voor sy gemoed weer verander en hy vies raak omdat hy afhanklik is van Matthew om sy opdragte uitgevoer te kry. Hy besef dat hy nie kan waag om self met die twee ou mense te gaan praat nie want hulle mag hom dalk net na al die jare eien — en dit kan hy nie bekostig nie. — Hierdie keer sal hy kry wat hy soek — kom wat wil.
Die oomblik wanneer Johan se lang figuur verdwyn, kom Laurie in beweging — nou moet sy koelkop wees, nou moet sy Dokter Laurie Kilber wees.
Eerstens om haar pa te verskuif na ʼn plek waar Johan hom nie sal vind nie, en volgende om onmiddellik regshulp oor haar pa se situasie en die plase se eienaarskap te verkry.
Laurie weet die verskuif van haar pa moet gebeur voordat sy met enige persoon gaan praat, selfs voor sy met Joos Terblanche gaan praat. Sy besef indien daar probleme sou ontstaan omdat sy haar pa verskuif het, wil sy niemand in die dorp daarby betrek nie. Sy weet ook, sy moet voor sy oom Louis begrawe, dringende regshulp inroep, en dit beperk die tyd om haar pa te beveilig tot ʼn dag of twee.
Vir eers weet Laurie, die inhoud van oom Louis se huis sal sy moet verpak en verwyder, dringend verwyder, voor enige persoon reg het om enige getuienis wat op daardie plaas mag wees te vat. Vir nou is dit haar fokus, en sy weier om aan enige iets anders aandag te gee.
In haar is daar steeds ʼn verslaentheid oor die situasie waarin hulle verkeer, ʼn situasie gebaseer op beskuldigings wat nie gesubstansieer is nie maar beskuldigings wat sy nie op hierdie oomblik verkeerd kan bewys met feite nie. Beskuldigings wat vir haar en haar mense, ontsettend baie skade en pyn kan voortbring.
ʼn Lewe van onderduimse handeling en geheimhouding is nie hoe Laurie leef nie, maar sy weet, sy is wel bereid om so te leef as dit die veiligheid van haar pa sal verseker. Laurie besef haar bekommernis word vererger deur haar onkunde oor die verlede, veral oor haar wantroue in die regverdigheid van die regstelsel van die land. Nie na wat tien jaar terug met Zuluika Zuess gebeur het nie — definitief geen vertroue — draai dit in Laurie se gedagtes.
Sy stap haastig na haar pa se kamer en vind hom wakker en helder. Sy probeer om die situasie en die voorwaardes so lig as moontlik met hom te deel, maar ongeag haar poging is die ontsteltenis onmiddellik in Nathan. Met Laurie se hand in syne praat hy met ʼn helderheid oor die impak van die omstandighede op haar lewe wat Laurie verbaas. Sy besef, die skuldgevoel wat hy alleen al die jare gedra het oor die lot van Matthew Townsend is weg.
“Pappa ek weet nou watter geweldige spanning jy al die jare gehad het en ek weet ook watse skuldgevoel jy saam met jou gedra het.”
Teen haar beterwete oor watter impak ʼn bespreking van die onheilsdag op hom kan hê, vra sy tog — “Waarom was jy en Matthew St. Nicolas op die berg?”
Sy sien die leegheid in sy oë, die skud van die groot kop. Sy weet dit is nie omdat hy nie wil praat nie, dit is omdat hy werklik totale geheueverlies oor daardie dag, en daardie voorval het.
Sy stem dra die moegheid wat in hom is — “Dit maak nie meer saak nie, as die plase wel aan Matthew behoort moet hulle maar gaan my kind, Matthew kan dit maar kry.”
Laurie sien hoe haar pa soek in sy geheue — en niks vind nie.
“Wat is dit pa?”
“Jy weet nooi, ek weet nie eers hoe ek aan die plaas gekom het nie, Louis het net altyd na alles omgesien.” Hy skud sy kop stadig heen en weer en sluit sy oë.
“Ek was ʼn bederfde jongman Laurie, ek is so jammer dat jy in die gemors betrek is my kind. Jy moet my glo en indien ek dit kon verander, sou ek.”
Laurie is verstom — waar kom hierdie bekentenis vandaan? Wat het in haar pa se jeug gebeur? En wat het dit met die gemors te doen?
Hy lê lank met sy oë gesluit en sonder waarskuwing kom die woorde.
“Ek wil-wil onthou van daardie tyd en daardie dag, maar my geheue onthou net grepe. Ek weet nie of daar ooit enige opdrag vir skiet was nie my kind, dit is die deel wat ek nie kan herroep nie, ‘wegneem’ is die woord wat in my kop maal — waarheen weet ek ook nie.”
“Het dit met Matthew St. Nicolas te doen gehad pa?”
“Matthew Townsend Laurie, Selma Townsend se Matthew. Hy is nie Matthew St. Nicolas nie.”
Laurie is verstom — een ding is seker, haar pa se bevestiging dat Matthew St. Nicolas definitief Matthew Townsend is, weer die ‘St. Nicolas’ uit haar gedagtes.
Hy lê ʼn wyle in stilte met geslote oë en gaan sag voort: “Daar is geen rede vir enige iemand om my te glo nie, maar ek dank God net dat hy leef en ek nie ʼn moordenaar is nie. Al verklaring wat ek vir die geweer het, is dat ons altyd met ʼn geweer geloop het as gevolg van die slange in die berg.”
Hy bly weer stil maar van iewers in sy bewussyn kom dit baie duidelik: “Ek dink ek het die knapie liefgehad, so lief as wat ek jou het, nee ek weet verseker want die weersiens was soos die terugvind van my eie kind.”
Vir Laurie is dit skielik ʼn insig in ʼn greep van haar pa se lewe en gevoelens. Laurie weet dit is die eerlike waarheid en dit is genoeg vir haar. Haar pa is en was nooit ʼn moordenaar nie. ʼn Jongman wat te veel gedrink het en miskien ʼn groot flater in sy jeug begaan het, maar nooit ʼn moordenaar nie, en die woorde wat oom Louis vir haar pa in sy doodsnikke gesê het, maak skielik sin: “Nate alles is reg.”
Laurie weet nou verseker hy het van haar pa se sielswroeging geweet, hy het hom op daardie oomblik voor hy dood is, vergewe vir wat daardie dag in die verlede verkeerd geloop het, en dit is ook genoeg vir haar.
“Is Matthew oom Louis se kind?”
“Nee Louis is nie Matthew se pa nie, Selma het hom saam uit Engeland gebring, dit onthou ek.”
“Ek wil as pa beter is, weer oor Selma, my ma en Matthew praat,” sê sy toe sy die dofheid van die ou weiering om oor haar ma te praat in sy oë lees, die weiering soos deur al die jare, en dit wat haar ma se weggaan aan hom gedoen het.
Die haas is terug in haar.
“Ek gaan pa oorplaas na ʼn plek waar hulle pa nie sal kry nie. Ek sal ook reël dat pa veilig en versorg sal wees, vertrou my net.”
“Ek het jou en Louis my hele lewe lank met my lewe vertrou my kind. Louis is nou weg en jy verdien nie om by die gemors betrek te word nie. Ek verdien nie jou liefde en vergewing nie, maar jy weet ek vertrou jou met my lewe.”
Sy druk sy natgehuilde gesig teen haar vas en sy praat met haar God in haar gedagte — daardie God wat haar soveel keer in haar lewe vertroosting gegee het, wanneer sy snags alleen by hom gesit het na ʼn erge aanval — Hoe dankbaar is sy nie vir hom en vir sy liefde nie, hou hom veilig asseblief, bid sy saggies.
Laurie staan op en stap na die deur maar hy roep haar terug: “Nooi, gaan haal ons goed van die plaas af, ek wil in elk geval nie weer teruggaan nie, nie nou dat Louis weg is nie. Ek het my lus vir die plaas en die boerdery verloor.”
Laurie knik haar kop maar maak geen beloftes nie, sy moet eers haar deurmekaar gedagtes orden, net eers dink voordat sy dalk iets baie dom doen.
“Nooi moenie my klere pak nie, verseël net my laaikaste en stoor dit, ek wil niks nou uit die huis saam met my neem nie.”
Vir Laurie is dit ʼn vreemde versoek maar sy knik haar kop.
Laurie stap deur die gang na die uitgang, sy het nou vars lug nodig, iets om haar kop helder te maak. Sy voel een oomblik ʼn verwyt — Daardie een persoon wat alles geweet het, wat alles sou kon opklaar is weg — waarom het hy haar nooit van die verlede vertel nie?
Die koue van die Junie naglug is ʼn verligting vir Laurie. Dit bring haar terug na die werklikheid en daarmee kom helderheid. Oom Louis sou die verlede net verswyg het as dit baie belangrik was. Hy sou haar vertel het as sy moes weet en nou moet sy haar verwyt laat gaan.
Die wete is in haar, sy ‘het’ mense wat haar sal help, altyd sal help en die dink aan hulle bring ʼn verlange in Laurie. Die verlange na die mense en daardie lewe weg van hierdie plase af, studente dae, vry dae.
Sy onthou die dae, twaalf jaar gelede toe hulle almal net studente op universiteit was. Daardie dae voordat Rudolph vermoor is, voor Zuluika lewenslank tronk toe gestuur is, en voor sy al die sorgvrye dae agter haar gesit het. Voor sy besluit het dat haar lewe net haar werk, haar pa en oom Louis sal wees. ʼn Lewe waar daar nie plek vir ʼn ander kan wees nie.
Haar gedagtes steek weer vas by die dag voor die Hooggeregshof tien jaar gelede in Pretoria. Sy probeer die beeld uit haar gedagtes verban maar sy hoor nog die geluid van daardie twee pistool skote wat afgaan in haar ore en sy weet sy sal dit nooit kan vergeet nie.
Laurie is skielik haastig, sy weet wat sy wil doen, sy weet wie haar sal help en nou moet sy dit gedoen kry. Sy gaan terug na haar spreekkamer en wanneer sy agter haar lessenaar sit soek sy die nommer van Jonah Bruyns, haar vriend op haar selfoon en skakel hom.
“Jonah, dis Laurie.”
“Laurie dit is ʼn verrassing?”
Daar is ʼn stilte vir ʼn oomblik tussen hulle, elkeen besig met hul eie gedagtes van daardie dag toe daar ook iets verkeerd was, daardie dag toe Jonah Bruyns en Dokter Laurie Kilber se lewens vir ewig saam gekoppel is.
Laurie onthou Jonah se gesigsuitdrukking, daardie dag toe hy amper voor die hof in Pretoria sy broer se moordenaars doodgeskiet het. Sy onthou die chaos en pyn van die dag toe albei persone wat Rudolph Bruyns vermoor het wel dood in die straat gelê het, maar nie aan die hand van die jong man aan die anderkant van die lyn nie.
Jonah beleef ook weer daardie paar minute in sy lewe toe hy van sy sinne beroof was, die ontsettende pyn wat sy onbesonnenheid hul familie wel aangedoen het. Hy weer dit uit sy gedagtes — hy het aan beweeg, hy is ʼn offisiers in die mediese korps van die Weermag — en hy dwing homself tot kalmte.
“Wat is dit Laurie?”
Laurie neem een oomblik om te dink oor wat sy bereid is om te doen, om te besin oor die betrek van Jonah in hierdie gemors. Sy weet, sy is vasgekeer en hierdie is haar enigste kans om haar pa ongemerk die land uit te kry.
“Jonah ek soek ʼn plek om my pa weg te steek waar niemand hom kan vind nie.”
Jonah kan nie glo wat hy hoor nie.
“Regtig?”
“Dit is ʼn lang en seer storie Jonah maar ek soek dringende hulp asseblief.” Jonah weet hy sal help, sal altyd help, maak nie saak wat sy vra nie.
“Ek kan help, ek het die veiligste plek in die wêreld vir hom.”
Laurie sug van verligting en dit vat haar ʼn paar minute om haar balans te herwin voordat sy Jonah die hele pynlike storie kan vertel.
“Ek sal dit nie een oomblik van oom Nate glo nie en definitief nooit van oom Louis nie.”
Jonah vertel haar presies wat hy sal doen. Hoe hy Nathan met die militêre ambulans uit die land sal neem sonder dat enige iemand dit weet, wanneer en waarheen. Selfs om die grens oor te steek sonder om Nathan se identiteit openbaar te maak is in sy vermoë, hy sal dit doen, hy sal dit die volgende nag doen — en sy kom tot rus.
Jonah gee haar die instruksies wat hy gedoen wil hê. “Jy het ʼn oplossing Laurie, laat ons net aan die onmiddellike werk, die toekoms sal vir homself sorg. Ek en my mense sal jou pa veilig hou.”
Laurie lui af — haar pa sal veilig wees. Sy bly by die hospitaal en gaan slaap in haar woonstel by die enkelkwartiere. Sy weet sy moet nie net rus nie, maar normaal deur haar dag kom vir ingeval Johan die hospitaal laat dophou. Sy vertrou hom vir geen oomblik nie.
Die volgende aand word Nathan met die hulp van die personeel in die geheim uit die hospitaal gesmokkel. Joseph en Joyce maak hom gemaklik in die militêre ambulans en Jonah voel hy het ʼn gedeelte van sy ou skuld betaal, vir homself, sy ma, sy pa en Zuluika wat so baie aan die Kilbers verskuldig is.
“Jy weet waar ek is Laurie, jy kan weet jou pa is veilig, baie veilig, hy sal by my mense wees.”
So word Nathan verskuif na die afgeleë plaas van Sally en James Bruyns in Namibië.
Laurie reël die volgende dag met Josh Greyling, een van die plaaslike geneeshere om haar pasiënte en hospitaal diens oor te neem vir die maand. Sy versoek hulle om haar enige tyd te skakel indien daar nood is, sy sal help soos altyd, maar die maand moet sy drie geslagte se herinneringe verskuif en daarvoor het sy tyd nodig.
Almal se vrae na die tyd wat sy weg sal wees, die insident wat op die plaas plaasgevind het, Louis Olivier se dood, en Nathan se ineenstorting en verdwyning bly ongevra. Wanneer iemand wel vra, antwoord sy ontwykend.
“Ek self is nie seker wat presies gebeur het nie, ek het na die voorval op die plaas aangekom en probeer nog agter die waarheid kom.”
Die verskoning oor die weggaan — “Ek het nou tyd nodig om oom Louis se begrafnis te reël en na sy en my pa se sake en mense om te sien.”
Hulle laat dit daar, hulle het te veel respek vir Dokter Laurie Kilber om nog vrae te vra.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.