Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Begin – Hoofstuk 3

Hoofstuk 3 — Die Einde van ʼn Era

Terwyl Laurie konstruktief dinge reël en beplan aan die veiligheid van haar pa is Matthew platgeslaan en amper gedisoriënteerd. Soos Laurie wat haar hele gemeenskap het wat haar bystaan het Matthew almal by die sendingstasie, maar beide voel in hulself alleen teen dit wat hulle in hierdie chaos ingedompel het. Die vrae na die ‘waarheid’ of ‘onwaarheid’ wat hulle nie ken nie en ook nie kan deel nie, teister hulle, maar ʼn groter verwarring vir Matthew is die wete dat hy nie is wie hy al die jare geglo het hy is nie.
Matthew ween saam met sy mense langs die graf van die man wat vir hom ʼn pa vir al sy onthou jare was en sy hart is gebreek, so gebreek soos die dag toe sy moeder, suster Beatrix, oorlede is. Hy sit tussen die grafte van die twee mense wat sy pa en ma was en sy leed oor hul wegwees en die ontnugtering oor wat hy nou weet, is te veel vir een liggaam om te hanteer.
Hy voel nog die sagte hand wat deur die jare sy kop gevryf het. Hy voel die arms om sy skouers na elke terugslag wat hom getref het maar ook na elke hoogtepunt in sy lewe, en daar was baie. Hy hoor die diep stem wat met soveel deernis deur die jare met hom gepraat het en sy hart is flenters.
Maar selfs hier in Matthew se diepste leed bly sy gedagtes neig na haar daar anderkant die berg, sy wat hierdie nuwe kennis gebring het en hy dwing die gedagtes weg — sy is nie deel van die leed nie Matthew, hierdie is net jou leed.
Al berispe hy homself, weet Matthew sy is onherroeplik deel van sy verlede, die verlede wat hy nou met sekerheid weet hy wil onthou of dit goed of sleg was, hy wil dit ken. Matthew weet ook, die soek na sy verlede is sy eie missie, nie ʼn Johan of ʼn regstelsel missie nie. Hierdie is ʼn persoonlike saak, hy wil homself vind in die verlede, hy wil haar vind in daardie verlede.
Aan die ander kant van die berg weet Laurie, die omstandighede is besig om haar te versmoor, sy weet dat sy die regshulp wat sy Johan mee gedreig het, dringend nodig het. Iemand wat sy kan vertrou, iemand wat nie net na haar pa en oom Louis se sake kan omsien nie maar ook na haar en haar sake sal omsien.
Die volgende dag gaan sien Laurie vir Joos Terblanche — ʼn gerespekteerde prokureur en vriend van haar, haar pa, oom Louis en die gemeenskap.
Joos sien met die eerste blik die grysheid wat die bekommernis en spanning op Laurie gelaat het. Hy het deur die ‘gemeenskap-kanale’ gehoor van Louis se dood, Nathan se ‘toestand’ en ook sy oornag se verdwyning. Ook van Laurie se beplanning om ʼn tyd lank op te hou praktiseer maar hy sê niks, hy laat haar toe om die gesprek te lei soos dit haar geval.
Laurie kyk na die man met die grys spikkels tussen die swart hare — bekende skoon geskeerde gesig, geliefde gesig. Die sterk kakebeen, die lagplooitjies om sy oë, die mond wat so effens kant toe neig in ʼn glimlag en die kalm uitdrukking in die liggrys oë — en sy voel veilig.
Laurie vertel hom alles, die goed en die kwaad, die reg en die verkeerd. Sy verduidelik wie Matthew St. Nicolas is, waar hy in hulle lewens ingepas het. Hy lees in die verandering van haar stemtoon dat sy iets onthou, miskien iets voel en hy bêre die gedagte diep.
“Vir my is hy Matthew Townsend want my pa het in een van sy werklik helder oomblikke oor die afgelope dae bevestig dat hy definitief Matthew Townsend, Selma Townsend se seun is. So oom Joos kom ons noem hom by sy regte van, Townsend. Dit maak dit makliker vir my om dinge in perspektief te sien.”
Sy vertel hom van die rol wat Johan in die gebeure speel en sy deel haar bekommernis met hom.
“Ek voel Johan het iets persoonlik met die hele saak te doen oom Joos. Daar is ʼn haat in sy optrede wat meer as net Matthew Townsend se paar dae oue storie is.”
Joos begin aantekeninge maak, identifiseer die moontlike leemtes in die vertelling van haar sketse en aanklagte. Hy weet hy en sy span sal ondersoek moet doen na die omstandighede wat in die tagtigs begin het maar ook na wie Johan van Graan is en waar hy in die verlede inpas.
Joos besef dat daar vele aannames gemaak kan word rondom die ‘moord aanklag’ wat moontlik nooit in ʼn hof getoets sal word nie, maar hy voel wel ʼn onrus oor die moontlikheid dat daar wel ʼn klag van ‘poging tot moord’ aanhangig gemaak sal kan word indien daar werklik bewyse is.
Laurie vertel hom wat Johan oor die plase se eienaarskap gesê het. Hy maak sy notas en hy luister in stilte.
Laurie gee hom die kontrak wat Matthew saam met Johan gestuur het oor die grond. Joos lees die inhoud vlugtig en hy is verbaas oor die totale afwesigheid van enige regs bindende beginsel in die kontrak. Dit is duidelik ʼn kontrak wat opgestel is uit totale onkunde van die wet of doelbewus sonder regsbeginsels indien dit later in ʼn hofsaak gebruik sal word.
Hy wonder wie die werklike outeur van die kontrak is. Is dit Matthew Townsend of Johan van Graan? Hy weet hy moet albei hanteer asof hulle nie net eisers in die saak is nie maar moontlike ‘vyande’ van Laurie en Nathan. Daar moet geen emosie van sy kant wees net omdat dit Selma Townsend se kind is nie.
“Laurie die kontrak het geen waarde nie en is nie bindend nie. Jy kan dit in totaal ignoreer as jy wil. Net soos die werkskontrak wat gister hier by die kantoor afgelewer is deur ʼn koerier maatskappy. Ek was nogal verbaas daaroor en het gewag dat jy kom verduidelik.”
Hy maak ʼn lêer oop en stoot die kontrak oor die tafel na haar. Laurie vat die kontrak en laat haar oë oor die eerste paar paragrawe gaan.
“Ek is verbaas dat die ‘Werkskontrak’ toe wel gekom het oom Joos.” En sy gee dit terug vir hom.
Sy kyk reguit in sy oë en sê duidelik: “Ek het ook gedink dat daar werklik geen regs bindende klousule in die plaas kontrak is nie. Ek het Johan gewaarsku, ek sal hulle laat arresteer as hy of Matthew hul voete op een van die plase sit. Ek gaan beide kontrakte ignoreer want teen my kan hulle in elk geval geen aanklag bring nie maar waar laat dit die saak teen my pa?”

Hy sien die vrees op haar gesig en hy weet dat alles wat hy en sy sal doen, gefokus sal wees om eers alle moontlike regsaksie teen Nathan te voorkom. Joos en elke persoon in hierdie gemeenskap weet van die liefde wat Laurie vir haar pa het. ʼn Liefde wat haar hele lewe oorheers, wat haar vandat sy agt jaar oud is, Nathan amper alleen laat versorg het.
Ja vir hierdie gemeenskap is Laurie ʼn ‘god’. As iemand aan haar vat, vat hulle aan die gemeenskap.
Sy vra, want sy moet weet of Johan haar pa hof toe kan vat. “Is daar enige iets waarmee hulle hof toe kan gaan — Matthew Townsend leef tog?”
“Moord sal nie van toepassing wees nie Laurie maar poging tot moord is wel ʼn moontlikheid as hulle dit kan bewys.”
Die vrees is in haar.
“Wat is die uiteinde, wat kan gebeur van so iets oom Joos?”
“Die vonnis kan enige iets tussen sewe en veertien jaar wees, as hulle dit kan bewys.”
“Wat moet ek doen om dit te verhoed?”
“Ons moet met die getuies gaan praat Laurie, ons moet agter die waarheid kom.”
“Hulle is op Matthew Townsend se plaas.”
“Moontlik moet jy vir eers tog laat val dat jy wel die kontrak sal nakom.”
Laurie kyk verbaas na Joos.
“Ek wil nie oom Joos, definitief nie, kan ons hulle nie dwing om ons toegang te gee nie?”
Hy weet hoe sy voel en probeer dit in ag neem.
“Ons het geen gronde vir so ʼn versoek nie, onthou daar is nog geen saak gemaak nie. Onthou ook, die verblyf kan moontlik vir ʼn baie kort tyd wees Laurie, maar dit sal jou toegang gee tot die getuies en dit sal tyd wen vir my om ʼn behoorlike ondersoek te loots.”
Hy sien die weiering in haar houding.
“Vat ʼn paar dae en dink daaroor Laurie.”
Sy knik haar kop maar die weiering is in haar houding.
“Ek stel voor om tyd te wen, so ons speel hulle speletjie. Ek herskryf die twee kontrakte sodat besonderhede in verband met die betreding van die grond, die verskuiwing en eienaarskap van die meubels, die geld ensovoorts uitgespel sal wees en natuurlik dat jy volle beskerming in die werk situasie sal hê, as jy wel gaan.”
Hy sien weer die weiering in haar, maar gaan voort: “Ek stuur die kontrak ongeteken terug na Matthew Townsend met ʼn koerier diens, om te aanvaar en te teken en weer terug te stuur. Dit kan tot so twee weke vat as ons, ons tyd neem.”
Laurie stem in, ongeag wat haar gevoel nou is sy moet verseker dat as dit ooit gebeur dat sy vir enige rede op die plaas moet wees, sy ook beskerm is. Laurie weet as sy eers in Lesotho is sal sy blootgestel wees veral as hulle besef dat sy net daar is om met die getuies te praat.
Die gesprek verskuif na die onmiddellike aksies wat benodig word vir die plase. Sy vra raad oor die grond en die geld, nie vir haar en haar pa nie, daarmee het sy vrede maar om reg te laat geskied aan almal.
“Die ondersoek na die geregistreerde eienaarskap van die grond is ʼn roetine navraag by die Akte kantoor en sal baie gou afgehandel word. Dit behoort ʼn week op die langste te neem vir my Korrespondent om die afskrifte te trek by die Akte kantoor. Dit sal onmiddellik bevestig in wie se naam die grond nog in werklikheid geregistreer is, maar dit behoort nie enige iets te verander nie Laurie. Jy wil in elk geval Louis se goed van die plaas verwyder sodat dit onder ons beheer bly. Indien daar enige iets op die plaas agtergelaat word, is dit uitgelewer aan diefstal en dan het almal toegang, tot vir die vir wie ons nie toegang wil gee nie. So die beste is dat jy dit verwyder voordat Johan of Matthew ʼn hofbevel kan kry om die plase te betree.”
Laurie stem saam: “Ek sal alles verwyder so gou as moontlik, dit is verseker. Wat van die kontant bates en die losgoed wat Matthew nie in belang stel nie? Indien oom Louis se testament so bepaal kan dit na ons mense gaan?” wil sy weet.
Joos se raad is kort en duidelik: “Moenie oorhaastig wees nie, kom ons wag vir die regs bewyse. Begrawe vir Louis en soos jy self besluit het, verwyder net eers alles van die grond af asof jy die kontrak voorwaardes gaan nakom. Meer omdat ons dit wil doen om te verseker dat hulle nie hulle hande op enige ‘bewyse’ kan lê nie.”
Hy gee haar ʼn oomblik om tot verhaal te kom want hy sien die spanning in haar.
“Laurie veral dokumente en briewe, dit moet jy vind. Johan en Matthew se belangstelling in die grond kan alleen beteken dat hulle toegang wil hê met die hoop dat hulle iets sal vind. Ons moet verseker dat indien daar enige iets op papier of op ʼn rekenaar is dit in ons besit is en nie in die ander partye se besit nie.”
“Nie oom Louis of my pa het ooit enige rekenaar in hulle besit gehad nie, so daar is ons veilig oom Joos.”
Laurie weet Joos is reg, sy weet ook haar hele motivering vir die spoedige inpak en verwydering van oom Louis en haar pa se eiendom is om enige bewyse van hul onskuld… en of sy dit wil erken of nie… hulle skuld in haar besit te kry. Laurie weet so seker as wat sy leef, sy sal geen bewyse van enige skuld spaar nie, sy sal dit vernietig sonder om ʼn oog te knip — en die gedagte pla haar nie.
Joos gaan voort — “Laat ons ook eers kyk na Louis se Testament en na die afhandel van sy boedel, soos wat hy dit wou hê, nie soos dit vereis word deur twee vreemdelinge nie.”
Hy wag ʼn oomblik op Laurie se instemmende knik en sien die emosie op die pragtige gesig. Dit breek sy hart en hy besluit om vir eers te swyg oor Louis se Testament se inhoud.
“Ek kan ʼn interdik aanvra om Matthew en Johan te verhoed om die plase te betree, tot tyd en wyl ʼn hof hulle die reg gee. Ook om die eise eers ter syde te stel totdat hulle die werklike bewyse aan ʼn hof kan lewer.”
Hy gee Laurie kans om in te neem wat hy voorstel, en gaan voort: “Laurie ongeag my aanbeveling, jy hoef nie op sy grond, op sy voorwaardes te gaan bly nie, ons kan maar net wag en sien wat hulle volgende aksies is. Indien jy wel die sogenaamde kontrak voorwaardes nakom, al is dit net om jou bereidwilligheid te bewys, verloor Matthew Townsend alle verdere siviele eise teen jou pa. Ek glo in elk geval die kontrak is onkonstitusioneel en maak op jou menseregte inbreuk, so dit sal geen waarde in ʼn hofsaak hê nie.”
Hy wag vir Laurie om te reageer maar haar stilswye is al antwoord.
“Ek glo verder, jy sal binne enkele weke die getuienis bekom wat ons benodig om ook ʼn einde aan enige ‘poging tot moord’ saak te bring. Sodra jy die bewyse het stap ons weg van die kontrak Laurie want glo my die kontrak is nie die papier waarop dit getik is, werd nie.”
Laurie besef sy sal vir eers met Matthew se eis moet voortgaan indien sy met die getuies oor die nag wil praat, maar ook om enige verdere eise van nul en geen waarde te maak. Sy wil haar pa beskerm en sy weet die flater wat Matthew met die kontrak begaan het, haar die geleentheid gee om nie net die waarheid op sy grond te gaan vind nie maar sy weet, wat die tyd ook al bring, sy sal later met die wet aan haar kant, haar rug op hulle kan draai en wegstap.
“Terwyl jy doen wat jy moet gaan ek begin met ʼn ondersoek om te kyk of daar enige iets in Johan se verlede is wat hom koppel aan jou pa, die plaas of Matthew. Ek het ʼn span wat die soort aanklagte in diepte sal ondersoek.”
Hy vat haar hand en druk dit saggies.
“Vir nou, gaan doen eers wat jy moet doen vir Louis en jou pa in die onmiddellike en dan praat ons weer oor ʼn week of twee. Onthou Laurie ons kan ook hulle speletjie speel.”
Hy huiwer ʼn oomblik maar vra tog: “Ek weet jy wil dit geheim hou maar ek moet weet waar jou pa is?”
“Hy is by Jonah Bruyns se ouers in Namibië.”
Hy onthou Jonah, hy onthou haar ondersteuning aan die jongman en veral vir Zuluika en hy bid woordeloos — Here moenie dat die reg stelsel hierdie kind verneuk nie — asseblief.
Laurie neem ʼn besluit.
“Ek weet oom Joos gaan ingaan op Johan van Graan se verlede maar kry asseblief ook al die inligting oor Matthew Townsend vir my. Ek moet myself voorberei vir wat op my wag en met wie ek te doen het.”
Skielik voel Laurie ʼn sekerheid in haar — “Soos oom Joos sê, ons kan ook hulle speletjie speel, Matthew Townsend en Johan van Graan sal my nie onder kry nie.”
Joos sien die emosie en hy skrik want vir die eerste keer vandat hy die mens ken is daar iets wat grens aan haat in haar oë.
“Ek gaan nie wag totdat die regs stelsel my faal soos vir Zuluika nie, ek sal self my en my pa se belange beskerm.”
Joos Terblanche is stil, stil in die wete dat hy saamstem, ongeag wat die toekoms sal vra en sal bring.
“Ons moet ook dalk probeer uitvind wanneer presies jou ma en Selma Townsend in Suid Afrika aangekom het. Weet jy enigiets?”
“My ma moes voor negentien twee en tagtig in Suid Afrika gewees het want ek is in negentien twee en tagtig hier gebore.” Laurie herroep haar geboorte sertifikaat se detail en haar ma se naam daarop — Laurika Kilber — en dit gee haar hoop.
Wanneer Joos met die groet, haar een oomblik teen hom vasdruk is die twyfel weg en in haar regop houding as sy uitstap, weet Joos dat Matthew Townsend en Johan van Graan ʼn verkeerde perd opgesaal het. Laurie Kilber is nie net een van die slimste mense wat hy ooit ontmoet het nie maar sy is fanaties oor haar pa. As dit by reg en verkeerd kom waar dit Nathan raak weet hy dat Laurie geen oomblik sal twyfel wie se belang die swaarste sal weeg nie — selfs daarmee is Joos tevrede — regsgeldig of nie.

Die volgende dag plaas Laurie ʼn advertensie om ʼn plaasvervanger vir haar praktyk en hospitaal diens te kry vir die periode van ses maande met die opsie van ʼn verlenging. Laurie besef ook dat sy die advertensie as bewys van haar bereidwilligheid sal gebruik later wanneer sy haar rug op die vermorste tyd in hulle lewens sal draai. Laurie glo sy sal die gemors self gouer as in ses maande kan oplos, sodat sy weer kan aangaan met haar lewe soos voor die noodlottige dag.
Laurie hardloop behoorlik deur die dag om al haar sake gereël te kry. Sy weet sy kan slegs vir ʼn paar dae terug kom na sy die plase ontruim het, voordat sy eers haar pa in Namibië sal gaan besoek voor sy Lesotho toe sal vertrek indien Joos nie in die maand ʼn oplossing vir haar probleem kry nie.
Die hartseer oor wat die afgelope tyd met haar pa en oom Louis gebeur het bring ʼn ongekende woede in haar teen hulle wat haar hele lewe kom verwoes het. Net soos daardie tyd toe die regter Zuluika lewenslank tronk toe gestuur het. Sy moet die gevoel met mening onderdruk, sy weet dit sal haar, haar kalmte en helderheid ontneem en dit sal sy nie toelaat nie.
Later skakel Laurie Dokter Kabelo Komani, ʼn skoolvriend en studente maat van haar wat hier op die plaas saam met haar groot geword het en nou die Ladysmith Staatsgeneesheer is. Sy wil weet wanneer die nadoodse ondersoek op oom Louis afgehandel sal wees en die doodsertifikaat beskikbaar sal wees sodat sy die begrafnis kan reël.
“Laurie ek het die outopsie op oom Louis afgehandel en sal die verslag teen môre gereed hê. Jy was reg, dit was ʼn beroerte maar Laurie sy gesondheid was baie swak, hy kon enige tyd gegaan het. Enige klein insident kon sy lewe beëindig het. Daar is soveel bewyse in sy liggaam dat sy hart werklik ʼn tikkende tydbom was. Die insident alleen het nie die massiewe beroerte veroorsaak nie maar dit was al die tyd daar, reg om te gebeur.”
Laurie voel die ontsettende hartseer in haar maar ook die wete dat wat Kabelo haar nou vertel, nie haar verwyt teen Matthew en Johan sal verander nie, dit was ‘hulle insident’ wat hom weggevat het van haar.
“Jy kan maar die begrafnis reël Laurie. Jy moet asseblief oom Louis se Identiteitsdokument by die Begrafnis Ondernemer ingee en ek sal my dokumentasie saam met die Begrafnis Ondernemer stuur sodra hulle die lyk hier kom afhaal. Hulle sal vir jou die sake afhandel by Binnelandse Sake en vir jou ʼn volledige stel dokumentasie deurgee.”
“Ek sal moet plaas toe om die Identiteit Dokument te gaan soek en Kabelo dankie dat jy self die outopsie gedoen het.”
“Ek sou dit gedoen het omdat oom Louis die een was wat my deur universiteit gehelp het, hy was soos ʼn pa vir ons.”
Sy woorde bevestig weer wat Laurie met sekerheid weet. Oom Louis sou Matthew nooit skade gedoen het nie, daarvoor was hy net eenvoudig te vrygewig en opreg. Geen besit van ʼn plaas sou ooit groter as sy liefde vir mense gewees het nie.
Hulle gesels nog ʼn paar minute oor die moontlikheid van wanneer die begrafnis sal plaasvind en Laurie sê hom dat sy dit oor die naweek op die plaas wil reël. Kabelo verseker Laurie dat hy voorlopig die boodskap sal deurgee na sy mense om te versprei en dat sy kan voortgaan met haar reëlings. Hy verseker haar dat hy haar sal laat weet sodra die begrafnisondernemers Louis se lyk gehaal het.
Laurie teken ʼn kontrak vir stoor geriewe vir twaalf maande. Sy het besluit, geen enkele meubelstuk of persoonlike artikel sal verkoop word totdat sy weet wie die regmatige eienaar of eienaars is nie. Sy dink aan die pragstukke wat in die huise is — hand gekerfde meubels uit die agtien honderd en vroeë negentien honderd — ʼn erfenis van meer as vier geslagte. Sy sal daarna kyk en verseker dat dit ʼn tuiste vind waar dit hoort.
Laurie weet dat as Johan en Matthew gedink het dat hulle net sal instap en vat wat moontlik nie hulle eiendom is nie, dan wag daar ʼn ontnugtering op beide. Sy weet hulle sal binne die volgende ses dae die boodskap kry wat Joos Terblanche is sy regs kennisgewing sal beskryf.
Sy wonder wat Matthew se reaksie sal wees en wat dit aan haar verblyf op sy grond sal doen. Laurie weet ook, al wil sy by die kontrak hou, al wil sy Matthew leer ken sal sy nie toelaat dat hulle haar ruïneer nie. Sy sal sodra daar duidelikheid en bewyse is, haar rug op die omstandighede en die twee mans keer. Daar is geen plek vir haat in haar lewe nie, dit weet sy.
Sy reël met ʼn plaaslike vervoermaatskappy om verpakkingsmateriaal en karton dose op die plase af te lewer. Sy wil eers net doen wat nodig is vir die beveiliging van oom Louis en hul eie eiendom.
Sy het besluit om oom Louis op die plaas te begrawe, daar waar hy sal wil wees — en de duiwel met Matthew en sy handlanger Johan van Graan. Die boodskap was, sy en haar pa moet van die grond af, nie oom Louis nie en daarom sal sy hom daar begrawe, kom wat wil.

Die rit na die plaas die volgende dag is hartseer maar sy weet, plaas toe moet sy dringend. Eerstens sodat sy die Identiteit Dokument kan deurgee na die ondernemers, om te verseker dat sy oom Louis se begrafnis agter die rug kan kry voordat Johan of Matthew hulle voete op die grond kan sit en dit dalk verhoed. Laurie weet die beveiliging van dokumentasie, as daar is, is haar grootste rede vir die haastige verpakking van die huisinhoud.
Met die inry op die werf, sien sy almal nader kom en sy weet haar hartseer is hulle hartseer. Sy huil vir hulle wat op die oomblik net so uitgelewer is aan Matthew en Johan se optrede, as sy en haar pa. Sy sê hulle dat sy vir ʼn week of twee haar intrek op The Buttress sal neem om oom Louis se eiendom te pak en hom te begrawe.
Die bevestiging van ‘hulle oom Louis’ se dood en die onsekerheid oor die toekoms van die plaas laat hulle opnuut in ʼn geweeklaag uitbars. Laurie kan nie glo dat iemand wat so goed vir almal was in staat kon wees tot die daad waarvoor hy en haar pa skuldig staan nie.
Sy, saam met die mense wie sy haar hele lewe ken, spandeer ʼn geruime tyd om deur die reëlings te werk vir die volgende twee weke. Wie sal help met die inpak, wie sal omsien na die diere en die lande en wie sal help by die graf.
So onderneem elkeen om by die inpak van die huis se inhoud, ook net voort te gaan met hulle gewone take. Die regmaak vir die begrafnis, wat hulle besluit sal op die Sondag plaasvind word egter almal se prioriteit.
Dit is laat middag as die groepie uiteindelik stadig wegstap na hulle huise wat so honderd meter weg van die plaashuis af gebou is.
Laurie bly staan tot hulle almal weg is en stap stadig op na die groot plaashuis. Die hartseer van die verlies van oom Louis is soos ʼn brandwond in haar.
Sy skrik as sy die kombuis instap en die stem haar uit die skemerte aanspreek. “Laurie.”
“Dawid, hoe laat jy my skrik. Wat doen jy nog hier? Die ander mense is al weg huis toe.”
“Ek het vir jou gewag Laurie, jy moet Louis in Selma se graf begrawe.”
Laurie voel die verbasing in haar.
“Hoekom Dawid?”
“Dit is wat Louis wou hê.”
Laurie kyk vir ʼn lang oomblik na die ou man wat saam met oom Louis as ʼn broer opgegroei het, hy wat elke dag van sy lewe met oom Louis gedeel het.
Sy sien die groot moersleutel in sy hand terwyl hy sonder om ʼn woord te sê by die agterdeur uit stap. Laurie volg hom onwillekeurig uit die huis, oor die werf en deur die bloekombos tot by die familie begraafplaas.
Die begraafplaas waar sy as kind gespeel het en sy ken elke naam op elke grafsteen. Die eerste Gregor Armsby wat in negentien twintig oorlede is, direk langs hom, ou Gregor Armsby wat in negentien tagtig oorlede is en Selma Townsend wat op vyftien Julie negentien ses en tagtig oorlede is. Sy kyk na die vele ander grafte wat behoort aan die families wat saam met die twee Gregor Armsby’s en oom Louis hulle hele lewens hier deurgebring het en haar hart wil breek.
Sy lees die grafskrif op Selma Townsend se graf en sy wonder, as oom Louis en Selma getroud was, soos beweer deur Johan van Graan, waarom sou oom Louis die van op die grafsteen Townsend aangeteken het en nie Olivier nie. Skielik wonder sy of oom Louis en Selma Townsend ooit getroud was, sy het dit net aangeneem maar nou begin sy twyfel. Laurie besef, die afgelope dae se gebeure het die geheime rondom die mense op hierdie plaas en veral die gebeure in die tagtigs, meer en meer verdiep.
Wanneer hulle voor die graf kom, wat meer ʼn een meter hoë tombe van graniet is, as net ʼn gewone graf, wonder sy vir die eerste keer waarom hierdie graf wel so verskil van die ander grafte, iets wat haar tot nou nie gepla het nie? Sy laat daardie gedagte egter net eers verby gaan, nie nou nie, weet sy, sy moet nou eers net fokus op die onmiddellike probleme.
Die oomblik as Dawid die vier groot koperboute behendig uit die graniet blad skroef besef Laurie dat hierdie graf gemaak was om weer oopgemaak te word. Sy voel ʼn bewondering vir die vakmanskap wat in die bouwerk ingegaan het, wat die feit dat die graf so maklik oopgemaak kan word, so deeglik versteek het.
Laurie beweeg vorentoe om Dawid te help om die graniet blad te skuif maar hy wuif haar terug en tot haar verbasing skuif Dawid die blad sonder moeite en gly die swaar graniet geluidloos om ʼn as in die rondte. Die wete is in haar — dit was definitief altyd bedoel dat hierdie graf oopgemaak sal word.
Laurie se verbasing groei sodra ʼn pikswart doodskis direk onder die blad sigbaar word. Sy het ʼn gat met ʼn doodskis diep in die aarde verwag en as Dawid die doodskis se deksel wil oopmaak keer sy hom dadelik.
“Dawid dit is nie nodig om die kis oop te maak nie.”
Hy ignoreer haar en lig die deksel.
Laurie loop onwillekeurig vorentoe en sonder dat sy haarself kan keer, kyk sy in die kis in, seker dat sy die beendere van Selma Townsend sal sien. Tot haar verbasing en amper ontsteltenis is daar slegs ʼn houtkissie op die sagte materiaal wat verbasend goed behoue gebly het vir al die jare wat dit hier begrawe was — as dit wel vanaf Selma Townsend se dood hier was — dink sy. Die agterdog is in Laurie — wat het op hierdie plaas aangegaan tydens Selma Townsend se dood?
Dawid sien haar onwilligheid om die kissie uit te haal, hy buk self vooroor en lig die kissie uit die kis.
“Die kissie is joune — en die kis is Louis se kis vir sy begrafnis.”
Laurie lig haar hand om beswaar te maak maar dit kom baie beslis van Dawid — “Louis het dit baie lank terug vir my gesê.”
Laurie voel ʼn effense lighoofdigheid van die spanning wat oor haar kom maar sy neem die hand gekerfde klein kissie by hom en daar is ʼn effense vrees maar ook opgewondenheid in haar, oor wat binne in hierdie kissie kan wees.
“Laurie jy moet die kissie oopmaak as jy alleen is, Louis het my gevra om dit vir jou te sê wanneer die dag kom. Ek gaan nou die kis uithaal sodat dit op kan gaan na die huis vir Louis as hy kom. Ek gaan die granietblok sak tot onder en die graf regmaak soos Louis gesê het ek moet doen — dit is die laaste werk wat ek vir hom moet doen.”
Laurie se hart breek terwyl sy aan die kant van die swart kis afkyk in die graf. Sy sien die drie meter diepe uitgemesselde gat met die gemesselde bodem en die twyfel is in haar — is Selma Townsend se lyk ooit hier? Is Selma Townsend se kis onder die bodem toegemessel? Laurie weet die voorbereiding van oom Louis om op Selma Townsend begrawe te word het baie jare terug begin en gemeet aan die vakmanskap en die afgelope week se gebeure, is die wete in haar — Nie om ʼn geheim oop te maak nie maar om ʼn geheim toe te maak vir ewig.
“Dawid, is Selma Townsend in die graf begrawe?”
Hy kyk haar reguit met eerlikheid in die oë — “Niemand sal weet nie. Louis was die tyd toe sy weg is soos ʼn spook, ons het nie die begrafnis gesien nie. Louis is weg Pietermaritzburg toe en toe hy terugkom het hy hier alleen gewerk — en eendag was die graf net hier.”
Terwyl die twyfel in haar groei, voel sy tog die rus in haar oor haar besluit om oom Louis hier te begrawe, hier op hierdie plaas en in hierdie graf — of Selma Townsend hier is, of nie — dit is waar hy wou wees, vir watse rede ook al.
Sonder dat sy dit kan beheer, hier in die nabyheid van wat seker die laaste liefdes taak was wat Louis Olivier vir Selma Townsend gedoen het, kom die sterk beeld van Matthew in haar gedagtes en haar pa se woorde weerklink in haar ore — “Ek het die knapie liefgehad, dit weet ek verseker want die weersiens was soos die terugvind van my eie kind.”
Teen haar beterwete vind die woorde weerklank in Laurie. In haar is daar die wete dat ook Matthew nie sy ma geken het nie, soos sy en sy probeer die gedagtes aan haar eie ma uit haar gedagtes dwing maar vandag, hier in haar hartseer, kan sy nie. Sy het opgehou dink aan haar ma in haar tienerjare, waarom hartseer mors op ʼn persoon wat haar en haar pa nie die moeite werd gevind het om voor te bly nie. ʼn Persoon wat tot vandag nie een enkele keer na haar navraag gedoen het nie, ʼn persoon wat Laurie daar in haar tienerjare ook as ‘nie die moeite werd’ afgemaak het. Nou, hier, is die vrae en die hunkering terug.
Sy dwing haar gedagtes terug na dit wat sy in haar voel oor Matthew. Die terugvind van ʼn maatjie, iemand wat sy vergeet het maar tog het sy die sensasie van sy hand om hare onthou en sy wonder of hy onthou. In haar weet sy dat oom Louis vir Matthew liefgehad het, ongeag wat die onmiddellike getuies sê. Sy dwing hierdie gedagtes met geweld weg — hy haat hulle en hy sal haar pa uitlewer as hy kan — en die nugterheid oor wat presies Matthew verteenwoordig, is terug in haar.
Sy kyk na die ou man wat hier saam met haar by die oop graf staan. Sy sien die hartseer op sy skraal gesig, die geboë skouers, die skraal regop lyfie en sy sien hom in haar gedagtes saam met oom Louis oor die werf stap.
“Dawid en Jonathan het haar pa altyd gespot.”
Sy sit haar arms om sy skraal skouers en hulle huil hul hartseer op mekaar se skouers uit, oor wat hulle verloor het en sy laat hom daar alleen in sy hartseer en stap in haar eie eensaamheid op na die huis.
Laurie maak nie die kissie oop nie, los dit net eers voor haar bed, volgens Dawid is dit haar eiendom en reg maar sy self is nie seker of dit wel haar reg is nie, maar wie se reg sal dit wees, Matthew Townsend s’n? Dalk is dit briewe van oom Louis se geliefde Selma — alleenlik as dit die geval is, is dit Matthew se reg.
Laurie weet sy sal die kissie oopmaak voordat sy van die grond af ry. Indien die inhoud iets bevat wat gaan oor die plaas sal sy dit lees voor sy die laaste keer hier vandaan gaan, net nie vandag nie, daarvoor sien sy nie kans nie. Eers oom Louis begrawe voordat sy aan die toekoms dink.

Dawid en twee van die jongmans bring die swart kis vroeg die volgende oggend op na die plaashuis. Hulle sit die kis op die voorkamer se kiaat tafel neer, bo-op die lappies kombers wat oom Louis vir solank sy kan onthou op sy bed gehad het. So maak hulle die tydelike rusplek reg waar Louis Olivier sal vertoef voordat hy afgedra sal word na sy finale rusplek, deur hulle wat hom liefgehad het. Waar hulle hom sal laat afsak in die grond wat hy so liefgehad het, om rus te vind bo-op sy geliefde.
Laurie bel Dokter Kabelo en sê hom dat oom Louis se lyk die volgende middag plaas toe gebring sal word deur die begrafnisondernemer. Sy wil hulle wat oom Louis se gesin was, geleentheid gee om in die nag, op hul eie manier afskeid te neem.
Kabelo bevestig — “Ek en my familie en die gemeenskap sal daar wees.”
Daar is vreugde in Laurie, oom Louis se familie, haar familie sal hier saam met haar wees vir hom. Laurie weet daar is nog een iets wat gereël moet word en sy weet al is dit kort kennisgewing dat dit reg sal wees. Sy sal môre oggend ou Vader Jackson gaan vra om oom Louis se diens waar te neem.

Vroegoggend die volgende dag vat Matthew die pad vanaf “Emafweni”, verby Butha Buthe en deur die Caledonspoort grenshek tot in Qwaqwa. Hy ry oor die Metsi Matso rivier, al met die twee-spoor pad tot aan die voet van die Drakensberg. Hy vind die voetpad wat lei na die ‘nek’ soos Seshla hom verduidelik het verbasend maklik en besef met al die voetspore en perdespore wat hy sien dat die ‘nek’ steeds baie voetverkeer dra.
Hy stap die voetpad teen die berg op tot hy op die kruin is en is verbaas oor hoe laag die Drakensberg hier in die nek is. Hy gaan sit op die kant van die rotse en kyk af in die Putterill vallei na waar die Putterill spruit blink teen die voet van die berg vloei en die prag van die majestueuse berg maak ʼn ou herinnering wakker in hom.
Hy kyk na die bakens wat Seshla en Metando hom genoem het — Hlolela, Sugarloaf, Cannibal Cave en Sungubala — en sy oë volg die pad links wat wegdraai in die rigting van die kragstasie en verder aan na Bergville toe maar hy onthou dit nie.
Dit is met verbasing dat Matthew besef, hoe naby hy aan die verlede van hom was maar ook tog so ver weg, nie in afstand maar in sy onthou.
Hy sien haar motor op die werf van die plaas aan sy regterkant en hy dink aan haar, nie aan sy kleintyd ‘maatjie’ nie maar soos ʼn man aan ʼn vrou dink wat van sy gedagtes besit geneem het. Hy het haar onthou soos ʼn mens jou regterhand sal onthou, selfs as jy nie daaraan dink nie, weet jy hy is daar. So het hy altyd onthou dat hy ʼn maatjie gehad het, een wie se hand altyd in sy hand was, daardie handjie wat hy onthou het terwyl hy die mens vergeet het. Dit verbaas Matthew meer en meer dat hy daardie handjie onthou het en nie sy ma nie. Die vraag is in sy gemoed — hoekom? Hy voel die verlange na daardie handjie in syne in hom.
Hy kyk af teen die klowe tot daar by die statige opstal op die plaas voor hom en hy weet dit is die pad wat hy en Nathan Kilber daardie rampspoedige dag oor die berg gevat het en die vraag is terug — waarom? Matthew herroep weer die vertelling van Metando en Seshla, en veral Nathan Kilber se reaksie en hy weet die afleiding wat Metando en Seshla daardie dag gemaak het en nou weer dieselfde afleiding wat deur Johan van Graan gemaak is nadat hy die verklarings gelees het, kan verkeerd wees en hy hoop dit is verkeerd.
Matthew wonder weer waarom ‘Johan van Graan’ opgedaag het nadat die saak by die Lesotho Polisie aangegee is. Waarom die saak eerstens so vinnig by die Suid Afrikaanse Polisie uitgekom het en tweedens waarom dit op so ʼn Senior Suid Afrikaanse Offisier se tafel geland het en nie net op die van ʼn gewone speurder nie? Hy weet dat hy wel die vrae sal vra maar hy laat dit nou eers net weer gaan. Hy weet dit is een van die baie waarhede wat hy wil weet, waarop hy ʼn antwoord sal kry, kom wat wil.
Matthew weet ook dat hy sal eendag die pad teen die berg wil kom loop, tree vir tree, net om te ondervind wat hy daardie dag as kind moes ondervind het maar nie kan onthou nie — en die smag na onthou lê soos ʼn pyn in hom.
Matthew kyk na die vloeiende spruit honderd meter benede hom, hy voel skielik weer daardie bekende gevoel aan sy hand en hy weet, daardie handjie was in sy hand, daar onder in daardie spruit. Hy het deur sy kleintyd en in sy jeug soms die droom gehad waar hy haar gesiggie so duidelik onthou het, hy het net nie geweet dat dit sy was nie maar nou weet hy en hy kan haar nie vergeet nie.

Matthew laat sy gedagtes gaan, hy wonder oor die mense van The Buttress en Fortress, wie is hulle, wat het dit met hom te doen en met ʼn moeder wat hy vergeet het? Hy weet as sy daar onder in daardie begraafplaas lê, hy haar nabyheid sal voel, wil voel en hy smag na die dag dat hy sekerheid sal hê en die knaende gedagte is terug — Wat het hier tussen die berge gebeur in negentien ses en tagtig? Wat het ons almal se lewens so onomkeerbaar verander? — maar hy kry geen antwoord nie. Soos die afgelope week ontwyk die kennis van lank terug hom en hy weet hy moet terug oor die kruin na sy wêreld aan die anderkant in Lesotho, vir eers net weg van die verlede.
Matthew weet al het hy hulle en haar, daar onder op die plaas nie onthou nie, sal hy haar nou nooit weer kan vergeet nie, sy is in sy gedagtes, in sy liggaam en in sy lende, soos ʼn fisiese pyn. Al wat werklik in hom is, is die wete dat sy daar onder op daardie plaas in dieselfde sonlig staan en hy verlang na iets wat hy nog nie kan plaas nie.
Hy sien haar onder in die verte alleen na haar motor stap, hy voel jammer vir haar en vir hulle. Skielik is die wete dat sy in dertig dae naby hom sal wees, warm in hom. Die antwoorde op sy vrae na Louis Olivier en sy ma moet wag, wag vir die dag dat hy daaraan kan aandag gee.

Sy vat die pad Winterton toe om met oom Louis se lewenslange vriend, ou Vader Jackson van die All Saints’ Anglikaanse kerk in Winterton te gaan reël om die diens op die plaas te kom waarneem. Laurie weet, ook om sy mening te kry oor wat sy beoog om te doen want sy het deur die jare in sy wysheid geglo, daardie wysheid en nugterheid wat sy nou so nodig het.
Daar is blydskap en trane as Vader Maurice Jackson Laurie teen sy hart vasdruk — “Dit was vir my ʼn geweldige skok om van Louis se dood te hoor Laurie.” “
Laurie hou die een oomblik vas aan die steunpilaar en wanneer sy terug tree, erken sy aan hom — “Vader die omstandighede rondom sy dood is vir my baie meer ontstellend as wat ek aan enige iemand tot nou toe erken het. Die pyn is soveel dieper as wat ek ooit gedink het oor die jare dit sal wees, as my pa of oom Louis sou sterf.”
Skielik is haar diepste gevoel gedeel en voel sy ʼn verligting in haar.
Hy neem Laurie die klipkerk in en daar in die aangesig van die Here vertel sy hom alles rondom die besoek en die beskuldigings van Johan van Graan en Matthew Townsend.
Hy troos haar met woorde wat sy weet uit sy hart kom. “Niks wat die man gesê het is waar nie Laurie, nie ʼn enkele woord nie. Louis sou nooit Selma Townsend of Matthew Townsend leed aangedoen het nie. Dit weet ek want hy was soos ʼn besetene daardie jare toe Selma dood is, platgeslaan soos ʼn man wat die grootste skat verloor het. So nooi laat daardie beskuldigings maar verbygaan — dit is onwaar.”
Laurie weet sy moet dit vra — “Is Selma Townsend dood en in die graf op die plaas begrawe Vader?”
“Ek weet eerlikwaar nie Laurie, niemand weet nie. Ek glo nie ek wil uitvind nie want as Louis haar dood gefnuik het, het hy ʼn baie goeie rede gehad, ʼn rede wat dalk vandag nog geldig is.”
Sy woorde wat so eerlik gesê word laat Laurie vir ʼn oomblik weifel maar sy weet, vir nou is dit een geheim wat sy moet laat gaan.
Laurie vertel hom van Matthew se eise en haar voorneme om wel na sy plaas te gaan, om eerstens die kans op ʼn openbare vervolging en swartsmeer van haar pa en oom Louis te voorkom en tweedens om te probeer om met die twee getuies te praat.
Hy kyk haar lank en stil aan en sê met die eerlikheid wat sy so goed ken — “Laurie jy is die eerlikste mens wat ek ken, die mees toegewyde mens wat ek ken en ek weet, soos jy weet, jy sal die ding nooit kan los voordat jy die waarheid weet nie — goed of sleg — jy sal met niks anders tevrede wees nie. So my kind, vat hierdie een of twee jaar uit jou lewe, vind daardie waarhede en maak reg dit wat jy weet reggemaak moet word.”
Hy neem haar hande tussen syne — “Anders Laurie sal jy nooit weer rus in jou lewe hê nie.”
Hy doen ʼn gebed en dra haar op aan die Here vir beskerming en wysheid vir die pad vorentoe.
Laurie bly by Vader Maurice en eet saam met hom middagete terwyl hulle die verlede herroep, al die wonderlike dinge waar oom Louis soveel waarde aan geheg het. Hulle besluit dat die diens die volgende oggend met sonsopkoms sal plaasvind. By die graf wat oom Louis vir homself voorberei het — en sy voel die rus in haar.
Terwyl hy haar bystaan skakel Vader Jackson en Laurie verskeie persone en deel hulle die reëlings mee, hulle onderneem om weer die boodskap na vele ander persone deur te gee. Wanneer Laurie terug ry plaas toe is die rus steeds in haar. Sy weet, sy en almal wat oom Louis liefgehad het, sal hom begrawe, vroeg oggend as die son sy gesig wys oor die majestueuse berg — soos wat sy weet oom Louis dit sou wou hê. Alles op die plaas moes vroegdag gedoen wees — hy het so ʼn liefde vir vroegoggend gehad — en sy onthou hom en haar hart huil.

Met die aankoms van sy lyk laatmiddag op die plaas, is hulle almal daar en die geweeklaag klink uit teen die berg se hange. Laurie se hart voel of dit kan bars en sy huil soos ʼn kind wat ʼn vader verloor het — want sy het.
Die nag dra die gesang en geweeklaag van die een wêreld na die ander — en Matthew is weer daar in die nag teen die klowe. Hy weet net dat hy ʼn onkeerbare drang het om deel van die wêreld te wees, haar wêreld en die pyn van hulle wat in absolute weemoed oor die nagstilte gedra word raak hom. Die vraag in hom is — Kon iemand wat so beween word, soveel kwaad in hom gehad het? — en die twyfel groei in hom na dit wat Johan voortdurend insinueer.
Hy bly daar deur die nag en beleef die hartseer wat hulle voel.
Laurie staar met oë wat niks sien nie maar sy sien hoe hulle die blink swart kis met deernis laat sak tot op die blad ‘bo-op’ Selma Townsend en sy bid dat hy vrede gevind het — en sy mis hom met ʼn fisiese pyn. Sy voel die verwyt in haar teen hulle wat haar die laaste gesprek met hom ontneem het, hulle wat hom weggevat het voordat sy kon afskeid neem. Vader Maurice bring ʼn boodskap wat hulle almal laat onthou en gerusstel dat Louis Olivier by sy Hemelse Vader is en dat niks wat verder hier gebeur hom of sy naam kan skaad nie.
Wanneer die mense stadig begin beweeg in die rigting van die opstal, wink Laurie na Dawid om haar te volg, weg van hulle wat hul harte uithuil oor ʼn vriend, ʼn pa en ʼn oupa wat van hulle weggeneem is.
“Dawid ek wil hê jy moet die graf toe messel, ek wil nie dat enige iemand die graf weer kan oopmaak nie.”
“Dit is wat Louis my ook gesê het Laurie.”
“Regtig Dawid.”
“Ja hy was baie beslis — as hy in die graf is, moet ek die boute met sement toemaak en ek moet die blad met sement vasmaak.”
“Dankie Dawid. Het ons sement?”
“Ja. Ek sal die werk doen sodra die mense huis toe is maar dit sal definitief vandag wees.”
Laurie druk die ou klein lyfie teen haar vas.
“Dankie Dawid, dankie vir alles wat jy vir hom en ons gedoen het.”
“Hy was my broer Laurie, ek en Louis het saam in die weeshuis grootgeword, onthou dit altyd.” Met die hartseer wat haar wil versmoor strompel Laurie deur die dennebos op na die opstal.

Die samekoms en ʼn laaste koffie drink in die huis van hom wat so ʼn onuitwisbare indruk op almal gemaak het, is vir Laurie die afsluiting wat sy gehoop het sy sal vind. Almal is daar, Kabelo en al sy mense, al die vriende en vriendinne wat gedurig deur daar op die plaas gekuier, gewoon of net kom inloer het. Haar gemeenskap is daar om afskeid te neem — haar kollegas, Joos Terblanche, Dokter Koot Froneman, Johan Verster en sy span en Jonah Bruyns.
Hy trek haar teen sy hart vas en sê sag hier teen haar oor — “Jou pa stuur sy liefde en sy weemoed vir jou, hy is veilig en gelukkig.”
Dit troos haar in die hartseer dag en Laurie voel die vrede in haar en sy dank die Here vir sy genade.

Matthew bly daar bo-op die kruin van die berg deur die begrafnis tot die begrafnis bedrywighede verby is en hy haar huilend die huis sien instrompel wanneer die laaste motors vertrek het en die laaste werkers hulle deure toemaak om klaar te treur — en in hom is daar ʼn gevoel van ʼn verskriklike en pynlike verlies en hy weet nie waarom nie. Matthew erken daar in die koue van die wind aan homself iets wat hy nie hardop kan sê nie, hy wil nie net deel hê aan die swartkop vrou se lewe nie, hy wil onherroeplik deel wees van haar en sy verlede op die grond.
Met die weggaan van hulle wat treur oor die heengaan van ʼn vader gaan Louis Olivier se begrafnis gevul met hartseer verby en niemand vra vrae oor die graf of wat in die graf is of moet wees nie en Laurie is verlig in die wete dat dit dalk net sy is wat twyfel oor Selma Townsend.
Daar is baie gissings oor haar pa se vertrek maar Laurie hoor niks, die mense wat haar liefhet laat dit wat sy nie wil verklaar nie, ongevra. Die dorp en veral die hospitaal personeel huil oor haar weggaan, daar is nie een persoon wat nie graag sou wou weet waarom sy so skielik ʼn plaasvervanger vir so ʼn lang periode soek nie. Sy bly stil en haar weggaan word aan haar pa se siekte en Louis Olivier se dood gekoppel — en sy laat dit daar.
In Laurie is daar ʼn haas om die inpak klaar te kry, ʼn haas om haar pa te gaan sien en Matthew en die ‘getuies’ te gaan takel. Sy weet sy kan nie vir haarself lieg nie — want ook in haar is daar ʼn hunkering na haar ‘kinder-gedagte’ maatjie. Sy weet, sy wil weet wat sy lewe was en nou is.

Dit is baie vroeg die volgende oggend as Laurie die eerste laai in Louis Olivier se slaapkamer oopmaak, die einde van ʼn era en die inpak van daardie era begin sy met erns. Die opvou en die verpak van sy klere is ʼn liefdes-taak, die besluit wat om daarmee te maak ʼn maklike besluit — sy sal eerstens vir hulle hier op die plaas ʼn geleentheid gee om te neem wat hulle graag wil hê, daarna sal sy dit wat oorbly neem na die kerk van Vader Maurice vir verspreiding na die ouetehuise en behoeftiges. Oom Louis sou dit so wou hê.
Die inasem van die reuke aan sy klere wat hom verteenwoordig, dwing haar tot stilstand en die verlange en die wete is in haar — Ag Heer hy is nog so voelbaar hier.
Die eenkant sit van die klein dingetjies wat vir hom dierbaar was, sy knipmes, sy sakhorlosie, daardie artikels wat elke dag in sy kakiebroek en hemp se sak was, warm teen sy lyf was. Dit sit sy eenkant in een van die vele klein leer tassies wat hy gedurig deur vir homself en ander gemaak het. Eers net veilig wegsit om later toegedraai te word en weggebêre te word indien daar later iemand is wat reg daarop sal hê — en sy dink aan Matthew — en haar hart pyn.
Sy kyk na die Bybel in haar hand, die vingermerke op die sagte verweerde leer, tekens van baie gebruik, teken van sy groot liefde vir sy God, sy geloof. Met die vat van die Bybel in haar hand, val hy self oop by die vergeelde koevert. Sy kyk na die naam op die koevert — Louis. Instinkmatig weet sy dit is van Selma Townsend en sy sit dit eers net so onoopgemaak terug in die Bybel. Sy sal dit met tyd lees, daarvan is sy seker — iewers later.
Sy huiwer oor die inpak van die Bybel. As daar een artikel is wat sy graag vir haarself sal wil behou, is dit sy Bybel en sy sit hom eenkant by die ander klein items — sy sal nog besluit.
Dit neem haar meer as ʼn week om alles te verpak — persoonlike artikels, breekgoed, meubels, alles bekend en dierbaar en sy doen dit met liefde. Sy staan in oom Louis se kamer voor die twee kluise wat in die meter breë muur ingemessel is en sy is besluitloos want deur al haar inpak en soek kon sy nie die sleutels vind nie.
Sy weet daar kan moontlik dokumente in wees wat lig op so baie vrae kan werp maar Laurie weet slegs ʼn kundige slotmaker kan hierdie kluise oopmaak, daarvoor sou oom Louis gesorg het. Sy sal Joos Terblanche moet vra om ʼn slotmaker te vind om so gou as moontlik die kluise oop te maak.

Dit is laatnag wanneer Laurie die heg band van die laaste kartondoos vasdruk. Dit wat sy moes doen is gedoen, al oom Louis se besittings is verpak en verseël, Louis Olivier se lewe is verpak en verseël.
Sy sit met haar rug teen die hand gekerfde geelhout bedstyl, voel die gladde hout deur haar nagklere en beleef weer die herinneringe van die aande wat oom Louis vir haar stories gelees het wanneer sy hier moes slaap — haar pa in ʼn staat van vergetelheid en nie in staat om na haar om te sien nie en sy onthou die baie lag en die vreugde is in haar.
Haar laaste aand wat sy op hierdie plaas sal vertoef, ook ʼn einde van ʼn era, einde van ʼn lewe vir haar. Die bekendheid van die vertrek en die verlies van hierdie bekendheid, bring ʼn nuwe hartseer in Laurie en sy treur oor die herinneringe wat verby is.
Sy fokus haar oë op die kissie op haar skoot, die kissie uit die graf — die een wat ‘hare’ is. Sy neem dit op en met ʼn besliste vas-vat probeer sy die deksel lig. Laurie besef dat die kissie nie met slegs die hand oopgemaak kan word nie, daarvoor is die deksel te vas.
Sy bestudeer die kissie en besef dat die deksel moontlik vas gegom is. Sy stap vasberade na die kombuis, met ʼn sekerheid in haar dat sy die kissie vanaand sal oopmaak, dit het sy haarself beloof want môre verlaat sy die grond vir altyd. Laurie weet in haar, indien die kissie se inhoud enige deel van die geheim kan ontbloot wil sy dit weet voordat sy weg van die grond gaan.

Sy gaan sit by die kombuistafel en met die mes van die stel eetware wat sy vir haar eie gebruik uitgehou het, dwing sy die deksel millimeter vir millimeter oop. Wanneer die deksel uiteindelik oop is besef sy dat daar geen gom aan die hout is nie — net byewas om die hout en inhoud, veilig te verseël teen vog en stof deur al die jare en sy glimlag — ʼn regte oom Louis ding.
Die inhoud van die kissie is toegevou in ʼn leer doek. Sy vou dit versigtig oop tot daar waar die inhoud voor haar op die leer doek lê. ʼn Baie ou knipmes, twee goue troupante, ʼn silwer vriendskap-ring, ʼn goue sakhorlosie, twee goue borsspeldjies, een met ʼn blou en een met ʼn pienk lint, vas aan baie ou fopspene, ʼn ring met ʼn vreemde embleem, diamant oorkrabbertjies, ʼn brief en ʼn vergeelde stukkie papier wat die grootte van ʼn sakboek bladsy is. ʼn Goed behoue brief en stukkie papier besef sy en sy wonder oor die tydperk wat hierdie artikels wel in daardie graf was.
Sy vat die eerste troupand en lees die naam ‘Louis’ wat binne in die ring gegraveer is en instinkmatig weet sy dat die ander ring Selma se naam sal dra en as sy dit optel is die naam daar. Die vraag is in haar, was oom Louis en Selma getroud of was die pant bedoel vir ʼn troue wat nooit plaasgevind het nie? Sy druk die knippie aan die kant van die sakhorlosie en sien die inskripsie gegraveer op die deksel se binnekant ‘Aan Gregor met al my liefde Celine’.
Die vriendskap-ring dra die letters — DK & GA vir altyd — en sy weet die GA is Gregor Armsby maar die DK is onbekend vir haar. Die wete dat ou Gregor meer as een geliefde gehad het laat Laurie glimlag — So baie geheime — flits dit deur haar gedagtes.
Laurie kyk weer na die vreemde embleem op die ring maar sit dit neer en tel die borsspeldjies met die fopspene op. Die name is daar ‘Matthew’ en ‘Laurie’ vir een oomblik sit sy die fopspene neer maar tel dit weer op. In haar is daar ʼn gevoel wat sy nie kan plaas nie maar wat sy nou verseker weet is dat sy en Matthew Townsend deel van mekaar se verlede is, dat die borsspeldjies hulle borsspelde was.
Sy haal die vergeelde bladsy onder die oorkrabbertjies uit en vou dit versigtig oop. Sy kyk na die naam aan die einde van die nota — Selma. Die nota is van Selma Townsend maar dit is nie die netjiese gevormde letters soos op die koevert in die Bybel nie. Laurie besef hierdie paar sinne is in erge haas geskryf.
“Louis my liefste, ek bid dat hierdie nota jou sal bereik. Ons is veilig. Ons het geen idee waar ons uiteindelik gaan opeindig nie. Ek het jou lief, onthou dit altyd. Kyk asseblief na Matthew. Selma.
Dit ruk Laurie tot stilstand, skielik is een geheim oop — Selma Townsend het moontlik die land verlaat en is definitief nie in die graf op die plaas nie en Laurie wonder hoe het alles by Johan se ‘moord’ uitgekom?
Sy sit die nota neer en neem die brief, vou dit ook versigtig oop. Sy kyk na die naam aan die onderkant van die brief voor sy die inhoud lees. Sy besef dat dit ʼn baie kort brief van ou Gregor Armsby aan oom Louis is, in werklikheid ʼn een paragraaf brief.
Louis vir jou wat my elke dag liefgehad het, kyk na my seun asseblief. Hy het my rustelose natuur en sal altyd ʼn ferm hand nodig hê om hom te lei, ʼn liefdevolle hand. Kyk na die plase want jy is die een wat die grond so lief het soos ek. Indien my dogter Selma ooit na Suid Afrika kom, maak dinge reg vir my met haar. Jy ken my tekortkominge, jy sal weet hoe om dinge reg te maak met my kinders.
Ek lief jou vir ewig. Jou ewige dankbare vriend.
Gregor
5 Mei 1980

Elke woord en elke sin in hierdie paragraaf is vir Laurie ʼn raaisel, ʼn onverklaarbare raaisel op hierdie oomblik. Hierdie brief sê dat Selma, ou Gregor Armsby se kind was, nie net familie nie en wie is of was Gregor Armsby se seun?
Laurie voel die skok in haar en sy weet dat die feite wat sy nou het in werklikheid niks opklaar nie. Sy wonder wat die brief in werklikheid te kenne gee dat ou Gregor die plase vir oom Louis gegee het, of dat oom Louis net die plase moes bewaar vir ou Gregor se kinders en in daardie geval vir sy kleinkind?
Laurie voel die vrees in haar, dit kan ook beteken dat dit in werklikheid die rede kan wees vir die daad waarvan haar pa beskuldig word want Matthew was ʼn wetlike nasaat na wie die grond sou gaan.
Laurie weet as daar bewyse is vir Johan se weergawe van die verhaal, soos vertel deur die getuies dat dit wat sy nou in haar hande het, wel negatief op haar pa se onskuld kan reflekteer. Een ding weet Laurie met sekerheid, Johan ken nie die waarheid nie anders sou hy geweet het dat Selma, ou Gregor Armsby se kind was en dat sy nie in die graf is nie.
Laurie weet nou verseker hy gryp na grashalms in die hoop dat hy iets sal raak gryp, iets wat hom op die spoor sal bring na wat hy ook al soek. Laurie weet verseker, wat hy ook al soek, hier op die twee plase moet wees.
Die een vraag teister haar — Waarom het oom Louis hierdie spesifieke artikels in die kissie vir haar gelaat? Wat presies beteken dit?
Laurie draai die artikels en die notas versigtig toe in die leer doek en wanneer sy die kissie nader trek om die artikels terug te sit sien sy die papier op die kissie se bodem. Sy sit die doek neer en neem die papier uit die kissie en wanneer sy die inhoud lees is die vraag ‘Waarom het oom Louis die spesifieke artikels in hierdie kissie vir haar gelaat’, geantwoord? Maar wat presies dit beteken is nou eers duister vir haar?
Laurie verskoon ʼn ou man se sentiment — ek weet jy sal verstaan. Ek het die artikels hier in die skoot van die aarde gebêre sodat die liefde van hulle wat hierdie plase se geskiedenis bepaal het, in hierdie grond sal bly. Wanneer jy al die antwoorde gekry het — gee dit aan die regmatige eienaars – en as julle kan – vergewe ons.
Laurie weet as sy ooit in haar lewe verward was, is dit nou. Sy het geen idee wat hierdie paar sinne werklik verteenwoordig nie en sy voel ʼn diepe bekommernis in haar — ‘vergewe ons’ — Wat beteken dit?
Sy plaas die toegedraaide artikels en die nota aan haar, terug in die kissie en stap terug na haar kamer en gaan lê op die bed. Wat moet sy doen, hoe maak sy reg vir hom wat moes sorg vir Matthew, hoe stop sy hierdie hekse jag? — Hoe kon daar al die jare so vreeslik baie geheime wees, maar meer as dit, waarom die geheime en waar is Selma Townsend? — is sy dood of leef sy nog? Watter gebeure het ‘hulle’ uit hierdie land soos misdadigers laat vlug? Wat is die artikels veronderstel om vir haar te sê?
Laurie voel die moegheid in haar maar slaap is daar nie vir haar nie. Sy probeer sin maak van die betekenis van die artikels maar sy weet, solank sy nie weet wie die eienaars is nie, kan sy nie verstaan nie.
Laurie weet die dokumente verklaar wel iets op die stadium. Eerstens dat oom Louis nie onregmatig op die grond aangebly het nie en tweedens dat Selma Townsend definitief nie in daardie graf is nie. Oor die ander artikels waaraan hy soveel waarde geheg het, hoop sy die toekoms sal klarigheid gee.

Sy stap voor sonop uit en die vroegdag skreeu van die Kaapse Aasvoël of soos oom Louis hom genoem het, die “kleine Kolbe”, vind haar daar tussen die klowe langs die Putterill Spruit — haar totsiens-sê uur vir die klowe van Fortress vir eers.
Haar swaar gemoed is swaarder as ooit na die sien van die kissie se inhoud en die lees van die paar sinne in die brief en nota. Sy weet steeds nie wat om met die inligting te maak nie want nie eers die deel van die inligting dat Selma Townsend lewendig uit Suid Afrika is, kan haar pa kwytskel van die aanklag wat Johan se twee getuies gesê het en wat hy aan Matthew wou doen nie. Sy weet net dat sy onmiddellik die nuwe inligting met Joos moet deel en sy mening moet vra.
Laurie is bekommerd, as sy hierdie inligting openbaar maak kan daar dalk ʼn geweldige regsaksie van Matthew kom, nou is hy gekoppel aan die grond. Nie net as moontlike mede-eienaar nie maar meer vir haar as iemand wat werklik hier was, hier saak gemaak het. Laurie weet vir maande se hofsake en openbare bespiegeling oor haar pa en oom Louis sien sy nie kans nie. Nie nou of ooit in die toekoms nie.
Die ander gedagte wat Laurie nie uit haar kop kan kry nie, is dit wat Selma Townsend se nota sê — “Ons is veilig. Ons het geen idee waar ons uiteindelik gaan opeindig nie.” — sê dit dat ‘hulle’, wie ‘hulle’ ook al is, van iemand in hierdie land weggevlug het? Laurie wonder as dit die geval is, of dit nog saak sal maak na al die jare en juis oor die twyfel in haar, is sy onwillig om die spesifieke inligting te deel.
Laurie moet aan haarself erken, in haar is ook ʼn ander rede waarom sy nie nou die pad van enige hofsake wil loop nie. Doen sy dit sal sy Matthew nooit weer sien nie, of hy die saak wen of verloor, hy sal haar nooit weer wil sien nie. Sy weet reeds die afgelope dae, ongeag wat dit haar gaan kos, om Matthew nooit weer te sien nie, daarvoor sien sy nie kans nie. Matthew se beeld en al die klein-kind-gedagtes aan hom, het haar denke en gevoelens oor gevat. Sy besef meer en meer, dat daar ʼn ongelooflike hoeveelheid van haar lewe is wat sy vergeet het, dit wat sy nou weer wil vind. Jare se herinneringe wat vergete was, herinneringe wat die sien van Matthew teruggebring het.

Sy stap stil terug deur die gras na die opstal, haar laaste stap oor die grasveld wat oom Louis so liefgehad het. In Laurie is daar een wete wat nie kan verander nie — sy moet verseker dat reg geskied. Dit is wat oom Louis van haar sou vra, dit is waarom sy die waarheid moet vind en regmaak, sodat hulle almal vry van die skaduwees kan wees.
Sodra sy tuis kom, skakel sy Joos se kantoor en maak ʼn afspraak. In haar is daar nou ʼn haas om Joos se mening te kry oor wat hierdie twee notas se inhoud vir haar pa se saak kan beteken.
Sy klim in die motor met ʼn ligter gemoed en ry deur Ladysmith toe. Vandag nog moet sy sekerheid kry van haar posisie met die grond — Kan die woorde in die brief van Gregor Armsby enigsins gelees word dat oom Louis reg op die grond gehad het? Indien wel, moet dit wetlik reggestel word. Gregor Armsby se seun, indien hy nog leef moet gevind word, want hy en Matthew is familie en hulle moet weet.

Dadelik na sy in Joos se kantore verskyn word sy deurgevat na sy kantoor. Hy is openlik bly om haar te sien.
“Ek het baie nuus vir jou Laurie, regtig goeie nuus.”
Sy gesig wys sy vreugde, as hy die verligting op haar gesig sien.
“Ek ook oom Joos.”
“Goed, jy eerste.”
Sy haal die kissie uit haar tas en sit dit voor hom op die lessenaar neer.
“Hierdie kissie kom uit die ‘graf’ van Selma Townsend.”
Joos se gesig wys sy verbasing terwyl hy die kissie oopmaak en die artikels een vir een uithaal. Eers lees hy Selma Townsend se nota en Laurie sien die wisselende uitdrukking op sy gesig, sy weet hy dink wat sy gedink het — Selma Townsend is nie in die graf nie, sy is nie in die land dood nie.
Hy neem die brief, vou dit oop en lees dit in stilte. Wanneer hy opkyk is daar verbasing op sy gesig — “Wel, wel, wat ʼn snaakse wending in die geskiedenis wat ons dink ons ken.”
Laurie knik en vra met erns in haar stem — “Wat dink oom Joos, wat beteken dit vir my pa se saak.”
“Die brief van Gregor Armsby kan oor die plase se eienaarskap, twee dinge insinueer — dat Louis of net ʼn reg op die bedryf van die grond gehad het, of dit kan ook gelees word dat die grond dalk vir hom gegee was maar ʼn hof sal daaroor moet besluit. Verder is dit duidelik, Matthew Townsend as nasaat van Gregor Armsby, het ʼn reg op die plase gehad en het nog steeds, as dit nie wettig vir Louis gegee was nie.”
Hy maak die nota oop en wanneer hy klaar gelees het kyk hy haar ʼn oomblik stil aan — “Ek hoop die toekoms sal wel die antwoorde bring nooi. Vir nou is ek egter effens sprakeloos oor alles.”
Hy sit vir een oomblik in stilte en maak ʼn besluit —
“Louis het in sy testament wat hier by my is, alles aan jou bemaak, die twee plase en alles wat ooit sy eiendom was.”
Laurie voel die skok in haar en dit is duidelik in haar stemtoon — “Oom Joos ons weet nie eers of die grond ooit oom Louis se grond was om weg te gee nie, ook as dit waar is wat Johan gesê het, is die plase nog op Gregor Armsby se naam geregistreer.”
“So is dit wel my kind maar moontlik net omdat Louis dit nooit op sy naam wou sit nie. Miskien het hy altyd gewag vir Selma en Gregor se seun om terug te kom.”
Laurie voel daardie gevoel van onwerklikheid weer in haar en dit is in haar stem — “Maar hoe verklaar ons dit alles in ʼn hof om my pa vry te kry oom Joos?”
“Daar is niks wat ons vir eers hoef te verklaar nie nooi, dinge is nou maar soms nie soos ons dink dit is nie en ook nie soos ons dit wil hê nie. Die vraag is, hoekom wou Louis hê dat almal moet dink dat Selma wel oorlede is? Wat ons twee uit haar nota nou weet, is dat daar iets gebeur het wat veroorsaak het dat hulle moes vlug en dat dit so erg was dat die feit dat sy leef ʼn geheim moes bly.”
Laurie weet die antwoord oor wat met Selma Townsend en die ander gebeur het sal moontlik alles opklaar maar waar vind sy die antwoorde.
Asof Joos haar gedagtes lees sê hy — “Die antwoorde is tussen negentien vyf en tagtig en einde ses en tagtig Laurie, dit is waar ons moet begin soek vir ons antwoorde. Ek probeer steeds uitvind wanneer presies Selma Townsend hier opgedaag het in die tagtigs.”
Joos vou die lêer voor hom oop en begin woord vir woord lees — “Die Testament van Louis Almero Olivier, gebore agtien Augustus negentien een en vyftig…”
Onwillekeurig werk Laurie Louis Olivier se ouderdom uit. In haar is daar ontnugtering as sy besef dat ‘haar’ oom Louis in werklikheid nog so jonk was en die pyn dat hy gesterf het terwyl daar soveel jare oor was, wurg haar. Skielik besef sy ook dat oom Louis en haar pa amper ewe oud was en dit bring ʼn nuwe skok, hy wat amper ʼn pa vir haar pa was, was self niks meer as ʼn jongman toe die gemors begin het nie.
Die lees van die testament bring tog rus en vrede in haar gemoed. Indien die grond volgens die wet oom Louis se eiendom was, sal sy met tyd daarmee deel maar vir nou kan sy maak wat sy wil met die geld, die implemente, die meubels, en al die losgoed en sy weet wat sy wil doen.
Laurie voel as dit die grond is wat Matthew wil hê kan hy dit kry. Indien dit wraak is wat hy soek weet sy, sal geen aardse besittings ʼn einde aan al die ellende en dreigemente bring nie.
Joos sien die wisselende gemoedstemming op haar gesig, eers hartseer, daarna vrede, maar ook beslistheid.
“Ek sal begin met die proses sodat daar kontantgeld beskikbaar is om die mense op die plase te betaal en om jou in staat te stel om alles aan die gang te hou.”
Hy steek sy hand uit oor die lessenaar en neem haar hand — “Hierdie grond, die besittings en die mense behoort dalk nie aan jou nie maar dit behoort ook nie aan Matthew Townsend nie en beslis nie aan Johan van Graan nie.”
Laurie hoor die klem op die ‘Townsend’ en sy sien die beslistheid op sy gesig.
“Ek gaan vandag nog ʼn brief deurstuur na Johan van Graan en Matthew Townsend. Van nou af werk ek direk met Matthew Townsend, of met sy regsverteenwoordiger en beslis nie deur Johan van Graan nie behalwe as hy ʼn regsgeldige bewys vanaf Matthew deurgee dat hy namens hom optree.”
Te midde van die begeerte in Laurie om nie enige iets te doen wat haar pa sal skaad nie, weet sy ook dat sy nie rondom die wet wil handel nie, nie rondom die wet hoef te handel nie.
“Sal oom Joos begin met die proses om vas te stel of die grond volgens die wet oom Louis se grond was asseblief, totdat dit bevestig is wil ek geen besluite neem nie.”
“Om terug te kom na ou Gregor se brief, hy meld dat hy ʼn seun gehad het, dit is ook iets wat ek sal begin ondersoek.
Laurie knik — “Dankie oom Joos want as daar nasate van Gregor Armsby is wat leef, wil ek hulle gee wat hulle toekom. Matthew is Gregor Armsby se kleinkind, so hy het ʼn reg en as Gregor se seun nog leef, het ook hy ʼn reg.”
“Laat ons nie oorhaastig wees nie my kind. Is daar enige ander dokumente tussen Louis se goed wat lig kon werp?”
“Nee oom Joos, ek het niks verder gevind nie. Daar is wel die ingemesselde geweer-kluis en die gewone kluis wat ek nie kon oopmaak nie want die sleutels kon ek nêrens vind nie. As ons dit kan oopkry mag daar dalk dokumente in wees wat ons kan help met die ondersoek.”
“Ons moet onmiddellik ʼn slotmaker kry om die kluise oop te maak Laurie want ek wil geen dokumente in ʼn ander se hande laat kom nie.”
Sy knik haar kop beslis — “Ek voel dieselfde oom Joos want ek dink dat die ware bedreiging van Johan af kom vir iets wat absoluut niks met die grond of met Matthew te doen het nie. Oom Joos daar is ook ʼn kluis in ons huis wat in geen jare oopgemaak is nie en ek glo nie my pa onthou die kombinasie nie. Sal oom ook dit laat oopmaak wanneer oom die slotmaker kry asseblief.”
Joos Terblanche knik instemmend.
Hulle bespreek wat Joos sal doen maar Laurie is beslis —
“Oom Joos, wag asseblief met enige aksie om die grond op my naam te kry, kry net eers sekerheid oor die grond se eienaarskap voordat ons enige besluite maak.”
Hy beloof — “Dit is in elk geval ʼn lang proses Laurie, eers moet die boedel geregistreer word en ek as eksekuteur aangestel word. So moet nie bekommerd wees nie, dit gaan nie gou gebeur nie.”
Nou is Laurie tevrede, sy wil nie hierdie komplikasie nou byvoeg by haar ander probleme nie.
Hy stel dokumentasie saam waarmee Laurie hom toestemming gee om namens haar te handel en Laurie teken al die dokumente.
Joos Terblanche vou ʼn ander lêer oop — “Jy wou weet oor Matthew Townsend en hier is alles van waar ons sy lewe kon optel.”
Laurie voel die afwagting in haar.
“Matthew Townsend self bestaan nie in Suid Afrika, Qwaqwa of in Lesotho nie maar Matthew St. Nicolas wel. Sy geboorte is in Januarie negentien sewe en tagtig in Qwaqwa geregistreer as agtien April negentien tagtig. In negentien sewe en tagtig is hy as ʼn leerling in Lesotho in die Sendingskool geregistreer. Hy het matriek in negentien sewe en negentig geskryf en voltooi ʼn Landbou Ingenieurswese graad by Kovsies in twee duisend. Slim mannetjie hierdie Matthew Townsend.” “
Joos kyk op van die lêer na Laurie en die uitdrukking op haar gesig sê alles, sy is oorweldig.
“Puik sportman, ere klere in swem, atletiek en veldhokkie van die Universiteit. Trou in twintig tien met Judith Roth — skoonheidskoningin.”
Laurie voel die teleurstelling in haar maar onderbreek hom nie.
“Twee seuns uit die huwelik gebore, eerste een nou vier en die ander een twee. Egskeiding tussen die twee finaal nou in Maart hierdie jaar. Sy het die seuns afgeteken en Matthew van ʼn klomp geld verlos.”
Laurie voel die verligting in haar en hou haar oë afgewend.
“Arm is hy egter nie, sy pa Vader Christopher St. Nicolas het ʼn plaas kontant gekoop en Matthew bedryf ʼn melkboerdery en het ʼn kontrak by Nestlé vir die lewering van sy melk. ʼn Baie vrugbare plaas tussen die Maluti berge waar hy besig is om alle bewerkbare grond onder hoë kwaliteit voeding te sit.”
Hy wag vir haar om op te kyk voor hy voort gaan — “So Laurie jy het geen rede om hom jammer te kry nie, hy het ʼn wonderlike en beskermde lewe gely en ek glo, hy het alles wat hy wou hê.”
Daar is ʼn leegheid in Laurie, sy weet nie wat sy verwag het nie maar wat Joos so pas vir haar gesê het, laat haar leeg voel.
“Wil jy die lêer hê.”
“Nee dankie oom Joos, ek wil nie hê dat Matthew ooit moet weet ek weet van sy verlede nie. Baie dankie hiervoor. Nou sal bitter min vir my ʼn verrassing wees as ek wel op die plaas gaan woon.”
Laurie sit die kissie se inhoud terug en oorhandig dit vir Joos — “Sluit dit asseblief hier by oom toe, ek sal dit kom haal wanneer ek die regmatige eienaars eendag vind.”
Wanneer Laurie opstaan is sy gedaan, vir eers is dit genoeg en in haar is ʼn verligting as sy groet en in die sonskyn uitstap.

Die besoek by Joos bring die nodige rus in Laurie, die onmiddellike vrees is weg, die haas is weg. Sy sal doen wat reg is vir almal maar ook vir haarself. Vir nou wil sy die waarheid van daardie dag in die berge ontbloot en sy wil Matthew leer ken, net eers weer leer ken.
Wanneer Laurie oor die straat stap, sien sy hom, die aknee merk gesig van die polisieman van die hospitaal. Hy is geklee in siviele klere en staan leunend teen die winkelvenster oorkant die straat voor Joos se kantore. Nou is Laurie se kommer terug. Dit kan toeval wees maar sy glo nie in toeval nie, Johan laat haar dophou, dit weet sy nou verseker en haar woede is terug.
Laurie stap doelgerig oor die straat direk in die jong man se rigting, vandag wil sy weet wat aangaan. Hy kyk verbouereerd in haar rigting en begin vinnig straat af wegloop, Laurie weet dit is die bevestiging wat sy gesoek het, sy word definitief dopgehou.
Sy haal haar selfoon uit, bel vir Joos en stel hom in kennis van die gebeure. Joos onderneem onmiddellik om sonder om ʼn ophef te maak, by die plaaslike polisie navraag te doen oor die polisieman.

Dit is dieselfde tyd dat Matthew saam met Johan in ʼn restaurant in Mokhotlong vir nog een van Johan se terugvoer sessies gaan sit. Matthew voel die irritasie in hom, die feit dat Johan weer in ʼn restaurant wil ontmoet en nooit op die plaas nie, begin hom regtig pla. Dit vat ʼn hele dag uit sy week en die seuns is elke keer ontroosbaar as hy sonder hulle ry. Matthew weet hy moet die sessies stopsit. Hy wil nie verder deel hê aan al hierdie agter af gekonkel nie, hy wil net probeer om normaliteit in sy eie lewe en die van die seuns, en sy mense te bring.
“Sy het haar pa uit die hospitaal gesmokkel en selfs ek kon nie uitvind waarheen nie. Ek het selfs laat navraag doen of hy land uit is maar daar is geen rekords daarvan nie.”
“Maak dit saak Johan, ek het mos Nathan laat gaan in ruil vir Laurie se diens.”
Johan voel die verergdheid in hom maar bly stil.
“Sy het Louis Olivier op die plaas begrawe, dit het ek deur die begrafnisondernemer vasgestel.”
Matthew swyg oor die ure wat hy daar in die berg alles sit en dophou het — “Dit het niks met ons te doen nie Johan, dit is haar reg want ek het geen sê oor die grond nie. Ons is in elk geval nie seker of ek ooit reg gehad het, of ooit reg sal hê nie.”
“Jy gaan reg hê Matthew, daarvoor sal ek sorg, hulle skuld jou, jou verlede en jou herinneringe.”
Nou is dit Matthew wat dit net laat verbygaan, hy stel nie belang in die grond nie, ook nie meer in Johan se gedurige verwys na sy ‘herinneringe’ wat gesteel is nie. Nee hy stel net belang in Laurie en dit wat sy in hom wakker gemaak het, die gedagtes aan sy vergete kinder-herinneringe maar meer daardie gevoel in sy volwasse liggaam — maar daaroor swyg hy.
“Johan ons volgende ontmoeting sal op die plaas moet wees, ek kan nie my seuns elke keer so ontstel nie.”
Johan gryp na grashalms want hy kan nie bekostig dat Metando en Seshla Musuri hom eien nie — “Ek wil nie hê sy moet weet van ons sessies nie Matthew.”
“Sy is nie eers op die plaas nie Johan.”
“Ek weet, maar ʼn mens weet nooit of sy iemand aangestel het om die plaas dop te hou nie.”
“Maak dit saak Johan, doen ons enige iets verkeerd?”
Johan bly stil.
“Of sy op die plaas is of nie, ons sal die sessies maar op die plaas moet hou. Ek glo sy sal soos ʼn normale werknemer sekere dae af hê en sy sal ook seker terug Ladysmith toe gaan vir besigheid.”
“Matthew jy moet nie nou al sag word nie, onthou…”
Nou het Matthew genoeg gehad.
“Los dit Johan, ek het nie tyd vir verdere haat nie. Laat ons wag en sien of sy plaas toe kom en Johan, los Nathan uit, ek soek nie nog ʼn dood op my gewete nie, nie haar pa se dood nie.”
Matthew het skielik genoeg gehad en staan op, skud Johan se hand en sonder om te wag, stap hy uit die restaurant na sy bakkie, klim in en ry sonder om terug te kyk.
Johan voel die woede in hom — Die klein pes, wie dink hy is hy — kom die gedagte by hom op.

Almal is daar om hand te gee met die laai van die meubels en die kartondose. Wanneer die laaste meubelstukke in die vervoerwaens gelaai is vra Laurie — “Is dit nou alles Dawid?”
“Die huis is leeg Laurie, Louis se lewe is nou af van hierdie grond af, net sy dood is nou hier.”
Sy kyk hulle in die oë en sy is eerlik as sy sê — “Alles sal reg wees met julle, doen julle werk soos altyd. Daar sal ʼn nuwe voorman kom in ʼn dag of twee. Werk mooi vir hom want julle sal eintlik vir my en vir Selma Townsend se seun Matthew werk.”
Sy wonder oor hierdie stelling van haar, is alles hier hare en Matthew s’n? In haar weet sy, dit is nie want daar is ʼn ander seun iewers en sy weet sy moet hom vind en die gedagte troos tog effens.
Met onsekerheid in haar probeer sy hulle troos — “Oom Joos sal julle geld bring die einde van die week, hy sal na julle kyk tot die nuwe voorman alles oorneem.” Hul verslaentheid dwing Laurie terug in die diepe hartseer wat sy die afgelope dae in haar dra.
Die laaste kyk op na die sandsteen huis as sy die draai by die spruit vat, stem haar weemoedig. Dit is haar eerste huis wat sy afgee en sy draai die motor se neus in die rigting van The Buttress.
Nou vir die pak van haar en haar pa se eiendom, sy weet dit behoort makliker te wees want dit ken sy en dit is altyd hulle eiendom. Nie soos oom Louis se besittings wat sy nie weet wie se eiendom dit regtig is nie?
Die pak van die huis inhoud, haar en haar pa se klere en besittings gaan verby asof sy inpak omdat sy en hy verhuis en deurgaans is die verligting in haar. Wat maak die grond en die huis saak, haar pa kom met sy lewe en sy vryheid uit hierdie gemors uit. Almal, behalwe oom Louis, kom moontlik met hul lewens en vryheid uit hierdie gemors.
Sy voel hartseer en die hartseer dwing haar soms om eers op te hou pak sodat sy tot haarself kan kom maar sy pak die reuse taak weer aan, sy weet daar is geen omdraai nie. Sy soek nie teruggaan na die verlede nie want daar is nou geen geloof in haar oor, oor die egtheid van enige iets in haar verlede nie. Sy wil nou vorentoe gaan, na die volgende maand, jaar… drie jaar en meer en dit wat die tyd sal bring, dit weet sy.
Sy sluit haar pa se laaikas se laaie oop met die sleutels wat sy op sy bedkassie vind en trek elke laai oop om seker te maak dat daar net klere in die laaie is. Sy voel die verbasing in haar as sy onder haar pa se klere in die onderste laai van die laaikas ʼn gesluite hand kluis vind wat in die laai vasgeskroef is. Laurie besef skielik dat sy baie min van haar pa se intieme sake weet.
Wat is in die kluis dat hy haar nooit eers ingelig het oor die bestaan daarvan nie? Wat wou haar pa so dig toehou, ʼn pistool, briewe? Sy voel die vrees in haar, wat is in die kluis wat haar pa nie met haar wou deel nie?
Laurie wonder of dit dokumente is of briewe van haar ma, of ander dokumente wat lig op die geheime kan werp? Laurie besef dat sy voor ʼn geweldige besluit staan, soek sy die sleutel en maak sy die kluis oop of laat sy hom toe en wag sy vir toestemming van haar pa? Haar sin vir regverdigheid neem oor. Die inhoud behoort aan haar pa, nie aan haar nie, as hy dit met haar wou deel sou hy dit jare gelede al gedoen het. Sy stoot die laai toe, sluit al die laaie en sit die sleutels in haar sak. Sy weet toegedraai in plastiek en toegesluit in die stoorgeriewe sal dit veilig wees totdat sy besluit wat om te doen.
Laurie weet ook, die feit dat haar pa dit wat in die kluis is, versteek het en geheim gehou het, sê iets en in haar is daar geen begeerte om vandag uit te vind wat daardie iets is nie.
Sy maak die pakkery die einde van die tweede week klaar en wanneer die vervoerwaens verdwyn om die dennebos, groet sy almal wat haar lewe tot nou gevul het. Sy gee hulle dieselfde boodskap wat sy oom Louis se mense gegee het. Sy weet nou daar sal definitief binne ʼn dag of twee ʼn voorman kom, nie ʼn Matthew of Johan aanstelling nie, maar ʼn aanstelling wat Joos verkry het deur ʼn hofaansoek wat hy namens die boedel ingedien het.
Skielik is die las van die plaas van haar af, die las van skuld, as daar skuld oor die plaas is, is dit weg en sy is verlig.

Joos skakel haar en deel haar mee dat die interdik uitgereik is aan Johan en Matthew om hulle die plase te belet. Joos lig haar ook in dat die plaaslike polisie hoof bevestig het dat die polisieman wat by haar pa waggehou het en haar voor sy kantoor dopgehou het, nie deur hulle daar geplaas is nie. Ook dat hulle geen kennis dra van enige sake teen haar pa nie. Hy het wel te kenne gegee dat die saak moontlik deur ʼn ander polisie eenheid hanteer kon word.
Met die bevestiging het Joos, Johan skriftelik in kennis gestel dat hy ʼn interdik teen hom en die Suid Afrikaanse Polisie sal verkry as hy enigsins agterkom dat Laurie verder agtervolg word. Hy het hom ook in kennis gestel dat hy verder slegs met Matthew Townsend, of sy regsverteenwoordiger sal deel.
Die feit dat Joos met sy navraag by die plaaslike polisie vasgestel het dat daar geen aksies van die Staat se kant aanhangig gemaak is nie, versterk die vermoede by beide Laurie en Joos dat Johan of op sy eie handel of dat die ondersoek dalk deur die Veiligheids Polisie hanteer word.
Laurie gee al haar sake oor aan Joos, as daar ooit bewys kom dat Matthew die grond moet kry, sal Joos dit hanteer. Sy weet vir eers wil sy niks daarmee te doen hê nie, nie as sy sonder skaduwees die toekoms wil ingaan nie.
Sy vra Joos weer en sy weet die is die laaste keer, of sy die kontrak soos hulle bespreek het moet nakom en hy is beslis —
“Gaan na die plaas Laurie en gaan kry die waarheid by die getuies. Soos ek vroeër gesê het, die nota van Gregor Armsby kan negatief op jou pa reflekteer en ons moet die moontlikheid van enige verdere sake rakende poging tot moord, vir eens en vir altyd uitwis en nie wag totdat dit ons later weer inhaal nie.”
Dit is reg met haar en sy maak reg om eers haar pa te gaan sien voor sy na Matthew se plaas in die wolke sal gaan.
Dit verbaas haar egter nadat Johan die boodskap gekry het dat hy onder geen omstandighede verder direk met haar moet handel nie, hy wel twee dae later by die hospitaal opdaag met die reggestelde getekende kontrak van Joos.
Hy vra haar niks rondom die plase nie en sy sê hom niks. Die hardheid om die dun lippe wys dat hy omgekrap is en Laurie weet dit is die feit dat hy en Matthew die briewe en die hofinterdik gekry het. Die boodskap daarvan was duidelik — Laurie is nie meer betrokke by die plase nie, alle sake moet met Joos bespreek word en nie hy of Matthew mag die grond betree nie.
Johan besef hy het die mensie onderskat, soos hy ook lank terug met ʼn ander vrou gedoen het en hy weet dat hy baie versigtig moet wees. Laurie is ʼn slim mens, ʼn mens wat geen draaie loop nie, wat eerlik is en nie as gevolg van ʼn leuen in ʼn hoek gedryf kan word nie. Dit het hy geleer uit haar oopmaak van alles aan die prokureur. Hy weet dat sy eie oorhaastige optrede en uitlatings hom en Matthew dalk nog sal inhaal. Dalk nog kan veroorsaak dat hulle geen verweer sal hê as sy besluit om uit die werkskontrak voorwaardes uit te stap nie.
Hy herroep Joos se woorde in die brief — Dit verbaas my dat ʼn man van die gereg, so openlik kan fouteer. Jy weet en ek weet, beide die kontrakte is onwettig, asook julle aantygings. Wees versigtig, baie versigtig. As julle aan my mense vat, vat julle aan my en my gemeenskap. So los Laurie en Nathan Kilber uit — en hy respekteer die waarskuwing — vir nou.
“Waar sal jy wees tot jy Lesotho toe gaan.” Laurie weet Johan is bang sy sal verdwyn.
“Ek sal nie verdwyn nie, ek het my woord gegee.”
“Jy het jou pa verskuif.” Kom dit beskuldigend.
“Hy is nie meer deel van die kontrak nie, waarom u kommer?”
Hy ignoreer die vraag met die draai van sy kop. “Hier is al die besonderhede — jy sal veilig wees by Matthew… hy is ʼn goeie mens…”
Laurie weet, hierdie man is ʼn uiterste sielkundige manipuleerder en sy moet ook haar rol versigtig speel. Sy kan op geen manier Johan en Matthew toelaat om te weet wat sy en Joos weet en beoog nie. Een oomblik wonder sy — Hoe sal hy weet Matthew is ʼn goeie mens as hy hom twee weke gelede vir die eerste keer ontmoet het?
Sy kyk hom in die oë en sê: “Ek sal, ek weet wat my belofte vra en dit sal ek doen.”
Johan kyk terug in haar oë en die venyn is terug — “Wees verseker dokter, of jy en Matthew ʼn kontrak het of nie, as ek bewyse van gemene spel kry sal ek nie een oomblik huiwer om jou en jou pa te laat arresteer nie.”
Daarmee draai hy om en stap weg sonder om te groet. Hy weet, hy sal elke tree wat sy gee, een tree agter haar wees. Een of ander tyd gaan sy die inligting kry wat hy wil hê en hy sal daar wees om te doen wat hy wil doen.

Laurie ry Johannesburg toe, neem ʼn vliegtuig na Namibië en gaan sien haar pa op die vlaktes by Keetmanshoop. Hy is rustig en ontspanne, die tekens van sy trauma van ʼn paar weke gelede is weg, hy pas in die Bruyns gesin se lewe asof hy daar hoort, altyd daar behoort het en hulle is albei gelukkig.
Sy bly vir ʼn week by hom op die Namibiese vlaktes, geniet die nabyheid, lief hom en weet dat niks te veel gevra sal wees vir die veiligheid en geluk van die mens wat haar lewe so ryk gemaak het nie. Hy praat oor Matthew, die bietjie wat hy onthou en Laurie weet daar was liefde, onmeetbare liefde vir Matthew.
Hy huil sy hart weer en weer uit oor sy boesemvriend Louis Olivier en die verlies en hartseer in haar pa oor die een persoon wat alles reggehou het vir Nathan en haar, breek Laurie se hart. Die beslistheid om hulle wat sy dood verhaas het elke duim te beveg, bly in haar.
Sy, Sally en James Bruyns gesels oor die gebeure wat haar so onherroepbaar deel gemaak het van die gesin, die ingryp in Jonah se lewe, die verlies van Richard, die felheid van die vonnis teen Zuluika — en dit dwing hulle terug na waar haar vriendskap met Zuluika begin het tot tien jaar tevore se hartseer gebeure.
Laurie herroep weer daardie dag in haar dertiende jaar toe oom Louis se lewenslange vriendin, toe die hoof van die Greytown Kinderhuis, Zuluika Zuess na oom Louis gebring het. Die oombliklike aangetrokkenheid tussen hulle en die susterskap wat tussen hulle ontstaan het. Hulle gesels oor hoe Zuluika op dertien uit haar ouerhuis gestap het en by die Greytown kinderhuis gaan vra het om daar te woon.
Hulle harte breek by die herroep van haar vertelling oor haar lewe in ʼn huis waar alles oor kleur gegaan het. Waar die blonde hare en blou oë Hitler ideologie as ʼn godsdiens bedryf was. Waar sy met haar swart hare en onmaats oë as onrein uitgeskel was deur haar pa.
Laurie herroep Zuluika se vreugde wanneer sy vertel het dat haar pa dit duidelik gestel het in die kinderhof dat hy haar nooit weer in sy lewe wil sien nie. Daardie miskenning wat haar vryheid en liefde by oom Louis en later by Rudolph gegee het.
Hulle huil oor daardie perfekte liefde wat verkwis is daardie dag toe Rudolph in ʼn kaping doodgeskiet is. ʼn Kaping wat almal glo ʼn beplande moord was op hom as ʼn persoon van kleur wat met ʼn blanke vrou getroud was.
Hulle huil saam by sy graf vir hom en vir Zuluika wat in haar ontsettende hartseer albei die jongmans voor die Pretoriase Hooggeregshof doodgeskiet het met die wapen waarmee Jonah die daad wou pleeg.
Hulle bid saam vir ʼn wonderwerk vir die bevryding van Zuluika wat ʼn lewenslange vonnis in Pretoria uitdien.

Laurie neem afskeid van haar pa. Sally en James Bruyns verseker haar dat hy veilig sal wees en sy weet hy sal. Vir eers weet sy nie wat die toekoms die volgende paar maande vir haar gaan inhou nie, sy sê hom dit en hy is tevrede.
“Ek gaan pa terugbring huis toe so gou ek kan.”
“Moenie haas nie nooi, vir eers is ek tevrede hier in die stiltes, dit is goed vir my. Bel as jy kan — ek gaan verlang na jou.” en sy beloof.
Wanneer sy afskeid neem op die lughawe, sê James Bruyns dit vir haar — “Veg die ding Laurie, veg dit met al jou krag en moet nooit glo dat die regstelsel dit vir jou sal doen nie, want dit sal nie.”
Zuluika se lot wil haar versmoor en sy sê dit duidelik: “Ek glo aan geen regstelsel se regverdigheid nie oom, ek sal self die uiteinde van die gemors bepaal.”
Sy gaan terug Suid Afrika toe, Ladysmith toe en teken ʼn kontrak met Dokter Danie Berg wat by haar sal oorneem, sy is verlig dat daar iemand is wat haar werk sal voortsit.
Sy neem afskeid van haar kollegas en haar hart breek — Sy gaan die mense mis. Laurie weet, terugdraai kan sy nie, dit is ʼn tussenspel in haar lewe, ongeag hoe kortstondig dit gaan wees en wat daar vir haar aan die anderkant van die majestueuse berg wag — en sy voel gelykertyd ʼn onsekerheid en ʼn opgewondenheid in haar.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed