Waar Liefde Begin – Hoofstuk 4
Hoofstuk 4 — Die Begin van die Tussenspel
Laurie sluit haar oë en sit een oomblik stil in haar motor voor sy vertrek, — Here U weet beste, U het nog altyd na my gekyk en ek het geen rede om te glo dat U nie verder na my sal kyk nie — hou U hand oor ons — asseblief.
Sy skakel die motor aan en vat koers in die rigting van die Lesotho Koninkryk — Kom wat wil Matthew Townsend — my sal jy nie onderkry nie, flits dit weer deur haar gedagtes en sy glimlag. Sy weet dit is meer as vyf ure se ry, sy vat die stuurwiel vasberade vas en versnel haar spoed.
Die pad deur die pragtige berge lig Laurie se gemoed — Soveel prag in een land — flits dit deur haar gedagtes wanneer sy opkyk na die kranse van die majestueuse Drakensberg. Die gedagte aan Matthew is terug — Hy was so naby en tog wêrelde vêr.
Ure later gly haar motor geluidloos op teen die bergpad na die Sani Pas. Laurie weet dat haar luukse motor met sy viertrek kapasiteit geensins ʼn probleem sal hê om die pas oor te steek nie. Die pad is geteer en die toestande is droog en dit laat Laurie veilig voel.
Die pad daal af van die Sani Pas se meer as twee duisend agt honderd meter bo seespieël na Mokhotlong. Voordat sy by Mothotlong kom is die bord met die naam ‘Emafweni’ voor haar in die pad en dit bring skielik ʼn beklemming in haar — Wat wag vir my hier in die berge aan die voet van die hemel? flits dit deur haar gedagtes. In haar weerklink Johan se woorde — Jy sal veilig wees, Matthew is ʼn goeie mens — en sy bid dat dit so sal wees. Laurie dwing haarself tot klamte, sy weet Joos sal tred hou met haar en haar welsyn.
Die pad kronkel saam met die voue van die berg en die klowe vir kilometers teen die berg. Wanneer sy opkyk na die kruin, sien sy die laaghangende wolke wat die kruin omvou en onwillekeurig gaan die woorde ‘tussen die wolke’ deur haar gedagtes.
Sy sien die wuiwende grasveld so vêr haar oog kan sien teen die klowe, maar ook die aangeplante lande wat netjies binne die heinings staan. Soos Joos se navorsing aangedui het, is dit duidelik dat Matthew besig is om die bewerkbare grasveld om te skakel in voedsame weiding verbouing en sy is dankbaar vir die inligting wat hy haar gegee het.
Skielik is die opstal voor haar en die netheid van alles om die opstal, om die waenhuis en store val haar op. Haar blik bly op die sandsteen opstal met die grasdak. ʼn Ou opstal, baie oud weet Laurie, afgelei van die tipiese boustyl van die vroeë negentiende eeu — wye stoep reg om die opstal met talle vensters en sy-deure wat uitloop op die stoep.
Sy kyk op teen die helling van die berg agter die huis en sien die reuse krag pilare en sy voel ʼn verligting dat daar wel krag is. Skielik is die son se strale vir ʼn wyle agter die wolke en Laurie voel die eensaamheid in haar soos soveel keer tevore wanneer sy snags alleen langs haar pa se rukkende liggaam gesit het, maar nou skud sy dit af — vandag en môre en elke dag wat sy hier sal wees, is daar nie plek vir haar ander lewe se vrese nie.
Die oomblik toe sy stop kom Matthew Townsend dadelik uit die skuur gestap en Laurie wonder of hy gewag het vir haar koms, en of dit net die enjin geluide is wat hom gewaarsku het dat sy opgedaag het.
Matthew sien haar uit die motor klim en sy is die prentjie wat hy in sy gedagtes gekoester het die afgelope maand — skraal, vroulik en perfek. Geklee in ʼn langbroek wat noupassend om haar goedgevormde bene en heupe pas, met ʼn lemmetjie groen trui waar ʼn wit kragie oor uitsteek. Hy weet op die oomblik dat groen en wit, tesame met haar swart hare sekerlik een van die mooiste kombinasies is wat hy ooit gesien het. Hy voel die afwagting stil raak in hom — sy is hier.
Sy druk die knoppie op die sleutel sodat die kattebak oopgaan maar bly staan en wag langs die motor vir hom. Haar oë volg hom soos hy oor die werf aangestap kom en sonder dat sy dit kan keer word sy weer bewus van sy aantreklikheid, van die krag in sy liggaam wat onder die kakiebroek beweeg, van sy manlikheid maar dit is die ongelooflike blou oë wat hare gevange hou. Sy onderdruk die vreugde in haar met die realiteit wat die afgelope weke haar lewenslus gesmoor het — sy is hier vir een rede en een rede alleen, die feite wat haar pa vry sal maak, daarna sal sy weer oor Matthew dink.
“Hallo, waar sal ek my tasse heen neem?”
“Wag ek help…” Hy stap nader en Laurie volg sy bewegings net toe die geluid van die gaasdeur wat oopswaai haar bereik en ʼn klein seuntjie oor die stoep gehardloop kom met arms wat in ʼn omhelsing swaai. “Mamma!, mamma!…”
Laurie het geweet van die seuntjies maar word onkant gevang, en is net betyds om hom te vang toe hy deur die lug seil tot in haar arms in. Sy voel sy warm armpies om haar nek gaan, voel die traantjies teen haar wang en hoor die klein stemmetjie —
“Mamma is terug!,” en sonder dat sy weet waarom, sê sy sag teen die wit koppie. “Ja my liefie, mamma is hier.”
Die volgende oomblik kom nog ʼn klein seuntjie waggelend deur die deur, gevolg deur ʼn skraal ou vroutjie en Laurie weet dit is Matthew se twee jaar oue outjie.
Sy kyk op in die oë van Matthew en merk die verslaentheid naak in sy oë en Laurie weet dat hy die kluts totaal en al kwyt is. Dat wat ook al sy beweegrede was om haar hier op sy plaas te kry, hy nie rekening gehou het met die seuns se reaksie nie — en sy kry hom skielik jammer.
Die waggelende outjie steek sy hande uit na Laurie en sy hoor die baba stemmetjie — “Mamma…”
Laurie buk vorentoe en met haar ander arm tel sy die huilende seuntjie op. Matthew Townsend staan versteend — Wat het ek aangevang? flits dit deur sy kop en stap vinnig na vore en neem die jongste outjie uit haar arms.
Die oomblik wat hy probeer om die groter outjie by haar te vat, klou hy net meer aan Laurie vas en skree sy weiering om gevat te word uit. Laurie sê sag — “Los hom, ek is nou hier — sekerlik ook vir hulle.”
Hulle staan teenoor mekaar, totaal woordeloos met ʼn duisend gedagtes wat deur hulle gaan en albei weet die is ʼn bepalende oomblik wat ʼn impak op die res van haar verblyf sal hê. Matthew herwin sy balans en steek sy hand uit na Laurie — wanneer hy haar hand in syne voel is die skok en vreugde daar — Sy is regtig hier.
“Hallo” — skielik is Matthew woordeloos, hy kan nie dankie sê nie, sy is hier oor sy haat en sy versteekte agenda, nie omdat sy hier wil wees nie.
Laurie sien die twyfel en sy verleentheid, sy weet wat hy dink en dit verbaas haar dat sy op die oomblik bitter min wrewel teenoor hom voel.
“Hallo, jy hoef niks te sê nie.”
In Matthew kom lê die pyn — Sy haat my, hoe kan hierdie reëling ooit werk?
Laurie stap om die motor na die oop kattebak en haal een van die tasse uit en wag vir Matthew om te beweeg. Matthew kom stram aan die beweeg en lig die grootste tas uit die kattebak, draai om en loop voor haar uit in die rigting van die huis, met ʼn huilende seuntjie wat bo-oor sy skouer probeer om by Laurie te kom.
Sy skud die seuntjie op haar heup effens hoër op en stap agter Matthew aan oor die groen gras na die wye stoep.
Matthew kom tot stilstand by die ou vrou, sit die tas neer en sit sy arms om haar skouer — “Hierdie is my moeder Metando.”
Laurie voel respek vir Matthew, die trots waarmee hy die ou dame voorstel, geen vrees of terughouding, al weet hy dat Metando een van die persone was waarmee hulle Laurie gedreig het, en in die gebaar lees Laurie die eerlikheid wat sy hoop Matthew sal hê.
Sy sit die tas neer en neem die ou vrou se hand in hare — “Ek is Laurie, ek is baie bly om jou te ontmoet moeder Metando.” Hulle kyk mekaar in stilte in die oë en dit is vir Laurie of haar geheue terugblaai in haar verlede in, die gevoel van ‘ken’ van die vrou is in haar, — sy ken die ou mens — flits dit deur haar gedagtes.
Daardie een sekonde flikkering in die ou vrou se oë, gevolg deur die effense terughouding, en Laurie weet die vrou onthou haar maar die terughouding is duidelik Johan en moontlik Matthew se werk. Laurie laat dit verby gaan en volg die ou vrou wat haar met die wuif van haar kop nooi, die huis binne, ʼn gebaar soos wat ʼn moeder sou doen.
Die vertrek is in ʼn skemer donkerte gehul en Laurie se oë vat ʼn paar sekondes om aan die skemer gewoond te raak. Sy merk die groot oop kombuis met die AGA koolstoof waarop verskeie potte staan, die groot tafel met die agt stoele, die kaste met die loodglas deure — vir een oomblik is sy van stryk af — die kombuis uit haar kleintyd op Buttress. Sy ruk haar gedagtes terug na die werklikheid, sy weet sy moet verseker nie dat Matthew haar verwarring sien nie. Vir een oomblik is ʼn ander gedagte in haar — al is die kragdrade buite duidelik sigbaar — is hier ooit elektrisiteit in die huis?
Sy draai om en haar oë volg Matthew as hy deur die vertrek stap. Sy sien die eetkamer met die groot eetkamer tafel, die gehekelde tafeldoek, die sterk leer meubels, die blink gepoleerde houtvloere en sy weet hier is so baie ooreenkomste met die huis wat sy kleintyd geken het. Die gedagte is in haar — wie se tradisie is hierdie? — Matthew se kinder onthou tradisie, of die van die mense wat hom groot gemaak het? — maar sy weet ongeag — dit is sy tradisie.
Hy loop vooruit in die skemerte van die vertrek en gaan in by ʼn deur wat uit die eetkamer oopmaak. Wanneer sy die vertrek betree sien sy die groot dubbelbed met die lappies kombers en die kraakskoon laken wat bo-oor die lappies kombers gevou is. Die lappies kombers bring die beeld van oom Louis by haar op en sy verlang.
Haar blik gaan onwillekeurig na die skildery teen die muur bokant die bed en dit slaan haar asem weg want sy ken die toneel — dis die Tugela waar hy by die Putterill spruit invloei. Sy hoor haarself haar asem skerp intrek en sy staan versteend.
In die feit dat hy nie omdraai om na haar te kyk nie, weet Laurie, die toneel is bedoel om haar op te val, miskien te ontstel en daar is ʼn vasberadenheid in haar, Matthew sal haar nie onderkry nie, skud sy die gevoel van oorweldiging van haar af.
Matthew hoor hoe sy haar asem intrek en dwing homself om stil te staan, die vreugde is in hom — sy ken die toneel, sy onthou dalk tog iets van hom, van hulle verlede saam. Hy dink aan die dae wat hy spandeer het om alles vir haar voor te berei. Hoe hy besluit het om die skildery in haar kamer te hang, die skildery wat hy jare terug geskilder het van die een toneel waarna hy nag-na-nag in sy drome weggevoer was. Hy voel die bekende tintel in sy hand, die hand wat ʼn onbekende maatjie se hand vasgehou het en hy voel vreugde.
Laurie skuur by hom verby en sit haar tas op die vloer langs die wastafel neer, hy voel haar hitte aan hom raak, en hy maak sy oë vir een sekonde toe. Sy verskuif die seuntjie op haar heup om die ander steeds huilende outjie ook uit Matthew se arms te neem maar die mannetjie in haar arms gryp albei haar arms vas en weier om te laat gaan.
“Kom, kom alles is nou reg, mamma is nou hier.”
Laurie wil die seuntjie neersit op die bed maar hy klou vir lewe en dood. Sy gaan sit met hom op die bed en sus hom sag heen en weer terwyl sy aanhoudend sag sê — “Toemaar mamma is hier.”
“Hulle name is Christopher en Kyle,” kom dit sag en hy knik in die rigting van die seuns en sy koppel Christopher aan die ouer outjie op haar skoot en Kyle aan die kleinman in sy arms.
Matthew staan nog een oomblik na die toneel en kyk voordat hy uitstap met die huilende kleinding styf teen hom vasgedruk. In hom is ʼn woede teenoor die hele wêreld — hulle wat hom in die situasie gesit het, sy wat gesê het dat sy hom liefhet en toe hom en die seuns net so gelos het en weggeloop het met ʼn ander.
Hy stap uit in die sonlig met die huilende seuntjie, oor die grasvlaktes teen sy berg op — Gaan my ellende nooit eindig nie — snik hy teen sy seun se blonde koppie. Hy bly daar in die veld tot die skemerte ʼn kalmte in hom en sy seun bring, dan stap hy stadig terug met die nou sluimerende seuntjie in sy arms.
Laurie vertoef ʼn wyle met Christopher in die kamer terwyl twee jongmans saam met die ou vrou die res van haar bagasie na die kamer bring. Hulle groet eerbiedig en sit die tasse langs die bed neer.
“Moet ek die lig aansit?” vra die ou vrou saggies.
“Asseblief?” Laurie is verlig en sy is dankbaar dat daar wel krag is, sy sal wel later vra oor die koolstoof se gebruik.
Laurie wonder of daar enige selfoon opvangs is en betig haarself omdat sy dit nie getoets het toe sy gestop het nie. Sy dink dadelik aan haar oproepe met haar vader en Joos om hulle op hoogte van haar omstandighede te hou, maar ook haar maandelikse gesprek met Zuluika wat sy nooit kan mis nie.
Sy weet as daar geen opvangs is nie, sy ʼn verskoning moet kry om minstens elke tweede week iewers in ʼn selfoon opvangs gebied te wees. Haar pa en Zuluika se oproepe wil sy nie mis nie en sy wil beslis nie hê dat Joos die polisie stuur om te kom seker maak sy is veilig nie.
Laurie vra oor die olie lamp wat in haar kamer is.
“Matthew hou van die lamplig in die aand, hy sê dit bring gelukkige gedagtes. Daarom het hy ook vir jou ʼn lamp ingebring.”
Laurie hoor die buiging in Metando se stem as sy van Matthew praat en sy weet die vrou het Matthew lief. Laurie voel ʼn vreugde in haar — sy onthou die olie lampe van haar kleintyd — en sy weet, hy onthou dit ook.
“Kan ek help — met ete miskien?”
“Alles is reg in die kombuis, jy kan maar na klein Christopher kyk.” Laurie voel ʼn tevredenheid oor die gemaklike manier waarop sy en Metando hulle ontmoeting begin het, al weet sy dat daar ʼn effense terughouding is. Sy weet dit is die vrou se vertroue wat sy moet wen.
Wanneer Matthew op die stoep kom, hoor hy Christopher se lag en hy skrik daarvoor — wanneer het sy kind laas gelag? Met die instap in die kombuis, sien hy die lamp in die badkamer en as hy na binne loer, sien hy haar daar op haar knieë voor die bad spelend met sy seun en dit vat aan hom waar dit seermaak. Hy hou haar dop as sy Christopher afdroog en sy nag kleertjies aantrek. Sy vryf sy haartjies droog en kam dit in ʼn krul op sy kop, Christopher vryf dit dadelik meer regop tot haar vermaak en albei skater van die lag.
Sy tel hom op en as sy omdraai ontmoet hul oë. Matthew voel die skok in hom, draai om en stap voor Laurie en Christopher terug na die kombuis waar Metando reeds die tafel gedek het en die kos in die opskep bakke wag.
“Kom ons eet terwyl hulle nog wakker is,” sê Matthew gejaagd, net om iets te sê. Om Laurie daar met sy twee seuns te sien maak ʼn begeerte in hom wakker wat hy weet nie kan wees nie. Sy is hier in sy huis as gevolg van ʼn baie dwase besluit wat hy in sy woede gemaak het. Hy weet reeds weke lank dat dit verkeerd is maar oor al die weke kon hy nie die krag kry om die besluit ongedaan te maak nie. Nee, hy wil haar hier onder sy dak hê, hy wil weet of sy onthou want hy onthou haar en die vreugde wat dit bring — en hy wil daardie tyd terug hê.
Hulle gaan sit elkeen met ʼn seuntjie op die skoot en Metando gee die twee bordjies kos wat sy vir die seuntjies ingeskep en koud gemaak het vir hulle aan. Die rustigheid wat die gebaar bring, vou om Laurie en vat deel van die spanning in haar weg. Alles sal goed verloop, ʼn maand of twee op die meeste en sy sal haar bewyse hê. Dan sal sy en haar pa vry wees om met hulle lewens aan te gaan.
Sonder om na Matthew te kyk begin Laurie Christopher help om sy kos op sy lepel te kry en so eet die seuntjie self in stilte voort. Laurie weet in ʼn paar dae sal die seuns normaal reageer en sal hul spanning verlig wees. Diep in Laurie is die verwyt — wat gaan van die twee seuns word die dag as sy die bewyse het waarvoor sy hier is en klaar is met die spel en weggaan?
Sy dwing die verwyt uit haar gemoed, dit gaan nou eers oor haar pa se veiligheid en oorlewing. Sy sal die seuns voorberei op die skeiding — sy het tyd, maar dit vat nie die verwyt weg nie.
Matthew aan die ander kant het ʼn geweldige stryd want die klein mannetjie bly die kos wegstoot en begin weer bitterlik huil.
“Laat ek hom vat,” sê Laurie.
Matthew wink dit weg, staan op en stap deur die vertrek na een van die ander deure wat uit die kombuis-sitkamer vertrekke lei.
Laurie hoor die sagte gemurmel van Matthew se stem en sy weet hy probeer die outjie tot bedaring bring. In haar is daar ʼn effense omgekraptheid omdat Matthew nie haar hulp wou aanvaar nie, maar ook ʼn teerheid vir die seuntjies wat ooglopend ʼn emosionele tyd agter die rug het en definitief nie gesond is nie.
Sy bly langs die kombuis tafel en gaan voort om Christopher te help eet. Wanneer Christopher se koppie knik besef Laurie sy nie weet waar hy moet slaap nie en as sy beweeg om op te staan voel sy hoe hy haar vasgryp. Sy weet dat hy vanaand by haar sal moet slaap.
Sy dra hom na haar kamer en met hom teen haar bors vasgedruk, gaan lê sy op die dubbelbed. Sy laat hom bo-op haar lê en neurie saggies terwyl sy hom liggies van kant-tot-kant wieg. In ʼn paar minute voel sy die lyfie ontspan en wanneer sy, sy sagte reëlmatige asemhaling hoor weet sy Christopher het die stryd teen die moegheid verloor. Sy staan versigtig op, vou die lappies kombers oop en sit hom in die bed. Sy vou die kombers styf teen sy lyfie vas en staan vir ʼn paar minute langs die bed om seker te maak dat hy vas slaap.
Laurie stap terug na die kombuis en wanneer sy aansit maak Metando die opskep bakke een vir een oop om haar te help om vir haar kos in te skep. Laurie ruik die heerlike aroma van die kos en besef hoe geweldig honger sy in werklikheid is. Met die eerste happie besef Laurie die aroma en die smaak komplementeer mekaar en val sy behoorlik weg aan die smaaklike gebraaide vleis, groente en gebakte aartappels wat Metando voorberei het.
Wanneer sy opkyk staan die ou vrou oorkant die tafel met afwagting op haar gesig en met opregtheid sê sy: “Dankie, Metando die kos is absoluut heerlik.”
Die gesig van die ou vrou verander in ʼn glimlag en daar is respek tussen die twee vroue — Laurie weet die ou vrou weet meer van versorg en huishou as wat sy ooit sal weet — en die erkenning wys in haar oë.
“Gaan jy eers hier by ons bly?”
Terwyl Laurie haar kop knik sê sy die woorde met oortuiging, oortuiging vir haarself, meer as vir Metando.
“Ja — ek gaan hier bly vir ʼn tyd, ons twee gaan nog lekker saamwerk in die huis, ek gaan jou help om die twee seuns te versorg.”
Die een sekonde agterdog is daar, gevolg deur ʼn glimlag. Laurie weet dit gaan tyd neem om die mensie se vertroue te wen, sy moet nie oorhaastig wees nie.
Laurie hoor die effense stilte in die kamer waar Matthew met Kyle ingegaan het en sy tel onwillekeurig die hoeveelheid deure wat uit die twee vertrekke lei — ses — en sy voel ʼn verligting in haar — tussen die deure moet daar meer as een badkamer wees.
Sy help Metando opwas en alles wegpak. Sy merk dat Metando vir Matthew ʼn bord kos op die warm rak van die koolstoof neersit en sy wonder of hy vannag sal eet.
Sy vra oor die koolstoof en Metando lag skielik amper sorgeloos. “Matthew sê mens kan net heeldag koffie hê as dit op die koolstoof kook, soos toe hy klein was.” So ongemerk kry Laurie nog ʼn brokkie uit Matthew se lewe en dit bring bevestiging dat sy lewe gelukkig is.
Metando sê nag en wanneer sy die buitedeur oopmaak sien Laurie ʼn ou man buite op die trap geduldig vir haar wag. Hy wink ʼn groet na Laurie en haar oë volg die twee terwyl hulle oor die werf in die rigting van die huise stap. Laurie weet, dit is die ander weldoener van Matthew se kleintyd.
Laurie wag nog ʼn kwartier in die kombuis maar besef dat Matthew nie gaan terugkeer nie. Sy stap deur na haar kamer en stoot die deur agter haar toe. Sy neem die vuurhoutjies, steek die lamp aan en skakel die elektriese lig af. Die reuk van die lamp olie bring skielik ʼn vergete herinnering in Laurie en sy weet iewers lank terug, het sy en Matthew ʼn lamplig gedeel.
Sy haal haar nagklere uit haar tas en sit dit op die bed neer, neem haar toilet sakkie en ʼn handdoek en stoot elke deur oop om vas te stel waar ʼn badkamer en ʼn toilet is. Die eerste deur langs haar kamer is ooglopend die seuns se kamer aangesien die bed vol speelgoed is. Laurie is verlig wanneer sy die volgende deur oopstoot en dit ʼn badkamer met ʼn bad, stort, wasbak en toilet geriewe is.
Sy vat haar tyd om haarself te was en stap verfris terug na haar kamer. In die sagte lig van die lamp kruip sy versigtig langs Christopher in en voel die tamheid in haar.
Sy voel die warm lyfie teen haar arm en die wete is in haar, ongeag wat tussen haar, Matthew en Johan aan die gang is, of wat nog sal gebeur in die toekoms, sy sal reg doen aan die twee klein seuntjies want hulle dra geen verwyt of skuld.
Haar gedagtes wil-wil wegdwaal na die ma van die twee seuns maar die slaap oorval haar.
In sy kamer agter die toe deur, veg Matthew nie net om die klein seuntjie te kalmeer nie maar om die gevoel in hom te kalmeer. Hy weet, dit is nie sy woede teenoor haar wat hom en die seuns gelos het wat hom op die oomblik die meeste pla nie, maar die onreg wat hy die mensie in die kamer oorkant syne aandoen — Wanneer het ek so ʼn monster geword — maal dit in hom.
In Matthew bly die wete, soos oor die afgelope weke, hy wil haar eers net hier hê. Ook weet hy as dit vir haar onuithoudbaar word sal hy haar laat gaan en alles vergeet. Dit het hy voor God beloof en hy sal daarby bly, maar vir eers wil hy haar naby hom hê.
Dit is na twaalf in die nag as Laurie wakker skrik van Kyle se gehuil. Versigtig staan sy op en sonder om aan ʼn kamerjas te dink, stap sy na die kamer waar sy Matthew se paaiende stem hoor.
Sy sien die grysheid op sy moeë gesig en sonder ʼn woord vat sy Kyle uit sy arms en sy skrik as sy die koors in die lyfie voel. Matthew wil nog protesteer maar haar dokter stem kom sag, maar ferm. “Die knapie is siek, gaan haal asseblief my mediese tas agter in die motor op die sitplek, my sleutels is op die wastafel in my kamer.”
Matthew weet skielik dat teëpraat nou net moeilikheid gaan veroorsaak en hy weet hy is te moeg om enige geveg met die vrou te wen as sy haar dokter stem gebruik, soos daar in haar sitkamer daardie verskriklike dag. Die ontsnap onder haar kwaai oë, is al wat hy nou wil hê.
Sy trek die huilende seuntjie teen haar vas en begin saggies sy ruggie vryf. “Kom, kom ou mannetjie, mamma is hier, toemaar, toemaar,” — fluister sy sag in sy oortjie — maar daar is geen verandering in die huilende seuntjie nie.
Matthew sit die tas op die bed neer en Laurie beduie dat hy dit oop moet maak. Sy vra vir die instrumente wat sy nodig het en Matthew oorhandig dit. Sy gaan sit op die bed en terwyl sy Kyle behendig teen haar vasdruk, soos net ʼn geoefende arts dit kan doen, vat sy, sy koors, ondersoek beide oortjies en luister na sy hartjie en longetjies.
In weerwil van Kyle se toenemende gehuil, kry Laurie tog reg om in sy mondjie te kyk en sy besef dat dit vol seertjies is en sy weet waar sy slegte eetlus vandaan kom.
“Hy het geweldig koors, dit kan ʼn komende kindersiekte, lugweg ontsteking of selfs iets meer ernstig wees. Vir nou gaan ek hom ʼn inspuiting vir die koors gee en ons gaan hom afspons tot die koors breek.”
Matthew gaan sit langs Laurie en vat Kyle by haar terwyl Laurie die inspuiting voorberei.
“Verder het hy seertjies in sy keel en mond en dit vererger net alles.”
Hulle werk sy aan sy deur die volgende twee ure om Kyle aanhoudend af te spons, nuwe koue water te gaan haal in die kombuis en die seuntjie rustig te probeer kry. Wanneer die koors uiteindelik breek, verval Kyle in ʼn rustelose slaap.
Matthew sit op die rand van die bed met die uitputting duidelik op sy gesig. Laurie kan sien hy het die einde van sy uithouvermoë bereik.
“Gaan lê jy by Christopher op my bed, ek sal hier by Kyle bly. Probeer ʼn bietjie slaap want ek kan jou dalk later weer nodig kry.”
Matthew kyk haar in die oë en wil nog teëpraat maar Laurie se dokter kyk, kyk die onwilligheid weg met ʼn groot oog trek en Matthew stap gedwee, maar ook verlig, uit die kamer.
Te midde van sy uitputting voel hy ʼn bewondering, en met ʼn glimlag op sy gesig vir die parmantige klein mensie, stap hy deur na haar kamer. Hy is geensins verbaas met homself dat hy geen verergdheid voel oor haar baasspelerige houding nie.
Hy voel die doodsheid in sy moeë liggaam as hy gaan lê. Hy vryf sy seun se haartjies op sy voorkop, hy ruik haar parfuum op die kussing, draai op sy rug en verval in ʼn droomlose slaap. Vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd voel hy gerus, voel hy of hy dit kan waag om net te slaap, want daar is nog iemand wat sal uitkyk vir hom en die seuns.
Laurie gaan kombuis toe en kry ʼn bottel vanaf die bottelrak wat sy gedurende die ete gesien het, sy ontsmet die bottel met warmwater en skielik waardeer sy Matthew se teorie oor die koolstoof. Sy lig die plaat en neem die houer met die steenkool en gooi die kompartement vol steenkool.
Sy voel aan die koffie ketel en besluit om vir haar ʼn beker swart koffie te skink. Wanneer sy die koffie in die beker sien besef sy dat dit ongelooflik sterk is en gooi nog ʼn bietjie kookwater by. Sy proe daaraan en die smaak is bitter maar heerlik, so sonder melk en suiker en sy weet, hierdie is haar mengsel solank sy hier op hierdie plaas is.
Laurie berei ʼn bottel melk, gemeng met ʼn ligte medisyne mengsel voor wat die seertjies in Kyle se keel en mond sal verdoof.
Sy vat haar beker koffie en gaan sit langs die slapende seuntjie in die bed. Sy ruik Matthew in die kussing en sy weet sy sal nie verder vannag kan slaap nie, daarvoor is haar kop te vol vrae en haar liggaam te vol gevoelens.
Sy is skielik eerlik met haarself en moet erken dat die ‘wonder’ oor die man die afgelope weke haar fassineer. Haar koms hiernatoe en sy moet erken dat hy ʼn diep indruk op haar gemaak het, maar net dit en niks meer nie. Sy is hier met ʼn doel — en dit is nie om romanties betrokke te raak by die persoon wat haar pa se hele toekoms bedreig nie.
Kyle skrik wakker en begin huil, Laurie gee dadelik die bottel met sy voeding vir hom en hy gryp dit vas maar wanneer die fopspeen die seer mondjie raak stoot hy die bottel weg. Laurie tel hom in haar arms en sit die fopspeen versigtig terug, sy weet die mond sal binne sekondes verdoof wees. Terwyl sy hom saggies heen en weer wieg hou sy die fopspeen versigtig in sy mondjie.
Hy veg nog vir ʼn rukkie maar begin skielik rustig aan die fopspeen suig en kan Laurie net met verwondering kyk na die pragtige mensie hier in haar arms. Weer wonder sy oor Mevrou Judith Townsend wat die pragtige kinders vir geld verruil het — of is daar ʼn kant van Matthew wat dit onmoontlik gemaak het vir die ma van die kinders om verder saam met hom te bly?
Sy verdryf die gedagte met geweld, sy wil niks meer van die man se verlede weet as wat sy nou weet nie. Definitief wil sy niks weet oor die romantiese deel van sy lewe nie. Sy lê die seuntjie versigtig neer, drink haar lou koffie klaar en sluimer in.
Met die eerste lig wat deur die venster inkom hoor sy die gewerskaf in die kombuis. Sy staan versigtig op, maak seker dat sy Kyle nie steur nie en stap na die kombuis. Metando en die ou man is druk besig om die koolstoof se as uit te krap en toe hulle haar opmerk stel Metando die ou man voor.
“Hierdie is my man Seshla.” Hy knik sy groet na Laurie.
Laurie weet hy het reeds alles gehoor wat Metando kon vertel en al weet sy dat sy bo alles begeer om met hierdie twee mense te gesels oor daardie onheil dag, moet sy eers wag tot sy hulle vertroue gewen het want as daar ooit ʼn hofsaak kom, wil sy verseker wees dat sy alles volgens die boek gedoen het.
Die volgende oomblik kom Matthew vervaard die vertrek ingestrompel. “Die melkery, Seshla ons moet aan die gang kom.”
“Hulle is klaar by die melkery Matthew, al die beeste is klaar gemelk, al die werk is klaar.”
Sy sien die verligting op Matthew se gesig en weet, die melkery en die beeste is die ernstigste deel van sy boerdery. Sy weet ook, met die kontrak wat hy het, hy nie minder melk kan lewer as waarvoor die kwota is nie.
Hy draai na haar en vra effens verleë omdat hy eers oor die melkery gevra het voor hy na sy seun gevra het.
“Hoe gaan dit met Kyle?”
“Hy is baie rustiger en die koors is nou onder beheer. Ek sal probeer vasstel wat presies verkeerd is sodat ons dit kan behandel.”
“Dankie,” en sy knik net haar kop — hoe min is dit in die emmer van haar en haar pa se skuld — as daar skuld is — voeg sy outomaties by die gedagte.
Elkeen gaan daarna sy eie rigting en na sy gaan stort het gaan ondersoek Laurie vir Kyle waar hy stil op die bed lê en met sy beertjie speel. Laurie maak haar diagnose, hy het mangel-en lugweg ontsteking wat vererg word deur uitputting van te min slaap.
Laurie begin dadelik met die behandeling en tesame met die wete dat sy vir eers genoeg medisyne het, besef sy ook dat sy dringend voorraad sal moet aanskaf omdat sy nie weet hoe gereeld sy in Ladysmith sal kom nie. Sy voel verligting toe sy besef dat sy ʼn goeie verskoning het om Ladysmith toe te gaan en sy glimlag — Jy sal my nie onderkry nie meneer Townsend.
Laurie probeer so gou as moontlik haar voete vind, ook vind sy uit hoe die roetine in die huis, die boerdery en die seuns werk en dit wat sy nie weet nie vra sy vir Metando.
Laurie sien dat Metando die kameraadskap geniet wanneer sy elke vraag gretig antwoord en al die inligting gee waaraan sy op die oomblik aan kan dink.
Metando neem haar deur die vertrekke in die huis en Laurie is verbaas oor hoe groot die huis in werklikheid is. Sy wys haar waar Matthew en die seuns se badkamers is, bevestig dat die kamer langs hare die seuns se slaapkamer is en wys waar die was en stryk geriewe is.
Sy sê met trots — “Matthew het alles hier gedoen. Toe ons vyf jaar terug hier gekom het, was alles stukkend en Matthew het alles self reggemaak.”
Laurie hoor die trots in haar stem en is beïndruk. Sy weet haar eerste indrukke van die opstal as ‘oud’ was korrek. Binne die huis is al die moderne geriewe wat ʼn mens benodig en sy weet dat Matthew alles vir sy vrou gedoen het — maar dit was nie genoeg nie.
Sy weet dit is dalk nie die weelde waaraan sy die afgelope jare gewoond was nie maar sy besef dat die eenvoud ʼn bekoring inhou. Oor Matthew wonder sy, is hy ʼn fortuinsoeker of is hy ook maar net in die gemors ingedompel want sy weet, hy het nie regtig ernstige finansiële probleme nie.
Laurie erken aan haarself die werk wat hy in die plek ingesit het bring ʼn gevoel van bewondering vir hom en dit strook nie met wat sy tot nou oor hom gedink het nie.
So word die ‘ontdekkings’ oggend ʼn speletjie vir haar, Metando en die seuns. Hulle hou Kyle binne die huis en sover as moontlik rustig op die banke of op die bed. Later begin sy met Christopher en Kyle speletjies speel wat albei die seuntjies terdeë geniet.
Metando vra haar: “Wil jy saamgaan na buite dan wys ek jou waar alles buite is?”
Laurie tel dadelik vir Kyle op en met hom op die heup en Christopher aan die hand, stap hulle agter Metando aan.
Metando wys met trots elke gebou en vertel vir Laurie ʼn stukkie geskiedenis oor elke gebou. Eerste die melkery — waar Matthew die nuwe melkmasjiene ingesit het — die skuur waar wintervoer tot teen die dak opgestapel is en die voerkamers wat uit drie individuele vertrekke bestaan, waar sakke met addisionele voer netjies tot dakhoogte gestapel is. In die stoor is daar twee trekkers en verskeie implemente.
“Jy moet jou motor hier intrek sodat hy uit die son kom.”
“Sal dit reg wees met Matthew?”
“Ja, dit sal reg wees, ek weet.”
Hoe meer Laurie sien, hoe meer beïndruk is sy. Matthew is nie ʼn lui boer nie en Laurie wonder of Matthew, Boerdery Bestuur gaan studeer het omdat hy altyd ʼn boer wou wees.
Sonder dat sy dit kan keer wonder sy weer hoe sy kinderdae was die eerste jare nadat hy weg is van die plaas af. Hy moes tog toe sy ma onthou het, die plase, oom Louis, haar pa en vir haar. Hoe het hy toe gevoel — verwerp, verlore?
Sy weet sy het nie antwoorde nie want sy self kan ook niks onthou van die tyd toe haar ma nog by hulle was, ook nie of sy werklik oor haar gehuil het nie. Sy weet dit was anders vir haar, sy was by haar eie pa, ʼn pa wat haar ongelooflik liefgehad het.
Terug by die huis, vat sy haar motorsleutels en stap met die twee seuns na haar motor. Sy ry ʼn paar keer om die huis tot hul vermaak voor sy in die stoor gaan parkeer, weg van die trekkers en implemente.
Terug in haar kamer maak sy seker dat Kyle nie enige verdere koue opdoen nie en speel met die twee seuntjies totdat sy Matthew se stem hoor. Sy merk die opgewondenheid by die twee seuns met die hoor van hulle pa se stem en hulle hardloop na die kombuis. Sy bly op die bed agter, onseker oor wat sy moet doen. Sy wil nie hê Matthew moet dink sy het op hom gewag nie, al weet sy hy was die hele oggend in haar gedagtes. Sy staan op en begin deurstap na die kombuis.
Matthew se gesigsuitdrukking verander dadelik waar hy met die seuns elkeen op ʼn arm staan toe sy ingestap kom. Hulle oë ontmoet vir ʼn paar sekondes en sy sien die vrae daarin. Sy wink dit weg met die skud van haar kop. Die swart kuif val effens oor haar voorkop en Matthew merk dit en daar is ʼn vae herinnering wat by hom opkom.
“Waar is jou motor?” Kom dit effens verleë.
Laurie weet waaroor die vrae in sy oë is. Die afwesigheid van haar motor. “Metando het voorgestel ek parkeer in die stoor. Is dit ʼn probleem?”
“Nee — definitief nie.” Kom dit eerlik terwyl hy haar in die oë kyk — “Ek het gedink dat jy weg is.”
Laurie kyk hom in die oë en sê ook eerlik — “Ek sal nie weggaan sonder om vir jou te sê nie… Matthew.”
Die hoor van sy naam laat Matthew effens sprakeloos, diep binne hom is die bekendheid terug.
“Dankie…” en met dieselfde vasberadenheid sê hy haar naam — “Laurie…” en die klank daarvan steek vas in haar.
Die twee seuns sit doodstil op sy arms en kyk van Laurie na Matthew. Laurie besef hoe vreemd die toneel vir die seuns moet wees en sy lag effens verbouereerd terwyl sy Christopher by Matthew vat.
“Kom julle twee karnallies, kom help my, my kamer opruim van al die speelgoed wat op die bed lê.”
Kyle gooi homself behoorlik in Laurie se arms en sy en Matthew moet net keer of hy val tussen hulle op die grond. Matthew vra effens verleë verskoning om te gaan was en verdwyn uit die kamer.
Aan tafel baklei die seuns om by Laurie te sit en nadat albei se eet stoeltjies aan beide haar kante gesit is, voer sy die twee seuns om die beurt.
Matthew weet hy moet dit eers net los, Christopher sal wel weer later uit sy ‘babatjie maniertjies’ kom. Nou is dit eers die simpatie en liefde wat hy van sy ‘Mamma’ wil hê en wat hy nodig het. Matthew maak verskoning om te gaan seker maak dat alles afgehandel en opgeruim is by die melkery en met ʼn laaste kyk na die drie mense by die tafel, stap hy amper onwillig na buite.
Dit val Laurie weer op hoe belangrike deel die melkery van die boerdery is en sy wonder, waar en wanneer, die melk gehaal word — en sy vra Metando.
“Nestlé kom tap die melk elke tweede dag agter die melkery by die koel tenks, baie vroeg in die oggend.”
Laurie is dankbaar vir die verduideliking, nou is die inligting wat sy by Joos gekry het spontaan met haar gedeel, ingeval sy haarself ooit weerspreek.
Laurie meet weer Kyle se koors en daar is steeds ʼn beduidenis van koors, sy besluit op ʼn bad vir die twee seuns en spons hulle net af. Sy wil nie ʼn kans vat dat Kyle weer ʼn terugslag beleef nie.
Sy vat die seuns na haar kamer en sit hulle in haar bed in die hoop dat hulle vinnig aan die slaap sal raak en tot haar verligting, so tussen die storie vertel deur en saggies sing, raak die twee na ʼn kort rukkie aan die slaap.
Sy stap kombuis toe en kry Matthew wagtend op haar.
“Jy kan gaan inkruip as jy wil Matthew, ek sal regkom met die seuns.” Skielik is die onsekerheid om sy naam te sê weg.
“Sal jy ooit saam met albei in jou bed inpas?”
“Ja ek glo dit sal maklik genoeg wees.”
“Ek is jammer oor die hele drama die twee dae.”
“Hoekom? Dit is maar hoe dit met kinders is.”
“Ja — jy is seker reg.”
Hy staan ʼn oomblik besluitloos voor hy ʼn besluit maak — “Dankie. Hoe lyk dit met ʼn koppie koffie?”
“Dit sal lekker wees dankie.” Sy sien sy behendigheid en wonder weer oor die vrou wat nie meer hier is nie — het Matthew ook klein dingetjies vir haar gedoen, of nie? — en sonder dat sy dit kan help voel sy jammer vir hom, meer as voorheen.
Hulle sit in die sagte lig van die lamp, rustig met net die koffiebekers wat soms raak teen die tafelblad. Vir Laurie is dit die natuurlikste ding wat sy die afgelope weke ondervind het en sy voel rustig hier.
Hy is al weg toe sy vroeg die volgende oggend opstaan en sy voel teleurgestel en sy berispe haarself — onthou hoekom jy hier is Laurie, en onthou wie Matthew is.
Sy gaan deur die oggend roetine met die seuns en sy weet dit is wat sy iewers in die toekoms wil wees, ʼn mamma. Laurie besef sy en Matthew sal gou moet praat oor presies wat haar rol hier is. Sy kan nie so doelloos vir ʼn paar maande voortgaan nie.
Twaalf uur die middag dui Metando aan dat sy die mans se middagete gaan wegbring veld toe en skielik is dit vir Laurie ʼn gegewe dat sy en die seuns by hulle pa middagete sal gaan eet. Kyle se koors is onder beheer en dit is ʼn heerlike sonnige dag. Metando is ewe inskiklik en vinnig word Laurie en die seuns se middagete ook in bakkies in die mandjie gesit.
Laurie tel Kyle op en Christopher stap al dansend langs haar met sy hand in hare. Sy merk hom op die trekker en die bewondering vir daardie regop beeld woel in haar — Dêmmit Laurie, jy is drie dae hier en jy vergeet waarom jy hier is — betig sy haarself.
Hy sien hulle en sy hart mis ʼn slag — Wat maak jy Matthew — berispe hy homself maar hy weet dit help niks, hierdie vrou doen iets aan hom of hy dit wil erken of nie — en dit is nie omdat Judith hom gelos het nie. Hy wonder as drie dae in haar geselskap hom so laat voel, waar gaan dit eindig.
Hy sluit die trekker af en saam met die mans stap hy vinnig na die koelteboom waar almal gewoonlik eet. Sy kyk afwagtend in sy rigting, so asof sy goedkeuring soek maar sy glimlag is genoeg en sy ontspan. Sy sit Kyle op die gras neer voor hy al waggelend na sy pa draf.
Matthew tel albei seuntjies op en bokspring met hulle in Laurie se rigting. “Hier julle twee rakkers, sit op die gras sodat ons kan eet.” Die seuns skater van die lag en die klank is die mooiste iets wat Matthew in die afgelope maande gehoor het.
Hulle eet in stilte en sy vang sy blik op haar, dit laat haar bloos en ook vir hom maar albei voel tevrede om hier te wees, so by mekaar. Laurie weet die is vir haar ʼn moet, ʼn instelling van vandag af, as daar niks voorval nie. Maak nie saak wat haar doel hier is nie — sy moet sorg dat sy seuns weer heel raak — probeer sy haarself flous.
Matthew voel die begeerte om haar van sy plaas te vertel wanneer hy sien hoe sy belangstellend na die omgeploegde land kyk — en hy weet nie waarom nie want hy het nooit enigiets oor die boerdery met Judith gedeel nie, daar was nooit belangstelling nie.
“Ek het op die oomblik vyf en sestig hektaar onder mielies, so vyf hektaar onder Kikuyu en nog so twintig hektaar waar ek tans waaigras het, wat ek ook in die volgende jaar of twee onder hoë voeding suiwelvoer wil kry.”
Met die swaai van sy arm wys hy na die grond agter die skuur en sê — “Daar onder het ek twee hektaar Japannese radys wat ek as voer aanplant.” Skielik bly hy stil en is dit asof hy wag vir haar goedkeuring.
“Ek is beïndruk, regtig beïndruk Meneer Townsend.”
Wanneer hy opkyk en glimlag vir die ‘Townsend’ kom daar ʼn glimlag in haar oë en hy lag effens verleë.
“Dankie Dokter Kilber.” Die gemoedelikheid is skielik tussen hulle.
“My melk gaan Nestlé toe, ek het ʼn kontrak met hulle en hulle kom tap dit elke tweede dag.”
Laurie verswyg die feit dat sy reeds weet want ooglopend is hy regtig in sy skik om haar te vertel.
“Baie goed, so ek sal ʼn Nestlé sjokolade koop elke keer as ek in die dorp is, net om seker te maak dat jou melk in aanvraag bly.”
Hy kyk haar skeef aan en as sy lag, lag hy saam. Die eerste humor tussen hulle, dink Laurie.
Met die ete klaar, staan die mans op om terug na hul onderskeie take te gaan.
Die terugstap deur die gras na die opstal en die bad van die seuns is vir Laurie pure genot. Met die aansit vir aandete kry Laurie weer die gevoel van gemaklike samesyn tussen haar, Matthew en die seuns. Dit is vir haar amper onmoontlik om te glo hoe die opset in drie dae haar verander het. Hoe die samesyn in drie dae haar effens weggestuur het van haar doel hier, maar sy verdryf die skuldgevoel — sy moet eers almal se guns wen.
Hulle twee drink weer laataand koffie by die tafel, en albei voel die onwilligheid om uit die warm kring te loop. Helaas is dit sy wat weet dat hy moet gaan slaap daarom staan sy op en sê sag — “Lekker slaap, sien jou môre oggend.”
Matthew weet hy sal nie môre oggend loop voor sy op is nie. Hy wil sy dag met haar begin, al sal hy dit nooit vir haar sê nie. Hy kyk na sy hand wat skielik ʼn tinteling het — my ‘hand-hou’ maatjie — gaan dit deur sy gedagtes. Nou moet hy glo dat sy liggaam haar onthou en hy weet, al glo hy nie daaraan nie, iets misterieus is aan die gang met hom want hy kry die gevoel meer-en-meer as hy naby haar is.
Laurie sien die verwondering op sy gesig en wonder wat dit is maar laat dit gaan.
In haar kamer berispe Laurie haarself — Jy weet waarom jy hier is Laurie — maar sy weet al is die rede ʼn prioriteit, moet dit wag totdat sy nie net die vertroue van beide Metando en Seshla gewen het nie, maar totdat hulle self weet hulle wil met haar praat.
Albei weet sy is Nathan se kind en hulle sal een of ander tyd met haar praat oor daardie nag, uit hul eie. Sy moet net geduldig wees. Niks verhoed haar om intussen gelukkig te wees nie — troos sy haarself.
Hulle kom saam die volgende oggend die kombuis in, en albei is effens skaam oor hul gevoelens maar nie een wil die samesyn misloop nie.
Hulle pak saam die koolstoof, sy maak die ketel vol water en sit dit op die stoof. Hulle gaan sit teenoor mekaar by die tafel en wag tot die water kook. Saam maak hulle die koffie terwyl Matthew na die perfekte mens kyk en hy weet, sy is meer besonders as enige iemand anders wat hy ken of ooit geken het. Hy voel ʼn steekpyn as hy besef tot wat hy die talentvolle mens verklein het, — ʼn huishoudster, ʼn kinderoppasser — sy ʼn mediese dokter —
Die verwyt wil hom versmoor maar hy weet nie hoe om dit reg te maak nie want nou kan hy haar nie laat gaan nie — nie nou al nie.
So volg elke dag dieselfde patroon oor die volgende week en Laurie en Matthew ondervind ʼn vrede en opwinding in mekaar se geselskap. Dis iets wat nie een voorheen ondervind het nie. Hy praat oor die boerdery, sy lig hom in oor die seuns se vordering en hulle is gelukkig in die wete van hulle wedersydse toegeneentheid.
Sy vra hom direk — “Wat is my take hier Matthew?”
Hy kyk haar eerlik in die oë — “Moenie my haat nie maar kan ons vir nou net eers aangaan soos nou… asseblief.”
Sy is beslis en sê met ʼn glimlag om die felheid van haar woorde te versag — “Ek moet minstens elke tweede week met my pa praat en moet dus afgaan na waar daar selfoon opvangs is. Ek wil nie dat my prokureur hier opdaag om te kom seker maak of alles reg is nie.”
Hy knik sy kop en sê sag — “Ek weet en ek is jammer. Die naaste selfoon opvangs is onder by die koöperasie, jy kan enige tyd gaan as jy moet bel.”
“Dankie, ek sal môre oggend afgaan. Kan ek die seuns saamneem?” en hy knik.
“Ek moet ook elke derde week van die maand ingaan Ladysmith toe, van die Donderdag oggend tot Saterdag of Sondag, afhangende van wat ek teëkom in Ladysmith,” en sy sien die vrees in sy oë.
“Ek moet seker maak dat my praktyk en die hospitaal sake reg verloop, ek kan nie net verdwyn nie en ek wil mediese voorraad gaan kry vir ons. Ons kan nie uitgelewer wees wanneer een van ons siek word nie. Ek kan ook kruideniers en ander dinge saambring wat nodig is,” probeer sy die impak versag — en hy hoor dit.
Hy weet alles is waar en hy knik sy kop — “Dit is reg, jy moet net sê wanneer jy ry sodat ek kan seker maak dat ek dinge so reël dat ek by die seuns is.”
“Ek sal hulle veiligheid stoeltjies nou in jou motor gaan vassit sodat julle môre net kan ry.” Matthew voel ʼn verligting in hom — as die seuns by haar is sal sy terug moet kom.
Nou knik sy net haar kop en terwyl sy weet sy moet voel of sy ʼn oorwinning behaal het, voel dit nie so nie.
So kry Laurie haar opening sonder om agterdog te saai, om haar pa, Zuluika en Joos te skakel. Sy voel ʼn vreugde omdat hy haar met die seuns vertrou en vir nou is dit genoeg.
Sy en Metando maak ʼn lys van benodigdhede en die kameraderie tussen hulle twee is vir Laurie die teken waarna sy soek — een of ander tyd sal Metando haar vertrou en met haar praat. Dit weet sy.
Hulle ry na ontbyt die volgende dag van die plaas af en sy en die seuns stap deur die paar winkeltjies en koop die benodigdhede wat op die lysie is. Hulle stap hande ineen gestrengel en uitgelate deur die paar strate na die koffie kroeg wat sy met die inry opgemerk het.
Sy bestel vir haar koffie en vir die seuns melkskommel, en as die seuns begin met die inkleur van die inkleur boekies wat die bediener hulle gee, bel Laurie haar pa. Hy is oorstelp van vreugde.
“Ek mis jou, ek wil huis toe kom na jou toe, as ek kan,” en Laurie se hart breek — Hoe mis ek hom.
“Ek gaan kyk wat ek kan doen pa. Ek glo die geleentheid wat daar was vir Matthew en Johan om iets aan pa te doen is vir hulle verlore, want ek is hier op sy plaas volgens die kontrak en doen wat hulle gevra het.”
Hulle gesels meer as ʼn halfuur en met die totsiens sê, breek haar stem en as die trane oor haar wange loop sit klein Christopher sy arms om haar nek en sê sag teen haar wang — “Mamma moenie huil nie.” Skielik is die sluise oop en trek sy die twee seuntjies teen haar vas en snik haar hartseer teen hulle blonde koppies uit.
Wanneer sy haar balans herwin het, bel sy vir Joos. Haar teleurstelling is minder as wat sy verwag het dit sal wees toe Joos aandui dat die saak nog ondersoek word en dat hy baie min nuwe feite het. Wat hy wel bevestig, is dat daar geen regsaksie aanhangig gemaak is deur Matthew of die staat nie.
“Ek dink terwyl jy op die plaas is gaan Matthew niks doen nie. Ek is bekommerd oor Johan van Graan Laurie, ons kan niks van hom voor negentien vier en negentig optel nie. Dit is asof hy nie bestaan het nie maar hy is vanaf negentien vier en negentig uitsluitlik betrokke by ondersoeke na terreur insidente. Ek probeer uitvind wat dit met jou pa en Louis te doen het. Sal jou laat weet as ek iets meer uitgevind het.”
“Oom Joos jy weet dat my pa en oom Louis al die jare baie pro-verandering was en dat hulle verskeie byeenkomste bygewoon het. Probeer kyk of dit iets daarmee te doen gehad het.”
“Ek sal alle moontlikhede ondersoek Laurie.”
“Het jy al met die twee getuies probeer praat?”
“Nee oom Joos die geleentheid was nog nie daar nie. Ek moet eers hul vertroue wen of selfs wag totdat hulle self met my wil praat.”
“Kry jy die gevoel dat Matthew jou bewegings dophou.”
“Nee definitief nie, ook nie as ek op die plaas is nie, behalwe as Metando aan hom verslag doen.”
“Wees bedag dat dit wel so kan wees.”
“Ek kan in elk geval nie my selfoon op die plaas gebruik nie, en hy het self ingestem dat ek enige tyd kan afkom na die koöperasie om te skakel. So oom Joos hy weet elke oomblik waar ek is.”
“Ek gaan in elk geval elke derde week van die Donderdag tot die Sondag Ladysmith toe kom, dit het ek hom gesê en hy het dit so aanvaar.”
“Bly jy net bedag daarop dat hy en Johan jou dalk wel kan laat dophou. So as jy enige iets doen wat die verlede kan oopkrap, hou dit geheim.”
“Ek sal oom Joos.”
“… en Laurie — as jy enige briewe of dokumente uit Louis of julle huis by jou het, moet jy versigtig wees dat Matthew dit nie te siene kry nie.”
Skielik is Laurie bekommerd — Lees sy die vriendelikheid van beide Metando en Matthew verkeerd? — hou hulle haar dop en doen verslag aan Johan. Sal hulle deur haar private besittings gaan?
“Ek sal versigtig wees oom Joos.”
Wanneer sy aflui weet Laurie dat sy dalk te veel vertroue in die goeie van die situasie plaas en dat sy totaal verkeerd kan wees oor die gevoel van die vriendelike kameraderie wat tussen haar, Matthew en Metando is. Sy weet dat sy versigtiger moet wees en moet soek na bewyse en haarself nie laat inneem deur die goeie samesyn nie.
Sy en die seuns eet ʼn middagete in die restaurant en sy bly daar totdat Zuluika se oproep deurkom. Vandag is dit Zuluika wat luister na Laurie se hartseer en is dit Zuluika wat haar troos. Hulle gesels die tien minute wat die gesprek mag duur en wanneer sy aflui sien Laurie die twee seuntjies se gesigte, bekommerd en hartseer.
“Is mamma se maatjie siek mamma?” Kom dit van Christopher en Laurie besef hoe verskriklik sensitief hierdie seuntjie is en sy stap om die tafel. Tel hom op en druk hom teen haar vas en terwyl sy haar pa in haar gedagtes sien, sê sy — “Ja skat hy is maar dit gaan beter.”
Hulle gaan sit en eet hulle nagereg rustig klaar.
Binne ʼn kilometer se ry terug plaas toe, sien sy dat albei seuntjies in hulle stoeltjies aan die slaap geraak het, alhoewel sy weet dit is die opwinding en uitputting, kry sy ʼn warm gevoel as sy besef dat hulle haar ten volle vertrou.
Sodra sy net na sewe op die plaas stilhou, is Matthew daar — “Waar bly julle so lank?”
Sy kyk op in sy gesig, daar is net bekommernis.
“Jammer die tyd het net eenvoudig weggehardloop.”
Hy knik sy kop en buk in die motor in om Christopher uit sy stoeltjie te haal — verlig dat hulle terug is, sy terug is.
Matthew loop vooruit om Christopher in die bed te sit en as hy hom neersit word die outjie wakker — “Pappa, mamma het baie gehuil want haar maatjie is siek.”
Matthew is stom van verbasing, sy seun wat so klein is, is so sensitief. “Watter maatjie is dit seun?”
“Haar maatjie op die foon.” Matthew voel ʼn beklemming in hom, al wat hy kan dink is dat dit met haar pa te doen het — Here ek smeek U, moenie dat haar pa iets oorkom nie, waar hy ook al is, want sy sal my haat, en nooit vergewe nie.
ʼn Ander gedagte flits deur Matthew se kop en die beklemming in hom is soveel erger — Wat as Laurie ʼn geliefde het wat nou saam met haar lei oor hierdie gemors — die gedagte daaraan breek sy hart, nie vir haar geliefde nie maar vir hom — en hy weet, vra sal hy nooit.
Wanneer Kyle ook rustig slaap, skink hy vir hulle koffie en Laurie voel die rus in haar — Ag Heer ek kan dit net van U vra, moet asseblief nie dat hy op my spioeneer nie, moenie hierdie samesyn laat weggaan nie, nie nou meer nie, flits dit deur haar gedagtes.
“Kan ek in die vervolg Metando saamneem sodat sy geleentheid kan kry om saam met my en die seuns inkopies te doen en bietjie uit te eet asseblief?”
Hy gryp die geleentheid aan, hoe meer mense by haar is, hoe minder sal sy weggaan — “Ja, dit sal wonderlik vir haar wees.”
Die volgende drie weke verloop rustig, Laurie en die seuns stap elke middag saam met Metando in die veld om by Matthew te gaan eet en sy weet as daar dinge is wat sy sal mis wanneer sy weggaan, is die een daarvan.
Die seuntjies groei aan Laurie vas en Christopher gesels onophoudelik met ‘sy mamma’ sodat Matthew naderhand erken — “My kinders was nog nooit so gelukkig soos nou nie Laurie — dankie.” Vir Laurie spreek dit boekdele oor sy gebroke huwelik.
Kyle se woordeskat het in die maand en ʼn half so verbeter dat hy selfs sinne met Matthew praat en Laurie is oorstelp dat sy die verandering help bring het, sy wat nooit een dag in haar lewe gedink het dat sy ooit kinders sal wil hê nie. Daarvoor was haar versorging van haar pa, en haar mediese loopbaan te belangrik.
Laurie weet nou, die mooiste woord wat sy ooit gehoor het, is die twee seuns se ‘mamma’ wanneer hulle soos stertjies agter haar aanloop en haar sonder ophou vra om na alles te kyk en te luister wat hulle doen en sê.
Terwyl die saamwees met Matthew, die seuns en die werkspan vir Laurie soos manna uit die hemel is, weet Matthew, sy daad het hom ingehaal wanneer hy sien hoe absoluut versot sy seuns en almal op die plaas op Laurie is. Hy weet, die dag wat Laurie die plaas vir altyd gaan verlaat, sal hy, sy kinders en sy mense die diepste vlak van hartseer en ellende beleef. Meer as wat hulle ooit beleef het toe Judith hulle verlaat het en hy weet verseker, hy kan haar nie laat gaan nie, nie nou nadat hy haar in een enkele maand liewer as die lewe self gekry het nie.
Saam met die natuur, wat middel September uit die winter koue ontwaak, ontstaan ʼn intense gevoel tussen Laurie en Matthew, ʼn opwelling van liggame wat albei voel, ʼn brandende begeerte wat albei weet waaroor dit gaan maar albei onderdruk dit met geweld. Hy omdat sy skuldgevoel hom versmoor oor wat hy aan haar doen, sy omdat sy weet daar kan niks van kom nie, daarvoor is sy haat te diep en sy kan nooit in haat leef nie. Nie eers met al die liefde wat sy voel en nog verder sal kan voel vir hom nie.
Laurie geniet Metando se opgewondenheid twee Donderdae later as hulle twee en die seuns na Mokhotlong ry vir die aankoop van voorraad en Laurie se oproep na haar pa.
Laurie is veral opgewonde oor die feit dat Joos die vyf ure rit aangepak het na Mokhotlong om haar te kom sien. Metando stap winkels toe om ʼn paar vriende te gaan groet en hulle reël dat sy teen twaalfuur terug by die restaurant sal wees vir middagete.
Dit is wanneer sy en Joos in die restaurant sit terwyl die seuns in die speel area speel dat Laurie die swart viertrek met die besondere donker tint op die vensters opmerk. Die motor stop vir ʼn paar minute agter haar motor voor dit weer vertrek.
Sy kyk eers sonder veel belangstelling, maar sien die Gauteng nommerplaat. Dit is wanneer die motor stadig voor die restaurant venster verby beweeg dat sy effens skrik want sy kan sweer dat selfs deur die verdonkerde venster sy Johan herken.
Laurie probeer die onrus afskud en besluit om dit nie vir Joos te noem nie. Sy het geen bewys dat dit Johan is nie en sy is bang dat sy besig is om effens paranoïes te raak oor haar vrees dat hy op haar spioeneer. Sy wend ʼn ernstige poging aan om haar gedagtes weg van die voorval te stuur en te konsentreer op die kinders in die speel area en op Joos.
Joos bring Laurie op hoogte van sy vordering en meld sy kommer oor Johan en die feit dat hy reeds Johan ʼn paar keer in Ladysmith opgemerk het.
Skielik weet Laurie haar vrees is waar, sy deel haar bekommernis met Joos en noem die voorval wat sy so pas gade geslaan het.
Joos deel haar kommer — “Laurie jy moet versigtig wees. Ek vertrou die man nie en dit is nie net omdat sy hele voorkoms en houding agterdog wek nie, maar ook die feit dat ‘Johan van Graan’ nie regtig ʼn verlede het nie. Daar is niks op rekord wat ons kan vind nie.”
Nou is Laurie agterdogtig en bang. Indien Johan haar wil leed aandoen sal sy die seuns en almal in gevaar stel — en sy weet dat die inwin van die inligting ʼn prioriteit moet word.
Joos staan op en vra haar om saam na sy motor te stap wat langs haar voertuig geparkeer is. Hy maak die kattebak oop en gee haar ʼn kartondoos aan wat baie stewig met heg band toegeplak is.
“Kobus Rossouw, die voorman het dit gister vir my gebring. Dawid het dit vir hom gegee en gesê dit kom van die solder in Louis se huis en dit is vir jou bedoel.”
“Wat is hierin oom Joos?”
“Weet nie maar Kobus sê, Dawid dink dit is briewe van Selma Townsend. Jy sal maar moet kyk Laurie.”
Die kartondoos is duidelik baie oopgemaak, as die verwering aan die bo rand enigiets beteken. Nou is die kartondoos stewig verseël met lae heg band en dit is duidelik dat oom Louis die inhoud geheim wou hou.
Laurie draai die kartondoos om en kyk na die datum op die kartondoos wat die oorspronklike kondensmelk vervaardigings datum weerspieël — Januarie negentien sewe en tagtig. Sy herroep Selma se sterfdatum op die grafsteen, drie en twintig Junie negentien ses en tagtig en sy besef dat die datum na ‘Selma se dood’ is.
Sy laat haar hand oor die heg band gaan en dit bring die gevoel van onwerklikheid by haar. Daardie vrae oor al die geheime uit lewens wat oënskoulik so oop en eerlik geleef was en dit wil haar weer versmoor, soos so baie kere die afgelope maande.
“Jy moet so gou as jy privaat is, dit oopmaak en deur die inhoud gaan Laurie.”
Sy sluit die kartondoos in haar motor se kattebak toe en terwyl sy Joos se motor volg wanneer hy wegry, wurg al die geheimhouding haar weer. Sy sien Metando aangestap kom en sy stap haar tegemoet sodat hulle middagete in die restaurant kan geniet voordat hulle inkopies doen en terug plaas toe gaan.
Terwyl Laurie worstel met die gedagtes oor Johan en die kartondoos in die kattebak, voel Matthew ʼn uiterste irritasie toe Johan voor die opstal stop en aangestap kom asof daar absoluut geen probleem is nie.
Matthew besef vir die eerste keer hoe dikvellig Johan is toe hy joviaal groet asof hulle nie net twee weke gelede die gesprek gehad het oor die staking van die hekse jag na Laurie en haar pa nie.
Matthew nooi Johan in vir ʼn koppie koffie, net toe een van Seshla se seuns hom kom roep om gou na die krag in die melkkamers te kom kyk.
“Wil jy saamstap Johan?”
“Nee wat, ek wag hier vir jou en drink my koffie.”
“Josefa skink vir die meneer nog koffie as hy vra asseblief.”
Matthew stap steeds effens vererg na buite. Waar hy reeds twintig meter in die rigting van die melkery gestap het, wink Seshla hom nader en dui aan dat die krag probleem opgelos is. Hy draai om en haas hom terug na die kombuis.
Met sy binnekoms hoor hy Johan ewe ongeërg vir Josefa vra waar Laurie se kamer is. Matthew voel eers ʼn omgekraptheid maar skielik is die kommer in hom — Wat is dit wat Johan van Laurie soek, wat dink hy het Laurie by haar?
Matthew lees die skok op Johan se gesig toe hy Matthew opmerk en in sy spore vassteek — reeds op pad in die rigting van Laurie se kamer.
“Is jy op pad Johan?”
“Nee — wou net die badkamer gebruik.”
Matthew wink hom met die hand in die rigting van die badkamers, geensins geflous nie — Hierdie man het ʼn agenda en hy voel die vrees vir Laurie se veiligheid in hom. Matthew besluit om net buite die badkamer te bly net om seker te maak dat Johan nie Laurie se kamer kan ingaan nie.
Matthew sien die gesteurdheid op Johan se gesig as hy uit die badkamer kom en Matthew sien, dit versterk sy bekommernis verder.
“Jy moet probeer vasstel of Laurie, enige dokumente het wat lig kan werp op ons ondersoek.”
Matthew is uit die veld geslaan oor die versoek, — watse dokumente kan Laurie hê wat na die voorval in die berg sal verwys, of na eienaarskap van die plase? — Hulle weet reeds wat die situasie met die grond is. Matthew twyfel of daar ooit enige geskrewe dokumente is wat na die voorval in die berg kan verwys. In hom is die gedagte — wat verstaan die man nie ‘van los die Kilbers uit’ nie.
“Nee Johan, ek gaan beslis nie deur Laurie se persoonlike eiendom snuffel nie.”
“Matthew jy moet onthou Nathan Kilber en Louis Olivier het jou beroof. Nie net die grond nie maar ook jou familie en herinneringe.”
“My familie is dood Johan.” Hy sien die twyfel in Johan se gesig, so asof hy oorweeg om iets te sê.
“Onthou jy net wat ons doel is Matthew.” Johan stap openlik gesteurd verby Matthew terug na die kombuis en uit na sy groot swart motor.
Matthew volg hom en skud sy hand met ʼn onwilligheid. Hierdie mens is elke keer as hy hom sien minder aanvaarbaar vir hom — en nou val Johan se harde trek om die dun lippe Matthew op. Dit maak weer die gevoel van sluimerende onheil in hom wakker.
Na Johan se viertrek uit die gesig verdwyn, staan Matthew nog vasgenael — Wat het die man vandag hier kom soek? — en waarom spesifiek die dag wat Laurie nie hier is nie? Spioeneer Johan op hulle? Weet hy wat die kom en gaan van Laurie is?
Matthew staan besluiteloos, hy wik en weeg om dadelik na Mokhotlong te ry om seker te maak dat Laurie, Metando en die seuns veilig is maar besef as hy dit doen sal Laurie dalk dink hy vertrou haar nie met sy mense nie. Matthew voel die magteloosheid van hom besit neem. — Hoe beveilig hy sy mense? Die wete is in hom — Laurie is deel van ‘sy’ mense.
Hy bly naby die huis, vasgedruk in sy bekommernis oor Laurie en wanneer haar motor se ligte teen die berg opkom, voel hy verlig.
Wanneer sy stop is hy dadelik by die motor en maak haar deur oop. Laurie is effens verbaas oor die gebaar maar as sy, sy gesig sien voel sy die vreugde in haar — hy is bly om hulle te sien — haar te sien.
“Dankie tog julle is veilig terug.”
“Ons is nie so laat nie,” sê sy glimlaggend.
“Nee julle is nie maar die bergpad is gevaarlik in die donker. Ek is net bly julle is terug. Was alles reg gewees met julle deur die dag?”
Laurie bespeur bekommernis in die vraag. “Ja, is daar ʼn probleem?”
“Nee — wil net seker maak julle dag was lekker en julle het dit geniet.”
Laurie laat dit gaan en terwyl hulle die seuns uit die stoeltjies haal, begin Metando Matthew vertel van hulle dag. Laurie glimlag en laat haar voortgaan terwyl hulle die seuns die huis indra. Matthew roep die jongmans wat vanaf die melkery gestap kom nader om die aankope die huis in te dra.
Wanneer Matthew uit die huis kom, kom Laurie aangestap en hy kyk na haar perfekte lyf wat omvou word deur die sagte materiaal van haar ligte rok en die beweging van haar liggaam in die rok laat hom ʼn lamheid ondervind. Dis ʼn gevoel wat hy nog nooit voorheen ondervind het nie, nooit met Judith nie. Die wete is in hom — Judith en hy was ander omstandighede, dit sou nooit hierdie opwelling kon bring nie.
Wanneer Laurie terug in die kombuis instap, is Matthew en Metando besig om die kruideniersware weg te pak. Sy sien Matthew waar hy besluitloos staan met die kartondoos uit oom Louis se solder in sy hande. “Die kartondoos, waar gaan dit?”
Laurie glimlag deur haar skok en sê gemaak grappig terwyl sy die kartondoos uit sy hande neem. “Terug motor toe, dit is iets persoonlik waaraan ek nog aandag moet gee.”
Toe Laurie die kartondoos by hom vat en uit na die motor stap, is dit asof die kartondoos haar hande brand — Is dit ʼn teken dat ek die inhoud moet oopmaak? — wonder Laurie.
Laurie sit die kartondoos in die kattebak, klim in die motor en gaan parkeer hom in die stoor. Sy maak seker dat die motor gesluit is want nou is die kartondoos se bestaan bekend en wil sy nie, wat ook al daarbinne is, nou weet of nou deel nie.
Matthew bly by die kombuistafel staan en wag dat sy terug moet kom. Hy weet dat die kartondoos se inhoud met die verlede te doen het. Dit sê die datum van Januarie negentien sewe en tagtig op die kartondoos duidelik en hy wonder of dit van Nathan of Louis se huis kom.
Die bekommernis is in hom — Is dit wat Johan soek? Hy weet hy sal nie vra nie, dit nie eers sal noem as sy dit nie meld nie. Laurie se eiendom is hare, al sou dit hom raak. Hy neem twee bekers en skink vir hulle elk ʼn beker koffie in, vir eers wil hy net elke oomblik by haar geniet, die spoke moet eers wegbly.
Wanneer sy terug in die kombuis kom, is alles ooglopend normaal. Matthew sit met ʼn beker koffie by die tafel en oorkant hom is daar vir haar ʼn beker koffie. Sy gaan sit en wanneer sy in sy oë kyk is daar geen vrae, net sy glimlag wat sy leer liefkry het in die afgelope maande.
Saterdag aand sê Laurie vir Matthew dat sy die volgende oggend die kerkdiens in Mokhotlong gaan bywoon en hy vra of hy en die seuns saam kan gaan. Laurie voel ʼn blydskap in haar en sy weet, die sal ʼn instelling wees elke week of twee wanneer hulle tyd het — uiteindelik is hulle al vier saam soos ʼn familie in die huis van die Here.
Dit is wanneer hulle rustig na die diens in die teekamer sit dat Laurie verby Matthew na die straat kyk en sy voel die skok as sy die aknee-merk gesig van die polisieman herken — nou weet sy verseker dat sy dopgehou word.
Matthew sien die uitdrukking op Laurie se gesig en as hy sy kop draai en deur die venster kyk, kyk hy en die man mekaar direk in die oë — “Wat is dit Laurie?”
Laurie weet sy moet nou koelkop bly maar sy weet sy het nou die geleentheid om Matthew te toets — “Ek weet nie of ek net paranoïes is nie maar die jongman is die polisieman wat Johan voor my pa se deur in die hospitaal gehad het en ek het hom al ʼn paar keer op Ladysmith gesien, en nou weer hier.”
Matthew voel skielik ʼn vrees in hom, hy staan sonder om ʼn woord te sê op en beweeg vinnig na die deur. Die man sien hom en begin vervaard oor die straat hardloop. Die volgende oomblik is hy in ʼn swart viertrek en trek met ʼn geweldige vaart weg.
Laurie sien Matthew besluitloos in die straat staan, sy weet hy ken die man nie en indien sy wel dopgehou word, is Matthew nie deel van die reëling nie.
Wanneer Matthew gaan sit, kyk hy haar in die oë en sê met eerlikheid — “Laurie ek het nie geweet van die polisieman in die hospitaal nie. Indien hy ons wel dophou, weet ek dit nie want ek het hom nog nooit in my lewe gesien nie. Ook wek sy optrede definitief agterdog. Glo my asseblief dat ek niks hiermee te doen het nie,”
Dit is genoeg vir Laurie en sy druk sy hand saggies.
Matthew weet sy vermoede dat Johan Laurie laat dophou is reg en skielik is daar ʼn vrees in hom — sal Johan Laurie leed aan doen?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.