Jongste aktiwiteit:

Wat maak dit saak?

Die huis was vervalle. Verf het orals afgedop wat my vir een of ander rede laat dink het aan ‘n slang wat vervel. Bossies het hulle tuisgemaak in die tuin wat lank gelede die liefde en aandag van ‘n vriendelike ou tannie geniet het. Die voetpaadjie na die voordeur toe was vol krake met onkruid wat plek-plek ingenome gestaan het – ingenome dat dit ‘n weg gevind het deur sement. ‘n Moedeloosheid het in my opgewel toe die werklikheid insink. Al die werk wat vir my voorgelê het. Stukkende vensters wat hartseer gegaap het. Geute wat soos ‘n treurwilger se takke aan die dak gehang het. Roes wat die vensterrame opgevreet het soos ‘n kanker. Maar die trots het die negatiwiteit weggespoel. Dit was mý huis. Dit was mý bossies. Mý krake. Mý roes. Myne.

Vir ‘n eerste huis dink ek nie dis té sleg nie. Ek was ‘n ‘vlugteling’ uit ‘n plattelandse dorp wat se naam jy gaan vergeet oomblikke nadat ek jou vertel het wat dit is. Hier was ek nou. ‘n Huis in ‘n voorstad in die stad. Wat meer kon ek vra? ‘n Blik verf dalk. Maar dit sal kom met tyd.

Soos ek na die voordeur toe gestap het, het ‘n ongemaklike gevoel iewers vashou plek gekry. Die huis het so bietjie soos ‘n monster gelyk. Dit was seker die outydse boustyl wat dit soos iets lewendig laat lyk het. ‘n Venster aan elke kant vir oë, en ‘n donker deur in die middel vir ‘n mond. Ek het my kop geskud om die verspotte tensie te verdryf. Dit was maar net die neerslagtige – spookagtige – voorkoms van die huis wat my so laat voel het.

Ek het ‘n oomblik voor die deur geaarsel, en toe met opgewondenheid die sekuriteitshek oopgesluit en die sleutel vir die voordeur begin soek. Ek het dit egter nie nodig gehad nie. Die deur het skielik oopgegaan en ek het ‘n verskrikte gil gegee van skok. Ek het byna hasepad gekies, maar ek het betyds weer tot my sinne gekom en vierkantig bly staan, reg vir ‘n geveg. In die ingang van die deur het ‘n massiewe man gestaan. Hy was aangetrek in ‘n wit vormlose rok of toga of iets. Hy het my op en af gekyk terwyl hy verveeld ‘n hap gevat het van ‘n dik sny brood.
“Is jy honger?”, het hy gevra asof ons mekaar ken en ek ‘n gas in sy huis is.
“Verskoon my?” Ek was oorbluf.
“Ek het nou-net ‘n brood uit die oond gehaal, en die sop staan en prut. Jy is welkom om saam te eet.” Sy stem was kalm, vriendelik en gevul met onmiskenbare charismatiese gesag.
“Wat?” ‘n Verontwaardigde woede het in my opgestoot. “Nee! Dis my huis!”
Hy het geglimlag en sy mond afgevee met die agterkant van sy hand. “Jy’s nie eerste een wat aanspraak maak op die huis nie. Waar’s jou eiendomsagent? Of verhuurder?”
“Dis my huis…” Ek het my beursie uitgehaal en die stukkie amptelike papier begin soek. “Ek het ‘n kwitansie.” Oomblikke later het ek die stuk papier en dit voor my uitgehou.
Die man het die kwitansie gevat en die papier noukeurig bestudeer.
“Dis darem baie goedkoop vir ‘n huis.”, sê hy uiteindelik en gee die papier weer terug vir my.
Frustrasie en moedeloosheid het oor my gespoel. “Ek gaan terugkom met die polisie!”
“Kom sit en eet ten minste eers iets.”, sê hy terwyl hy omdraai en die huis instap.
Dit was ‘n onwerklike situasie. Sy arrogansie! Om só op te tree in mý huis. Tog. Ek was nie bang vir die man nie. So buitengewoon as wat die situasie was, het ek gemaklik gevoel. Tuis. Dit was tog mý huis. Die reuk van vars gebakte brood het my neus gevul en my maag het met gorrelende geluide van hom laat hoor. Dit was ‘n lang dag. Ek was honger. Sonder om verder te aarsel het ek die man, en die betowerende reuk van brood gevolg.

Die binnekant van die huis was nie juis in ‘n beter toestand as buite nie. Die mure was bruin en vol stof. In die hoeke was daar spinnerakke waarvan die eienaars al maande of jare tevore ‘n beter blyplek gaan soek het. Daar was byna geen meubels nie. ‘n Verweerde bank. ‘n Lamp wat op die vloer gestaan het. In die volgende gang was daar ‘n tafeltjie met allerhande koper voorwerpe op. ‘n Ghong, ‘n paar standbeelde van kreature wat ek nie erken het nie, boeke wat se titels in vreemde tale geskryf was en houertjies wat waarskynlik vir wierook bedoel was. Duidelik was hierdie items belangrik want dit het baie meer versorg gelyk as enige iets anders in die huis. In die kombuis was ‘n klein eetkamertafel met ‘n paar stoele wat nie by die tafel óf by mekaar gepas het nie. Andersins was die groot kombuis relatief skoon en netjies.

“Sit. Ek skep op.” Die rustigheid in sy stem het my ook rustig gemaak.
Maar dit het nie die situasie en erns van die saak verander nie. Ek het bly staan en met soveel outoriteit as wat ek kon bemeester weer gesê, “Dis mý huis. Ek het ‘n kwitansie.” Ek het die papier weer voor my uitgehou.
“Is dit?” Hy het, met sy rug na my toe, aan ‘n borrelende pot geroer.
Ek het die papier, wat my die amptelike eienaar van die huis gemaak het, bestudeer. Dit was ‘n kwitansie uit ‘n kwitansieboek – daai wat jy by enige skryfbehoeftewinkel kan koop. My naam was in blou pen bo-aan geskryf, met die woorde “eienaar van” en die adres van die huis. In die kolom onder die datum was die beskrywing “1 x huis” en die totale bedrag. Ek het die papier weer en weer omgedraai. Daar was niks anders op die papier nie. Nie die eiendomsagent, Frank van der Merwe se naam, nommer of adres nie. Nie ‘n stempel of seël wat ‘n amptelikheid aan die stuk papier gegee het nie. Niks. Ek het gevoel hoe vloei die bloed uit my gesig. My bene het begin swik en ek het verstar op ‘n stoel gaan sit.

“Wat is jou naam?”, vra die man terwyl hy ‘n bord sop en ‘n bordjie met dik snye gebotterde brood voor my neersit. “As daar ‘n hofsaak gaan wees gaan ek ten minste jou naam moet ken.”
“Ek…” Daar het te veel gedagtes deur my kop gegaan. “Dit het niks met jou uit te waai nie.” En flou bygevoeg, “Dis my huis.” Dit het amper soos ‘n vraag geklink. My gedagtes was klaar weer elders. Was ek regtig só naïef? EK het teruggedink aan die advertensie wat ek in die Junk Mail op afgekom het. Die prys was presies wat ek kon bekostig. Die eerste ontmoeting met Frank van der Merwe. Hy was bietjie van ‘n grillerige man – soos ‘n glibberige verkoopsman maar is. Maar ek het nie belanggestel in Frank nie, net die huis. Daarna was daar elke keer ‘n verskoning as ek die huis wou sien. Maar ek was hardop vir die huis, so om die huis te sien was ‘n bysaak. Ek onthou die groot koevert met kontant wat ek vir Frank gegee het, vetgemaak deur my hard verdiende spaargeld. Hy het die kwitansie uitgeskryf, sleutels oorhandig, blad geskud met ‘n “Baie geluk!” en homself verskoon. Weg. Vir altyd. Is dit dan nie hoe dit werk as jy ‘n huis koop nie? Jy gee geld en hulle gee ‘n kwitansie wat sê jy’s nou die trotse eienaar van ‘n huis.

Naïef. Dom. Onnosel.

Hoe moes ek weet? Ek’s nog ‘n kind, vars uit matriek uit. Jy leer nie op skool hoe werk huis koop nie. Jy leer Pythagoras se simpel stront, maar niks van huis koop nie.
Ek was verslae.
“Eet.” Die opdrag het my teruggeruk na die kombuis toe. “Dit sal jou laat beter voel.”
Asof ek nie ‘n ander keuse gehad het nie, het ek ‘n sny brood in die sop gedoop en in my mond gedruk. Dit was heerlik. Daar is niks lekkerder as tuisgemaakte brood vars uit die oond uit nie. Ek was nie seker watse soort sop dit was nie. Soet. Sout. Smaaklik. Ek het ‘n lepel vol afgesluk en nóg en nóg. ‘n Rustigheid het oor my gekom. Twee vroue en drie mans het die kombuis ingekom asof hulle uit die niet verskyn het. Toe nóg en nóg mense. Selfs kinders. Almal van hulle met dieselfde wit kleed as Die Man aan. Dit was die natuurlikste ding – amper asof ek hulle verwag het. Daar was ‘n tevredenheid, of eerder euforie, oor my, deur my, in my.
“Jy kan maar hier slaap. Hier is baie plek.” Die Man het vriendelik geglimlag. Ek het vriendelik geglimlag. “Ons sorteer alles uit op ‘n ander dag.”
Natuurlik. My huis. Ons huis. Wat maak dit saak?
“…dan kan ons jou intussen alles vertel en leer van ons god en bevryder, die magtige Cthulhu. Hierdie wêreld is tronk mure en ander mense is vasgeketting deur onkunde. Die tekort aan insig en wysheid gaan hulle vir altyd vasbind aan hierdie plek wat niks minder as ‘n hel is nie. Geen vrees beteken vryheid. Vrees is ‘n anker..”
Ek het nog van die sop opgeslurp en geïnteresseerdheid na Die Man geluister. Dit klink definitief soos iets waarvan ek móét weet.

Iewers het ‘n stem gegil. Was dit een van die mense? Was dit in my kop? “Vlug!”

 

Daniël Willemse, oftewel Frank van der Merwe soos sy slagoffers hom geken het, het verstom na die televisie gestaar. Hy het effens skuldig gevoel, maar die stapels kontant het salf aan die skuldgevoelens gesmeer. Op die skerm was die verwaarloosde wit huis waarnatoe hy soveel mense gestuur het. Dis ook nou nie sý skuld dat mense so domonnosel is nie. A fool and his money are soon parted.

Die beeld op die skerm het weer verander na die nuusleser in die ateljee.
“… die lyke is gevind nadat ‘n slagoffer uit die huis uit ontsnap en die owerhede in kennis gestel het. Die man was glo gevangene gehou en bedwelm deur die kultusleier, klaarblyklik om hom onderhorig te maak. Nadat die jong man ontsnap het, het hy verward in die buurt rondgeloop toe ‘n weldoener hom gesien het, en sy die polisie ontbied het.
Na bewering glo die kultuslede dat ‘n opperwese genaamd Cthulhu hulle sou kom verlos. Klaarblyklik sien die kultus die wêreld as ‘n intergalaktiese gevangene kolonie. Cthulhu sou hulle help ontsnap en na ‘n sogenaamde paradys neem. Die sewentien lede het massaselfmoord gepleeg voordat die taakspan ‘n klopjag kon uitvoer…”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed