
Katjiepieringliefde (Silwer)
Vêr weg van alles
wat eintlik kleinlik
en waardeloos is
kan ons hier
in die ou klipkasarm
waar ons ‘n skraal begin
met bitter min
tussen brokkelrots
en grashalms gemaak het
mekaar in die warm omhelsing
van ‘n bloumaan se gloed
waarderend welkom groet –
waar liefde ons dag na dag
met oop arms ontvang
terwyl dit koraalrooi
langs keisteenpaadjies
midde katjiepieringwalms vlam
waar dít samehangend
aan die kruis
van ons voordeur hang.
© Loretta Szikra 202208
3 Kommentare
-
Koos Elsum
So mooi in die lente veral die laaste 4/5 reëls dankie. As net my mening ek sou “ (in die sweet van ons aangesig)” en “betonoerwoud” weglaat of anders bewoord want dit is bietjie afgesaag.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2022 My huis is my woning projek