
“Where do you go to, my lovely?”
Ek wandel deur tuine, my liefste –
boorde waarin bloeisels gedy
en loop deur die doodsnik van winter,
Namakwa lê blombont om my.
Soms verdwaal ek in dorre woestyne,
waar skedels en skepe skelet
langs ‘n kus met duisende duine –
teen die wind en die weer in verset.
Ek stap met ‘n stofpad, beminde
deur karoobos en lang gras in pluim –
verby die rante en heuwels en koppies
wat so vaal en so roes en so bruin.
Oewers en kronkelriviere
lei na mere wat vlei oor ‘n strand
en rotse baar seewater sterre,
my spore verspoel in die sand.
Veral in die lente, my liefling
volg ek die pas deur die kloof
waar wingerd en groen landerye
‘n najaar vol oorvloed beloof.
Ek sit onder bome teen skemer –
lang bome wat hoog bo my troon.
Die son gooi sy spikkels deur blare,
waartussen loeries en nagapies woon.
*
en ek dans in die donker, my liefste
oor stoepe deur lampe verlig,
verbeel my in elk sagte skadu –
jou lyn, jou kontoer
. . . jou gesig.
© C. Shaw
24 September 2016
*verwys na Peter Sarstedt se lied getiteld: ‘Where do you go to, my lovely’
6 Kommentare
-
-
Palet
Dis pragtig
-
Amaspoke
Uitstekende skrywe!
-
Kiekies
Ai man jou titel herinner aan 'n aand wat ons geserenade was met einste lied. Ek is helemal versot op hierdie gedig, maar nog meer op: en ek dans in die donker, my liefste oor stoepe deur lampe verlig, verbeel my in elk sagte skadu – jou lyn, jou kontoer . . . jou gesig.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma dit is so mooi dat dit mens diep in die siel roer