Winterkos
Wanneer die windjie buite skraal,
word die koolstoof gestook
en Ouma se resepte uitgehaal,
om winterkos te kook.
Boontjiesop en kerriemaalvleis
met die smaak van spesery en krui,
vetkoek boepens uitgerys
herinnering geëts in my.
Die vars geur van kaneel
gestrooi oor melkkosfrummels,
vorm ‘n prentjie in geheel
wat weerstand verkrummel.
Hoender- of wildspastei
met volop naeltjies pikant,
vars gestoomde groente daarby
maak dit voedsaam en watertand.
Vir nagereg haar spog kluitjies
deurdrenk met kaneelsuiker-sous,
‘n smaakontploffing in die kies
wat sal stil enige pous.
Daar’s nostalgie in winterkos,
om Ouma se resepte uit te haal
en gesellig saam te tros,
wanneer die windjie buite skraal.
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Callie Vermeulen
Pragtige herinneringe Driekie!