Wintersoggend
Wintersoggend
elke uitgerekte whooo-whooo fluit van die wind
komponeer tot rustig… die rasende klank
van blaar en rattelende roesbruin saad
wat soos klokkies aan grys takpunte
van die Bosveld Raasblaar hang
dan kruip versigtig deur my koue kamerruit
die geel strale van die nuwe dag son
wat sagkens
sy môre sê kom streel oor my wang
ek trek my donskombers vir net nog oulaas so effe hoër op teen my kaal ontblote nek
en sluit my oë vir daai laaste uiltjie knip
asof vergete vir ‘n oomblik die moet doen
wat ongenadiglik
buite my mure wag
dan kom verrassend… so ewe astrant
daai swewende sweempie my kamer in
al roepend kom haal vars kafeïen geur my
waar ek bittergraag… net nog so ‘n bietjie
vyf gesteelde minute langer sou wou bly
dis Julie maand
dis dié koudste maand vir my
sou ek kon.. sou ek liefs heeldag net hier bly
todat lentegeur en sagte reën
my vars ontwakende somerlyf hier kom kry
©Magda van der Walt
Brons kategorie
Julie oop projek
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2024 – OOP projek