Jongste aktiwiteit:

Plaas vakansie

Wat kan dan nou lekkerder wees as ‘n skoolvakansie op die plaas. Vir my, wat op ‘n plaas groot geword het, met die voorreg om elke dag met ‘n bus skool toe kon ry, seker nie so lekker, as vir die kinders wat op die dorp gebly het nie. Maar, reeds toe, het ek geweet, ek wil nie met hulle plekke ruil nie. Ek was ‘n plaasjapie in murg en been, en ek vermoed my neef, Jannie, het dieselfde gevoel oor sy dorpsjapie status.
Maar vir die week of wat, as sy ouers dapper genoeg was die jaar om plaas toe te kom, was ons twee onstuitbaar. Tot groot misnoё van ons onderskeie ouers was ons twee keer die direkte oorsaak van menigte familie twis. Veral ons moeders wat susters is, sou mekaar daarvan beskuldig, dat die ander se seun ‘n slegte invloed op haar seun is. Menigte maal het ons gehoor watter soet kinders ons was, tot die oomblik wat ons bymekaar uitkom. Daar is bitter min foto’s van ons twee, waar die ander in die foto ook glimlag. Ons het nie om gegee nie.
Die Van De Venter familie het een jaar by die Smitte kom kuier. Vir twee weke sou die filistyne, soos ons hulle genoem het, by ons op die plaas wees. Ons kon nie wag nie. Die kuier het slegs die eerste aand, en tot tien uur die volgende oggend gehou. Dit het nie eers ontbyt gemaak nie. Die skuld was direk op my, en Jannie, se skouers gepak.
Soos mens groot word, begin jy dinge beter verstaan. En dan eers kom jy agter hoe erg dinge vir jou ouers moes wees, en hoekom hulle besluit het om my en Jannie liewers net vir kort oomblikke in mekaar se geselskap toe te laat.
Die betrokke oggend, het ek en Jannie ‘n plan gehad. Presies wat die plan behels het, sal ons nooit weet nie, want soos meeste kinder planne, was dit nie regtig ‘n meester plan nie. Ons wou iets bou, en ons het materiaal nodig gehad!
Op die plaas was daar ‘n ou stukkende sement dam wat gebruik was as ‘n bêre plek vir sekere plaas verwante items. Dinge soos rolle draad, heining droppers, pype, en te veel ander dinge om op te noem. Ons trek reguit soontoe, om ons plan in aksie te stel.
In die dinamiek van familie is daar altyd groepies wat vorm, gewoonlik bepaal deur ouderdom. Ons huisgesin bestaan uit vier kinders. Twee susters ouer as ek, en ‘n broer jonger as ek. Die filistyne was ook vier, maar dit was broer, suster, broer en suster. Die ouderdoms groepeering was naby mekaar aan die begin, tot omtrent by my en Jannie. Maar toe het hulle ons verby gevat, en daar was ‘n groot gaping tussen hulle laaste dogter, en my klein boet.
Hulle was onpaar met mekaar, en ook met die ander. Maar omdat hulle moes kies by wie om onpaar te wees, dink ek het hulle maar by my en Jannie probeer aansluit. Seker maar oor dit gewoonlik meer opwindend was. Ons wou natuurlik niks weet nie, wie wou nou babas oppas. Ons het hulle maar gewoonlik verwilder. Hoe dit ook al was diè dag, kom roep hulle ons om ontbyt te kom eet.
Ek kan onthou ons twee was nogal omgekrap want ons was besig. Ek is ook seker daarvan, dat as ons eers na ontbyt na die dam toe sou gaan, dit nie so erg sou gewees het nie. Maar as is verbrande hout, en ons kom by die huis aan van die dam af. Met die instap het die bom gebars.
Later, maar nie baie later nie, het dit aan die lig gekom dat een item wat in daardie dam gebêre was, bestaan het uit dromme teer. Een of meer van die dromme, volgens die bewyse aan ons klere, het begin lek. Dit het op ‘n gedeelte van die dam se vloer uitgeloop. En toe net daar gelê en wag vir ‘n kaalvoet kind. Vir ons het dit nie gepla nie, al het dit onder ons voete en aan ons klere vasgesit. Dit kon selfs voordele hê, soos om te help keer dat duwweltjies ons steek.
Ons het nie eers geweet dat dit ook op ons klere beland het nie. Ons het ook nie gedink dit is so erg as dit op die honde vas sit nie. Ons het glad nie gedink nie. Dinge het vinnig hand uit geruk.
Ons is so te sê aan ons ore na die badkamer gesleep, en in die bad geboender. Toe begin hulle ons was. Toe was nie help nie, word die naelborsels gegryp. Na ‘n tyd van naelborsel skrop, sonder enige vordering, is daar in desperasie, na die skrop borsel gegryp. Die een wat gebruik word op matte en ander algemene swaardiens gebruike. En daarna is daar sterker seep gesoek. Boerseep, blou seep, sunlight seep. Niks help nie! Al wat gebeur is die ma’s raak al hoe kwater. Op die stadium het Jannie en ek begin paniekerig raak!
Dit was omtrent op hierdie stadium wat my pa sy kop by die deur kom in druk het. Ek dink hy het bekommerd geraak oor ons twee se gille in die bad wat al hoe harder word, of dit kon dalk te doen gehad het met ‘n voorstel, dat hulle ons dalk heeltemal swart moes verf. Dit sou ons darm weer in een kleur bring. Met ‘n pa se wysheid het hy besef, nou is die tyd vir ingryping.
Pa gaan haal ‘n bottel terpentyn uit die buite kamer, en op die grasperk voor die huis met die hele familie as getuies, word die twee van ons met terpentyn getakel. Sukses, die terpentyn werk, en nou kom die teer sommer maklik af. Ek en Jannie is dankbaar vir pa se hulp! Tot die seer geskropte vel en die terpentyn ontmoet. Die aanvanklike verligting skakel skielik om in erge ongemak, en ons begin keer en skree, dans en los ruk
Dit word deur die ouers as ondankbaarheid, moedswillig, en stout ervaar, en help niks om die gemoedere te verlig. Daarmee saam kry ons dan ook ‘n klap of twee, wat frustrasie en inspirasie aan hulle dikteer. Maar die terpentyn kry ons skoon, en dit werk selfs in ‘n mate op ons bevlekte kledingstukke. Ons is nogal verlig en vermaak as ons aangesê word om ook die honde met die terpentyn skoon te maak. Verlig, eerstens om te sien hulle kom ook skoon. Vermaak om te sien hoe dit ook hulle velle laat brand, en hulle in draaie te laat hardloop.
Na die terpentyn word ons twee weer deur die bad gejaag. Dalk oor die ouers toe vir ons begin jammer voel het oor die honde se reaksie op die terpentyn, maar eerder bloot net omdat my en Jannie se terpentyn walms hulle wou oorval
Ons was nog nat op party plekke toe Jannie in die Volksie bussie in geboender word. Sekondes later, was daar van twee weke se kuier, net stof wolke oor.
Later daardie aand, met boude wat nog ongemaklik styf voel na die mishandeling waardeer hulle was, kon ek net wonder oor my spontane opmerking terwyl ons die volksie se stof so agterna kyk. Was dit nou regtig nodig, of die regte tyd, om hardop te vra oor hoekom niemand dan eers net kon groet nie.

Soms kan ‘n kind net wonder of hulle ouers dan nooit, ooit self kinders was nie.

© Vossie

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed