‘n Nota op jou kopkussing (12)
Wanneer hartseer aan jou hakskeen hap
en jy vergeefs poog om hom af te trap
sal ek die skuilplek vir jou vrese wees…
Kan jy die liefde in my arms lees?
©Anton Bosch 13/01/2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Ek dink die woorde in jou voorblad, eggo in hierdie pragtige nota van vertroosting, Notas 2 tot 10 was soos wense, drome wat die spreker teenoor 'n vrou openbaar. Baie van hulle was beloftes en herinneringe aan die spreker se diep emosies en bewondering vir hierdie vrou. Mens het altyd gewonder wie is hierdie geheime vrou, wat op so 'n besondere wyse deur die spreker bederf, bewonder is. Dog, in nota 11 neem die nota 'n heel ander wending en is dit nie meer drome of wense nie, maar amper 'n vreugdevolle uitbarsting van emosie. Soos asof die spreker hierdie vrou se hart verower het en net in hierdie oorgawe wil omvou. Hy wil haar naby hom hou, teen sy hart... Weer neem die nota op jou kopkussing 'n ander wending en verander dit in 'n wens van vertroosting in nota 12. As leser kan mens nie anders as om bewus te wees van die spreker se diep omgee en deernis vir hierdie vrou nie. Hy is bewus van haar hartseer en dat dit amper verradelik hier aan haar hakskeen kom byt. Die spreker merk ook, dat dit vir haar moeilik is om die hartseer af te skud of te verwerk. Dan die kenmerklike belofte reëls van die notas - altyd die laaste twee lyne. "sal ek die skuilplek vir jou vrese wees…Kan jy die liefde in my arms lees?" Hy beloof hierdie vrou, dat sy by hom kan kom skuiling soek, maar dis nie net 'n fisiese skuiling wat hy haar bied nie, maar een waar sy haar vrese kan verloor en net totaal vry en oop en veilig by hom kan wees. Hy beloof haar intieme vertrouenskap, waarin hulle twee kan deel in eerlikheid. Dis die mooiste versekering, belofte wat hier so kosbaar oorgedra word in net 'n paar woorde, dat mens amper soek na woorde om hierdie intense verklaring te probeer verwoord. Die ellips laat die leser toe om tot hierdie skuilingplek toe te voeg. Hy wil vir haar sê, by my kan jy skuiling vind teen enige iets, amper 'n uitnodiging om te sê, daar is niks wat in ons deel uitgesluit kan wees nie. Dis alomvattend van jou (die vrou) en my (die spreker) se hele mens wees. Hier in die skuiling, wat ek (spreker) vir jou bied kan jy sonder pretensie, maskerloos, jouself in veiligheid ontbloot. Dan vra hy haar, kan jy die liefde in my arms lees? Interessant, dat hy nie sê "voel nie," maar "lees." Deur dit te gebruik, sê hy vir haar: geliefde vrou, hierdie nota is my arms van liefde, wat ek so graag om jou wil vou, om jou vas te hou en 'n skuilplek te gee. Besef jy dit, kan jy dit raaksien. Dis amper 'n hunkering, wens om vir haar te sê, my arms is dalk nie nou om jou nie, hoewel ek jou daarin wil hê, maar kan jy die omhelsing ervaar in my nota aan jou? Sjoe, soos altyd ongelooflik om jou werk te lees. Hier is soveel gesê in so min lyntjies... 'n Pragtige verklaring van werklik liefhê sonder beperkings en grense, van omgee. Mens sukkel regtig om die woorde te kry om te kan beskryf wat jy as digter hier neergepen het.