Black hole (Silwer)
Black hole
Iewers diep blink Melkweg-silwer,
– of is dit sellofaan –
en verder in die atmosfeer
skyn sterrekrale, kopersente,
lyk iets soos Orion se belt,
die diereriem se sfeer!
Daar’s ‘n groot wit pil,
of is dit die maan.
Met kapsules in wentelbane,
frommels snesiewolke inforseer,
‘n appelplaneet
en kosmetiekkomeet.
In ‘n astronomies beknopte ruimte
groei konstellasie konsternasie!
By galaksies parallel op parallel
is daar kerne en spirale
waar elke liggaam wentel.
In ‘n volmaak geskape stelsel
is alles in sy ruimte
en bly in sy ligjaar,
maar in die swart en donker
van my handsak
met ‘n heelal ingesluk,
vind ek eind’lik dankbaar
my beurs en, per geluk,
‘n sonstraal kwasar-kaart.
En dáár is my supernova-sleutel
wat my dag sal kan lanseer!
Charleine Collins © 9 April 2019
Illustrasie: Gemma Correl 2014
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek