Jongste aktiwiteit:

‘n Onpaar tekkies

Ek hardloop my lewenswedloop as onderwyseres. Dit is, soos met baie ander dinge in die lewe, eers wanneer die tekkie aan die ander voet is, dat jy meer begrip vir ‘n situasie het. Noudat ek self voor ‘n klas staan en nie meer as leerling in ‘n klas sit nie, maak sekere dinge vir my meer sin. Soos, byvoorbeeld, hoe dit moontlik is dat ‘n onderwyseres met slegs een gegrimeerde oog by die skool opdaag.

Ja, glo dit maar, dis waar! Ek was in standerd 7 (deesdae graad 9). Ons Rekeningkunde-onderwyseres, ‘n lang, skraal, donkerkopvrou, het met haar professionele, statige houding, ons respek afgedwing. Een oggend stap ons by haar klas in en die les neem soos soos gewoonlik ‘n aanvang. Na ‘n rukkie begin sommige van die meisies onderlangs giggel. Later trek die nuus al fluisterend, soos ‘n veldbrand deur die klas: Slegs Juffrou se linker-oog is gegrimeer! Sy het intussen opgemerk dat daar ‘n onrustigheid in die klas was en het die les onderbreek. Sy wou weet wat ons aandag so aftrek. Natuurlik het niemand die moed gehad om vir haar sê nie. My een baie taktvolle vriendin sê toe vir haar dat sy haar graag op die stoep sal wil spreek. Sy vertel toe vir Juffrou Van Heerden dat slegs haar een oog gegrimeer is. Juffrou het haar bedank, haar teruggestuur klas toe en vir ‘n rukkie verdwyn. Toe sy terugkom, was beide oë grimeringloos. Sy het iets gesê van ‘n onderbreking die oggend terwyl sy grimering aangewend het en dat dit met enigeen kan gebeur. Daarna het sy kalm met haar les voortgegaan.

Jare later het ‘n kollega van my tot en met eerste pouse haar dagtake en lesse rustig behartig. Tydens pouse merk ‘n ander kollega op dat daar iets vreemds aan haar skoene is. By nadere ondersoek sien ons toe dat die een hofskoen swart en die ander een donkerblou is! Sy was eers vir ‘n paar sekondes ‘n bietjie verleë, maar kon toe die humor in die situasie raaksien. Sy het klaarblyklik daardie oggend in ‘n halfdonker kamer aangetrek, want sy wou nie vir manlief steur nie. In die swak lig het die skoene, wat natuurlik van daardie koop-dieselfde-paar-in-verskillende-kleure items was, eenders gelyk en sy het salig onbewus daarvan dat sy ‘n onpaar skoene dra, haar dag begin. Aangesien sy redelik ver van die skool af gewoon het, het sy besluit om maar die dag so met onpaar skoene en al deur te sien. Van die meer oplettende kinders het dit opgemerk en haar met groot fanfare daarop gewys, waarop sy dan geduldig verduidelik het hoe dit gebeur het dat sy twee verskillende skoene dra. Dit het sommer gehelp om ‘n ligter atmosfeer in die klas te skep en teen die einde van dag was almal se werk nog steeds gedoen soos wat dit moes wees. Boonop het ons almal nou ‘n lekker amusante storie om te vertel.

So is dit toe so ‘n jaar of drie gelede my beurt om in ‘n soorgelyke situasie te beland. Op die dae wat ons sport afrig, trek ons ons skoolsweetpakke aan. Soos enige ware hardloper, het ek gewoonlik ten minste twee paar hardlooptekkies in my kas. Deesdae is hardlooptekkies mos al die kleure van die reënboog, maar vroeër was die meeste tekkies wit, met ‘n gekleurde strepie hier en daar, of dalk met ‘n gekleurde sool. Aangesien skole nogal vroeg in die oggend begin en die onderwysers selfs nóg vroeër daar moet wees, gaan dit party oggende maar dol om betyds reg te wees om te ry. Ek hou meer van slaap as van ontbyt eet en staan gewoonlik op die heel laatste moontlike tyd op om steeds net-net betyds te kan ry. ‘n Mens se brein moet immers vars en uitgerus wees as jy die hele dag voor ‘n klas vol leergierige, kinders wat allerhande relevante en totaal irrelevante vrae vra, moet staan! Een oggend is die tyd ook maar beperk en ek gryp haastig my tekkies uit die kas uit. Ek hardloop soos ‘n warrelwind by die huis uit nadat ek vlugtig vir manlief gesoengroet het en daag darem betyds by die skool op. Ek het my so af en toe verbeel dat een van die kinders skalks glimlag wanneer hulle by my verbyloop, maar niemand het ‘n woord gerep nie. Dit was eers toe ek ná skool vir ‘n wyle gaan sit en rus voordat ek my landloopkinders gaan ontmoet, dat ek self opmerk dat ek ‘n onpaar tekkies aanhet! Die feit dat my tred effe anders gevoel het deur die loop van die dag, het skielik sin gemaak.

Ek het besluit om nie ‘n woord aan die landloopkinders te rep nie en te kyk of hulle dit opmerk. Terwyl ons in ‘n sirkel gestaan en strek het, het ek gesien dat ‘n paar van hulle na my skoene kyk en dan betekenisvolle kyke met hulle maats uitruil. Dit het ‘n rukkie geduur voordat iemand gevra het of ek bewus daarvan is dat ek ‘n onpaar tekkies aanhet. Ek het speels vir hulle gesê dat ek wou toets of hulle oplettend is. Hulle het my amper geglo! Na ‘n verduideliking en ‘n lekker lagsessie, het ons sommer ekstra woema vir die middag se oefening gehad. En ten spyte van my onpaar tekkies, het ek lekker saam met hulle gedraf! Ek het weer teruggedink aan Juffrou Van Heerden se een ongegrimeerde oog en my kollega se onpaar hofskoene…
Dit is opvallend dat, in al drie hierdie gevalle, nie almal onmiddellik die wanbalans of onpaar opgemerk het nie. Sommiges het dit glad nie opgemerk nie. Dié wat dit wel opgemerk het, het die humor in die situasie geniet en die lagsessie het sommer lekker goedvoelhormone afgeskei. Niemand het permanente skade gelei nie – net ‘n paar ego’s was moontlik vir ‘n dag of twee aangetas. So werk dit met die wedloop van die lewe ook. Dikwels is daar klein dingetjies was skeefloop en miskien ‘n effense wanbalans skep. Dikwels is die situasie baie meer onbeduidend as wat ons, of ander mense, dit ervaar. Die wedloop gaan voort en ons moet aanhou hardloop. Die wyse waarop ons dit hanteer en weer daarvan herstel, bepaal hoe gemaklik ons die res van die wedloop gaan hardloop. Soms moet ons net diep asemhaal, glimlag en voortdraf. Kleiner insidente, soos ‘n taxi wat voor jou inry, iemand wat voor jou in die ry indruk, of iemand wat in die parkeerplek waarvoor jy gemik het, inglip, is dikwels ‘n kleedrepetisie vir die groter uitdagings in die wedloop van die lewe.

Mag jy jou wedloop met vasberadenheid hardloop, ten spyte van ‘n onpaar tekkies!

Groete
Die drawwer




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed