Jongste aktiwiteit:

Aanpasbaar?

Silwer, woorde 891)

Volgens die wetenskap is die mens biologies ʼn hoogs aanpasbare wese. Maar daar is heelwat meer fasette wat in ag geneem moet word wanneer jy oor aanpasbaarheid begin gesels. Wat vir die een persoon niks meer as ʼn molshoop is nie, is vir die volgende persoon ʼn onoorkomelike berg. En die grootste faktor wanneer ons met uitdagings gekonfronteer word en hoe ons dit ervaar, is waarskynlik ons sienswyse en emosionele intelligensie.

Mense wat aanpasbaar is, het gewoonlik die vaardigheid om “in die toekoms te kyk” en die bereidwilligheid om aan daardie toekomsdroom te werk totdat dit ʼn werklikheid word. Die lewe deel meer as dikwels suurlemoene uit, en nie almal hou daarvan om limonade te maak nie. Die aanpasbare persoon mag dalk daardie selfde suurlemoen neem en ʼn japtrap ʼn heerlike suurlemoentert optower. Dit hang net af hoe daardie suurlemoen in jou gedagtes lyk. Sien jy ʼn suur, geel vrug, of is daar gebakte soet meringue in daardie visie?

Mense met kognitiewe buigsaamheid kan verskillende denkpatrone en -strategieë in hul verwysingsraamwerk inkorporeer. Hulle is hoogs aanpasbaar en kan op die ingewing van die oomblik ʼn goeie besluit neem. So ʼn persoon sal die lewe as ʼn genotvolle uitdaging sien en ʼn probleem vanuit verskillende hoeke beskou. Hierdie persoon leer uit sy ervaring en sien raak wanneer ʼn ou patroon nie meer werk nie.

Mense wat emosioneel in staat is om buigsaam te wees vaar goed wanneer daar onverwags ʼn slegte ding gebeur. So ʼn persoon is gemaklik met die proses van oorgang, insluitend klaerigheid, angstigheid, teenkanting en selfs gedurende rousmart. Om aanpasbaar te wees in ʼn tyd van verandering kan die skeidslyn wees tussen stagneer en floreer. Diegene wat emosioneel sukkel met verandering is baie dikwels onder voortdurende spanning wanneer hul omgewing teen hul sin verander, want die blote gedagte om dieselfde ding op ʼn ander manier te doen, is ongelooflik stresvol. Hulle sukkel om dieselfde situasie uit twee of meer hoeke te beskou.

Die vermoë om tegelykertyd optimisties en realisties te wees help die persoon om met sy voete op die aarde te staan, selfs al is dit ʼn slegte situasie. Hy kan die realiteit raaksien en op die selfde tyd ʼn beter toekoms visualiseer en is nie net blindelings positief of pessimisties nie. So ʼn persoon sien die uitdagings van die lewe as ʼn geleentheid en nie ʼn bedreiging nie.

As daar ooit ’n tyd was wat mens nodig gehad het om hoogs aanpasbaar te wees, is dit nou terwyl ons lewe byna dag-na-dag in ʼn oogwink radikaal kan verander. Die vermoë om nie soos ʼn afkop hoender rond te hardloop wanneer dit lyk asof alles rondom jou ineenstort nie, help geweldig baie, en kan die verskil wees tussen sukses en mislukking, groei of stagneer, inkomste of bankrotskap.

Maar hoe lyk ʼn aanpasbare persoon?
1. ʼn Aanpasbare persoon is nuuskierig en bereid om te eksperimenteer. Hy het ten minste die bereidwilligheid om iets nuuts aan te pak en nie net op ʼn hopie te sit en te treur oor verspeelde geleenthede nie.
2. Aanpasbare mense sien ʼn geleentheid waar ander net tragedie raaksien. Om aan te pas beteken ook om te leer en te groei en om nie situasies as sleg of verkeerd te oordeel nie.
3. Aanpasbare mense is kreatief en vindingryk. Mens kan alles verloor, maar jy kan nie jou vindingrykheid en vermoë om aan te pas verloor nie.
4. Aanpasbare mense dink vooruit. Hulle sien ʼn geleentheid raak en is nie bang om dit te neem nie.
5. Aanpasbare mense sit nie en verlang onophoudelik terug na die “goeie ou dae” nie, en kerm ook nie by elkeen wat kan hoor oor alles wat verlore gegaan het nie.
6. Aanpasbare mense hou vergadering met hulself. Dit is die tyd wanneer hy in sy gedagtes met verskillende nuwe idees speel en die beste een kies.
7. Aanpasbare mense blameer nie mense en situasies nie, hulle koester ook nie ʼn wrok nie, maar aanvaar ʼn situasie vir wat dit is en beweeg vooruit.
8. Aanpasbare mense het ʼn uitsig oor die hele woud en sien nie net die paar bome reg voor hul voete raak nie.
9. Aanpasbare mense lewe met ʼn oop verstand en weet ook waarvoor hulle staan. Hulle weet wat is belangrik en het gewoonlik ʼn goeie begrip van hul persoonlike waarde en wat vir hulle belangrik is.
10. Aanpasbare mense is dapper en nie bang om te faal nie. Nie elke idee sal uitspeel soos hulle dit wil hê nie, maar om hierdie terugslae as ʼn leerkurwe te beskou is ʼn belangrike element van aanpasbaarheid.
11. Aanpasbare mense lewe in die oomblik. Hulle kan ʼn situasie hanteer soos dit is en nie soos wat hy dink dit behoort te wees nie. ʼn “Mindfull” lewenswyse help hom fokus op die hier en nou en hy sal nie onnodig tyd spandeer om oor die verlede te tob nie en bekommer hom ook nie oor die toekoms nie.

Wanneer ʼn persoon hierdie karaktereienskappe ontwikkel, help dit om hul aanpasbaarheid te verbeter en kan hulle ook verandering met groter gemak hanteer. Dit is belangrik om gemaklik met verandering te wees omdat die stres van enige situasie jou nie so maklik onkant gaan vang nie. Dit verhoog ook jou veerkragtigheid en maak van jou oor die algemeen ʼn gelukkiger mens wat makliker met ander oor die weg kan kom.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed