Jongste aktiwiteit:

My romantiese afspraak

Dis Februariemaand. Blykbaar die maand van die liefde. Hoe romanties! Hoe lekker dat hulle ‘n maand aan die liefde afstaan. En tog, hoeveel van ons doen regtig iets spesiaals om hierdie maand te vier? Ek moet erken dat ek gewoonlik sommer net so terloops iets doen net om nie heeltemal niks te doen nie. En dan is dit afgehandel.

Dalk moet ek ook ‘n bietjie moeite doen en iewers iets romanties doen. Maar wat? Wat is nog nuut en romanties as ‘n mens al 36 jaar getroud is? As jy al soveel dinge saam beleef het? Die goed en die sleg?

Vir ‘n hele dag loop en droom ek: Wat is my idee van ‘n romantiese afspraak? Wat kan ek doen wat nuut is?

Dadelik kom die prentjie in my kop op van ‘n heerlike ete by kerslig iewers op ‘n eksotiese eiland. Ons hét dit al gehad. Of dalk iewers op ‘n bootjie op ‘n rivier met my geliefde wat saggies op sy kitaar tokkel. Maar is dit regtig? Want my geliefde hou nie baie van bootjies wat dobber op water nie en hy kan ook nie kitaarspeel nie.

Tog, hoe meer ek daaroor dink en droom, hoe meer kom ‘n heeltemal ander prentjie in my kop op.

As boerkind, boervrou, het ‘romanties’ ‘n heel ander prentjie as miskien vir iemand anders. Vir my romantiese afspraak met my geliefde vir langer as veertig jaar sal ek eers saam met hom op die plaas rondry en die vrug van sy handewerk en die genade van ons Heer geniet. Lusern wat weer lustig groei nadat dit vir vyf jaar lank ‘n dorre woestyn was. Besproeïngsgrond wat pikswart verbrand was in die felle Karooson en nou weer nuwe lewe wys. Ons sal die wonder daarvan geniet en keer op keer dit deur woorde bevestig. So tussendeur sal ek saggies aan sy hand vat. Sommer net om my teenwoordigheid te wys. Om te bevestig dat dit ék is wat langs hom sit.

En dan sal ons na die uitkykkoppie ry waar ons ‘n drie-honderd-en-sestig grade uitsig het oor die plaas. Ons sal die piekniekmandjies uitpak wat met soveel sorg voorberei is. Hy sal twee glase uithaal, dit rustig vul met ys en dan ‘n heerlike roomlikeur daaroor gooi. Dalk Amarula. Ons sal ons glasies klink, mekaar in die oë kyk, saggies soen. Dan styf teen mekaar op ‘n klip gaan sit en mekaar se nabyheid geniet terwyl die son sy laaste strale van die dag oor ons skyn. Ons sal ons liefde vir mekaar herbevestig.

Intussen sal ons heerlik smul aan die verskillende kase wat ingepak is. Neute. Salami. Biltong. En wanneer ons eintlik al versadig is, sal ek die individuele kaaskoeke uithaal wat ek al ‘n dag tevore met sorg gebak het. Ons sal dit happie vir happie eet met teelepels.

Ons sal kyk hoe die son sak, mekaar vir oulaas styf vashou en die goedjies oppak om met die rowwe 4×4-paadjie terug te ry voor dit heeltemal donker is.

By die huis aangekom sal ons ‘n vuurtjie maak. Hy sal vir ons vleis braai terwyl ek die slaai voorberei en die tafel dek. Met ‘n glasie wyn in die hand sal ons rustig by die vuur sit en die heerlike aandlug geniet. Dalk, net dalk is dit volmaan en kan ons kyk hoe die maan sy kop uitsteek.

Ja, dit is hoe ek graag my romantiese afspraak sal wil hê. Eenvoudig. Aards. Sonder fieterjasies. Sommernet saam. Niks meer nie. Net saam.

Toortsie




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed