Jongste aktiwiteit:

Die Opstandig

Die opstanding (Deel 1)

 

Ruiter op die wit perd

 

binne die blits van ’n blits-sekonde

versplinter die hemel met gebulder

kloof ‘n gapende weg oop

kristal-helder-verblindend

die weg na vernietiging!

 

brullend, met vlerke, daal ‘n forse sneeuwit perd

Jesus, Gesalfde Waaragtige Een op sy rug

triomferend wapper sy bebloede kleed

soewereine krone op sy hoof

doelgerig, met gesag!

 

sy grimmige mond spuug vlymskerp lemme

terwyl rooivonk-oë blitsige vuurstrale skiet

tref hul teikens bitsig; onheilige dreksels

die swael-vuur slurp hul siele gulsig in

voëls verslind gierig die vlees!

 

omring deur ragfyn geklede leërs op spierwit perde

regeer Hy met ‘n ysterstaf; toornig en grimmig

word ‘die dier’ én sy aanbidders lewend

verswelg in die hel se swael-vuur

wat nooit sê: “genoeg nie!”

 

Verwerking van Openbaring 19:11-21 (1965 – 2de druk van 1963 vertaling)

 

Die opstanding (Deel 2)

 

‘n Duisend jaar

 

binne die blits van ’n blits-sekonde

kraak ‘n vernietigende krag, soos ‘n atoombom, die aarde

met ‘n sleutel in die hand daal ‘n engel uit die hemel neer

rammelend sleep-dra hy ‘n massiewe ketting

doelgerig, met sidderende outoriteit!

 

geweldadig werp hy die draak, die listige slang, satan self

in die afgrond; geketting, verseël vir ‘n duisend jaar

 

siele van onthoofdes, ter wille van hul geloof in God

en die wie se hoofde en hande nie die merk dra

word opgewek; sit op trone, regeer as konings

saam met Jesus, Gesalfde, Waaragtige Een

vir genoemde duisend jaar!

 

(dit is die eerste opwekking en amnestie teen die doderyk)

 

snel eindig die duisend jaar; waansinnig, listig, geslepe

slinger satan rond, verkrummel weerstandige nasies

ssy gessplete tong ssuss ssiele; gewetenloos

versamel hy ‘n menigte uit gog en magog

soos die sand van die see!

 

slu omsingel hul die geliefde stad om die heiliges te dood

blitsig verslind God se bitsige vuurstrale die dreksels …

satan en sy onderdane se siele verenig met die

valse profete en ‘die ‘dier’ in die swael-vuur

gebind, gepynig tot in ewigheid!

 

©Elize Ehlers

 

Verwerking van Openbaring 20:1-10 (1965 – 2de druk van 1963 vertaling)

 

Die opstanding (Deel 3)

 

Die laaste oordeel

 

binne die blits van ’n blits-sekonde

keer dooies se siele met ‘n gerammel terug

bewend voor God wat op sy groot wit troon sit

boeke van lewe en oordeel geopend op sy skoot

geen omkeer meer!

 

oordeel word oor elkeen volgens sy werke uitgespreek

die wie se name in die ‘boek van die lewe’ ontbreek

verdwyn genadeloos in die poel van swael-vuur

die vuur kreet sy finale oorwinning uit

die doderyk word gesluit!

©Elize Ehlers

 

Verwerking van Openbaring 20:11-15 (1965 – 2de druk van 1963 vertaling)

 

Die opstanding (Deel 4 – Dit is volbring!)

 

Die nuwe aarde en die nuwe hemel

 

binne die blits van ’n blits-sekonde

daal ‘n nuwe aarde uit die hemel neer

‘n heilige stad, die nuwe Jerusalem

die ou aarde kwyn, gaan tot niet

en die see verdwyn!

 

‘n nuwe Jerusalem manifesteer, glansende kristal, smarag, goud …

met ’n kragtige stem roep God uit: “die tabernakel is by julle

Ek sal onder julle woon en saam met julle wandel

julle sal my volk wees, geen droefheid meer

Ek maak alles nuut!

 

Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde

vir julle gee Ek water uit die fontein van lewe

dood, geween of moeite, nag of koud

sal daar nie meer wees nie

tot in alle ewigheid!”

 

©Elize Ehlers

 

Verwerking van Openbaring 21:1-8 (1965 – 2de druk van 1963 vertaling)

 

Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!

Amen

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed