Jongste aktiwiteit:

“Een se dood is die ander se brood…”

 

Die eksentrieke velhoed sit laag oor die kop met yl haartjies en hy skreef sy oë teen die skerpgeit van die ondergaande son.  Sy blik vee oor die volle breedte van sy plaas. Die rye mielies skep goud uit die ondergaande son. Swerms rooivinke swiep laag oor die bultende mieliekoppe, swenk in wye boë hoog in die lug op en duik tussen die goudheid in. Almal ken hom – Gorreltjiepiet van Tonder.  Sy plaas het nie eintlik ‘n naam nie en begin waar die enigste straat in Biesiesvlei, die klein Noord-Wes dorpie, doodloop. Vriend en vyand ken hom as Gorrletjiepiet van Doodloopstraat.

Sy naam is getrou aan sy geaardheid. Gorreltjiepiet se lang en seningrige gebeente is al verby sewentig somers sterk. Met net ‘n handjievol haartjies bruingebrande kop en geen meer tande in sy goedige glimlag nie, grens hy maar aan windverwaaid se kant. Sy gorrel staan gepunt,  en strek amper by sy spitsken verby, en as hy lag of praat of eet wip sy gorrel alte kostelik op en af tot groot vermaak van die dorpskinders! Gorreltjiepiet sou maar alte armsalig voorkom, as dit nie was vir vroulief Anatot so getrou aan sy sy nie! Haar kyk vat raak, haar hande staan vir niks verkeerd nie, dit wat sy nie raak kan vat nie, vloek sy raak. Kommer ken sy nie. Gorreltjiepiet se hare staan elke oggend blinkgejel, sy knieknoppe warmgevryf met nardusolie en sy kakieklere is skoon en kreukelvry.

Gorreltjiepiet kry vreeslik lekker om met sy stoetvrou by die manne op die dorp te spog. Hy dank die Vader elke dag vir die vrou wat hy aan hom toevertrou het. Sy is nie ‘n mevrou Suid-Afrika nie, en hier lag hy so in sy enigheid dat die gorrel hoog wip, met súlke boere arms en bolronde wange val sy defnitief nie in daardie kategorie nie! Binne haar groot borsmaat is sy vir hom mevrou heelal. Dwarsdeur maer jare en ook vettes, bly die kort dik vrou en die lang sening lewensgetrou aan mekaar – en nie net dit nie – mekaar se grootste aanhangers! Gorreltjiepiet en Anatot van Doodloopstraat is voorwaar ‘n rare verskynsel vir besoekers aan Biesiesvlei!

Anatot het net één tekortkoming. Sy skinder so graag. Gorreltjiepiet weet al, as sy Saterdagoggende haar draai loop maak het by die Koóperasie en hy hoor die groen bakkie die tweespoor van die grootpad af vat, trek hy ‘n kombuisstoel uit en sit die ketel aan. Hy trek haar pienk koffiekoppie met die wit swaan daarop nader, en ook sy, meer beskeie bruin koppie. Hy sal die kookwater net ingegooi het en dan die hek hoor toegaan.  Anatot sal dan blosend die kombuisdeur oopstoot, inskommel en die inkopies op die kas langs die deur neersit en op haar kant van die kombuistafel gaan neerval. So met die asemskep sal sy dan, ter inleiding sê: “Weet jy ou Pietjie, die één se dood is nou maar die ander se brood”…en die nuutste skindernuus so al blasend begin vertel.

Een bitterkoue Maandagoggend more help Gorreltjiepiet en sy vriend Yster vir Ouvolk sy paar basterbeeste voer.  Yster Brits, ‘n goeie vriend wat die tuindienste op Biesiesvlei bedryf, laai so dan en wan oortollige tuinvullis, veral peule, vir die beeste voor die kraal af met sy wit gestampde bakkie en grys waentjie wat hy spoggerig self gemaak het.  Hy, Yster en Ouvolk meng die peulegoed met die groenvoer en stoor dit in bale in die ou sinkstoor langsaan die huis, vir die dae wat die son steek en die reën wegkruipertjie speel agter die wolke.

So met die gewerkery beland daar toe die een of ander gogga in Gorreltjiepiet se werkstewel.  Eers wis hy niks.  Later begin daar darem ‘n ding in sy skoen brand soos ‘n vuur uit die hel alleen kan! Denkend dat dit ‘n peuledop is wat by sy kous ingevoeter het, vryf hy sy duim in sy kous om van die lastigheid ontslae te raak en gaan verwoed aan in sy poging om die peule en die groenvoer op ‘n manier gemeng te kry.  Later is die brandpyn so lastig dat hy genoodsaak is om op die kruiwa te gaan sit en sy skoen uit te trek om te loop loer wat die moeilikheid dan is. Ook Yster en Ouvolk staan nader om na die gedoente met die werkstewel te kyk.

Die vloek wat val oor Gorreltjiepiet se lippe bring ‘n gewyde stilte oor Ouvolk.  Toe hy sy skoen gooi dat dit ‘n boog in die lug maak en Ouvolk skrams op sy korrelkop tref weet hy – dié Maandag draai blou!

Gorreltjiepiet kyk na die oorblyfsels van die spinnekop wat hy in sy skoen doodgedruk het toe hy gedink het ‘n peul het by sy kous ingeval.  Sy gorrel bewe benoud op-en-af. Hy kyk na sy voet en voel oombliklik ylhoofdig.  Die swerkater het hom gebyt.  Drie kere nogal!  Die gif brand ‘n pad dwarsoor sy voetbrug – so al asof ‘n kan suur oor hom loop.

Yster gee net een kyk en besef dat hiérdie doktersake is. Hy laai Gorreltjiepiet sommer voor in die bakkie en skree dat Ouvolk die waentjie moet afhak terwyl hy reeds in eerste rat is.  Ouvolk staan tussen die peule en stof en kopkrap terwyl hy die bakke in die tweespoor agternakyk. Wat het vir Gorreltjiepiet gebyt?

Anatot het die hek hoor oopgaan. Vadoek in die hand staan sy op die agterstoep en skreef haar oë. Sy sien hoe Ouvolk sy kop krap, hoed in die hand, en met homself staan en praat.  Sy sien die stofwolk soos die bakkie die teerstraat tref. Sonder om eers die kombuisdeur toe te maak of die oond af te sit skommel ou Anatot af na Ouvolk om te hoor wat aangaan.

Yster arriveer binne agt minute by die kliniek waar oudok Heunis elke tweede dag die siekes se nuutste kwale aanhoor.  Yster lewer Gorreltjiepiet af asof hy ‘n pakkie is – in die hande van oudok Heunis.  Die voet het teen hierdie tyd ‘n kol so groot soos ‘n ryp vy bo-oor sy voetbrug en Gorreltjiepiet kyk in doodsangs hoe die gif steeds versprei.  Daar hang ‘n siek reuk van vrot vleis in die lug.

Swerkater van ‘n spinnekop!

Oudok Heunis lyk nie vreeslik bekommerd nie. Geoefend trek sy wit hande ‘n naald vol spuitstof.  Seker teengif, soos met slangbyte, dink Yster.  Gorreltjiepiet se groot gorrel werk oortyd. Nog nooit het hy sy Anatot so gemis nie! Dis ‘n ellendige situasie.

Anatot was eers kwaad en toe bekommerd. Ouvolk het rats in die bak van die groen bakkie gespring en sy het met ‘n vaart weggetrek. Gorreltjiepiet sal dit mos nie máák sonder haar aan sy sy nie!

Dis ‘n treurige affêre by die kliniek. Yster sit in sy wit bakkie. Oudok Heunis en Gorreltjiepiet is nog in die spreekkamer besig. Agter ‘n toe deur nogal.

Anatot het haar mooi maniere op die plaas gelos. Sy storm die toe spreekkamerdeur oop soos ‘n stoetbul.  Gorreltjiepiet sluk benoud en kyk dankbaar na sy geliefde stoetbul. Anatot storm nader en gryp die seningrige hand vas. Anatot huil. Sy sterk vrou, die vrou wat alles raakvat, wie se hande vir niks verkeerd staan nie, huil op sy bors!

Gorreltjiepiet ervaar vreemde emosies. Is dit Genadedood wat so voel? Het Oudok Heunis dalkies te veel spuitstof gespuit? Hoe dan voel dit so of hy sweef bo die aarde?  Gorreltjiepiet vryf met sy een seninghand oor Anatot se deurmekaar hare. “Ou Totjie, ek is oukei, my blom…”

Baie later skommel die twee terug huistoe.  Uitgeteer van die honger en die skok.  Agter in die groen bakkie sit Ouvolk steeds. Hy hou vas aan die  plastieksak vol steriele verbande, gaasverbande, wondskoonmaakmiddels, pynpille en des meer. Hy voel so jammer vir Gorreltjiepiet en Anatot…

Die volgende oggend is Anatot weer haar ou self. Nadat Gorreltjiepiet se voet skoongemaak en verbind is, het sy sy hare blink gejel, sy knieknoppe met nardus olie geolie, en sy klere vir hom reggesit.

Toe hy later vir ontbyt aansit stoot Anatot sy koffie voor hom plons op haar stoel langs hom neer. “Jy weet my ou manlief…die een se dood is die ander se brood…”

Gorreltjiepiet se gorrel wip amper by sy mond uit. Wat práát die vrou tog vandag?

“Ag ou Totjie, ek is mos nie dood nie, my blom?”

Anatot maak Gorreltjiepiet stil. “Pietjie jy weet, ek wou nog altyd ‘n groot groentetuin gehad het”.

Sy maak keel skoon. “ek het nou so gedink…hoekom verkoop ons nie deel van die plaas en hou vir ons ‘n paar hektar grond vir ‘n lekker groente-akker oor nie? Ons word nie jonger nie, Pietjie..en ek het hoeka gewonder hoe ek jou ooit van die lande gaan loskry – en kyk nou vir jou – vir maande afgeboek! Toe my man, wat sê jy van my plan?

Gorreltjiepiet lag dat sy gorrel op-en-af-wip. “Ek sou sê…die een se dood is die ander se brood ou Totjie!”

Anatot het die plaas gou verkoop gekry. Sy het haar eie groenteboerdery “Anatot Groente” gedoop. Anatot se hande staan vir niks verkeerd nie. Haar kyk vat raak,  dit wat sy nie raak kan vat nie, vloek sy raak. Kommer ken sy nie. ! Gorreltjiepiet en Anatot van Doodloopstraat is voorwaar ‘n rare verskynsel vir besoekers aan Biesiesvlei!

Ry gerus aan op die tweespoor waar die dorp se enigste straat doodloop. Dalk word jy aangenaam verras!




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed