ALTYD IS MOEILIK
ALTYD IS MOEILIK
Dis maklik om niemand te verwond
wat jou verantwoordbaar kan hou;
geen glips ontvlug ooit jou mond
want jy’s ingedril om ongeag bek te hou.
Dis net so maklik om moeilik te wees
deur jou aweregse streep uit te basuin
as die nietige dinge van jou gees
jou meer pla as ander se pyn.
Dis maklik om voor te gee en rolle te ruil,
maskers te dra, te verveer, en verhaar
dat niemand ooit sal weet wie agter als skuil
vir vermaak, verraad of vrede bewaar.
Die karaktertoets lê by die hellings
wanneer remme nie getrap kan word
as spoed optel oor stroomversnellings –
sonder valse ego’s mag lewens ineenstort.
Om altyd te wees wie jy voorgee,
ook wanneer niemand jou kan meet
en bepaal of jou persona jou weë
salueer. Wat is jou houding sonder vroom gevreet?
Altyd is moeilik as jy beloof voor jy dink
oor jou offerhande om patrone te verleer,
en sweer dat jou woorde sal weerklink
wat jy bied as gestroopte naam en eer.
Om gematig te bly mag doods klink;
ontglim van eie ek, stand en glans.
Al los die droesem na die gefuif ‘n stank
van aardse skyn vals saamgeflans.
Ons wekroep: orde! Soos drenkelinge
smag na rus, sorg en veiligheid.
Gee vestings skanse teen massas dronkelinge
wat lewens afmaai deur onstabiliteit.
Gravitas maak ouers mense
gekerf uit stabiele rots.
Bagasieloos lê ons gesonde grense
met fondasies vir nasionale trots.
Laat staan eie agendas, werk saam, beur
vorentoe, word wyser sonder eiewaan
wat jou beheer. Beteuel jou humeur,
en ervaar hoe insig jou poorte oopslaan.
©Charlene Jordaan Kotzé (Junie 2023)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.