Asemloos
‘n Wolk het oor die berg kom lê
(selfs wasem moet ‘n rusplek hê)
soos ‘n laken oor die lyf
van een wat dood is.
*
Toe huil die wind deur die doringboom
(die een waarin die singvoëls woon)
en treur duiwe in ‘n beurtsang
in die wete
dat vuur en vlam en son verdwyn,
dat helder dag tot skemer kwyn.
Soms is al wat oorbly net die donker
en die stilte –
want die hemel kan sy maan verloor,
sy sprankel en sy engelkoor
en Venus moet berus in
hiérdie wete –
die tango is ‘n dans vervliet
‘n passie lank en dan’s dit niet.
Ook die liefde en die lewe
het ‘n einde.
*
‘n Wolk het oor die berg kom lê
(selfs asem moet ‘n rusplek hê)
soos ‘n laken oor die lyf
van een wat dood is.
© C. Shaw
19 November 2016
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Pragtig Carma soos altyd. jy mag maar hoor