Jongste aktiwiteit:

Augustus 2024 – SKULDLAS projek – Uitslae en kommentaar

Augustus 2024 – Skuldlas projek – Wenners en kommentaar

Baie geluk aan hierdie 10 lede!

 

WENNERS:

GEDIGTE:

Brons:

(1) No 4           Coenie Horak met Sinkretisme

(2) No 33         Retha van Deventer (Pikettie) met Die hel in my

(3) No 5           Coenie Horak met Een duisend letter rangskikkings later

 

Silwer:     

(1) No 2           Pieter Moster met Die doring in my vlees

(2) No 29         Elize Kruger met Hartstories

(3) No 28         Elize Kruger met Verreken

 

Goud:     

(1) No 22         Loretta Szikra met ongetiteld (Senryu)

(2) No 26         Elmarie Nienaber Van Kampen met Ek weet nie …

(3) No 23         Amanda de Meillon met Waar was jy?

 

MENINGSTUKKE: GEEN

 

RUBRIEKE:

(1)No 4            Ano met In die sop

GEEN

 

ARTIKELS:

(1) No 2           Marlene Erasmus met Doeltreffende skuldbeheer: stappe en wenke

(2)No 1            Ano met In ons skimmigheid het ons eintlik dom geword

(3) Geen

 

VERHALE:

(1) No 6           Retha van Deventer (Pikettie) met Pandemonium in die glas-sfeer

(2) No 2           Marthie Joubert met Skuldlas

(3) No 4           Marlene Erasmus met Tyd se trane

 

 

Brons

 

  1.  Sinkretisme

Ek is baie beïndruk met hierdie gedig. Dit is ongelooflik goed ontwikkel. Die inhoud (alhoewel jy lesers sal kry wat nie met jou sentimente saamstem nie) is ongelooflik skerpsinnig met keurige persepsie en gewaarwording. Ek dink jy openbaar besondere talent en dit is vir my ‘n voorreg om jou werk te beoordeel. Welgedaan.

 

  1.  Een duisend letter rangskikings later

Hierdie vers is die lees werd. Die inhoud, wat baie vars aangebied is en onkonvensioneel omgaan met van die begrippe waaraan ons reeds in Afrikaans vertroud is, het my beïndruk. As ek gedwing sou word om kritiek te lewer sou ek dalk net die tipografie aanspreek waar die lengte van die strofes wisselvallend is.

 

  1.  Jammer

Ek het nie noodwendig baie kritiek oor die inhoud hiervan nie behalwe dat dit lees asof jy twee voltas geskep het. Verder is die aanbieding effe slordig met die ‘n wat sommer aan die ander woord gekoppel is. Die tipografie is ook nie werklik optimaal nie. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

 

  1.  My monster

Die herhaling van monster deur die vers is steurend. Hierdie vers is nie optimaal nie. Kontak my op inkmoderator@gmail.com dan kan ek jou help (as jy wil) om die vers te orden.

 

  1.  My eie tronk

Ek dink eerlik dat hy as digter slegs woorde uit die eter getrek het om met jou rympatroon te strook. Baie van die begrippe, as gevolg van jou woordkeuses, maak vir die leser baie min sin. Ek help jou graag sou jy wou op inkmoderator@gmail.com

 

  1.  Strandloper

Die inhoud van jou vers is ongelooflik skerpsinnig. Die gedeelte van die klippe wat van ‘n straatkat se graf gesteel is, is vir my uitstaande. Dit skep ‘n ongelooflike metafoor. Ek het egter voorbehoud oor die keuse van jou titel. Waar presies pas dit in? Jy openbaar pragtige talent en hoop om nog bair uit jou pen te lees.

 

  1.  Was ek verkeerd

Ek wil jou vers filosofies benader. Die deurtrappery van wat die werklike definisie van blindeliefde is, en die slotstrofe pas doodeenvoudig nie. Waarom sal die gebrek aan die “doel van eie menswees” op enige manier invloed uitoefen op die meriete van blinde liefde? Indien jy die vers sluit deur jou ontnugtering oor blinde liefde te verwoord, sou dit ‘n sterker impak op die vers gehad het. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

 

  1.  Soeke

Alhoewel die metafoor wat jy in jou laaste sin skep vir my treffend is, is die res van die vers nie vir my die opperbeste nie. Moet asseblief nie al jou reëls met hoofletters begin nie. Die vers kan baat by effe redigering.

 

  1.  Vergifnis

Die vers is keurig genoeg. Ek verstaan egter nie die sentiment agter die laadte strofe nie. Die titel van die vers is vergifnis, die inhoud spreek dit aan maar dan waarsku die skrywer die leser om bedag te wees op waarvoor daar gevra word? Waarom?

 

  1.  Interne geveg

Ek dink jy het sag en teer, maar tóg met nodige erns in die toon van die vers hierdie euwel aangespreek. Die interne dialoog wat die karakter het maak die vers vir my baie toeganklik. Keurige werk.

 

  1.  Verlies van ‘n ander soort

Alhoewel ek dink dat die vers waarlik pynlike versugtinge oor en van kinderloosheid verwoord, die aanbieding en manier waarop jy die vers geskryf het nie optimaal is nie. Dit verlig die wrrklikheid maar werklike emosie ontbreek. Dit is dalk net die woordkeuses en die tipografie, maar ek kry nie die nodige poëtiese stimulasie hieruit nie.

 

  1.  Nie vir my

Hierdie vers van jou sluit ongelooflik met die mooiste metafoor (los ‘n bitter nasmaak waar spyt sy trane huil), maar die rea van die vers lees vir my kripties en hakkerig. Kyk of jy die vers kan aanpas om die vloei te verbeter.

 

  1.  Verstoteling

Ek verstaan die sentiment in hierdie vers maar dit lees kripties sonder vloei en ritme.

 

  1.  Aasvoël-restaurant

Jy het interessante beelde om die verbrokkeling van hierdie vriendskap te verwoord, maar dan, in die haas om die woorde op papier te kry begaan jy taalkundige blapse. As voorbeeld:

“en wantroue lê doer eenkant

soos ‘n brandsiek hond”

Hierdie sin moes eerder gefokus het oo “vertroue” want dan het die metafoor meer sin gemaak. Verstaan jy? Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com dan gesels ons verder hieroor.

 

  1.   Spring clean

Die vers probeer om die interne warboel te vergelyk met tasbare gemors in en om die huis. Dit is egter myns insiens nie geslaagd nie. Die vers is woordoorbodig, swaar en sonder funksionele ritme.

 

  1.  ‘n Boer se spyt

Ek dink die vers is teer en keurig geskryf. Dit delf in die psige van die boer wat met droogte gekonfronteer word, en belig die emosie. Waar jy my as leser egter verloor is in jou titel en slotreël. Wat sou hierdie spyt wees? Jy ontwikkel dit geensins nie en lig nêrens die sluier sodat die leser kan verstaan nie. Die vers is keurig maar laat vrae by die leser.

 

  1.  Jy staan nog daar

Kontak my via inkmoderator@gmail.com asseblief.

 

  1.  Skuldlasstorm

Hierdie gedig is treffend met uitsonderlike en besonderse metafore. Alhoewel ek voel dat die digter kleitrap in die eerste 2 sinne, ontwikkel die vers in bloeisels van poëtiese uitnemendheid. Die vers sluit baie sterk en die beeldspraak hierin is besonders. Gee aandag aan lyn 1 en 2, wat afbreek maak aan hierdie baie mooi vers.

 

  1.  Die hel in my

Wat ‘n pragtige vers. As ek kritiek moet lewer is dit slegs dievolgende:

Ek sou die woordorde in jou laaste twee sinne só aanpas:

“om weer ekwilibrium te vind

in ‘n hemel midde die hel in my.”

Dit sluit die vers sterker en verwys dan mooi na jou titel. Sprankelende vers met mooi beelde.

 

SILWER:

 

  1.  Versugting

Om sin te maak van hierdie vers is vir my ‘n breiery in die obskure. Die vers poog om die korpuskulêre bestaan (van die mens?) uit die insetting en verordeninge van die Helige Skrif en/of die kanselrede te verstaan. Dit is egter slegs my eie presupposisie mitsdien ek volstrek nie die bedoeling snap nie.

Dit lees asof die skrywer ‘n illusie van skranderheid wil skep deur arbitrêre gedagtes wat geheel losstaande is van die res, neer te pen. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

 

  1.  Die doring in my vlees

In die poëtiese milieu is dit baie uitdagend om die Golgota gebeure te verwerk in ‘n vers wat nie geyk is nie. Juis omdat dit een onderwerp is wat keer op keer, dekade na dekade deur digters ingespan is as bronteks. Wat vir my egter baie mooi is in joune is dat die rede vir die “kruisdood” vooropgestel word en dat jy dan die “verlossingswerk” gebruik as ‘n volta in jou gedig. Dit skep ‘n pittoreske beeld van versoening en hoop. Jou vers is werklik mooi ontwikkel en die leser kan jou toewyding, nie net tot geloof nie, maar ook tot die digkuns, hierin sien. Welgedaan.

 

  1.  Kaalvoetjies tot oorlogsteuwels

Alhoewel ek as leser die inhoud en semantiese waarde hierin verstaan, is die aanbieding ongelykmatig en stamelend. Die vers ontbreek aan heerlike koppel- en lidwoorde. Die geheim (vir my in elk geval) om treffende gedigte te skryf is om dit aan te bied soos ons praat. Dit maak die produk eerlik, ritmies en  kommunaal. Jou vers lees soos ‘n kabelgram en dit steur die ritme. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

 

  1.  In die skadu van skuld

Die gedig skep by ‘n geveg tussen skeptisisme en spiritualisme in die gedagtes van die digter. Die aanvangsin word herhaal in die middel van die gedig en word dan weer ingespan om die vers te sluit. Daar is dus geen volta hierin nie, en het die digter nie die motivering behaal deur die oplossing te identifiseer nie. Gedigte hoef natuurlik nie altyd ‘n keerpunt te hê en ‘n alternatief te soek en te verwoord nie. Soms bly die uitdaging vooropgestel en is dit dáárdie emosie wat die skrywer wil handhaaf. Ek weet óók dat digters soms van buite inkyk en dig oor ons persepsie van andere se pyn, maar, indien hierdie persoonlik is wil ek u tog aanraai om hulp te soek voor die afgrond werklikheid word. Ek dink die vers is keurig.

 

  1.  Skaakmat

Daar lê ‘n verrassing vir die leser in die spieël. Keurige vers.

 

  1.  Die aarde huil

Jy spreek ‘n groot euwel in jou vers aan. Ek vind die gedig effe kripties sonder nodige vloei. Die rymptroon oo sekere plekke in die vers help egter om die ritme te handhaaf.

 

  1.  Verreken

Ek merk gereeld in my kommentare op dat eerlike poësie gepleeg word as digters skryf soos hul in die daaglike omgang praat. Jy het dit weereens bewys. Die praattrant (neem ek aan soos jy daagliks die taal besig) waarin jou vers geskryf is maak dit eerlik en kan jou leser geheel identifiseer. Pragtige aardse vers.

 

  1.  Hartstories

Jy het baie slim omgegaan met die vergelyking van rekeningpligtigheid met die persoonlike bewyslas van liefde. Die hart, as omgewing van verrekening, stoor en openbaar die eerlike oudit van ‘n lewe waarin sowel die goeie as die minder goeie  bekyk word. Die klein, maar belangrike erkenning dat die prys vir die verkeerde, buite onsself, elders en deur Iemand anders betaal is, is ook opvallend. Die volta hierin is baie treffend, waarin die digter, omdat dit nodig is, erkenning gee aan die waarde en gewigtigheid van die groot rol wat liefde speel, selfs om die foute wat gemaak word, te versag en te verteer. Jou vers is treffend en baie mooi aangebied.

 

  1. Ewige verwyt

Hierdie vers is slordig. Die woordkeuse en – orde is nie op silwer standaard nie.

 

GOUD:

 

  1.  Verdiende loon

Heerlik en eerlik. Dit is ritmies en het tasbare metrum. Mooi gedoen.

 

  1.  Aborte vendicta

Hierdie is ‘n aangrypende vers. Iets wat “lelik-seer” is het jy baie geslaagd en selfs teer oorgedra met die gebruik van pragtige metafore. Ek verstaan egter nie die werklike gebruik van die titel nie. “Gewreek deur aborsie?”

 

  1.  ongetiteld

Jou Senryu is geslaagd en voldoen aan die 3 lyn, 17 lettergreep voorskrifte. Die onderwerp van die gedig is ook getrou aan voorskrifte.

 

  1.  Waar was jy? 

Die gedig is teer aangebied maar die herhaling hierin pla my oor. Die volta is egter baie treffend en laat die leser met ‘n mooi indruk.

 

  1.  Ek weet nie… 

Die vers is keurig genoeg. Die laaste strofe laat baie stof tot nadenke en ek dink dit is slim verwoord.

 

  1.  Geheim van tyd

Die vraag in die eerste sinsnede is

mynsinsiens oorbodig. Die digter kon bloot in die antwoord begin delf daarsonder. Die inhoud is keurig genoeg maar die vers in geheel oortuig nie van goue standaard nie.

 

  1.  Laaste omdraai

Keurig maar twyfelagtig as goue standaard.

 

MENINGSTUKKE

 

  1.  UH-UH, nee dankie

Jou mening kom baie sterk oor. Lesers hoef nie met jou sentimente saam te stem om jou leeswerk te geniet nie.

 

RUBRIEKE

 

  1.  Dit is volbring

Joune is nie ‘n rubriek nie.

 

  1.  Skuldlas – ‘n geloofsperspektief

Nie n rubriek nie.

 

  1.  Menslikheid

Eerder n meningstuk as n rubriek.

 

  1.  In die sop

Dit is n heerlike rubriek. Baie geluk dat jy hierdie genre so mooi onder die knie kry.

 

  1.  Die tweesnydende swaard

Nie n rubriek nie.

 

  1.  Besef ons dit? 

Joune is eerder n meningstuk.

 

  1.  Skuld: die stille metgesel

Nie n rubriek nie.

 

ARTIKELS

 

  1.  In ons slimmigheid het ons eintlik dom geword

Jy het ‘n baie geslaagde artikel geskryf ondersteun deur goeie navorsing.

 

  1.  Doeltreffende skuldbeheer

Baie goeie artikel met genoegsame bibliografie.

 

VERHALE:

 

  1.  As ek maar net… 

Pragtige kortverhaal met goeie karakterontwikkeling.

 

  1.  Skuldlas

Hierdie kortverhaal is nie nét bloot mooi nie, maar dit is lieflik ontwikkel. Die storie snel op sekere plekke, seker omdat dit binne perke van ‘n kortverhaal moet bly. Die skrywer het baie talent. As ek kritiek moet lewer sou dit wees dat die sinne soms effe lank is sonder punktuasie. Ek dink die storie is getrou aan die tema. Welgedaan.

 

  1.  Soos swaar klippe

Baie mooi storie. Die storielyn en karakters is heerlik ontwikkel.

 

  1.  Tyd se trane

Heerlike storie. Mooi gedoen.

 

  1.  “Helmuts up” 

Keurige en teer kortverhaal.

 

  1.  Pandemonium in die glas-sfeer

Hierdie verhaal is baie oorspronklik. Die karakterontwikkeling en storielyn is regtig baie goed. Briljante werk.

 

  1.  Vergete sondes

Keurig en mooi ontwikkel. Welgedaan.

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed