Jongste aktiwiteit:

Begrafnis op Reddersburg deur Lynelle Clark

Die pad na Reddersburg was lank en warm. Vier ure se ry deur groen mielielande en oop ruigtes plek-plek. Met Koppies wat wegsak in die aarde net om weer te her-rys uit die niet en jou te volg, so al met die pad saam. Vir sommige reisigers het dit gevoel soos ‘n eindelose pad. Daar was ‘n tyd toe Buks die pad sonder teënstribbeling afgelê het om tyd met sy beste vriend te spandeer maar nou was die situasie heeltemal anders. Die doodstyding was onverwags en geskok kon Buks net staar na die dooie foon lank nadat Griet neergesit het, vier dae gelede.
Die laaste paar dae het soos ‘n droom verby gegaan en sy gedagtes was gevul met onthou. Hy en Hannes het mekaar ontmoet op hul eerste dag van kleuterskool, by Tannie Bessie se Pikkewyne, net buite die dorp, toe hulle vyf was. Hul ma’s was beste vriendinne en hulle twee was die meeste van die tyd op mekaar aangewese as diè twee gekuier het. Dwarsdeur hul laer- en hoërskool jare was hulle onafskeidbaar, kattekwaad aanjaag was ‘n gunsteling tydverdryf op die dorpie met gereelde swem in die plaasdam as lafenis. Albei hul pa’s was boere en menigte naweke was gespandeer om braaivleisvure saam met die kontrei se mense. Hulle grootword jare was gekenmerk deur lui somers- en koue wintersdae met ‘n rustige ondertoon waar alles net reg was. Kwaadwilligheid was vinnig gesmoor en vrede was aan die orde van die dag. Op ‘n naweek kerk kamp, in hul Matriek jaar, het hulle Magriet en Annette ontmoet, en omdat hulle beste vriendinne was het hulle ‘n dubbele troue gehad na die afsluiting van hulle studente jare. Selfs hul kinders was in dieselfde jaar gebore. Hannes het besluit om sy pa op die plaas te help en het homself goed bekwaam as boer. Buks het ‘n vennootskapsaanbod aanvaar by ‘n mediesepraktyk as tandarts. Hul lewe het rustig saamgevloei ongeag die afstand, selfs hul kinders was goeie vriende en het gereeld oor en weer gekuier. Maar nou was Hannes weg en dit het vir Buks gevoel asof iets in homself ook doodgegaan het.
Hy sug en vee oor sy voorkop: dit was klaar baie warm en sy yl wordende hare het alreeds gekleef aan sy kopvel. Die vier ure tog na sy beste vriend se begrafnis het hy met swaarmoedigheid bejeen. Hy het nooit gedink dat hy op so ‘n manier sou moes gaan reg maak nie. Ses jaar lank het hy, wat Buks was, geweier om weer sy voete op Vinkel en Koljander te sit. Die onreg van daardie dag vasgeslaan in sy geheue en dit het hom ses jaar gekos – as’t ware ‘n jarelange band. Hy kon nie eers die oorsaak vir die bakleiery onthou nie. Maar dat Hannes weg was en hy nooit weer met hom sou kon praat nie het soos ‘n helse vuur in sy binneste gewoed. Hy was kortsigtig, stompsinnig, moedswillig en gewoonweg verkeerd. Hy weet dit nou. Maar nou is te laat. Vir altyd te laat.
“Ons moet ry skat.” Onderbreek Annette sy morbiede gedagtegang en hy knik, klaar moeg nog voor die pad begin het.
“Hier is vir oulaas ‘n koppie koffie. Pasop, dit is warm.” Maan sy. Sy praat sag, soos met ‘n kind, want sy weet. Sy rondrol die laaste paar nagte het hom befoeterd en nors gemaak. En sy liewe vrou het maar net bly paai. ‘Fok man, ek is nie meer ‘n kind nie!’ Wou hy haar al ‘n paar maal toesnou. Hy moes Annette toegee, sy het min gepraat maar tog was sy altyd daar vir hom, en die meeste van die tyd reg. ‘n Menigte kere het sy hom aangespoor om te gaan reg maak maar hy was soos ‘n halstarige donkie wat sy rug krom gemaak het soos wat hy vasgesteek het. Hy het gevoel hy was reg en Hannes was verkeerd. Selfs die kere wat Hannes hom gebel het, het hy geweier om met hom te praat. Annette en die kinders was ‘n paar maal alleen plaas toe en hy het haar kwalik geneem daaroor. Hoe durf sy hom verraai, het hy gedink. Maar sy was reg. Van die begin af. En hier is hy nou en hy moet teenoor haar erken dat hy verkeerd was. Maar hoe verduidelik jy dit nou aan ‘n oop graf?
Hy vat ‘n groot sluk van die koffie en spoeg dié dadelik uit. Vies vir homself gooi hy die beker dat hy dáár trek en diè breek in stukke die oomblik toe dit die sement tref. Duisende stukke spat oor die voortuin neer en verstom staar Annette na hom.
“Wat gaan aan?” vra Ma Helen nuuskierig en klou haar japon stywer om haar krom lyf vas.
“Niks ma,” antwoord Annette, “gaan in en sluit die deur. Ons gaan nou ry.” Hulle soengroet mekaar met ‘n stewige omhelsing wat volg.
“Julle moet mooi ry en laat weet my wanneer julle daar is.”
“Ja ma, totsiens ma.”
Buks hou sy elegante vrou dop terwyl sy om die SUV stap, haar kunstig gegrimeerde gesig was ‘n ope boek van haar binneste maar hy het geweet sy sou nie ‘n woord uiter van haar gedagtes nie.
“Het jy alles?” vra hy sodra sy die deur oopmaak, geïrriteerd met homself en sy vrou. Fok! Sy mond het gebrand en was seer.
“Ja,” antwoord sy sodra die deur toe is en sy haar oë weggesteek het agter haar sonbril.
In stilte het hulle die verkeer gevolg, plek-plek het Buks kwaad geword met ‘n paar gevleuelde woorde die mense toegejou maar spitstyd word nie voorgeskryf nie en hy moes rustig word terwyl die hele gedoente aan hom knaag. Sy vrou, sy oorlede vriend, die verkeer en Ja, hy. Hy is sy grootste irritasie as hy dan moet eerlik wees. Dammit!
‘n Halstarige traan gly teen sy wang af en vieserig het hy dit weggevee, ongeërg sodat Annette nie sy swakheid moes sien nie. In radeloosheid het hy die radio aangeskakel maar die negatiewe gebeure op die nuus het niks vir sy swaarmoedigheid gedoen nie; toe sit hy dit weer af. Nog ‘n traan het vanuit die niet te voorskyn gekom om ook sy pad langs sy gesig af te kies en weer probeer hy dit weg vee. Maar dit het nie gehelp nie, een traan het twee en toe drie geword en in ‘n stroom afwaarts beweeg. In ‘n waas het hy by die voorruit uit gekyk, en kort-kort gesnuif. Sagte musiek het die kajuit gevul, ‘n gunsteling album van Annette en die rustige klanke het sy gemoed gevul in so ‘n mate dat hy net kon oorgee.
“Laat ek ry, Buks. Stop hier voor.” Haar gerustellende stemtoon ‘n teenstelling met sy deurmekaar gedagtegang wat hom net nie wil los nie. En vir die eerste keer, sonder om tee te stribbel stop hy langs die snelweg. Voertuie spoed voort en laat hulle ver agter maar Buks weet dat hy vandag nodig het. Siele rustigheid sodat hy kan aan beweeg; sy halstarige houding sou hom niks in die sak bring nie. Minute later trek Annette weg en gou word hulle deel van die verkeer. ‘n Ruk later, terwyl die klanke van die musiek sy stukkende gemoed streel en sy tranedal voortduur, ry Annette noordwaarts, al nader na die plek van rekonsiliasie. Al is dit dan net met die graf.
Hy moes aan die slaap geraak het maar toe Annette stop was hy wawyd wakker; sy oë dik en swaar maar uitgerus.
“Ons is hier.” kondig sy aan en leuen oor na hom toe. Met haar regterhand op sy bebaarde gesig vra sy sag: “Is jy reg?” en hy prewel ‘n sagte ja voor sy met haar lippe oor syne streel. Hy weet nie wat hy verdien het om haar as vrou te kry nie maar sonder haar sou hy nie die lewe kon aandurf nie. Ook nie vandag nie.
Mense maal alreeds rond voor die klipkerk en toe hulle aansluit word hulle vriendelik gegroet. Soos met ou kennisse word daar tyd vertoef met elkeen en word daar oor en weer na mekaar se welstand gevra. Van oral het die mense dieselfde dinge gesê: hoe geskok hulle was oor die onverwagte tyding. Hannes was nooit siek nie en, alhoewel oorgewig tog gesond en fiks.
“Ek is so bly julle het gekom.” Praat Magriet reg langs hulle, en Annette en Magriet was dadelik in mekaar se arms. Trane het openlik gevloei en die twee vriendinne het vir lank netso gestaan totdat Buks naderhand ook aan Griet se skouer gevat het, toe het die twee se omhelsing gebreek.
Toe sy opkyk kon hy nie help om haar ook in sy arms te vou nie en het fluisterend geprewel, “Ek is so jammer Griet. So jammer ek was nie hier nie.” Ten spyte van die somberheid het Magriet se mooi gelaat berusting uitgestraal, ‘n sterkte wat hom onderskraag het. Hy sluk aan die knop in sy keel, die woorde te veel en dik.
“Alles reg my vriend, Hannes het vir jou ‘n brief gelos, kort voor hy opgeneem is. Ek dink hy moes op ‘n manier geweet het dat sy einde in sig was.” En met dit los sy hom en grawe in haar swart handsakkie rond wat oor haar skouer gehang het.
“Mense julle kan maar nader staan sodat ons kan begin.” Kondig die begrafnisondernemer aan.
Beide het opgekyk en met ‘n vinnige beweging vou Magriet die wit koevert in sy groot hande toe, onmiddellik plaas hy dit in sy baadjiesak vir later se lees en neem sy vrou se hand en volg die res in die gebou in.
Gedurende die diens het die brief teen sy breë bors geskuur, naderhand het dit begin brand en rusteloos het Buks gewens dat die diens moes klaar kry sodat hy dit kon lees. Wat sou Hannes vir hom geskryf het? Het hy hom vergewe? Die vrae het bly hamer deur hom sonder end en toe Annette sy hand vat en opstaan besef hy dat die orrelis die laaste lied begin speel het. Net voor hulle het Hannes se ouers gesit, sy ma met geboë hoof en die wit snesie se punt het pal voor haar gesig gebly. Oom Hans het voor hom uit gestaar, sy arm liefderyk om sy vrou se skraal skouers. Wat gaan hulle nou doen? Wonder Buks vlietend voor hy weer fokus op die lied. Toe die laaste klanke van die lied weg sterf draai Oom Hans om en hulle maak oog kontak. In daardie breekdeel, breek altwee die mans en klou aanmekaar. Geen woorde was gewissel tussen hulle nie maar die gemeensaamheid het wondere beteken vir beide mans.
Saam verlaat hulle die kerk en sluit by die omstanders aan waar hulle in stilte wag terwyl die draers die kis in die lykswa laai. Kort daarna het die stoet die swart wa gevolg tot by die begrafplaas. Daar, langs die graf, na die gebed en kis afgedaal en meeste mense eenkant gestaan en toe gekyk het hoe die graf gevul word, haal Buks die brief uit.
In Hannes se kenmerkende sterk handskrif het hy net ‘n paar reëls neergepen maar daardie paar reëls sou altyd by Buks bly.
Buks,
Ek het nie gedink om aan jou te skryf nie maar het iets op my hart gehad en die enigste persoon wat ek vertrou om so iets te vra was jy. Ek hoop ek kan op jou steun in hierdie moeilike tyd.
Verskoon my vrypostigheid maar dit kon nie anders nie; jy was nog altyd hardekwas, vol twak en hoe arme Netta dit met jou uit hou weet ek nie maar jy bly my vriend. As beste vriend het ons saam kattekwaad aangevang, geleer en saam gevry, maar hierdie pad ou maat moet ek alleen loop, sonder jou en sonder Griet.
Ek het gehoop dat ons mekaar vir oulaas kon sien maar jou koppigheid het dit nie toe gelaat nie. Ek wou met jou praat – van aangesig tot aangesig oor hierdie saak. Ek hoop dat jy dit in jou hart kan kry om my ook te vergewe want ek was maar net so verkeerd. Magriet het my telkemale uitgeskel oor my hardkoppigheid, dus moenie alleen voel nie.
Ek weet dit is onverwags maar ek kon nie aan ‘n beter alternatief dink nie. Kom plaas toe. Jy, Annette en die kinders, kom bly hier. Ek sal meer gerus wees as jy hier is om oor Griet en ons kroos ‘n ogie te hou. Maar bo alles het my ouers jou nodig, nou meer as ooit.
In my testament het ek sekere opdragte gegee om die transformasie glad te laat verloop en my prokureur sal in verbinding met jou wees daaroor sodra jy hom laat weet dat jy in is. Asseblief ou Buks, ek smeek jou.
Jou vriend en broer
Hannes.
Verdwaasd staar hy na die amper toe gegooide graf. Hy kon nie glo wat hy so pas gelees het nie. Verwag Hannes nou wragtag waar hy moet kom boer?
“Alles reg?” vra Annette hier langs hom en hy skrik so diep ingedagte was hy.
“Ja.”
“Jy lyk eerder asof jy ‘n spook gesien het,” gaan sy voort asof hy haar nie so pas beantwoord het nie. Hy wou hom eers vererg maar besin hom net betyds en gee vir haar die brief. Terwyl sy lees vat hy die graaf oor by een van die mans en gooi die laaste grond op die opgehoopte graf neer en met geslote oë staan hy eerbiedig stil, Hannes se teenwoordigheid ‘n tasbare salwing vir sy seer gemoed. Die volgende oomblik gewaar hy sy vrou se arm wat sirkel om sy lyf en hy gee haar skouers ‘n druk. Saggies sê sy: “Dit is reg met my as jy wil.” En hy grinnik van oor tot oor. Hierdie vrou van hom is voorwaar gestuur en hy druk haar hand in samehorigheid.
©LynelleClark2017




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed