Dalk is dit te veel gevra
maar
ek wens daar was ‘n plek
sonder vrees en sonder bang wees
selfs net ‘n stukkie mooi planeet
waar ons in vryheid saam kan bly
ek bid ‘n land met mense
wat wil saambou aan ‘n toekoms –
mense wat nog hoop het
en wat die liefde laat gedy
dalk is daar nog oorde
waar niemand iemand haat nie –
‘n huis waar ons nie oordeel nie
of sleg van ander praat nie
met kamers waar ons luister
tot ons mekaar kan hoor;
waar elke mens ‘n stem het
en ons nooit onsself verloor
ek hunker na ‘n heimat
waarna ek en jy kan gaan
en al dink ons nie dieselfde nie,
kan ons elkander steeds verstaan
want almal het tog stories
wat hul graag wil openbaar –
‘n onvertelde waarheid
wat hul graag sal wil verklaar
was daar maar ‘n grondgebied
waar ons wapens lê en roes
wyl ons vredesvure brand maak –
waar geen vlam ooit iets verwoes
‘n plek waar opgewonde kinders
nog veilig voel en buite speel;
waar grootmense wat omgee
‘n diep bewussyn met hul deel
ek dink ons moet ‘n berg uitklim;
ons moet saam op kruine sit
en uitkyk oor één aarde –
ja, net dalk verstaan ons dit
ek wens só daar was ‘n suide
met ligter laste om te dra;
‘n wêreld waar die wysheid heers
– of is dit te veel gevra?
© Carma Shaw
2 Mei 2018
10:59
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.