Jongste aktiwiteit:

Dalk is dit te veel gevra

maar
ek wens daar was ‘n plek
sonder vrees en sonder bang wees
selfs net ‘n stukkie mooi planeet
waar ons in vryheid saam kan bly

ek bid ‘n land met mense
wat wil saambou aan ‘n toekoms –
mense wat nog hoop het
en wat die liefde laat gedy

dalk is daar nog oorde
waar niemand iemand haat nie –
‘n huis waar ons nie oordeel nie
of sleg van ander praat nie

met kamers waar ons luister
tot ons mekaar kan hoor;
waar elke mens ‘n stem het
en ons nooit onsself verloor

ek hunker na ‘n heimat
waarna ek en jy kan gaan
en al dink ons nie dieselfde nie,
kan ons elkander steeds verstaan

want almal het tog stories
wat hul graag wil openbaar –
‘n onvertelde waarheid
wat hul graag sal wil verklaar

was daar maar ‘n grondgebied
waar ons wapens lê en roes
wyl ons vredesvure brand maak –
waar geen vlam ooit iets verwoes

‘n plek waar opgewonde kinders
nog veilig voel en buite speel;
waar grootmense wat omgee
‘n diep bewussyn met hul deel

ek dink ons moet ‘n berg uitklim;
ons moet saam op kruine sit
en uitkyk oor één aarde –
ja, net dalk verstaan ons dit

ek wens só daar was ‘n suide
met ligter laste om te dra;
‘n wêreld waar die wysheid heers
– of is dit te veel gevra?

© Carma Shaw
2 Mei 2018
10:59




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed