Deel twee Vind jou voete
Vervolg van Deel 1,
Ek wil tog ‘n paar oomblikke afstaan aan weduwees en wewenaars wat die afsterwe van ‘n lewensmaat moet verwerk. Die verandering kom soms skielik, wat jou rigtingloos en ongebalanseerd laat. Of, as gevolg van ‘n lang siekbed, beskou jy die dood op daardie oomblik as ‘n lafenis weens die swaar lyding en pyn waardeur jou geliefde gegaan het. Agterna, bly jy agter met baie vrae. Weereens, ek is nie ‘n berader nie en het nog nie ‘n lewensmaat verloor nie so ek moes staatmaak op my ondervindings met mense na aan my wat daar deur gegaan het of moes gaan oplees om nou nie myself met ‘n plank te slaan nie.
Dood is ‘n traumatiese gebeurtenis wat elkeen ook anders hanteer. So daar is nie rerig reëls in die hartseer stadium nie. Elkeen ervaar en doen dit anders. Sommige mense gaan vinnig aan met hul lewe terwyl ander weer nooit daaroor kom nie. Op die oogaf gaan hulle aan maar daardie hartseer en verlange na hul maat verlaat hulle nooit nie. Ek sien dit met my pa, die verlange is diepliggend. Hy praat min daaroor maar dit maak nie die verlange minder of onbelangrik nie. Ek dink ons kyk dit juis mis by mans omdat hulle nie oor hulle gevoelens praat soos ons vrouens nie en daarom is dit belangrik om bedag te wees daarop, veral as kinders. Deur dit te ignoreer maak dit die probleem net erger. Spandeer tyd met iemand wat daardeur gaan. Doen moeite om uit te reik. Ek is gelukkig om ‘n maat te hê wat ook bedag is op my pa se gemoedstoestand en hy nooi my pa dikwels saam wanneer ons die pad vat op een van ons togte of sommer net braai by die huis. Alhoewel ons nooit die plek van my ma kan inneem nie maak dit die las tog ligter en kom hy uit en sien die wêreld om hom.
Ek het ‘n bietjie op Google gaan rondswerf en die volgende doktoraal gekry oor dit. Die skakel is beskikbaar by vandag se plasing.
Daar is die volgende geskryf en ek haal aan:
http://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/view/408/482
“Ella is 60 jaar oud en haar man is vyf jaar gelede oorlede. Hulle het ’n seun en dogter uit die huwelik, wat haar bystaan in tye van nood. Sy voel veral eensaam gedurende naweke en in die aande, wanneer sy nie besig is nie. Dit is vir haar baie moeilik om alleen na alles om te sien. Sy het nie meer iemand met wie sy probleme en besluite kan deel nie. Dit is nie meer vir haar lekker om kos te maak of naaldwerk te doen as daar nie iemand is vir wie sy dit doen nie.’
Met bogenoemde inaggenome is dit dus duidelik waarom juis die geloofsgemeenskap ’n ruimte moet skep vir ‘koinonia, in order to support people who are to be healed and to help them discover meaning’ (Louw 2008:27). In die volgende direkte aanhalings uit gesprekke met die vroue is dit duidelik op watter wyse eensaamheid nie net as ‘n verhaal van nood ervaar word nie, maar dat dié gespreksgenote juis ook ’n behoefte aan gesprek binne die koinonia-ruimte daaroor nodig het:
Marietjie: ‘Dit help dat ek met iemand kan praat wat vir my riglyne kan gee hoe om hierdie eensaamheid te verlig.’
Doman (2007:4) skryf dat eensaamheid gesien word as ’n subjektiewe ervaring wat deur verskeie veranderlikes beïnvloed word. Daar is by eensaamheid twee aspekte van belang is teenwoordig. Eerstens word eensaamheid ervaar as gevolg van swak sosiale verhoudings, waar die basiese behoeftes van die persoon nie bevredig word nie en tweedens as ’n onaangename en soms pynlike verlange na meer interaksie as wat tans ervaar word (Wintrob 1989:80).
Marietjie: ‘Daar is niemand wat regtig vir my omgee nie. Ek moet altyd alles alleen doen.’
Ella: ‘Ander mense gee tog nie om wat met jou aangaan nie. Almal leef net vir hulle self.’
Ansa: ‘Ek pas nêrens in nie. Getroude vroue sien my as ’n bedreiging al is my bedoeling hoe goed.’”
En hierby wil ek aansluit.
Punt nommer 1: Dit is die koinonia of die gemeenskap – hetsy vriende, kinders en die kerk wat hier ‘n groot rol te speel het. Toe my ma nog by die ouetehuis gewerk het, het hulle baie byeenkomste gereël deur die ouer mense te akkommodeer. Hierdie funksies het die moraal van die oumense hoog gehou en hulle het mildelik bygedra. Baie vroue is alleen op hul oudag, met ‘n lewe wat eintlik voor hul uitstrek, leeg en sonder doel. Dan gee hierdie uitreikings hul weer ‘n rede om mooi aan te trek, met mense te kommunikeer en te voel hulle is deel van die gemeenskap. Maar, in baie gevalle is dit net die mense wat daar bly of vriende wat genooi word. Daar is ‘n groot aantal mense wat in hierdie tyd heeltemal alleen is en geen uitreiking na hulle het nie. Die gemeenskap en kinders het hulle bloot vergeet en is die nood groot tussen hulle.
Punt nommer 2: Om die laaste dame se aanhaling aan te haal, en daarmee kan die meeste enkellopendes aanklank vind. Skielik word jy ‘n bedreiging vir, veral getroude vroue. Dit is in hierdie tye wat mense dan die enkellopende verstoot en voel hulle nog meer verwerp en verlore.
Dit is hoekom dit belangrik is dat jy nuwe uitlaatkleppe kry. Nuwe stokperdjies of nuwe velde betree want dit bring jou in voeling met mense en voel jy weer nuttig, as mens.
Om jou voete te vind is nogal ‘n moeilike taak, vernaamlik wanneer jy nie weet wie jy is en waarheen jy oppad is nie. Die meeste mense verval in depressie in hierdie tyd. Hulle sien net nie die lig in die donker tonnel nie. Dit is dan wat jou ondersteuningsgroep hande moet vat en jou daadwerklik help. Die laagtepunte in ‘n mens se lewe is soms oorweldigend en dan sien jy niks en dit is net met liefde en baie geduld wat jy daaruit kan ontsnap. Dit is gedurende hierdie tye wat die verkeerde besluite ook geneem kan word… ek weet, ek was daar. Dit is dan wat jy oorhaastige besluite neem en die prys betaal of jy nou daarvoor gevra het of nie. Dit is dan dat jou hartsvriende tussen beide moet kan tree en jou help voor jy ‘n flater begaan. Maar as julle enigsins na my aard; dan is dit eintlik onmoontlik vir hulle om te help. Want jy tree impulsief op, so vinnig dat jou kop eintlik daarvan sing. Terwyl jy eintlik net moet stil raak, met iemand gesels of vrae vra voordat jy die besluit neem. Trots is ‘n lelike ding. Dit is dan wanneer jy glo jy is moeg gevra vir hulp en moeg vir die afjakke en neem ‘n besluit wat jou erg benadeel. Weereens ek praat van ondervinding.
Om jou voete te vind beteken jy het ‘n stewige fondasie onder jou. Die fondasie is sterk gebou, stewig geanker in moeder aarde en jy is onwrikbaar. In jouself, in jou geloof en in wie jy is. Niks kry jou onder nie. Om hierdie fondasie te verkry is ‘n proses op sy eie.
Jou geloof is jou anker. Daar sonder kan jy nie staande bly teen die storms van die lewe nie. Sonder dit is jy ankerloos terwyl golwe teen jou slaan. Dit is dan dat jou skippie al in die rondte tol, sonder rigting. Ek het vir ‘n tyd so geloop. Ankerloos. Het gedink ek sou dit maak maar dit het nie so gewerk nie. Op die ou einde is ons gemaak om ‘n anker te hê. Ons elkeen sien hierdie anker anders so maak dit vas sodat jy koersvas kan bly.
Jy moet ook glo in jouself. Jy moet jouself baie goed ken. Jou swak punte en jou sterk punte. Maak ‘n lysie daarvan. Wees eerlik met jouself. Jy beindruk niemand nie, en niemand gaan die lysie sien nie. So, skryf als neer. Selfs daai dinge wat jy agter ‘n masker wegsteek. Dit is nou die tyd om dit uit te haal, af te stof en te deel. Onthou dat hierdie stadium baie uitpuntend kan wees so doen dit oor ‘n tydperk. Gaan kort-kort terug na jou lysie en dateer dit op. Werk aan die negatiewe dinge. Maak ‘n doelbewuste besluit om dit nie meer te doen nie. Net deur daadwerklike aksie sal jy resultate verkry. Wees ingesteld op jou omgewing en die dinge wat jou beïnvloed en kyk hoe jy dit kan verander indien dit negatief is. Verander die dinge wat binne jou vermoë is. Ons houding teenoor mense en ons omgewing kan ‘n bepalende faktor word wat deure oop of toe sluit.
Tydens my eie soeke het my pad gekruis met hierdie gediggie wat ek graag wil voorlees. Dit was deel van die lewens orienteering’s kursus wat ek gedoen wat my werklik gehelp het om ook my voete te vind.
One
– Unknown
One song can spark a moment,
One flower can wake the dream.
One tree can start a forest,
One bird can herald spring.
One smile begins a friendship,
One handclasp lifts a soul.
One star can guide a ship at sea,
One word can frame the goal.
One vote can change a nation,
One sunbeam lights a room.
One candle wipes out darkness,
One laugh will conquer gloom.
One step must start each journey,
One word must start each prayer.
One hope will raise our spirits,
One touch can show you care.
One voice can speak with wisdom.
One heart can know what’s true.
One life can make the difference,
You see it is up to You!
Don’t ever forget how very important You are.
Net een woord kan jou hele lewe verander. Net een woord kan jou op die regte pad bring maar dit begin by daardie besluit om te wil verander. Om jou voete te vind is ‘n moeisame proses maar dit kan gebeur deur aan te hou. Jouself te verryk en in jouself te belê. Jy is op die ou einde jou grootste bate. Die een belegging waarin jy daadwerklik positiewe dinge kan belê en die regte resultate kan verkry. Onthou jy is nie alleen op hierdie pad nie. Moenie bang wees om te vra nie. Moenie bang wees om uit te reik nie. Kry hulp. Dit maak dit makliker.
Skitter net waar jy is diamant, tot ‘n volgende keer. Mooi loop.
Diamant Divas Augustus 2018
Kopiereg Lynelle Clark 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.