DEPRESSIE [woordtelling: 5565]
Wanneer depressie omsit in hoogmoed, sit jy met ’n gevaarlike kombinasie. Hoe lui die spreekwoord nou weer? ‘Hoogmoed kom tot ’n val.’ Veral as depressie die dryfveer agter hoogmoed is. Dít het ek op agtienjarige ouderdom eerstehands ervaar. En wat ’n val was dit nie! Hier volg my storie.
Pa het besluit dat ons ’n gelukkige en rustige lewe op die plattelandse dorp waar ons gewoon het moet prysgee en na Pretoria verhuis, sodat my doofstom-gebore broertjie skoolopleiding in die Transoranje Skool vir Dowes, kan ontvang.
Ek was kwaad vir Pa. Ek wou weet hoekom nou hierdie groot skuif in ons lewens maak? Waarom kan ons nie net ’n bietjie wag todat ek my hoërskool-loopbaan hier voltooi het nie? Dit sou net nog ’n verdere twee jaar gewees het, dan sou ek matrikuleer.
Ma se antwoord hierop was: “My seun baie dinge in die lewe kan wag tot môre en oormôre, maar ’n kind soos broertjie wat spesiale onderig nodig het, kan nie wag tot môre of oormôre nie, sy naam is vandag.”
Hierdie hele ontwrigting van ons eens hegte gesin, het my diep geraak. Ek kon nie verstaan waarom Pa bereid was om die hele gesin te ontwrig as om eerder my broertjie in die Koshuis van die Skool vir Dowes in Pretoria te laat opneem nie. Nou word daar boonop van my verwag om die leisels van ’n vader op te neem in sy afwesigheid. Ek sou veel eerder nog kaalvoet op Oupa se plaas wou rondloop in die sorgvrye onskuld van kindwees. Nou word ek gedwing om die verantwoordelikhede van ’n grootmens oor te neem.
Al verduideliking vir ons situasie wat ek ooit by Pa kon kry was: ”My seun eendag as jy getroud is met kinders van jou eie sal jy verstaan.” Pa se filosofie was: “Die lewensboek bestaan uit baie verskillende hoofstukke. Een slegte hoofstuk in jou lewensboek beteken nie dat dit die einde van die boek is nie. Jy het nie nodig om die boek toe te maak om ’n nuwe hoofstuk te begin nie, maar om net die bladsy van die boek wat jy besig is om te lees om te blaai.” Wyse woorde van Pa, maar makliker gesê as gedaan, het ek geredeneer. Daardie ‘boek’ wat Pa altyd met soveel sukses aan ons gesin voorgelees het was nou in my hande. Ek was maar 15 jaar oud, nog in my kinderskoene. Ek moes net eenvoudig die bladsy omblaai en die boek verder aan Ma, my twee susters en aan Leon voorlees. Aan Leon in gebaretaal natuurlik.
Hierdie geweldige verantwoordelikheid wat skielik op my kinderskouers gelê is het my hele lewe verander. Pa het in Westonaria agtergebly. Hy het ons huis verkoop en in die enkelkwartiere vir die mynwerkers gaan bly. Woensdae en naweke het Pa vir ons in Pretoria kom kuier. Ek moes toesien dat my jonger suster by die laerskool uitkom, my broertjie by sy skool, en ek en my ander suster by die Hoërskool skool.
Ma het nie gewerk nie, alhoewel sy ’n opgeleide onderwyseres was. Pa het van haar verwag om tuis te bly en al haar aandag aan die opvoeding van die kinders te gee. Ek het twee mooi susters met die gevolg dat ek gedurig moes keer om die kêrels van ons deur af te hou. Daarbenewens moes ek luister en raad gee wanneer hul liefdesteleurstellings gehad het, en hul harte gebreek is.
Op my 16de verjaardag gee pa vir my in sy wysheid ’n moersleutel as geskenk.
“Dit gaan nie oor die moersleutel nie my seun, dit gaan oor die hand wat dit draai. Die hand wat dit draai bepaal die standvastigheid van die moere in jou lewensgesindheid. Sonder jou hand dien die moersleutel geen doel nie. Jy kan die lewensmoere beskadig, of laat verweer. Ek sit nou hierdie moersleutel in jou hand want ek het jou self geleer hoe om dit reg te gebruik. Tussen ons bly my leiding jou lewensband. Dít is my lewensles aan jou my seun. In ’n wêreld vol valse boute en moere klem jou sleutel om moere met egte kontoere, en die moersleutel in jou hand sal jou steun. Dit is nou jou taak om die moere in jou Ma, susters en Leon se lewens vas of los te draai sonder om hulle te beskadig, of toe te laat dat hulle in my afwesigheid verweer.”
Ek was in standard 9 in Ellandspoort se Hoërskool in Danville, Pretoria, en my suster net jonger as ek in standert 6 in dieselfde Hoërskool. My jongste suster was in standerd 4 in Wespark se Laerskool, en my broertjie natuurlik in die Transoranje Skool vir Dowes ook in Danville naby my skool.
Finansieel het ons gesin dit nie breed gehad nie. Gevolglik moes ek uitspring en saans en naweke as kelner op Yskor Klub werk, om die gesin se inkomste aan te vul. Hier het ek deurmekaar geraak met verkeerde vriende, drank en dwelms. Dwaalpaaie van die lewe het my neergevel. Magtelose verslawing en hartseer het my in die oë gestaar. Daar was ’n hulpkreet van rou in my binneste, en ’n diep skuldgevoel wat aan my gevreet het. Ek het gevoel ek laat my familie in die steek, dat ek ’n mislukking in die lewe is en dat ek Pa en Ma teleurstel.
Depressie en eensaamheid is waarop ek my lot moes bou want al my sogenaamde vriende het hul rûe op my gedraai. ’n Lewe van hel het vir my gegrynslag, terwyl my gees om verlossing van die verslawing wat my vashou gesmeek het. Demone uit die hel het voortdurend aan my siel geknaag. Selfmoordneigings en onbeheersde woedebuie teenoor my familie, was my lewenspatroon.
Menige dae het ek gesit en huil oor my lot. Hierdie monster van verslawing wat ek moes dra, wou my onderkry. Ek moes nét met iemand praat oor die groot seer en magtelose verslawing wat in my binneste brand, maar ek kon net nie met Ma daaroor praat nie. Die skuldgevoel wat besig was om my hele menswaardigheid te verteer was net eenvoudig te groot.
Eendag toe ek myself weer sit en bejammer terwyl ek vir die bus sit en wag, kom daar ’n boemelaar na my toe en hy sê vir my: “Seun, wat lyk jy so mismoedig? Jou hele lewe lê voor jou opgesluit in moontlikhede. Daardie moontlikhede is opgesluit in die geloof dat môre anders kan wees as vandag se teleurstellings. Jy moet glo dat vandag se teleurstellings vir jou die begin tot groot hoogtes is. Moontlikhede in die lewe begin by geloof in jouself en nét jý kan dit aktiveer.” Ek het by myself gedink, “wat weet jy ou boemelaar. Dít wat jy is skree dan harder as dít wat jy sê.”
Daardie woorde van die ou boemelaar het bly spook by my, in so ’n mate dat ek hom weer en weer gaan opsoek het. Hy is immers self ’n verslaafde. Hy sal verstaan as ek met hom praat. Van sy lewe en waarom hy ’n boemelaar is weet ek nie veel nie, behalwe dat hy ’n predikant was wat sy hele familie in ’n motorogeluk verloor het. Hy het nooit oor homself en sy selfopgelegde lot gepraat nie, maar my altyd bemoedig en moed ingepraat. Ek het gereeld sulke “beradingsessies” by die wyse ou boemelaar gehad. Sy laaste woorde aan my tydens so ‘n “berading- sessie” was: ”Pieter ek kan sien, en is in my hart daarvan oortuig, dat jy oor al die eienskappe beskik om ’n goeie leier in die lewe te wees. Goeie leierskap vereis van jou om die uitdagings en verantwoordelikhede wat in die lewe oor jou pad kom in die oë te staar, en om méér as net ‘n gemiddelde persoon in die samelewing te wees.” Ek het net daar uit my staat van selfbejammering opgestaan en besluit om my voete in die skoene van my opgelegde verantwoordelikhede te steek en die lewe weer vierkantig in die oë te kyk.
Maklik was dit egter nie, want ek moes my verslawing oorwin, maar ek het, danksy daardie ou wyse boemelaar. Pa en Ma het nooit van my innerlike wroeging, die boemelaar en my verslawing geweet nie. Of het Ma dalk? ’n Ma weet mos alles. Wel, al het sy dalk geweet het sy nooit iets laat val nie.
Wat egter aan my bly klou het was my depressie. Ek kon net nie uit daardie diep put van neerslagtigheid en skuldgevoelens kom nie. My gedagtes was vasgevang deur ‘n vreemde monster wat my jong lewe wil verteer deur die drukgang van my allerdaagse handel en wandel. Dit het gevoel of daar voortdurend ’n duistere blokasie in my denke is, ’n hindernis tussen my wil en my intellek wat my verhoed om my verantwoordelikhede en daaglikse pligte nougeset na te kom. “Sou dit dalk wees soos die doring in Paulus se vlees?”, het ek gewonder. Dalk is dit ’n engel van die Satan wat met angswekkende hamerslae die mure van my weerstand teen depressie, en my vasberadenheid om suksesvol te wil wees, wil afbreek.
Ek kon letterlik voel hoe die fondamente van my morele wese skud, terwyl die donker dieptes vir my wink, en al hoe aanlokliker gaap. Die duisternis van depresssie het my menigmaal oorweldig. Ek kon geen lig vir my situasie sien nie. Niks in my lewe het vir my sin gemaak nie. Alles was net eenvoudig tevergeefs; ’n sinnelose gejaag na wind.
Menigmale het ek op die een van die hoogste geboue in Pretoria op die naat van my rug gaan lê, op die smal lysie tussen lewe en dood. “Alles in die lewe berus op sinnelose keuses, en is net ’n malle gejaag na wind”, het het ’n stemmetjie aanhoudend vir my gefluister, en my aangehits om ’n einde aan my misrabele lewe te maak. Diep, donker en bodemlose afgronde het my omring, terwyl vrees en angs my siel in vlarde wou skeur.
Male sonder tal kon ek dit nie meer verduur nie, en het ek my oë vir die ergste gesluit. Dan het ek Ma se glimlag voor my gesien en my twee susters en my broertjie, wat ’n heldeverering vir my gehad het. Hoe kan ek hulle ooit teleurstel?, het ek dan gedink, en my reggeruk. Dit was moeilik maar ek het dit gedoen.
Ek het vir my skool se eerste span rugby gespeel, en was ook gekeur vir deelname aan die Crawenweek. Pa het egter besluit dat ek nie soveel aandag aan sport kan bestee nie, omdat my verantwoordelikhede teenoor ma en my broertjie en susters moet nakom, en veral meer aandag aan my skoolwerk moet bestee. Op akademiese gebied het ek vér tekort geskied weens my verpligtinge teenoor my gesin. Veral my broertjie het baie van my tyd en aandag in beslag geneem. Ek moes te alle tye toesien dat daar in alle opsigte voldoen word aan sy behoeftes. Dít het tot gevolg gehad dat ek menigmale laat by my skool opgedaag het, en belangrike klasse gemis het. Boonop is my sitvlak menigmale as gevolg hiervan deur die onderwysers warm geslaan. My vriende het na my verwys as ou dom Piet met die plat voorkop soos ’n babber, wat wil Pa speel. “Hy het soveel kak in sy lewe dat hy moet agteruit swem om die kak uit sy oë te hou”, het hulle gespot, en heerlik gelag. Vir my was opmerkings soos hierdie vernederend, en was ek opnuut kwaad vir Pa.
Al hierdie emosionele pyne wat ek moes opkrop het in woede en rebelsheid omgesit. Die ou boemelaar met wie ek altyd gaan praat het oor my hartseer was nie meer daar nie. Wat van hom geword het weet ek nie.
Hierdie gekompliseerdheid in my lewe as kind, het tot gevolg gehad dat ek my standerd 9 jaar gedruip het. Almal, inkluis Pa, het gedink ek is dom. Ma het egter anders gedink. ’n Ma ken mos haar kind. ’n Ma weet van beter. Hoe het Elizabeth Eybers nou weer oor die vrou geskryf? “Somer en herfs en winter trek in wye onafgebroke wisseling deur die land, maar sy bly draer van die lente want liefde het haar verhef bo die getye.” Só vrou was my Moeder. Ma het in my geglo, en my oortuig om terug te gaan skooltoe en my standard 9 jaar oor te doen.
Maklik was dit nie. Ek moes die wêreld vierkantig in die oë kyk en deel met voortdurende neerhalende spottery. Boonop het die depressie duiwel sporadies in my nek geblaas.
Alhoewel ek in ’n Christelike huis grootgeword het, en my Moeder reeds baie vroeg in my lewe my kindervoetjies op die voetpaadjie van Jesus geplaas het, het ek begin twyfel aan my geloof, en het ek in opstand gekom teenoor die Christelike geloof. Ek kon nie aanvaar, of glo, dat God toelaat dat ek deur al hierdie trauma en vernedering gaan nie.
Ek het my standerd 9 jaar gaan oordoen en dit met vlieënde vaandels geslaag, te midde van al my buite skoolastiese verantwoordelikhede teenoor my familie.
Net voor my matriekjaar het Pa werk op Onderstepoort gekry, en het ons Pretorie-Noord toe verhuis. My twee susters het hul Hoërkool opleiding in Pretoria-Noord se Hoërskool voortgesit, terwyl ek in Ellandspoort se Hoërskool in Danville my matriekjaar moes voltooi. Ek moes toesien dat my broertjie by sy skool uitkom, en ook weer veilig by die huis na skool. Dít het beteken dat ek en my broertjie in die oggende ’n bus tot in Pretoria se middestad moes neem, en dan weer een van die middestad af tot in Danville. Daar het ek eers toegesien dat my broertjie veilig by sy skool uitkom, waarna ek ’n verdere twee kilometer geloop het tot by my skool.
Net voor die aanvang van die matriekeksamen het ek ’n Christelike kamp wat vir skoolverlaters aangebied is bygewoon. Wat ’n interessante kamp was dit nie! Die depressie duiwel wou my net nie met vrede laat nie. Sy stem het aanhoudend in die gange van my gedagtes ge-eggo dat ek ’n mislukking is.
Ek het een aand tydens die kamp alleen in die donker rondgestap, en voor ’n afgrond in die berge waar ons kamp is gaan staan. Ek het net nie meer kans gesien om met hierdie depressie doring in my vlees te deel nie, en wou ’n einde aan my lewe maak. Pa is mos nou terug by die gesin, en ek is nie langer nodig nie. Ek het my oë gesluit terwyl ek gedink het dat ek sommer nou oor hierdie afgrond die donker dieptes in gaan spring.
Terwyl ek my oë sluit en probeer moed bymekaar skraap vir daardie laaste treetjie die onsekere duisternis in, hoor ek ’n koor in die verte wat sing. Die woorde eggo in my gedagtes: “Uit dieptes gans verlore; O redding ver ver vandaan…Waar hoop se laaste spore klaar opgeteken staan…” Toe ek my oë stadig oopmaak, kyk ek vir die eerste keer in ’n lang tyd sedert my kinderjare op Oupa se plaas, op na die sterrehemel bokant my.
Tussen biljoene sterre wat miswolkies in die melkweg vorm gewaar ek Hom. Sy hande met merke van spykers deurboor is na my toe uitgestrek. “Is ek dan ’n ongelowige Thomas, wat eers my hand in Sy sy moet steek?” vra ek myself af.
Dan hoor ek Hom saggies sê: “Ek het jou by jou naam geroep my kind, jy is Myne. Ek hou jou in die holte van My hand, niemand sal jou uit My hand ruk nie…” Skielik vul Sy liefde en vrede al die onstuimighede in my gemoed en ek sak neer op my knieë. Trane rol vrylik oor my wange en my skouers ruk soos ek onbeheersd begin huil. Toe ek uiteindelik van my knieë af opstaan het ek vry gevoel, gereed om die lewe met al sy eise by die horings te pak. Ek het gevoel soos Dawid van die Bybel toe hy omonwonde in sy Psalms verklaar het: “met my God loop ek ’n bende storm …”
Maar my entoesiasme was van korte duur want ek het matriek gedruip. Dit was vir my ’n groot skok, veral na my geestelike ervaring op die skoolverlaterskamp. Ek het begin twyfel of daar enigsins ’n werklikheid in my ervaring daardie aand was. Hoekom draai die lewe nou so vir my uit? Ek het verbitterd geraak en my rug op God gedraai. “As Hy regtig God is hoekom laat Hy my op hierdie paadjie loop?”, wou ek weet. Ek het al hoe meer verbitterd en gevoelloos begin raak.
Tonge was verwoestende emosionele swaarde in my jong lewe, ek druip eers standerd 9, en toe matriek. Waar was God dan, ek het so vas geglo dat Hy my deur al die krisisse wat oor my lewenspad sal kom na my ervaring op die skoolverlaterskamp sal help. Ek het genoeg gehad van skool en die verantwoordelikheid om na my broertjie om te sien, dit was immers Pa en Ma se taak nie myne nie. Pa kan nou maar hierdie moersleutel wat hy vir my op my 16de verjaarsdag gegee het terugvat. Ek het meer as my deel gedoen en moes ’n duur prys daarvoor betaal.
Ek moes net ’n uitlaatklep vir my opgekropte emosionele letsels vind anders sou ek my kop verloor. Gevolglik het ek my rugsak gepak en die pad gevat. Vir agtien maande het niemand geweet waar ek is nie. Ek het by die Spesiale Taakmag van die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en daar ’n uitlaatklep vir my opgekropte emosionele letsels probeer vind.
Dit was vir my ’n groot eer om ’n lid van die land se Spesiale Taakmag te wees. Die keuring was streng en die opleiding was straf, maar ’n salwing vir my emosionele pyn asook ’n uitlaatklep vir my aggressie. Tydens my opleiding het ek vir Proppie* ontmoet. Ons het goed bevriend geraak, en was ‘buddies’ tydens ons opleiding.
So stil-stil as wat ek agtienmaande terug verdwyn het, het ek een dag ewe trots in my uniform by die huis opgedaag. Ek was so trots op myself. Dit het gevoel asof ek twee sentimeter bokant die grond loop, en of almal om my, my met bewondering aanstaar. Ja, hoogmoed in die ergste graad. Ek het gevoel dat ek uiteindelik iets in die lewe bereik het, en dat ek besig is om oorwinning te behaal op alle terreine van die lewe en, dat ek as waardige burger iets vir my land beteken. Tog was daar diep binne my ‘n voortdurende worstelstryd waarvan ek nie ontslae kon raak nie.
Ma was uit haar vel van blydskap om my te sien, maar ek kon ook die hartseer in haar oë sien. Al wat sy gesê het was: “My kind alles in die lewe is ‘n jou geoorloof, maar nie alles in die lewe is nuttig nie. Ek sal jou veel eerder op die preekstoel wou sien, met ’n toga aan, as in hierdie uniform. Wees ‘n soldaat vir God, nie ‘n soldaat in ’n sinnelose oorlog nie.” Ek wou niks van Ma se voorstelle, begeertes en vermaninge weet nie. Dawid het dan in een van sy Psalms gesê God leer sy hande om oorlog te voer, hoe verstaan ek Ma se vermaning dan nou? “Was Dawid dan nie ook ’n man na God se hart nie?” Ek was verbitterd. “God het dan sy rug op my gedraai toe ek hom die nodigste in my lewe gehad het”, het ek geredeneer.
Ma het my gewaarsku dat hoogmoed tot ’n val kom, en dat die val altyd baie hard is, “want jy is nie in die lewe toegerus met ’n valskerm om jou landing te versag nie”, het sy gesê. Ek het net lekker gelag vir Ma se profetiese vermaning, en haar ’n drukkie gegee.
Twee dae later daag Proppie by ons huis op. Daardie aand is ons saam weg op ’n geheime sending. Ek kan nou nog daardie hartseer kyk in Ma se oë sien die aand toe ek vertrek het. Ek en Proppie was half opgewonde om op ons eerste geheime sending te gaan. Min het ek geweet wat op ons wag.
Die harde werklikheid was anders as die ses maande se strawwe opleiding wat ons gehad het. Ma het geweet wat op my en Proppie wag. Haar woorde: “jy kan aan baie dinge in die lewe twyfel my seun, maar moet nooit aan jou eie vermoëns twyfel nie, “Onthou maak nie saak wat jy dink nie, God is altyd met jou. Ek bid elke oomblik vir jou.” Dít wou ek nie hoor nie. Min het ek geweet dat God altyd na ’n Moeder se gebede luister.
Ek het vinnig, selfs met ’n skok, besef dat die harde werklikheid anders is as die opleiding en al die aansien wat daarmee saam gegaan het. Ma het geweet. ’n Ma weet alles, selfs dit wat jy nie wil hê sy moet weet nie. Ek sal nooit haar wyse woorde vergeet nie. “Jy kan aan baie dinge in die lewe twyfel my seun, maar moet nooit ooit aan jou eie vermoëns en aan God twyfel nie. Onthou wanneer jy op jou swakste is, is jy op jou sterkste” Ek het nie verstaan wat Ma met die woorde bedoel het nie, maar ek het spoedig agter gekom wat sy met daardie woorde bedoel het, tydens daardie geheime sending wat ons moes uitvoer.
Die chopper het laag oor die bome gevlieg, net ek en Proppie, was aan boord. Die onsekerheid was senutergend. Ek moet erken dat ek na God tussen die sterre gesoek het. Ek wou diep in my hart so graag weer dieselfde ervaring beleef as daardie aand op ons skoolverlaterskamp, maar daar was niks nie, geen teken van God nie.
Dit was ’n helder volmaanaand toe ek en Proppie uit die chopper spring. Dit was onheilspellend stil. ’n Hiëna het in die verte koggellag. Dalk het die hiëna iets geweet wat ek en Proppie nie geweet het nie. Ek was besig om ons posisie in die maanlig op die kaart te plot toe bars die hel los en skeur die stilte van die nag in flarde soos die vyand se koeëls onophoudend op ons begin reën. Ek het dadelik dek geslaan, na ’n kremetartboom vir skuiling gekruip en begin terugskiet. Proppie het instinktief dieselfde gedoen. In die hitte van die stryd is Proppie in sy skouer gewond. Ek het hom verder die bosse ingesleep, onder sarsies koeëlreën. Gelukkig was dit net ’n vleeswond maar hy het erg gebloei. Ek het vir hom ’n bomverband gegee om op die wond te druk. Ons het reg in die leeu se bek ingeloop. Ek kan sweer iemand het inligting gelek. Dit is asof die vyand ons ingewag het. “Waar is God dan nou? Ma het met soveel oortuiging gesê Hy sal altyd met my wees”, het ek beangs gevra.
Masjiengewere het sonder ophou geknetter, sarsies koeëls het op ons bly reën. Die vyand se lugfakkels het die karos van die nag verbleik, die sterre se lig verdof en die hele area verlig. Die vyand het die lang gras al om ons aan die brand gesteek. Dit het vir my gevoel asof Moederaarde benoud gespartel het soos ’n oorversadigde kookpot terwyl bome onder die vuurpyle van die vyand gesneuwel het soos weerlose reuse. Ek was doodbang, en kon in my verbeelding sien hoe die hele skepping ween, soos ’n vrou wat in barensnood verkeer, en na verlossing smag. Die reuk van rook en kruit en verskroeide vlees en bloed het aan die hemel gehang. Angs het gedreig om my onder te kry. Ek het byna hardop na God om redding geroep. “Ag, wat help dit jy roep na Hom om hulp Mossie? Jy mors jou asem, en jou tyd is besig om uit te loop. God sit daar bo in die hemel op Sy troon omring deur engele wat Hom dien. Hy steur hom nie aan jou pyn en lyding nie. Hy weet nie wat dit beteken om bang of benoud te wees nie”, sê ‘n stemmetjie byna oortuigend in my gedagtes. Dan hoor ek ’n ander stemmetjie: “Mossie, onthou jy My verhaal in Jesus, toe Hy in Getsemane gebid het vir jou? Hy was bedroef, beangs, benoud en bang tot die dood toe! Dít is mos menslike emosies? Hoe kan jy nou sê dat Ek nie weet wat dit beteken om bang te wees nie? Ek het druppels van bloed vir jou gesweet in Getsemane!” “Ag twak man! Jy glo tog sekerlik nie ’n fabelagtige storie nie”, kap die ander stemmetjie skerp terug. “Jy en Proppie is nou in ’n ernstige penarie tussen lewe en dood. Moenie nou val vir emosionele stories nie” Ek het met keuses in my gemoed geworstel.
Reg rondom my en Proppie het die vlamme al hoër teen die duisternis van die nag uitgedyn. Ek het Moeder se engelgesig in die vlamme gesien. Sy het gerusstellend vir my geglimlag: “my seun wanneer jy swak is , is jy sterk, want dit is in oomblikke soos hiérdie wat God oorneem. Vertrou op Hom, al sien jy Hom nie.”
Die oormag van die vyand en hul verwoede aanval het van alle kante al nouer en nouer om my en Proppie gekring. Ek moes ’n keuse maak. Sterf ‘n vuurdood of hys die wit vlag en dra die gevolge van jou depressiewe staat van hoogmoed, wat kom. Albei keuses is ewe erg. Dít was ’n bitter moelike besluit. Ma se woorde het deur my wese ge-eggo: “maak nie saak wat nie, jy gee NOOIT op nie”; “Skuus moeder maar, vir daardie oomblik moes ek.” Ma was reg; “alles is jou geoorloof maar nie alles is nuttig nie, en hoogmoed kom tot ’n val wanneer jy nie ’n valskerm het om jou val te versag nie.”
Die vyand het ons gevange geneem. Ek en Proppie is geskop, geslaan, verneder en spottend rondgestamp. Sandsakke is oor ons koppe getrek, en ’n riem is om my nek gebind. Die riem het soos ’n skeermeslemmetjie in my vlees gesny. Toe trek hulle my en Proppie se stewels uit en dwing my deur die bosse met Proppie op my rug. Ek het gevoel soos ‘n verboureerde os wat aan ’n riem slagpale toe aangejaag word deur spottende waansinnige bloeddorstige slagters, “… na ’n dal van doodskaduwee”. My voete het al swaarder geword van die gekoek van sand, bloed en dorings. Ek het in my geestesoog gesien hoe Jesus ook so vir my gely het op pad Golgota toe om gekruisig te word. Ek het onthou dat God ook in Sy Woord gesê het: “Roep my aan in die dag van benoudheid, en ek sal jou uithelp…” “O God, help ons asseblief!”, het ek myself hardop hoor sê.
Proppie se bloed het oor my gestroom. Opgee, twyfel oor my eie vermoë, nooit! Soos Dawid sal ek saam met my God ’n bende stormloop, het ek vir myself gesê. Ek het ’n paar maal geval met Proppie op my rug, en is deur die vyand geskop en met geweerlope in die rug en ribbes gestamp om op te staan. Trane het oor my wange geloop.
Ons is hardhandig in ’n vuil tronkkamertjie gestop. Ek het met my emosies geworstel. Dit was vir my ’n oorlog binne ’n oorlog. Die emosionele swaard was tweesnydend en vlymskerp. “Dít is nou ’n ideale situasie om in te wees.” Bly ek ’n gevange van die duisternis van depressie, of kies ek die vryheid van Sy Lig?”, worstel ek met myself. Die duisternis wil oorweldigend wees, terwyl Sy lig helder skyn. My gees neig om steeds in die duisternis van depressie rond te tas. Ek worstel met my geestelike stryd. “Ek en my hoogmoedige staad van depressie moet vannag voor God bieg”, dink ek hardop.
Ek het na die naghemel deur die tronkvenstertjie gestaar en opnuut besef hoe nietig ek is, en hoe groot God is. Meegevoer deur die ordelike patrone wat die naghemel versier, het ek onbeheersd begin huil. Alles aan die hemelruim is so onmeetbaar gestruktureerd. Ek het opnuut besef en bely dat Sy heerlikheid grensloos is want Hy is alomteenwoordig. Hy is ook nou hier by my en Proppie. In verwondering staar ek na die misterie van die abstrakte werklikheid van Sy skepping, en besef hoe nietig en verganklik ek en Proppie is. Oorweldig deur Sy grootheid wat voor my in die naghemel wemel word ek opnuut aan Sy oneindige groot liefde en genade herinner. Ek het Hom om vergifnis gesmeek, omdat ek my rug op hom gedraai het, en het my sondes en tekortkominge bely. Dan hoor ek Sy stem vanuit die sterre wat aan die hemelruim wemel: “my kind ek het reeds jou sondes weggewas toe ek op Golgota was.” Proppie het sy arm om my skouers gesit en saam met my gehuil en gebid deur snot en trane en bloed. “Toemaar my buddy ons sal hier uitkom. God sal ons help”, het Proppie gesê.
In die muwwerige klein tronkkamertjie het ek al my dae gehad om gulsige en bloeddorstige rotte van my bebloede voete af te hou, terwyl ek Proppie probeer verpleeg het. Ek het die rotte toe een vir een met my kaal hande doodgemaak, en in my sakke geprop om later te eet, sou ons nie weer kos kry nie. Ja, grillerige affêre, maar my drang om oorlewing was skielik ongelooflik sterk, so ook my verlange na Ma. Ma sou my wonde salf. Ek het ook gebrand om haar te vertel dat ek my saak met God reggemaak het. Ek glo tot vandag toe vas in my hart dat God vir my en Proppie daardie aand gehelp het om deur daardie nou venstertjie te ontsnap. Skielik het Ma se woorde vir my nuwe betekenis gekry, en het ek vir die eerste keer regtig verstaaan wat sy bedoel het met die woorde: “maak nie saak wat nie, jy gee NOOIT op nie.” Die diep betekenis van haar woorde is: “maak nie saak wat die situasie is waarin jy jouself bevind nie, jy gee net nooit op nie, WANT SOLANK AS WAT JY NIE OPGEE NIE, GEE GOD OOK NIE OP NIE”. “Baie dankie vir hierdie lewensles Moeder”, hoor ek myself hardop sê. Daar het ’n onbeskryflike vrede en kalmte oor my gekom, nadat ek hierdie geestelike oorlog teen depressie, wat ek vir so lank in my binneste voer, oorwin het. Ek kon skielik weer kalm en met nugtere denke besluite neem en optree.
In die volmaan se lig het ek ons posisie op die kaart geplot . Proppie het die kaart en kompas gehad, wat hy in sy onderbroek versteek het. Ek en Proppie het vir vyf dae lank deur die bosse aangesukkel grens toe. Water het ons uit poele gekry, maar kos was daar nie, ons moes maar die rotte braai en eet. Nooit gedink ’n rot kan so lekker smaak nie, as dit om oorlewing gaan doen mens snaakse goed. Jy besef eers hoe sterk jy is wanneer jy op jou swakste is. Ek het opnuut besef dat wanneer ek swak is, is ek eintlik sterk, want dit is dán dat God oorneen en die stryd vir my stry.
My voete het al gelyk soos twee rou stukke lewer wat vir dae lank deur die sand gesleep is. Proppie was swak van al die bloedverlies, maar ons wil tot oorlewing het nie gepyn nie, en God was met ons al die pad. Gelukkig was ons basis net oorkant die grens, waar ons onder luide applous ontvang is. Toe ons in die basis is, het ek en Proppie van uitputting en bloedverlies inmekaar gesak.
Ek dink nie ons bevelvoerder het verwag om vir my en Proppie ooit weer lewend te sien nie. Ons het soos twee wandelende dooies gelyk toe ons die kamp binnekom. “Die bliksems, waarom het hulle ons nie kom soek nie, dit is hulle wat ons in die leeukuil gegooi het. Klomp bang gatte. Mossie-ore met die afdraande voorkop wat soos ’n plaas kakhuis lyk, gee toe nooit op nie!! Maar al die eer kom God toe en nie vir my of vir Proppie nie. Ek en Proppie kon nou wel nie daardie geheime sending suksesvol voltooi nie, maar God het Sý sending in ons suksesvol voltooi.
Ek en Proppie is in die siekeboeg opgeneem totdat ons na ’n week weer fiks verklaar is, waarna ons met die Vlossie huis toe gestuur is. ’n Gehoorverlies het by my begin ontwikkel en ek moes die tuig as soldaat in die Spesiale Taakmag neerlê. Ma was natuurlik verheug oor my besluit om my uniform permanent uit te trek.
Ek moes ’n nuwe loopbaan begin, maar ek het nog steeds nie matriek agter my naam gehad nie. Soos Ma my geleer het: “Jy gee nooit op nie, want God is aan my kant, en as God vir jou is, wie kan teen jou wees? “Met my God spring ek oor ‘n muur. Met my God loop ek ‘n bende storm. Wanneer ek swak is, is ek op my sterkste, want dit is dan wanneer my God oorneem.”
Ek die hereksamen gaan skryf en my matrieksertifikaat verwerf. Fillipense 4 vers 13: ”Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”, het sedertdien vir my ’n lewensmoto geword, en met daardie woorde op my hart gegraffeer is ek die lewe in om ’n loopbaan êrens te begin …
——-ooo000ooo——-
(© Kopiereg: Pieter Mostert)
[*uit respek vir sy familie noem ek nie sy regte naam nie]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek