Die aarde bid
Here, gooi tog soms U skadu
voor die son wat vurig woed
en laaf my vir ‘n oomblik –
kyk my wonde,
sien my bloed.
Steek tog net U hand uit
van daar af waar U woon
soos ‘n voeler deur die hemele
en soek na my –
U skeppingskroon.
Raak aan my met U vingerpunt,
streel liggies oor die ronding van my lyf
hier waar ek
– tussen niks en weinig –
sonder ophou deur die ruimte dryf.
Keer my met u palm,
halt my in my vlug.
My asem jaag van moegheid –
hoor hoe Godsverlaat en moedeloos
ek oor my verwoesting sug.
Laat rus my soos ‘n kleinood
in die holte van U skoot
en buig U hoof,
spits U ore
vir die uitkreet van my nood.
Dwing my om ‘n oomblik
in U teenwoordigheid te staan.
Sus my teen U bors, Heer
en wys my dat U omgee –
alvoor U my laat gaan.
© Carma Shaw
9 Februarie 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.