Jongste aktiwiteit:

Die bitter en soet.

Ons het ’n aasvoëljaar belewe, waar ander ons bene probeer skoon eet het. Maar … tog was hierdie jaar ook gevul met goue sonskyndae wat tussen ons beendere deurgeskyn het om vir ons die mooi van die lewe te wys. Soms wou ons op moedverlore se vlakte gaan speel. Veral as ons voor ’n donker, mismoedige gat te staan gekom het en daardie donker gat na ons hakskene gehap het óf hy het sy mond wawyd oopgemaak om ons baie diep in sy lang keelgat te probeer af druk. Soos die gesegde lui: Sink of swem. Jy laat maar jou arms oortyd werk om jou uit daai gat te probeer kry, want moed opgee is nie in ons woordeskat nie. Net wanneer jou arms moeg raak, breek ’n wolk met ’n silwer randjie die grou en word jy op goue sonskynvlerke bo droomwolke gelig en vlieg jy salig op lewenswinde.
Maar, soms kom klop ’n wolf in skaapsklere aan jou deur en sleep jou terug na die “ons breek jou moed” gat en herinner jou dat jy vergeet het om op jou knieë te bly. Veral as die droogte se knelhand om jou oeste span of wanneer jou vee gegaps word in die donker van die nag en moordend aangejaag word vir kilometers ver tot waar die “nuwe eienaars” hul gebuite fonds kan oor brandmerk en laai (want hul wil nie ‘valslik’ beskuldig word dat dit nie hul vee is nie) of selfs rustig hul jassies kan afskil en dit vir jou los om die volgende dag te vind. Of as daar fout gaan met die oeste, en duisende ter duisende rande voor jou oë wegkwyn en jy is magteloos om iets daaraan te kan doen. Ja, dan breek ons harte en ons trane meng met woede wat neerstort om ons voete.
Soms beleef ons weereens ’n goue sonskyndag. Jou kinders wat skaterlag vir die eenvoudigste dingetjies terwyl hul in die plaasdam swem, drukkies en soentjies wat soos ’n warm kombers om jou hart vou, die wonder en skoonheid van die natuur wat jou asem skoon wegslaan, ’n veldblom wat manlief vir jou gepluk het en die stilte van die nag wat jou koel omvou met net die sterre se geskitter, tarentale se bak-kwiet, bak-kwiet skree-geluid en paddas se gekwaak in jou ore. Ja, sulke tye maak die bitter ook soet in die lewe.
Ja, ek is ’n boer se vrou. Dis nie aldag maklik nie, maar ek verruil dit vir niks anders in die lewe nie. Want hier staan ons op die laaste dag van die jaar besig om koring van die lande af te haal en ek en my dogtertjie het gou ‘n skaftien gepak om weg te vat lande toe. “Kom stroop gou saam,” nooi manlief (skaars hoorbaar bo die dreuning van die stroper) en ons laat nie op ons wag nie, want dit is nog ’n goue sonskyn oomblik. Al is dit warm in die stroper en die lugreëling blaas volstoom sy koel asem op ons uit, kyk ek in verwondering na die goue koring, die broeiende belowende weer om ons en die drie reiers en klomp witborsluisvoëls wat al aasend om ons saam vlieg. Want … sien, soos die rollende koringtafel die koring sny en opgooi oor die roller, so word insekte en goggas wat daar geskuil het ook die lug ingegooi. ’n Feesmaal vir die voëls wat die stropers heeldag volg. By die laaste stukkie koring, wat ons stroop, hardloop vier tarentale skielik (tussen die koringrye) voor die rollende koringtafel uit. Onwetend het ons bo-oor hulle nes gegaan. Die reiers en witborsluisvoëls kon hul oë nie glo nie. Hulle het weggelê aan die klein tarentaalkuikens wat in die nes was. Ek het eers hartseer gekyk na die arme spartelende kuikens, terwyl die vier tarentaal-ouers magteloos op die kantlyn gestaan en toekyk het. Maar soos manlief my daaraan herinner het … dít is die lewe. Die reiers moet ook eet.
Ons gaan die nuwe jaar met koringstrooptyd in en ons is dankbaar vir dit wat ons van die lande kan afhaal. My nuwe jaars voorneme is om geen nuwe jaars voornemens te maak nie. Ek gaan liewers die lewe met albei hande vasgryp en die mooi van elke dag, diep in my hart wegbêre vir daardie ‘donker gate’ wat vorentoe dalk vir ons mag lê en wag.

© Taai Bonthuys




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed