Jongste aktiwiteit:

Die kristaldeur

Die stoom trek stadig op uit die grond. Die son se strale is koorsig warm vandag. Die rooi plas verkleur geleidelik al donkerder en net voor son onder lê daar slegs ‘n dieprooi, byna swart kol wat in die sand ingesypel het.

Die sleepmerke wat vanaf die kol weglei in die bosse in, is byna onsigbaar in die skemerdonker wat oor die vlakte hang.

Hadidas skreeu ‘n volmaag klaaglied wat deur die dun lug sweef en die diere maak ‘n laaste draai voor donker langs die watergat om hul dors te les.

Die land is nie vir onkundige stadsjapies en oorsese reisigers bedoel nie. Die Landrover kruip stadig met die toegegroeide grondpad langs en in die lig van die kajuit wat aan is, is ‘n jong donkerkop man se gesig sigbaar.

Landon kyk in die flou liggie na die kaart wat langs hom oopgevou lê en konsentreer op ‘n spesifieke area. Hy is amper by die ontmoetingsplek. Gevaarlik is die spel gewis en hy weet ook dat die natuur ongerep is in die gedeelte van die kontinent. Afrika slurp maklik die prooi op wat nie weet hoe rou en ongenaakbaar die stuk aarde is nie.

Die voertuig kom tot stilstand en Landon skakel die enjin af. Hy kyk weer na die kaart, skakel dan die kajuit liggie af en klim dan versigtig uit.

Die naglug druk bedompig na benede en hang swanger met die verwagting van reën. Landon kyk om hom en bak dan sy hande voor sy mond. “Nico! Nico!” Stilte is al wat hom tartend beantwoord.

Hy strek in die voertuig in en neem sy rugsak met water, kompas en ander toerusting voor hy die deur toeklap en aanstap deur die veld.

Gedemp sing hy “Don’t go around tonight, Well, it’s bound to take your life, There’s a bad moon on the rise.”

Hy stap doelgerig in die rigting van ‘n digte bos en draai dan skerp na links waar hy ‘n voetpad vind wat in die bos inlei. Hy neem die voetpad en stap vinnig aan. Landon stap tien minute voor hy sy pas verminder. Hy laat sak die rugsak, maak die flap los en druk sy hand in die sak. Hy lig die infrarooi verkyker uit en bring dit tot voor sy oë.

Hy kyk lank en stip na die bosse voor hom en na voetpad wat in die bosse in verdwyn. Hy sien geen beweging vanuit die rigting waar Nico gereël het om hom te ontmoet nie. “Vreemd” fluister hy. “Nico waar is jy?” fluister hy weer. Hy en Nico ken mekaar reeds die afgelope vyftien jaar en Nico is pynlik stiptelik en presies. Hy voel hoe sy nekhare rys.

Hy bêre die kamera en maak sy rugsak toe. Saggies beweeg hy verder met die voetpad langs. Hy sien ook geen rook of vuur nie. Die aandlug is koel en Nico sou beslis vir hom ‘n kampvuur aanmekaar geslaan het.

Landon kyk na die kompas en GPS in sy hand. Hy draai in die rondte en kyk die hele area deeglik deur. Nico is nêrens in sig nie. Hy stap nader aan die boom links van die voetpad en steek dan vas. Daar voor hom staan Nico se tentpenne. Die tent is halfpad opgeslaan en eenkant is daar reeds klippe gepak om ‘n vuur te begin. Die donker kortwiek hom. Hy is nou oortuig dat iets nie pluis is nie.

“Nico! Nico kan jy my hoor?!” Hy het by die voertuig al gewonder wat aangaan. Nico sou hom daar ontmoet het.

Landon besluit om te wag tot daglig voor hy verder ondersoek instel. Hy stap na die tent wat halfpad opgeslaan is en slaan dit klaar op. Hy draai na sy rugsak en maak dit oop. Hy lig ‘n kamplig uit en skakel dit aan. Dan plaas hy sy rugsak binne in die tent en maak die ritssluiter behoorlik toe.

Hy stap tussen die naaste bome rond en tel los takkies op tesame met ‘n paar groter stompe. Hy sit dit neer langs die klippe wat Nico reeds gepak het, stapel dan genoeg takkies opmekaar en steek dit aan die brand. Die groter stompe neem ‘n ruk om vlam te vat en sowat ‘n halfuur later het hy ‘n gesellige vuur wat kletter en lig gooi.

Die kamplig in die tent het hy intussen gaan afskakel en ter selfdertyd het hy sy mondfluitjie uitgehaal uit sy rugsak.

Die note styg saam met die lig en vuur se vonkies op in die lug. Die deuntjie bly in sy gedagtes rondhang. Hy hoop dat Nico vir ‘n onvoorsienigheid hul afspraak net nie kon nakom nie. Landon kry egter nie die knaende bekommernis uit sy agterkop nie. Hy ken Nico te goed.

Landon skrik wakker met vrolike voëlgesang in die bosse om hom. Die son is reeds ‘n groot oranje lemoen in die ooste en begroet hom met strale wat warm op sy vel gaan sit.

Hy tel die mondfluitjie op wat uit sy hand gegly het toe hy aan die slaap geraak het en plaas dit in sy broeksak. Stadig kom hy orent en kyk dan om hom rond. Nico is steeds nêrens in sig nie.

Hy besluit om die kampterrein deur te kyk voor hy terugkeer na sy Landrover.

Landon buk tussen die tent en die voetpad en kyk na die vae sleepmerk in die gras. Hy draai dan en stap in die rigting waar die sleepmerk heen wys. Agter ‘n groot Kremetart sien hy die swartrooi kol wat op die grond sigbaar is. Landon sak op sy hurke en druk met sy vinger op die kol. Die grond kraak en bars. Hy tel ‘n stuk van die droë grond op en bring dit tot by sy neus. Hy ruik daaraan.

Sy kyk deurboor die bosse om hom. Die kol is beslis bloed en daar is baie bloed. Dit is egter reeds droog en dit beteken dat wat ook al gebeur het reeds gister vroegdag moes gebeur het.

Hy kan nie net terugdraai en wegry nie. Landon stap terug tot by die tent. Hy slaan die kamp op. Die vuur gooi hy toe en breek die klipsirkel op voor hy sy rugsak op sy rug laai en die bosse inloop opsoek na Nico.

“Hallo Landon, Nico hier! Hoe gaan dit ou maat? Ek wil graag hoor of ons mekaar kan ontmoet buite die stad? Dringende sake my vriend. Die mure het ore en ek moet met jou gesels.”

“Dagsê Nico, ek is bly om van jou te hoor mens. Dit gaan voor die wind. Ek is net vas vir die week. Vergaderings en afsprake met sakekennisse.”

“Landon wat is die vroegste opening in jou dagboek?”

“Volgende week Vrydag Nic. Dit is ongelukkig die vroegste wat ek vrye tyd op hande het. Waar en hoe laat wil jy ontmoet?”

“Die stad is nie veilig nie Landon. Volg die roete tot by S 24° 20 49.69 E 27° 34 10.61. Daar neem jy die grondpad wat regs van die landingsplek uitloop en volg dit tot by die digte bosse. Draai daar links en volg die voetpad tot by my kampplek. Ek sal jou by die voertuig kom kry, as ek klaar kamp opgeslaan het.”

Dit was hul gesprek bykans twee weke gelede. Hier staan hy nou op Marataba en hy het geen idée waaroor Nico met hom wou praat nie. Hy het geen idée waar Nico nou is nie.

Landon stap voort en bespied die omgewing vir enige tekens van ‘n struweling of verdere sleepmerke, maar sover nog geen geluk.

Hy stop doodstil toe daar skielik ‘n beweging voor hom in die bosse is. Vlugtig sien hy ‘n figuur wat weghardloop. Dit gebeur so vinnig dat hy dink sy oë het hom bedrieg. Hy kan nie glo dat enige iemand so vinnig deur die bosse kan beweeg, wat so ruig groei nie. “Nico, Nico is dit jy? Kom hier dat ons kan gesels man!” Sy stem slaan vas teen die bosse om hom. “Nico!”

Landon draf in die rigting waar die figuur beweeg het. Verbaas kyk hy af. Daar is geen voetspore of tekens dat iemand daar was nie. Hy voel hoe sy nekhare weer rys. Stadig draai hy om. Agter hom in die voetpad staan ‘n…wat is dit? Figuur? Wese? Die oë sit langs die kop en die ding troon bo hom uit. Sy oë is egter vasgenael op die mond.

Die bek is enorm en daar is vlymskerp tande wat uitpeul bo-oor lippe wat lyk of dit te kort is. “UHMMM” Die geluid skeur uit die gedrog se borskas. Landon staan gevries van skok. In die ongedierte se een hand hang ‘n mens se been, of wel wat oor is van ‘n been.

Hy besef dat sy vriend ongelukkig nie hul afspraak sal nakom nie. Hy tree agteruit en val dan oor ‘n boomwortel wat bo die grond uitsteek. Die ongedierte beweeg teen ‘n onmenslike spoed en land op sy borskas. Hy hyg na asem onder die gewig van die wese.

Hy probeer gil, maar dit is tevergeefs. Die klank steek vas in sy keel.

Angs-sweet pêrel teen sy wange af en sy hemp is sopnat. Hy ruik die bloed op die ding se asem. Sy vriend se bloed. Hy knyp sy oë toe. “Asseblief, los my. Asseblief as jy verstaan los my net. Ek wil nie baklei nie.” Dit is al wat Landon kan uitkry. Die res is ‘n sinnelose geprewel van woorde.

Alles word swart voor hom en hy sak genadiglik weg in die donker wat hom insluk.

Vyf minute voel soos ‘n ewigheid toe Landon sy bewussyn herwin. Hy kyk verward om hom. Die ongedierte sit reg langs hom. Dit kyk stip vir hom. Hy sien hoe die kloue uitreik na hom en hy probeer wegdeins. Die wese plaas sy kloue op Landon se slape en maak sy oë toe. Landon voel hoe sy krag uitvloei in die wese se kloue. Hy sien sy lewe voor hom afspeel. Skielik voel dit of daar ‘n energieveld deur hom terugvloei van die ongedierte af.

Beelde speel deur sy brein. Hy sien ‘n groot kristal. Hy sien hoe Nico dit oopvou in ‘n lap en ophou na bo. Die gedrog sit net swygend na hom en kyk. Dan besef Landon dat die wese nie van hier is nie. Nico het op ‘n oorblyfsel van iets afgekom en dit probeer weggesteek. Die wese het dit seker nodig vir oorlewing. Nico moes hom teëgesit het. Die enigste manier om te kommunikeer is deur sy kloue teen ‘n ander se slape te plaas. Dit is ‘n tipe gedagtelees en ervaringe oordra, wat plaasvind.

Hy maak sy oë oop. Die ongedierte is weg. Hy sit regop. Het ek gedroom? sê hy hardop. Hy druk op die grond om regop te kom en voel iets onder sy hand. Daar onder sy hand lê die verflenterde been wat die wese in sy hand vasgehou het.

Landon kyk op. Bokant hom is daar ‘n wit lyn deur die blou hemelruim. Dit is geen wolke nie. Dit blink soos ‘n dolk waarop die son skyn. Hy weet wat dit is. Hoe verklaar hy dit egter aan andere?

Hy maak sy rugsak oop en haal sy jagmes uit. Landon grou ‘n sloot onder een van die bosse en begrawe die been daarin. Dan stap hy tot by die voetpad en kies koers terug na sy voertuig toe.

Die son is besig om te sak in die weste. Landon sug swaar en skakel die voertuig aan. Hy ry terug stad toe en is net betyds vir die laataand nuus.

Die wetenskaplikes is in rep en roer oor die moontlikheid dat daar besoek was van wesens op ‘n ander planeet. Bespiegelinge, stories, mites en geen feite, of is daar? Die vrees dat hy vir moord aangekla kan word plaas ‘n wag voor sy mond. Wie sal hom glo?

“Rus sag my vriend,” fluister Landon. “Ek gaan jou geselsies mis.”

Landon pak sy rugsak uit. Hy kyk na die stuk lap wat toegeknoop is en maak dit los. Hy vou dit stadig oop. Die kristal het ‘n skynsel wat pols. Hy tel dit op. Dit stuur vibrasies uit. Skielik skiet daar ‘n wit straal uit die kristal en die volgende oomblik staan die ongedierte voor hom in sy woonkamer.

Die kristal is nie ‘n oorblyfsel nie. Dit is ‘n portaal, ‘n deur tussen wêrelde.

Die wese het nie sy vriend verskeur nie, maar hom probeer keer om deur die portaal te reis. Dit was egter nie geslaagd nie, daarom het dit Nico se liggaam verwoes. Die bloedkol is die plek waar die portaal oopgemaak het.

Die wese rus sy klou teen Landon se slaap en hy sien beelde van groen wuiwende plante wat groot blomme en blare dra. ‘n Landskap wat onbekend is op aarde. Die wese se tuiste. Hy neem die kristal by Landon en plaas dit in ‘n sak. Dan draai hy om en tree in die ligstraal wat deur die hemelruim flits voor dit verdwyn.

Die aarde was tweekeer besoek in twee dae en hy het geen bewyse om te toon, van die wese wat hom beskerm het teen homself nie. Dankbaar slaak hy ‘n sug van verligting. Vannag slaap hy nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed