Jongste aktiwiteit:

Die twee rooi liggies

Die twee rooi liggies
(Riller – nie vir sensitiewe lesers)

Vannand is ‘n bai e koddige aand. Nie koddig in ‘n snaakse of grappige manier nie, maar koddig in die sin van “vreemd”. Daar’s ‘n vreemde gevoel hier in my nuwe blyplek, ‘n vreemdheid oor die plek en sommer so ‘n vreemde gevoel in my binneste.
Ek het onlangs in die plekkie ingetrek, net ‘n kamer met ‘n stort en ‘n buite-toilet, ‘n buitekamer teen ‘n huur wat ek kan bekostig. Die eineaar het my vertel hier het ‘n ruk terug ‘n ouer man gewoon, maar hy is ongelukkig in ‘n motorongeluk oorlede so twee maande gelede. Die plek was vuil en stowwerig en ek het maar skoongemaak en geverf en afgewas en uitgestof, en nou is ek hier in my eie plekkie, en dit voel so vreemd. Selfs die mense wat in die huis woon is bietjie vreemd, als is net vreemd, veral vannaand, hierdie vreemde Sondagaand.

Die reuke van ander se koskook en die klanke van ander huise en die nabygeleë snelweg is ook vreemd, maar dis seker hoe dit is as mens in in ‘n nuwe plek intrek. Die kamertjie was eens op ‘n tyd ‘n garage, maar nou is dit ‘n slaapkamer. Ten minste is ek apart van die huis en hoef nie met hul die badkamer en toilet te deel nie, en dit pas my baie goed. Ek kan ook kom en gaan soos ek wil, sonder om ander te pla.

Vannag is dan nou my eerste Sondagnag in my nuwe, baie vreemde plek. Ek is redelik moeg van die gepak en getrek en môre is alweer ‘n besige dag, so ek is maar vroegerig gestort en in die bed, maar slaap ontwyk my so bietjie. Ek lê en staar na die patrone van die skaduwees van boomblare en diefwering teen die gordyn en voel hoe my liggaam ontspan. In die stilte flits die buiteligte so twee maal en ek wonder wat dit kan wees. Ek besluit dis seker maar weer iemand wat met kragproppe sukkel of fluktusie in die toevoer, toe die ligte skielik alles doodgaan en dit stikdonker raak, met net die ligte skyn van die straatligte teen my gordyn. Ek draai maar om en wikkel myself toe in die komberse, weg van die lig, en ek voel hoe ek stadig aan die slaap begin raak.
Baie stadig sluimer ek weg en met die wegsluimer gewaar ek twee rooi liggies wat teen my stortgordyn weerkaats. Ek wonder wat dit kan wees, ek wonder of ek droom en of ek dit regtig sien en ek glimlag amper vir myself dat ek nou so kan lê en wonder oor twee rooi liggies. Soos ek nog kyk blyk dit my of die twee rooi liggies af en weer aan gaan, amper soos iemand wat oë knip, maar ek weet daar is niemand daar nie.
Ek probeer harder konsentreer en begin selfs ‘n argument met myself oor die twee rooi liggies en of ek dan nou werklik die liggies sien en of ek slaap en droom, maar in die kopgesprek sien ek steeds twee rooi liggies en wonder wat dit tog kan wees.
Toe beweeg die liggies. Eers stadig na links en toe weer na regs, en weer knipoog die twee rooi liggies, en skielik is ek wakker en stokstyf, want ek besef hier is iets baie vreemd aan die gang. Ek staar met al my konsentrasie na die twee rooi liggies om te probeer sien wat dit is.

Die twee rooi liggies staar terug.

My hele wese verstyf en ek lê roerloos, my gedagtes hardloop in wye draaie en ek probeer onthou waar die ligskakelaar is, maar die krag is af, al die ander ligte is af, so wat sal dit help, en ek hou die twee rooi liggies stip dop.

Die twee rooi liggies staar na my en knipoog weer. Ek staar hulpeloos terug , vasgevang in die anomaliteit van die twee rooi liggies. Ek sien hoe hulle weereen van links na regs beweeg. My oë is vasgenael, my hart klop in my keel en my brein kan nie verstaan wat ek sien nie. Daar is geen klank nie, net twee rooi liggies, en ek is hulpeloos vasgevang in hul skyn.

Weer beweeg die twee rooi liggies van links na regs, knipoog, en toe beweeg hulle nader.

Ek verstar, kan nie roer nie en geen klank kom uit my mond. My lippe is droog, my keel sluk en sluk, maar dit voel soos sandpapier op my verhemelte vasgeplak is, en ek kan niks anders doen as om na die bewegende twee rooi liggies te staar nie. Die twee rooi liggies beweeg kompleet soos iemand wat loop, maar daar is niemand nie, geen lyf of vorm nie, net die twee rooi liggies.

Die twee rooi liggies beweeg to naby my en ek hou my asem op. Skielik voel ek ‘n beweging, ‘n gedruk op my bed, soos iemand wat vol hoe hard of sag die matras is. Ek probeer my mond oopmaak, ek wil vra wie dit is, ek wil kommuikeer, maar my lippe is opmekaar vasgeplak, my mond droog en lam, my liggaam stokstyf, net my oë wat vasgenael bly op die twee rooi liggies. Die twee rooi liggies kantel skuins, soos iemand wat hul kop skuins hou om beter na iets te kyk, maar daar is niemand, net die twee rooi liggies.

Dan beweeg die twee rooi liggies nader aan my gesig. Baie stadig kom hulle nader, en die drukking op my bed kom ook nader aan my gesig. My hele wese skree, maar daar kom geen geluid uit nie. Die twee rooi liggies kom tot baie naby my gesig, ek staar in die liggies en die twee rooi liggies staar terug.

Stadig voel ek hoe ‘n hand oor my mond begin gly, ek voel die palm oor my mond, die vingers teen my wang, maar daar is niks, ek sien geen hand nie, geen mens of arm nie, net die twee rooi liggies. Ek kan skaars asemhaal en ek voel hoe die onsigbare hand stywer oor my mond vasklem, my oë verrek en ek wil baklei, maar my liggaam is verlam en ek staar hulpeloos na die twee rooi liggies wat net kantel, knipoog en geruisloos terugstaar.

Die twee rooi liggies beweeg nog nader, my hele gesigveld is opgeneem deur die starende twee rooi liggies en ek voel hoe hulle in my oë in brand. Ek probeer wegkyk, maar ek kan nie, my liggaam, my mond, my oë is als vasgenael en alles stry teen my gevoel van vlug, alles verlam, alles vasgevang. Ek kry geen asem nie en begin duislig voel.

Dan begin alles stadig donkerder word en ek sien hoe die twee rooi liggies stadig in die donker verdwyn, totdat net die gewaarwording van hul gloed nog teen donkerte dans, twee klein rooi ligpuntjies teen ‘n donker agtergrond, en dan raak dit ook weg…

© Grootvissie
Augustus 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed