Nil omne
John staar deur die dik glas by die masjien in. Sy mede-wetenskaplikes teken die metings van binne die kapsule aan. John mompel en draai aan die knoppe wat die buitekant van die masjien oortrek.
“Ons het meer hitte en krag nodig.”
’n Vuilerige seuntjie wat by die smeltoond kniel, voer die vuur.
“Gebeur daar iets?” vra een van die wetenskaplikes terwyl hy die strokie papier waarop die lesings staan deur sy vingers vleg.
“Niks.” John slaan met sy vuis op die tafel. “Wat help dit ons nou?” vra hy en beduie na die insturmente in die laboratorium. “Al die kennis wat ons kan begeer en niks help ons een greintjie nie. Daar is nie eens ’n vonk nie!”
“Wat verwag jy? Daar is nie lewende materie in daardie ding nie. Ons het hoeveel keer getoets. Jy gaan nie iets kry om daarbinne te groei nie.”
John stap na die boekrol wat in ’n glaskas opgesluit is.
“Maar hierdie is die woorde wat die heelal in beweging gebring het! Dit moet werk!”
Die ander wetenskaplikes lag.
“In die begin was die Woord, en die Woord was met God en die Woord was God,” sê die seuntjie.
“So jy het sondagskool toe gegaan – mooi vir jou,” spot Andrew.
“Dalk werk dit nie wanneer ’n mens dit sê nie,” sê die seun en ignorer Andrew.
John staar weer in die masjien in. “Ons gaan almal sterf as dit nie werk nie. Dit moet eenvoudig werk.”
“Ons werk reeds buite ons veld,” sê Andrew. “Ons mors ons tyd.”
“Nil omne,” sê John. “Miskien is alles niks. Miskien maak niks saak nie.”
“Ek sal bid, dalk help dit,” waag die seun.
“Miskien sal dit jou stil hou,” sê Andrew.
Daar is ’n vonk binne die masjien. Koring ontkiem en begin om op die dorre metaal te groei.
“Eureka!”
“Wat is dit?” Andrew hardloop nader.
“Hoop,” sê John. “Hoop bly.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.