
DIE LAASTE AFSKEID
Noudat krulgras die baas is
en veldmuise ‘n sprokies paradys besit
nou staar leë vensterrame soos witgeverfde oë op my neer
en lê stukke skoorsteen onterfde skakels
op die rooi verbleikte voorstoep
terwyl my hart verstop met hartstog na die dae op die plaas
Die reën en wind het lank gelede
die trots geverfde plaasnaam letters by die plaashek
stil oorweldig en ontvoer in rampokker rugsakke
om dit vir ‘n sent te gaan verpand
Die vibrasies van elegante walse op die geelhoutvloere
lê versmoor tussen die blinde voelvingers van die wilde ranke />
wat deur die krake hemel toe rank na hul gekose songod
met splinter hout as offerhand
Die skewe dakplate lag senutergend
vir die wat oor die toegegroeide kluite stap
terwyl gebreekte geute
soos verlamde arms in die nag neerhang
en ‘n roosboom vasberade agter sy dorings skuil
terwyl onkruid stil en onbewustelik
die lewe uit sy wortels wurg
Die son en bitter droogte
het selfsugtig lank gelede die damme opgedroog
en waenhuisdeure stelselmatig aarde toe laat knak
om toegevou te word in ‘n grou stoflaken van die wind
die stryd verlore
soos die skewe hoefyster bo die kombuis se agterdeur
Die ou geroeste windpomp se gehoes is nou ook stil
waar akasiabome soos stil geraamtes in die skadu’s staan
terwyl daar in hul hol gevrete stamme ‘n kosmos leef
in ‘n hoekie by die klein begraafplaas op die familieplaas
Eggo’s van die verlede bokspring nog tussen die skuurmure
terwyl die kalkmure buite afskilfer
en ‘n ploegskaar neerbuig in die sand
sy tande vir oulaas in die dorre aarde ingesink
om soos ‘n ou leeu eenkant met afgeslypte tande stil te wag…
Die ou verweerde etenstydklok
hang angsbevange aan ‘n enkel geroeste snaar
terwyl tyd soos ‘n honger dier bly nader stap
en erosie sy oorwinning uit basuin op die familieplaas
…in my wegloop neem ek afskeid
my laaste afskeid
voordat ek die plaashek toetrek
en rigtingloos die nag inry
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Nostalgies en pragtig gepen!!